![]() Foto: NALN |
|
Sêgoed van Annesu de Vos “Maar ek moet liewer nie te veel sê nie. Dis ’n kuns om te kan stilbly as ’n mens niks het om te sê nie. Vul dan eerder die stiltes met grasie.” (Volksblad, 27 September 1980) Hoe haar beste gedigte ontstaan het: “Ek dink dit het onder dieselfde omstandighede as ’n beeldhouwerk ontstaan. In dié opsig dat ’n mens werk met die karakter van die medium self en nie met die uiteindelike gevoel wat daardeur oorgedra gaan word nie. ’n Gedig ontstaan dus uit ’n woord of ’n frase en word gebou ter wille van ’n visuele of klankeffek in die eerste plek. As dit ’n goeie gedig is, spreek die betekenis of betekenisse tot die leser of ontleder self.” (Vaderland, 5 November 1980) In 1981: “Godsdiens is vir my die belangrikste saak om oor te dink en te skryf. Maar dan bedoel ek godsdiens in die breedste sin van die woord. Die hele lewe is immers godsdiens. Godsdiens kan nooit van enige lewensaktiwiteit, allermins die skryfproses, geskei word nie.” (Sarie, 18 Februarie 1981) Ook in 1981: “My grootste enkele vrees is dat Afrikaans as dooie taal sal sterf as gevolg van ’n dooie, onkunstige, gevoellose en politiek-gekleurde, ‘kultuurlewe’ aan die kant van sekere verharde soort Afrikaners.” (Sarie, 18 Februarie 1981) In ’n onderhoud met Graffier (datum onbekend) het Annesu onder meer gesê: “My beste verse is dié wat ontstaan het met ’n gedagte, ’n woord, ’n reeks woorde of net ’n reëltjie wat in jou kop opkom. Die vorm kom vanself – deur die medium, deur die woord. Dit gaan nie om ’n verhewe idee of ’n verhewe emosie nie, maar om die suiwer skoonheid van die woord self.” In 1981: “Sensuur is vir enige letterkunde nadelig. Dit gooi die hele waardesisteem om, omdat dit soms minder goeie werke bo hul belangrikheid verhef deur dit te verbied. As ons nou nog nie weet dat kuns sy eie dissipline het nie, sal sensuur ons dit nooit leer nie.” (Transvaler, 1 Mei 1981) “Die kunstenaar is veronderstel om die gewete van die samelewing te wees. Ek is in Kanada ook as ’n rebel beskou deur party mense.” (Volksblad, 17 Februarie 1990) In 2000: “Afrikaans vervul in my lewe ’n uiters belangrike rol. Ek noem dit my ‘sekerheidstaal’.” (Beeld, 27 Julie 2000) “Wanneer mense my vra of ek Afrikaans mis, is die eerlike antwoord, nee, ek mis dit nie werklik nie. Ek het lank individue uit Suid-Afrika gemis, onder wie ook Afrikaanssprekendes was; op die ou end was dit soos vir Sinéad O’Connor ... ek soek nie wat ek nie het nie.” (Beeld, 27 Julie 2000) “Ek het niks Afrikaanse boekies nie. Het hulle nie nodig nie. Ek kan hulle skryf as ek wil, maar ek wil nie. Ha-haha.” (Beeld, 22 Augustus 2000) “My skrywery is meer werk as inspirasie. Vir my is die woord as medium; as betekenisdraer in die gedig belangriker as die komposisie, al sê sommige mense ek gebruik woorde wat nie by my pas nie. Maar dit daar gelaat, dis nie die skrywer se voorreg om sy kritici te kritiseer nie.” (Transvaler, 1 Mei 1981) “Musiek is een van my groot liefdes, ek is versot daarop. En dan natuurlik kuns en drama. Die professionele teater fassineer my ontsettend, hoewel ek seker eendag tale sal gaan studeer.” (Transvaler, 1 Mei 1981) “Jy kan nie sit en treur oor die wêreld se probleme nie; jy moet van jou kant af iets daaraan probeer doen.” (Netwerk24, 5 Augustus 2024) Oor DJ Opperman as mentor: “Daai tydjie by Opperman se huis ... Oom Dirk was die strengste leermeester. Ek was reeds streng ten opsigte van my eie werk. Ek het met die skerpste oog na my werk gekyk. As ek gedink het iets is rubbish, gooi ek dit uit. Ek was reeds só, maar hy het my in my kwaad gesterk ... Hy sou dinge uitwys. Hy sê nie vir my wat om te doen nie, maar wat die beginsels daaragter is. Dis soos ’n beeldhouer wat vir jou wys hier of so hou jy jou chisel vas. Die beeld moet uit die klip kom. Sulke beginsels het hy vir my geleer en dan moes ek dit self gaan poleer dat ek volgens sy standaarde die beste kon doen wat ek kan. Hy was die beste leermeester wat daar ooit kan wees. Ek sal hom nooit vergeet nie; hy was soos ’n pa vir my. Hy is my literêre pa.” Netwerk24, 5 Augustus 2024) |
Gebore en getoë
Anna Susanna de Vos (Annesu) is op 5 Augustus 1964 gebore. Haar pa is Ben de Vos, ’n sakeman, en haar ma Annemie de Vos, ’n doktor in maatskaplike werk. Sy voltooi ’n gedeelte van haar laerskoolloopbaan aan die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein waar sy van 1975 tot 1977 was. Daarna is sy na die Hoërskool JBM Hertzog. Sy begin haar standerd agt aan die Hoërskool Linden in Johannesburg. Annesu het ’n jonger suster, Hanneke.
