Annie Klopper resenseer Shunt van William Welfare

  • 0

Miskien is dit omdat ek die afgelope tyd Nazareth se Hair of the Dog (1975) op repeat luister dat die ondertone van heilsame klassieke rock op Shunt die eerste ding is wat my met die luister van dié album deur William Welfare byval. Retrodistorsie met smeersels Pink Floyd, Deep Purple en Creedence Clearwater Revival. En dan eers besef ek Willim Welsyn sing hier in Engels.

Willim Welsyn – of dan nou William Welfare – is nie ’n nuweling op die Suid-Afrikaanse musiektoneel nie, ofskoon Shunt sy eerste Engelse album is. Willim Welsyn en Die Sunrise Toffies het al in 2006 met Buikspraak gedebuteer. Hulle tweede album, Kompos en Kraai (2007), is benoem vir ’n SAMA, terwyl Welsyn se daaropvolgende eerste solo-album, Maanplaas (2009), benoem is vir sowel ’n SAMA as ’n Rapport Vonk-toekenning, en bekroon is met ’n Huisgenoot Tempo-toekenning.

As Afrikaanse rocker het Welsyn bewys hy is nie ’n Fokofpolisiekar-wannabe wat skaars twee vals note op ’n kitaar kan speel nie. Sy musiek is nog altyd sonder ’n tikkie pretensie en sy lirieke weldeurdag. Op die betreklik rustiger Maanplaas volg sy laaste Afrikaanse solo-album, Smeer die weerlig (2011), waar die bliksemstrale wat op Shunt aanwesig is, reeds geflits het.

En nou, met Shunt, is dit asof dié rock nog ryper geword het.

’n Hoëspanning elektriese stroom vloei van snit een tot agt. Nadat die eerste snit “4 Cups of Dust” in jou gesig gegooi het, verplaas “Elephant man” jou na ’n psigedeliese toestand iewers tussen herkenbaarheid en verrassing. Laasgenoemde is ’n gevoel wat sigself deurgaans herhaal – die musiek is gewortel in klassieke, soms psigedeliese, rock, maar dit fotosinteer in die Suid-Afrikaanse son. So klink die trom-intro van “Train in the rain” byna nes Suzi Quatro se “Can the can” (1973), maar voor jy jou kom kry, is jy op ’n trein in die reën onderweg na Bellville-Suid.

Die weldeurdagte lirieke is nog altyd daar, nou net ook beskikbaar in Engels.

Terwyl “Fat people” aanvanklik amusant is, is dit duidelik dat hierdie lied gelaai is met sosiale kommentaar oor die gulsigheid en oordadigheid van die hedendaagse Westerse kultuur:

We all have to eat to feel complete
But sometimes we need a little more
[...]
There’s something wrong with society
Advertising is pornography.

Dis ontembare rock ’n roll wat nie wil bed toe gaan as dit slaaptyd is, of huis toe gaan as dit laat word nie. Later is die duiwel se oë disco balls, daar word stroomop geswem in ’n emmer sperm, katte gooi op en Jan Taks masturbeer op ’n voorstoep. Selfs wanneer die liefde ter sprake kom (“You’re alright”), weier dit om soetsappig te wees. En as jy nie daarvan hou nie, tough: “No one likes my words but I’m still having fun.”

Eers hier teen die negende snit word die elektriese lading minder met “Double Click Charlie” en dan die pynlik eerlike slotlied “I hate your face”. Dit is ’n gepaste afloop, soos Neil Diamond se stem in die agtergrond ná ’n rowwe makietie, waar net nog een couple slow-dance op ’n konfetti-besaaide vloer en jou dronk oom uitgepass lê by ’n tafel vol artefakte van oordaad.

Soos rock ’n roll behoort te wees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top