Vandag is dit Internasionale Dag vir die Uitwissing van Rassediskriminasie.
En dit is nie per toeval op dieselfde dag as Menseregtedag nie.
Hoekom word Internasionale Dag vir die Uitwissing van Rassediskriminasie gevier? Volgens die VN se webblad word dit jaarliks op 21 Maart gevier, die dag waarop die polisie in Sharpeville in 1960 69 mense tydens ’n vreedsame betoging teen apartheidpaswette in Suid-Afrika doodgemaak het. Die VN het in 1979 die viering van hierdie dag amptelik ingestem ter herinnering van Sharpeville en om teen rassisme op te staan. Alhoewel apartheid sedertdien beëindig is, is die stryd teen rassisme nog lank nie verby nie.
Die 2022-viering van hierdie dag se tema is “Stemme vir aksie teen rassisme”, met die doel om:
- die belangrikheid van die versterking van betekenisvolle en veilige openbare deelname en verteenwoordiging op alle terreine van besluitneming te beklemtoon om rassediskriminasie te voorkom en te beveg
- die herbevestiging van die belangrikheid van volle respek vir die regte op vryheid van uitdrukking en vreedsame vergadering en van die beskerming van burgerlike ruimte
- die erkenning van die bydrae van individue en organisasies wat opstaan teen rassediskriminasie en die uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Wat is antirassisme en hoekom maak dit saak?
Antirassisme is die proses om rassisme aktief te identifiseer en teen te staan. Die doel van antirassisme is om rassisme uit te daag en aktief te werk om beleide, gedrag en oortuigings te verander wat rassistiese idees en optrede laat voortduur. Dit is gewortel in aksie en gaan daaroor om stappe te neem om rassisme op individuele, institusionele en strukturele vlakke uit te skakel. Dit verg van ons elkeen om die verantwoordelikheid op ons te neem om antirassisties te word.
Wat beteken dit om ’n antirassis te wees?
’n Antirassis is iemand wat ’n antirassistiese beleid of idee ondersteun deur sy of haar optrede en/of om antirassistiese idees uit te druk. Dit sluit die uitdrukking in dat rassegroepe gelyk is en nie ontwikkel hoef te word nie, en ondersteuning van beleide asook idees wat rasse-ongelykheid verminder.
As Suid-Afrikaners voel ons dalk meer gemaklik met die idee van nierassigheid as antirassisme. Ons skop dalk teen die idee van “anti” iets wees en voel dalk asof ons nie meer op grond van ras moet dink en doen nie, en voel dalk selfs dat ras irrelevant is in demokratiese Suid-Afrika. En ek verstaan dit. Ek het self so gedink tot nie te lank terug nie.
Wat is nierassigheid?
Nierassigheid word verstaan as die beginsel of praktyk om nie op grond van ras te diskrimineer nie en ook nie meer aan ras te dink nie.
Daar is konsensus onder baie Suid-Afrikaanse geleerdes, aktiviste, menseregtevoorstanders en burgers dat Suid-Afrika ’n nierassige samelewing moet word. Ons geloof in ’n nierassige samelewing is so sterk dat ons hierdie beginsel in ons Grondwet ingeskryf het. Daar word baie gefokus op waarom nierassigheid edel en waardig is, maar min aandag word gegee aan die vraag of so ’n samelewing moontlik is. As nierassigheid beteken dat ons nie meer aan ras dink nie, dink ek dat waar ons ons nou as ’n samelewing bevind, dit dalk ’n onrealistiese ideaal is om voor te mik.
Nierassigheid beteken effektief dat ’n persoon se ras irrelevant is vir hul sosiale, psigologiese en materiële welstand. Dit is nie realisties nie, want ons leef nog in ’n wêreld waar ras steeds vir die meerderheid Suid-Afrikaners nie slegs ’n impak op welstand het nie, maar ook toegang tot geleenthede wesenlik bepaal. ’n Vinnige kykie na die werkloosheidsyfer maak dit duidelik: 38,2% van swart Suid-Afrikaners, 28,5% van bruin Suid-Afrikaners, 19,5% van Indiër-Suid-Afrikaners en 8,6% van wit Suid-Afrikaners is werkloos. Dus is nierassigheid beslis ’n ideaal om na te streef, maar ver van realisties. En so lank as wat ons die impak van ons verlede op ons hede ignoreer en onsself oortuig dat ons nader beweeg aan ’n nierassige samelewing, hoe verder beweeg ons daarvan af.
Wat ons wel nader aan hierdie ideaal kan kry, is ’n aktiewe verbintenis tot antirassisme.
Antirassisme kan die sleutel tot nierassigheid wees indien ons aktief daaraan werk. Aktiewe toewyding tot antirassisme is egter baie moeiliker in die praktyk as in die teorie. Ons leef in ’n samelewing en wêreld waar die impak van ons ongelyke verlede steeds met ons is. Sistemiese rassisme leef steeds voort. Dit leef voort in hoe die samelewing funksioneer, onbevraagtekende sosiale sisteme en toegang tot opvoeding en geleenthede.
Ons progressiewe grondwet kan nie ons diepste oortuigings verander nie. Net ons kan. En soms is ons self ook nie bewus van ons oortuigings totdat ons daarmee gekonfronteer word nie. Antirassisme is moeilik, want dit vra van ons om met onsself en die mense rondom ons eerlik te wees om die kanker van rassisme uit te wis. Dit is moontlik, maar ons moet dapper genoeg wees om die impak van die sisteem ook in onsself en in diegene vir wie ons omgee en vir wie ons lief is te sien.
Wat kan ons doen om aktief antirassisties te wees?
- Verstaan die definisie van rassisme: “Die onvermoë of weiering om die regte, behoeftes, waardigheid of waarde van mense van spesifieke rasse- of geografiese oorsprong te erken. Meer algemeen, die devaluasie van verskeie karaktereienskappe of intelligensie as ‘tipies’ van bepaalde volke.”
- Hou op om te sê: "Ek is nie rassisties nie."
- Identifiseer rasongelykhede.
- Konfronteer jou eie rassistiese idees wat jy moontlik gehad het of dalk steeds glo.
- Verstaan hoe jou antirassisme interseksioneel moet wees. Interseksionaliteit is die erkenning dat elke mens sy eie unieke ervarings van diskriminasie en onderdrukking het, dat ons alles en enigiets in ag moet neem wat mense kan marginaliseer – geslag, ras, klas, seksuele oriëntasie, fisieke vermoë, ens.
- Dryf aktief antirassistiese idees en beleide.