Annesu meen dat haar liefde vir die letterkunde ’n uitvloeisel is van die slaaptydstories wat haar ma vir haar as kind voorgelees het. Haar ma vertel: “Toe sy klein was, het ek elke aand voor sy gaan slaap het vir haar ’n verhaal of wat gelees. Ek het graag vir haar uit Langenhoven en Opperman se Kleuterverseboek gelees. Sy kon egter baie gou self lees, selfs voor sy skool toe is. Sy was nog baie klein toe sy byvoorbeeld op haar eie Mikro se Die silwer potlood gelees het.” (Volksblad, 27 September 1980)
Reeds op twaalf het sy ’n leessmaak gehad wat ’n mens nie van ’n kind van dié ouderdom sou verwag nie. Sy het die poësie van Breyten Breytenbach en Elisabeth Eybers gelees. “Breytenbach se andersheid het my getref. Hy is ’n digter wat nie bang is om kommentaar te lewer op die maatskappy en politiek nie. Ek hou van skrywers met ’n kritiese bewussyn. Pieter-Dirk Uys se Die Van Aardes van Grootoor en Donald Howarth se Waiting for Godot het ’n groot indruk op my gemaak.” (Volksblad, 27 September 1980)
Sy moes die Afrikaanse digkuns op haar eie ontdek, want hoewel haar ma van vroeg reeds vir haar gelees het, was haar ma se groot liefde die Engelse letterkunde. Sy kon nie aanklank vind by die Afrikaanse letterkunde nie, want daar was nie so iets toe sy jonk was nie. (Rand Daily Mail, 2 Julie 1981)
Annesu skryf haar eerste gedigte toe sy in standerd drie is. In standerds een en twee is van haar briefies in Tina geplaas en later is ’n stukkie prosa deur haar in Patrys gebruik. Die titelgedig in haar eerste bundel skryf sy in standerd ses. As standerd ses-leerling in Bloemfontein ontvang sy die ATKV-prys as beste junior toneelspeler vir haar rol in Die koffer van André P Brink.
Haar inspirasie kry sy as kind van enigiets wat ’n mens verkeerd opvryf. “Veral dinge soos politiek, skool, dieet. In die meetkundeklas veral. En biologie! Ek het later eers besef ek moes dit nooit in standerd ses gelos het nie – dit was ’n onuitputbare bron van inspirasie.” (Oggendblad, 25 April 1981)
Sy vertel later dat sy begin skryf het op twaalf “nadat hulle my vriend geskiet het”. “Ek het begin skryf omdat ek ’n vrek-alleen kind op skool was, omdat my eerste vriend waarna ek vreeslik opgesien het, lief voor was, reccies toe is en hy is dood in ’n skietongeluk. Ek het begin skryf as reaksie daarop en omdat ek niks beters gehad het om te doen nie.”
Sy is op skool reeds versot op die letterkunde en het werke van André P Brink en DH Lawrence. “Jan Rabie se werk vind ek ook baie interessant.” Sy is volkome tweetalig en volgens haar dig sy ewe maklik in Engels as Afrikaans, maar verkies Afrikaans omdat sy niemand geken het wat haar Engelse werk na waarde kan skat nie. Breyten Breytenbach is een van die Afrikaanse digters wat sy nastreef. “Ek moes somtyds daarna oplet om hom nie na te volg nie. Ek dink enige kunstenaar neig op ’n stadium om iemand aan wie se werk hul spesiale waarde heg, na te boots,” sê sy aan Christie Lecordeur in Vaderland (5 November 1980).
In standerd ses het Annesu haar gedigte vir haar onderwyser gewys en dié het dit aan Rosa Keet, Afrikaanse digter, gewys. Rosa het Annesu aangeraai om haar gedigte aan André P Brink te stuur. Hy het dit teruggestuur met sy kommentaar daarby. Sy het op daardie basis voortgedig aangesien sy Brink se opinie op prys gestel het. In 1979 het sy haar gedigte na Tafelberg Uitgewers gestuur, maar dit is afgekeur omdat dit nog nie op standaard was nie. Sy het aangehou werk aan die gedigte.
In 1980, op sestienjarige ouderdom, word haar eerste digbundel, Gebed om ’n groen perske en ander verse, by Tafelberg uitgegee. In haar standerd nege-jaar besluit sy om die skool te verlaat en haar matriek deur ’n korrespondensiekursus te voltooi. Sy wou ook meer tyd aan haar poësie spandeer. Sy skryf haar dus in vir ’n kursus by die Damelin-korrespondensiekollege. Haar ma erken in 1987 in Sarie (11 Februarie) as sy en haar man geweet wat hulle tans weet, sou hulle nooit toegelaat het dat Annesu die skool na standerd agt verlaat nie. Haar ma het gemeen dat hoewel Annesu ’n alleenloper was, sy na sy die skool verlaat het, vereensaam het en weinig kontak met maats van haar eie ouderdom gehad het.
Annesu het haar in Die Transvaler (19 Oktober 1981) teenoor W Martin as volg oor hierdie besluit uitgespreek: “Ek sal myself nie as ’n hardwerkende kind beskryf nie, maar dit is ’n algemene kwaal op dié stadium. Daar tree ’n algemene verslapping in. ’n Mens is moeg vir skoolgaan. [...]
“Die skool is nie beroepsgerig genoeg nie – soveel mense sit met vakke waaraan hulle vir die res van hul lewens nooit weer sal raak nie. As ek dit agter die rug kry ... hierdie fase van die lewe inkrimp en met die eintlike rigting van my lewe doenig raak ... sal dit vir my beter wees. Ek weet nie of ek gaan slaag nie. Ek voel my in té ’n bedreigbare posisie om uitsprake te lewer. Die begaafde kind-idee doen my wars aan. Daar mag nie etikette aan ’n mens gebind word nie. Dit maak dit vir my moeilik om presies te doen wat mense van my verwag... Etikettering van mense is onmenslik. Elke mens is uniek. Mense kan nie werklik saamgegroepeer word nie, dis belaglik.”
Sy was lid van die Witwatersrandse Jeugkoor wat in Januarie 1981 deur Europa getoer het.
Verdere studies en werk
Nadat sy haar matriek behaal het, is sy van 1983 tot 1987 na die Universiteit van die Witwatersrand om musiek te studeer. Sy het later oorgeslaan na BA met Engels as hoofvak. Sy het nie haar studie aan Wits voltooi nie, maar was tog in haar eerste jaar aan die ontvangkant van die prys vir die beste student in Engels.
Sy ontmoet vir Sjoerd Beute, ’n veertigjarige Suid-Afrikaanse tenoor wat in Nederland gebore is, by wie sy in 1982 sanglesse gekry het en in Mei 1983 is sy stil-stil met hom getroud. Hy was ’n lektor in klassieke kitaar aan die Universiteit van Pretoria. Na hul troue het Annesu haar sangonderrig by haar musieklektore aan die Universiteit van die Witwatersrand voortgesit. Sy en Sjoerd is drie jaar later geskei.
Gedurende haar universiteitsjare werk sy as ’n studente-opvoedkundige in die Education Support Program (ESP), ’n skool wat Saterdae op die Wits-kampus hoërskoolleerlinge van Soweto en ander omliggende townships bygestaan het om hulle matriek te maak. By Wits het sy aktief deelgeneem aan die anti-apartheidsbeweging. Die studente het vryheidsliedere gesing en ge-toyi-toyi. Sy het later by Siyakha! (We are building!) aangesluit – ’n teatergroep wat met die ANC geassosieer is – en hulle het dieselfde danse en liedere gebruik om geld in te samel vir die ANC. Kanadese gehore was gefassineerd deur die getoi-toi en die gumboot-danse.
ebed van ’n groen perske word in 1981 met die Eugène Marais-prys vir 1981 bekroon en daarmee word Annesu die jongste skrywer wat al deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon is. Volgens Annesu bestaan die bundel uit verskeie groepe gedigte. “Een handel byvoorbeeld oor kindwees en groei. Daar is ook liefdesverse en gedigte met ’n sosiaal-politieke tema. Ek skaaf en timmer aan ’n gedig tot hy reg lyk. Ek is baie visueel georiënteerd. ’n Gedig moet iets spesifieks sê. Dit is dikwels soos ’n grap. Jy moet na ’n punt toe werk.” (Volksblad, 27 September 1980)
Nadat Tafelberg Uitgewers Annesu laat weet het dat haar bundel vir publikasie aanvaar is, is sy Kaap toe genooi waar sy enkele dae saam met DJ Opperman haar verse persklaar gemaak het. “Sy grootste besware was dat ’n mens die spore van Breytenbach en Eybers in my werk kon sien. Ons het tot laat in die nag gesels en klein veranderinge aangebring. Hy het my baie omtrent die digkuns geleer.” Daar was oorspronklik 23 gedigte, maar nadat sy en Opperman met die bundel klaar was, was daar 33. Die gepubliseerde bundel het uiteindelik 36 verse bevat.
Oor hoekom sy vir DJ Opperman gevra het om na haar gedigte te kyk, vertel sy vir Christie Lecordeur: “Ek wou ’n goeie fondament hê en hoe kan ’n mens jouself meer verseker dat jou werk goed is, as iemand anders, as een van die bestes soos prof Opperman jou werk evalueer.” (Vaderland, 5 November 1980)
Opperman was entoesiasties oor Annesu se verse. “Ek is ’n letterkundige raadgewer vir Tafelberg Uitgewers en hulle het my onlangs ’n klompie manuskripte gestuur om na te kyk. Ek was glad nie beïndruk nie totdat ek Annesu se werk gesien het. Toe ek sien sy is net vyftien jaar oud, was ek nog meer beïndruk en het voorgestel dat sy haar eie bundel moet publiseer.” Hy was selfs nog meer beïndruk nadat hy saam met haar gewerk het en haar gedigte bespreek het. Hy het besef dat sy nie net ’n frats was nie, maar dat sy oor werklike talent beskik. “Ek het al met heelwat jeugdige talent gewerk, maar sy is die beste van almal en ek kan dit sê: sy het beslis ontluikende talent.” (Sunday Times, 10 Augustus 1980)
Annesu debuteer in dieselfde jaar as TT Cloete wat op 56-jarige ouderdom gedebuteer het met Angelliera. Ondanks die veertig jaar wat die twee digters in ouderdom skei, het Opperman in dieselfde asem oor die twee bundels gepraat. Opperman het Cloete beskou as ’n digter met ’n eie persoonlikheid met een van die beste debuutbundels in Afrikaans.
“Ek is egter verras dat daar by die kinderlike gevoeligheid van Annesu se bundel, ’n sterk kritiese bewussyn ingebou is wat aan haar verse ’n volwassenheid verleen. Sy vergelyk baie goed met digters soos Marlene van Niekerk en Antjie Krog.” (Volksblad, 6 Augustus 1980)
Na die publikasie van die bundel oorhandig Annesu ’n eksemplaar van die eerste uitgawe aan die stadsraad van Randburg. Die burgemeester, mnr Olaus van Zyl, neem dit in ontvangs en sê dat dit vir Randburg ’n eer is dat Annesu ’n inwoner van Randburg is. (Beeld, 27 Augustus 1981)
As stadsmens ontleen sy haar temas aan die problematiek van die mens wat hom in ’n beperkte ingeslote ruimte bevind – ’n ruimte wat hom wil versmoor, sy groei aan bande lê, sy uitreiking na God bemoeilik. Dit is oor dié soort mens wat sy wil skryf, oor sy frustrasies en sy pogings om oplossings vir sy probleme te vind – George Louw in Sarie van 18 Februarie 1981.
Die publikasie van Gebed van ’n groen perske het vir Annesu meer gebring as bloot die prestasie om die jongste digdebuut in Afrikaans te lewer. “Hierdie bundel het my ’n gevoel van basiese sekuriteit gegee. Dit het my in aanraking gebring met mense met wie ek kan identifiseer, mense met dieselfde waardes as ek, deur wie ek aanvaar word. Maar veral het dit my laat besef dat skryf die ding is wat ek kan en wil doen,” vertel sy aan George Louw in Sarie van 18 Februarie 1981.
Die bundel is in vier afdelings opgedeel: “bewaar my droom”, “groen hart”, “aan die helde” en “holiday blues”. Volgens Fanie Olivier (Transvaler, 15 Maart 1981) bevat die eerste afdeling gedigte wat beskryf kan word as persoonlike gedigte, “verse wat eintlik wil vertel van die drome en die behoeftes van die ‘ek’. Reeds hier word die leser bewus van die vermoë van die spreker om afstand te skep tussen emosie en verwoording, tussen die ‘ek’ wat voel en die ‘ek wat hierdie emosies probeer omvat en beskryf. [...] Die tweede afdeling groei uit die konsepte van ‘ek’ en dié se lewenshouding in die vorige afdeling. Hierdie tien verse wil praat oor die samesyn met ander, maar met die besef dat die hart nog onervare is. [...]
“Die derde afdeling is ‘betrokke’ poësie, maar dan ook betrokke in die sin van die mens as betrokke by ’n samelewing waar ‘ons oksideer / in ons vrot’ soos dit in die laaste gedig gestel word. [...] Die laaste afdeling se titel is ironies en hy beskou dit as die beste in die bundel, hoewel dit jammer is dat dit moes sluit met die onbevredigende gedig ‘kontinuïteit’.”
Olivier meen dat die bundel getuig van ’n onmiskenbare talent: die oog, die gevoeligheid, die vermoë om verse te maak. “Dit is net so ’n hartseer saak dat iemand wat so jonk is, so min lewensvreugde in haar verse kan saamdra. So asof sy nooit kans kon kry om werklik jongmens te wees nie. En ek voel jammer dat Annesu nie die geleentheid gekry het om nog ’n jaar of twee met haar verse saam te leef nie, want dan sou die ongelyke kolle waarskynlik reeds verdwyn het en sou dit ’n aangrypende debuut gewees het.”
Die Volksblad het vir Antjie Krog gevra om haar indrukke oor Annesu se bundel te gee en sy het haar só oor Gebed van ’n groen perske uitgespreek: “Die bundel spreek met ’n sterk, onbevange, berekende stem en dinge word op ’n vars, eerlike manier gesê. Ek kan hierdie eerstelingbundel met genoeë hartlik welkom heet.
In Die Suidwester (9 Februarie 1981) meen Ia van Zyl dat die bundel as produk van ’n nog-nie-volwassene uitmuntend is. “Annesu skryf vanuit die standpunt van ’n jongmens – die groen perske – maar haar temas is dié van die volwasse wêreld en haar hantering van hierdie temas getuig van ’n volwassenheid van denke en insig. Die gedagte-inhoud is nie duister of gekompliseerd nie – eintlik sê ’n mens dit met ’n sug van verligting in die huidige opset! – tog is dit ook nie simplisties nie. Wat die gedigte egter bo die middelmatige laat uitrank, is die digteres se fyn klanksin, ’n intuïtiewe aanvoeling vir woorde en klanke wat saam klink.”
In 1982 word Annesu se tweede bundel, en tot op hede haar laaste bundel, verse gepubliseer onder die titel Om vry te stap. Die keurdersverslag het gelui: “As sy aanhou ontwikkel soos sy tussen haar eerste en tweede bundel ontwikkel het, is dit niks minder as ’n opwindende vooruitsig vir Afrikaans nie. Die sprong tussen die eerste en tweede bundel is baie groot.” En die voorspelling is dat sy die volgende groot vroulike digtalent in Afrikaans kan wees. (Beeld, 25 Maart 1982)
Sy vertel aan Elna van der Merwe (Beeld, 6 Mei 1982) dat hoewel sy na die verskyning van die eerste bundel dadelik aan die tweede begin werk het, was “daar ’n tyd wat ek deur ’n drif gegaan het en niks wou uitkom nie. Dit was eers ná die byeenkoms van die Skrywersgilde in April 1981 dat ek heeltyds begin skryf het.” Gevra wie haar leserspubliek is, het sy gesê dat sy dit nie in gedagte hou wanneer sy skryf nie. “Uiteindelik kan ’n mens tog sê ek skryf vir almal wat omgee vir Afrikaans en van verse hou.”
Henning Snyman skryf in Die Burger van 1 Julie 1982 dat, soos uit die titel afgelei kan word, sy in hierdie tweede bundel die godsdiens, die erotiek, die politiek, die inherente tweespalt in die mens, en die digter wat hom/haar in die poësie “verloor”, betrek. “Dit word ’n vry uitstap in ’n groot wêreld, ’n soort bestekopname van die denkende gees wat aan homself moet rekenskap gee van sy reaksies op sy waarneembare heelal. Wat my egter hinder, is die plasing van ’n ek tussen die stof en die gedig Om vry uit te stap is ’n lesenswaardige bundel in sekere opsigte, maar daar is vormlik nog baie onafhede. Ek glo dat haar gedigte op die regte pad is, maar dan sekerlik nog op pad.”
In Vaderland is Lina Spies die resensent, en sy skryf: “Na Annesu se suksesvolle debuut het ons nou ’n selfgesentreerde en bevreesde digteressie. Ek wil vir haar sê: Lê die self af, dan sal jy hom leer ken as een tussen vele ander in die groot wêreld, maar moenie op jouself inkeer nie.”
In Rapport (8 Augustus 1982) skryf André P Brink dat vir ’n jong digter ’n tweede bundel meestal belangriker is as ’n eerste bundel. “Veral waar daar duidelike talent aanwesig is, is die kritiek geneig om jeugwerk saggies en bemoedigend te hanteer, bietjie te troetel, toegewings te maak vir jeugdigheid. Maar in sy tweede bundel staan die digter nakend en alleen: hy het nou ‘sy ding gedoen’; die nuutjie van publikasie is agter die rug; die beskuttinge van die Wunderkind geld nie meer nie. Nou moet hy, op eie pote, bewys dat hy tot meer in staat is as om wenner van ’n tienertalentkompetisie te wees. In dié situasie bevind Annesu de Vos haar met haar tweede bundel, Om vry uit te stap. En dit spyt my om te sê dat sy die mas nié opkom nie.
“Agtien maande ná die lees van haar Gebed van ’n groen perske kan ek nog sonder moeite minstens ’n páár van die gedigte skerp en spontaan oproep, só goed het hulle hulle in die geheue ingegroef. Maar in verband met Om vry uit te stap het ek dit selfs ná twee dae nogal moeilik gevind om ook maar ’n enkele gedig werklik skerp te onthou. En nie omdat haar verse nie verdienstelik is nie! Byna sonder uitsondering is hulle knap, deeglik, kundig; vakmanswerk; ‘literêr’. Maar waar is die vonk? (...)
“Maar: wat die bundel as geheel nie doen nie, is presies wat dit kragtens opset en aanbod wil doen: om die verbiedinge en knellinge af te skud en werklik ‘vry uit te stap’. Mens wag benoud op die vervolg, hopende dat dit minder krampagtig, minder pretensieus-literêr sal wees en minder oorhaastigheid tot publikasie sal vorder. Want hierdie jong digter is aan haar eie begaafdheid meer verskuldig as wat sy hier gegee het.”
Volgens Ronél Johl (Volksblad, 6 Julie 1982) is die eerste indruk dat Om vry uit te stap merkwaardig wegswaai van die vorige bundel ondanks al die aansluitings, want so radikaal kan ’n breuk ook weer nie wees nie. “Die skoolgediggies van die debuut agtergelaat, verteenwoordig die bundel ’n losskop van die dinge wat remmend is vir die digterskap, bv die skoolmentaliteit, die burgerlike voorstedelike mentaliteit, politieke naïwiteit en allerlei beperkings en gebooie, selfs in die versbou. [...] Die bundel is in groter mate as sy voorganger bewus van politieke en sosiale ongeregtigheid, van afgodery, pretensie en swakhede van die Afrikaner, van die revolusie, die bom, die rooi dag wat kom. Die toon van die bundel is egter, by al die toorn, afwysing, spot, een van ontgogeling met die eie wêreld, maar ook een van magteloosheid. [...]
“Die probleme wat ’n mens met die bundel het, wat in elke afdeling, maar veral in die vierde en vyfde, opduik, het te make met die vrye vers en soms met ’n much ado oor onbenulligheidjies. Die vrye vers stel streng eise aan die digter as hy wil keer dat sy gedigte uitrafel: hy moet sy diskrepansies en verwanthede so fyn-beheersd naasmekaar kan lê dat die vonk wat uit die teen mekaar skuur ontbrand, skerp en helder is en sodat die twee pole in die woord en beeldgebruik mekaar terselfdertyd as ’t ware deursuur om so ’n breër veralgemeningsbasis moontlik te maak.” In sommige gedigte van De Vos gebeur dit juis nie.
“Daar lê nog heelwat werk vir De Vos voor, maar om die groter rypheid van die bundel in die geheel, om die handjievol deeglike gedigte – heelwat meer as in die eerste bundel – die werklike belofte, kan Om vry uit te stap as ’n waardige, die ‘eintlike debuut’ van De Vos verwelkom word.”
In Maart 1987 is Annesu na Amerika, maar of sy gaan terugkom, was volgens haar pa ’n ope vraag. Wat sy daar sou gaan doen, het hy nie geweet nie en hy het ook nie geweet of sy haar daar gaan vestig nie. “Annesu is ’n volwasse mens wat haar eie besluite neem. Sy hoef nie my toestemming te vra as sy iets gaan doen nie. Sy is grootgemaak om eie besluite te neem. In Desember was sy ’n maand in Europa. Sy het vreeslik na Suid-Afrika verlang, het sy met haar tuiskoms vertel,” het Ben de Vos aan Beeld (12 Maart 1987) gesê.
’n Vriend het vertel dat dit ’n persoonlike besluit was wat weens persoonlike redes geneem is. “Sy is in Kanada en ek gaan binnekort by haar aansluit,” het die vriend gesê.
Drie jaar later vertel sy dat sy die toestande soos dit was, nie meer kon verduur nie, vertel sy aan André le Roux in Die Burger van 10 Februarie 1990. “[B]y die Strand het ek elf apartheidsbordjies getel, sulke nuwe oranje goed, en ek het nooit geglo hulle sal ooit verwyder word nie. Ek het werklikwaar gevoel ek het genoeg gehad. Ek het gelewe onder die konstante angs en druk van die feit dat daar soveel arm mense in die land is, van die feit dat die land so ly, en ek het saam met die land gely, en ek was siek en sat daarvan. Dit het ook gegaan om die weermag; dit gaan nog steeds vir my in hierdie land om die weermag. Ek kan dit nie verdra dat jong seuns geskiet word en mense moet skiet nie.”
In 1990 op 25-jarige ouderdom is Annesu terug na Suid-Afrika vanaf Toronto in Kanada en het haar lewe merkbaar verander. Sy was toe ’n sukkelende rocksangeres. Sy vertel aan André le Roux (Die Burger, 10 Februarie 1990) dat sy drie groot helde gevind het: Boeddha, Michail Gorbatsjof en Jesus – “nie noodwendig in daardie volgorde nie”. Johannesburg het vir haar stowwerig geword, vaal en van haar land is sy vervreem, van Suid-Afrika is sy “siek en sat en moeg”.
Op daardie stadium van haar lewe was sy met verskillende boeke besig – ’n roman in Afrikaans, ’n Afrikaanse digbundel en altesaam drie Engelse romans. “Die een waarmee ek op die oomblik besig is se voorlopige titel is Princess Donuts,” vertel sy aan Le Roux. “En dit gaan oor my wedervarings in die doughnut-winkels in Toronto, waar ek baie keer met gewone mense, werkers van oor die hele wêreld heen, gesels het.” Só het sy baie stories versamel; daar is kartondose vol gedigte van Kanada op pad, vertel sy. “Ek het nou die dag gaan sit en twintig gedigte in ’n middag en ’n aand geskryf – ek sit net dié keer lank daarop dat dit mooi ryp word voordat ek weer publiseer net om ’n boek uit te kry.”
Gedurende haar vroeë jare in Kanada het Annesu oorspronklike materiaal in ateljees in Toronto opgeneem en op die verhoog opgetree. In ’n sangkompetisie by die Canadian National Exhibition het sy ’n eerste prys verower met Bangakanani, ’n Zoeloe-lied. Sy is ook terug skool toe om Artist Management and Music Production te gaan studeer by die Toronto-kampus van die Trebas Institute of Recording Arts wat in Kalifornië gebaseer is.
In Kanada het haar kreatiwiteit oopgebreek. Sy het begin lirieke skryf en van haar liedjies op band opgeneem. Die rock-groep wat sy in Toronto agtergelaat het, se naam was Bomb Scare Picnic. “Ongelukkig moes ek die groep agterlaat omdat persoonlike omstandighede en traumas my half gedwing het – ek het basies bankrot gespeel, en wel, my besigheid het nogal ’n obsessie geword en ... dit was net ’n baie stresvolle stel omstandighede...” (Die Burger, 10 Februarie 1990)
Annesu is egter in 1990 weer terug na Kanada.
Annesu skryf in 1993 ’n ope brief uit Kanada aan pres FW de Klerk om amnestie vir Hein Grosskopf te eis. Sy en Grosskopf was saam op skool. Sy vertel aan die pers dat sy nie kan glo dat die regering iemand soos Barend Strydom vrylaat nie, maar vir Hein ’n terroris noem. “Hein is my beste vriend. Hy het vir pres De Klerk eintlik baie gehelp, want hy het vir die wêreld gewys daar is baie blanke jongmense wat nie saamstem met die stelsel van wit bevoorregting nie. Hein het sy voorregte prysgegee. Al sê hulle hy het die hele Krugersdorp opgeblaas, bly hy my vriend. Niemand moet ook dink ek veroordeel hom nie. Ek wil ook nie hê die ANC moet van Hein vergeet nie. Hy het drie jaar gelede vir my ’n brief uit Lusaka geskryf en gesê sy grootste droom is om terug te kom Suid-Afrika toe.” (Oosterlig, 1 Februarie 1993)
Annesu was op daardie stadium weer terug in Kanada waar sy as ’n telekommunikasie-konsultant gewerk het. “Toe ek klein was, het ek ’n boek, Wollie Wasbeer, gelees. Die verhaal speel in Kanada af, en dit was een van my gunsteling-kinderboeke. Van toe af het Kanada my geïnteresseer. Daar is iets in die land se geografie wat my vasbind en fassineer. Dit is vir my makliker om geestelik te groei in Kanada. Ek het nie die geweld van Suid-Afrika om my nodig nie. Hier is absolute vrede. Ek dink die Suid-Afrikaanse regering moet die AWB en Apla in die bos gooi sodat hulle mekaar goed kapot kan maak.”
Op ’n vraag of sy die Amerikaanse en spesifiek Kanadese letterkunde prikkelend vind, antwoord Annesu: “Ek het ’n verskriklik bekentenis om te maak. Ek is nie iemand wat baie lees nie. Die afgelope ses jaar het ek ’n studie van die okkulte, mistieke en astrale reise gemaak, wat gemaak het dat ek nie baie lees nie. Volgens dit wat ek die afgelope ses jaar bestudeer het, moet ’n mens lees uit die lig wat op jou kop skyn, soos Mohammed wat nie kon lees nie. Deur te luister na die strale wat op sy kop skyn, kan ’n blinde man lees.” (Oosterlig, 1 Februarie 1993)
In 1995 het sy en vennote ’n internetmaatskappy gestig. In 2003 het sy ’n kursus in die skryf van draaiboeke by die Toronto Film School bygewoon en sy is besig om distopiese wetenskapfiksie in draaiboekvorm te skep. Sy is ook besig om Voltaire se novelle Candide te verwerk in draaiboekvorm. Dit is reeds in 2007 geregistreer by die Writers’ Guild of America. In 2008 het Annesu VIVA! van stapel gestuur – Kanada se eerste Suid-Afrikaanse Kanadese gemeenskapskoerant vir immigrante.
Vir nege jaar is Annesu se stem uit Kanada stil en toe in 2000 skryf Chris Louw sy omstrede ope “Boetman”-brief aan prof Willem de Klerk. In ’n brief op LitNet skryf Annesu oor haar verlies toe ’n hegte vriend wat militêre diensplig verrig het, by Katima Mulilio gesterf het. Die gedig “naaldekoker by katima mulilo” handel oor die voorval. ’n Deel van haar brief lui as volg: “Ek het geen ouer broer gehad nie en die soldaat het dus daardie rol vervul, maar ek was ook seker dat, as hy my ooit eendag sou vra om met hon te trou, ek ongetwyfeld ‘ja’ sou antwoord.
“Dit is die rede hoekom ek so vroeg gedebuteer het. Ek is gedwing, omrede Suid-Afrika se kak, om voor my tyd groot te word. Suid-Afrika het my tyd vir kind wees, jonk wees, gelukkig wees, gesteel.
Sy skryf oor haar verhouding met Hein Grosskopf, mede-ANC-ondersteuner: “Jy beweer in jou ‘Boetman’-teks dat dit destyds nie juis moontlik was om vir jouself te dink nie, want mens sou dan ‘mal’ verklaar word. Soos ek dit onthou, het Hein en ek selfs as skoolkinders geheel en al vir onsself gedink. [...] Ek kan egter nie begryp hoekom dit vir almal wat nou kla dat hulle ‘gebreinspoel’ is, destyds so moeilik was om onreg te identifiseer nie. Dit was dan voor ’n mens se neus! Dit het in jou gesig geskreeu. Dit was in elke hoekwinkel waar die arm man agter jou gestaan het in sy rafels om ’n brood of ’n pakkie sigarette te koop. Dit het in elke grasperk gegroei. Dit het in elke swembad se blink gesig vir jou teruggeglinster. Ja, dit is ’n jammerte dat amper almal hulself laat breinspoel het deur die koel water van hul ouers se swembaddens wat oor hul kop gegly het. ’n Jammerte, maar nie ’n verskoning nie...”
Hierdie brief van Annesu het ’n hele kettingreaksie tot gevolg gehad met Chris Louw wat haar geantwoord en ander reaksies in die pers en op LitNet. Stephanie Nieuwoudt het in Julie 2000 ’n onderhoud met haar gevoer oor hoe dit haar geraak het dat sy so jonk gedebuteer het. Sy erken dat dit haar lewe interessanter gemaak het, want sy het mense soos Etienne van Heerden, Jakes Gerwel, André P Brink, Jeanette Ferreira en tonne ander interessante mense by die Skrywersgilde ontmoet, en dan moet daar nie vergeet word van haar uitgewers nie. (Beeld, 19 Julie 2000)
Waarom dink sy verdwyn jong debuteerders gewoonlik? “Ek kan nie vir ander jong debuteerders praat nie. Ek dink my geval is uniek. In my geval was daar politieke redes. Ek het byvoorbeeld in ’n stadium probeer om op te hou om Afrikaans te praat so kwaad was ek vir die Afrikaner-establishment. Ek het belang verloor, en belangstelling. Dit was nie by my ’n kwessie van nie kón skryf nie: ek wóú nie, Dit was amper soos ’n eenmens-boikot.” (Beeld, 19 Julie 2000)
Sy het beslis weens haar skrywerskap anders gevoel as ander kinders. “Want daar was sommige kinders op skool wat my dit nie wou vergewe nie, die skryf-ding. Hulle het nie geweet dat dit was omdat ek iemand verloor het nie, iemand het gesterf, en toe skryf ek as gevolg daarvan. Dit het van terapie oorgegaan na vakmanskap.
“Ek was ook anders weens my politiek. Ek en Hein Grosskopf was op skool in Linden bekend as die ‘skool-kommies’. Niemand kon verstaan waarom ons gedink het soos ons gedink het nie. Ons kon weer nie begryp hoekom dit vir almal so moelik was om onreg te identifiseer nie. [...]
“Ek het onlangs ’n term geleer wat my dilemma van destyds (om in Suid-Afrika skuldig te voel oor alles) volmaak beskryf. Ek was ’n premature anti-fascist. Die term is deur Churchill se kritici teen hom gebruik. Omdat hy, voor die res van die wêreld, besef het wat Hitler-hulle verteenwoordig. Die samelewing was nog nie gereed vir dié insig nie. Dit het in sekere kringe teen hom getel, net soos my jeugdige politieke bewussyn steeds teen my gehou word deur sekere Afrikaners.
“Ek was ’n baie hartseer mens as ‘jong digteres’. Dit het my jare geneem hier in Kanada om soos ’n normale mens te begin funksioneer. My stilte van twintig jaar was gedeeltelik met opset, en gedeeltelik omdat ek besig was om te herstel. Nou eers het dinge vir my genoeg genormaliseer om hoegenaamd te kan kommunikeer met die ‘alte heimat’.
“Ek sal dus in my laat dertigs weer ‘debuteer’: hierdie keer as Kanadese skrywer met Suid-Afrikaanse bande, en ek sal oor al hierdie dinge skryf, nou dat ek genoeg vrede in myself het om dit moontlik te maak.” (Aan Stephanie Nieuwoudt in Beeld)
Gedurende haar verblyf in Toronto het sy alles gedoen van sekuriteitswag tot sneltikster. Behalwe haar rock-orkes was daar ook ’n videoproduksiemaatskappy en ’n maatskappy wat vuurwerke en spesiale effekte behartig. Sy en haar seun, Benjamin, wat in 1997 gebore is, is nie van plan om ’n voet uit Kanada te versit nie. “Ek haat niks hier nie. Ek geniet alles. Ek het vergeet hoe warm en vriendelik onse Afrikaner-nasie eintlik is. Geheel en al vergeet.” (Sarie, 4 Oktober 2000)
Benjamin is na sy oupa vernoem, vertel Annesu vir AJ Opperman op Netwerk24: “En hy was so lief vir die baba. Maar ek en Ben is ’n team, hoor. Ons is ’n spannetjie. Benjamin beteken ‘seun van my regterhand’ en hy is wragtig dit.”
Benjamin is die sentrum van haar heelal. Haar toewyding aan hom is absoluut en sy beskou hom as ’n hemeling – “die absoluutste teken van God se liefde vir my.” (Insig, Augustus 2000)
Annesu vertel in Augustus 2000 aan Irna van Zyl in Insig dat sy in ’n huis in ’n arm deel vn Toronto bly, maar dat haar omgewing hemels is. “Ons stap elke dag. Ons woon langs die Ontario-meer. Dit maak nie saak of jy ryk of arm hier is nie, jy kan steeds jou lewe geniet. In Suid-Afrika sou iemand soos ek gekrepeer het: besit nie ’n kar nie, daar is nie plekke vir moeders en kindertjies om heen te gaan nie, veral nie te voet nie, soos ons hier graag doen. Hier gaan ek en Benjamin elke dag speel by ’n verskeidenheid plekke soos openbare invalsentrums wat op die munisipaliteit se onkoste beskikbaar gestel word.”
Annesu de Vos is deesdae ’n besigheidskonsultant in Kanada.
Publikasies:
|
Publikasie |
Gebed van ’n groen perske en ander verse |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624015114 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1981 Eugène Marais-prys |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Om vry uit te stap |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
0624017322 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Annesu de Vos
- Annesu boikot “wit fees”. Volksblad, 28 Februarie 1987
- Annesu de Vos (Wikipedia)
- Annesu de Vos. Rooi Rose, 28 Julie 1982
- Annesu de Vos gee lesing by UPE. Oosterlig, 9 Mei 1983
- Annesu de Vos na Amerika; bly dalk. Volksblad, 12 Maart 1987
- Annesu de Vos ontvang eerste bundel [foto]. Beeld, 31 Oktober 1980
- Annesu de Vos ontvang Eugène Marias-prys [foto]. Beeld, 19 Junie 1981
- Annesu de Vos oorhandig haar debuutbundel. Vaderland, 27 Augustus 1981
- Annesu de Vos op sestien reeds digteres. Sarie Marais, 11 Februarie 1987
- Annesu de Vos trou stil. Die Burger, 24 Mei 1983
- Annesu de Vos uit skool om te dig. Die Burger, 14 Oktober 1981
- Annesu is liries oor 1e ryding. Vaderland, 21 Oktober 1982
- Annesu is terug. Die Burger, 5 Februarie 1990
- Annesu se digbundel word waardeer. Beeld, 27 Augustus 1981
- Blignaut, Amore: “Eksamen” deur Annesu de Vos [bespreking]. Prezi, 13 Maart 2019
- De Jager, Nils: Was ideologie, nie vleis en wyn [brief]. Beeld, 19 Junie 2000
- De Wet, Johan: ’n Gerieflike lewenstyl. Rapport, 11 Junie 2000
- Digter doop Kanadese pen in gif teen “gebreinspoelde” Boetman. Die Burger, 8 Junie 2000
- ’n Digter in die vreemde se brief aan Boetman. Rapport, 11 Junie 2000
- Digteres trou met tenoor. Oosterlig, 24 Mei 1983
- Engelbrecht, Theunis: Annesu wil ope brief aan FW skryf. Beeld, 28 Januarie 1993; Oosterlig, 1 Februarie 1993; Volksblad, 1 Februarie 1993
- A fear of threats to innocence. Rand Daily Mail, 2 Julie 1981
- Fourie, André: Dié wat nie weet, sê meeste [brief]. Die Burger, 10 Junie 2000
- Greyling, Aletta:
-
- Digteressie gee pad uit haar skool. Vaderland, 13 Oktober 1981
- Sanger en digteres nou man en vrou. Vaderland, 23 Mei 1983
-
- Hambidge, Joan: Madama Perska, maar waar is jou volgende boek? Beeld, 22 Augustus 2000
- Hough, Barrie:
-
- Geniale groene of duur droëperske? Rapport, 4 Februarie 1990
- Twee name wat in die laaste tyd in die nuus was ... Volksblad, 27 September 1980
-
- Jong digteres, tenoor trou. Volksblad, 24 Mei 1983
- Le Roux, André:
-
- Annesu de Vos wil op ’n verhoog staan en sing. Die Burger, 10 Februarie 1990
- Annesu siek en sat vir SA. Volksblad, 17 Februarie 1990; Die Burger, 10 Februarie 1990; Beeld, 12 Februarie 1990; Oosterlig, 13 Februarie 1990
-
- Lecordeur, Christie: Annesu de Vos se 1e bundel ’n beginpunt – nie eindpunt. Vaderland, 5 November 1980
- Lemmer, Nico: “Pionne in politieke magspel” [brief na aanleiding van die Boetman-debat]. Beeld, 26 Junie 2000
- LitNet knetter oor Annesu se brief. Die Burger, 14 Junie 2000
- Louw, Chris:
-
- Boetman antwoord op die brief uit Kanada. Die Burger, 3 Junie 2000
- “Omdat ek nie anders kan nie”. Beeld, 10 Junie 2000
-
- Louw, George: Ons jongste digteres. Sarie, 18 Februarie 1981
- Louw, Pieter: Annesu verheerlik haar “recce” [brief]. Beeld, 19 Junie 2000
- Martin, W: Annesu glo in individu se reg. Transvaler, 19 Oktober, 1981
- Nieuwoudt, Stephanie: Annesu was ’n “premature anti-fascis”. Beeld, 19 Julie 2000
- Oberholzer, Erika: Annesu, onthou jy ons? Ons bou oor dit reg voel [brief]. Beeld, 20 Junie 2000
- “Ongelukkige” Annesu vort Amerika toe. Beeld, 12 Maart 1987
- Opperman, AJ: Annesu de Vos | Jongste debuutdigter in Afrikaans word 60. Netwerk24, 5 Augustus 2024
- Poet to speak at UPE. Eastern Province Herald, 9 Mei 1983
- Pretorius, Willem: Annesu groet. Die Burger, 20 Maart 1990
- Roem verskrik jonge Annesu nie. Oggendblad, 25 April 1981
- SA digteres na VSA. Die Burger, 12 Maart 1987
- Scheepers, André en Henk Wybenga: Annesu de Vos – die grootmens-kind. Transvaler, 1 Mei 1981
- Skool opsy vir dig. Volksblad, 14 Oktober 1981
- Steyn, Chris: Annesu quits school at 16 for her verse. The Citizen, 16 Oktober 1981
- Sus: Moenie te veel dink [brief]. Volksblad, 16 Junie 2000
- Tuit, Marja: Little Miss Milton dashes into print. Sunday Times, 10 Augustus 1980
- Van Zyl, Irna: Annesu skryf terug. Insig, Augustus 2000
- Wat het geword van Annesu de Vos? Sarie, 4 Oktober 2000
- Whizz kids. The Star, 12 Augustus 1981
Artikels deur Annesu de Vos
- Boetman, óns het dan gedink, sê Annesu de Vos. Volksblad, 9 Junie 2000
- “Chris, jy het geveg om ’n lewenstyl te verdedig, nie ’n filosofie nie”. Beeld, 9 Junie 2000; Volksblad, 9 Junie 2000
- “Echo” [gedig] (OuLitNet)
- “Ek’t die ding nie in my lewe nodig”. Beeld, 27 Julie 2000
- The fist on the table (and other more important issues). OuLitNet, Seminaarkamer
- Just another job (OuLitNet)
- Ope brief aan Boetman: Onreg skreeu dan in jou gesig. Beeld, 9 Junie 2000
- “Viva, Oom Dirk!” want Opperman het geweet hoe om te deel. Die Burger, 13 September 2000
- “When you see pallor” [gedig] (OuLitNet)
- Woorde (vir Achmat Dangor) [gedig]. Beeld, 1 Augustus 2000
Besprekings van die gedigte “eksamen” en “Gebed om ’n groen perske”
- Bespreking van “eksamen”
- “eksamen” – notes
- Eksamenhulp Afrikaans Eerste Taal. Volksblad, 13 Junie 2006 [“eksamen”]
- Levinson, Sollie: Digkuns vir graad 10 tot 12: ontledings met vrae en antwoorde. Klasgids, Mei 2004 [“eksamen”]
- Pieterse, Henning: Oor vrees en valk: twee gedigte vir matriek. Klasgids, Februarie 1998 [“eksamen”]
- Van Rooyen, Tineke:
-
- Gedigte van Annesu de Vos en Elisabeth Eybers. Klasgids, Oktober 1995 [“eksamen”]
- Gedigte van Annesu de Vos en Elisabeth Eybers. Klasgids, Oktober 1995 [“Gebed om n groen perske”]
-
Annesu de Vos se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik in 2012 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)



