Annemarié van Niekerk gesels met Fred De Vries

  • 2

Fred de Vries is ’n Nederlandse skrywer en joernalis wat geen vreemdeling in Afrika is nie. Hy woon al meer as ’n dekade in Suid-Afrika en voor dit het hy in Kenia, Uganda en Eritrea gewoon en gewerk. Hy is korrespondent van Elsevier en De Groene Amsterdammer, het twee boeke uit Engels in Nederlands vertaal, en verskeie van sy reis-, musiek-, fiksie- en niefiksieverhale het in Suid-Afrikaanse en Nederlandse bundels verskyn. Hy is outeur van die boek Club Risiko (oor die musiek-scene van die tagtigerjare) en mede-outeur van ’n boek oor hip-hop, Respect! Rappen in Fort Europa. Laasgenoemde is benoem vir die gesogte Belgiese toekenning De Goude Uil. Daarna het ’n boek verskyn met hoogtepunte uit sy onderhoude wat hy met Suid-Afrikaners vir The Weekender en Empire Magazine gedoen het, getiteld The Fred de Vries Interviews: From Abdullah to Zille. Verlede jaar het sy boek Gehavende Stad. Muziek en literatuur in Rotterdam van 1960 tot nu (met mede-outeur Erik Brus) verskyn, asook sy Nederlandse boek Afrikaners. Een volk op drift en die Afrikaanse Rigtingbedonnerd. Vir Afrikaners. Een volk op drift is hy benoem vir die MJ Brusse Prijs vir die beste joernalistieke boek en die Bob den Uyl Prijs vir die beste reisboek. Die wenners word binnekort bekendgemaak.

 

Fred, jou boek oor die Afrikaner vaar besonder goed in Nederland – jy is selfs vir twee belangrike pryse genomineer. Maar die Afrikaanse uitgawe is net so suksesvol. Ek was nogal nuuskierig oor hoe die boek deur die Afrikaanse gemeenskap ontvang sou word, en was verras oor die positiewe reaksies. My verrastheid was nie omdat ek dink die boek verdien nie ’n goeie ontvangs nie, maar omdat dit so ’n riskante ding was wat jy gedoen het – dit kon so maklik gebackfire het. Eerstens hou mense of volke of in groepe nie daarvan as buitestanders (of mense wat as buitestanders beskou word) hulself as sogenaamde kenners van so ’n groep “aanstel” nie. Dat buitestanders hoegenaamd waag om ’n mening oor so ’n groep uit te spreek, is soms selfs te veel om te verduur. Boonop was ons Afrikaner-volkie wat hierdie saak betref nog altyd hipersensitief. Was jy bewus daarvan dat die skryf van hierdie boek die betreding van ’n gevaarsone was?

Ek het self ’n enorme hekel aan boeke van buitelanders oor Nederlanders, soos The UnDutchables; an observation of the Netherlands, its culture and its inhabitants van Colin White en Laurie Boucke. Toe ek buiteland toe gegaan het, het ek twee eksemplare daarvan by vriende gekry. Ek het daarin begin lees en onmiddellik kwaad geword. Waarmee bemoei hulle hulle? Wat weet hulle nou eintlik van Nederlanders, van die verskille tussen Rotterdammers en Amsterdammers en Eindhovenaars? Hoe kan hulle sonder om te blik of te bloos sulke algemeenhede oor ’n hele volk kwytraak?

Ek dink nou ook aan daardie boek van Marcia Luyten wat onlangs verskyn het, Dag Afrika. Ek het, net soos jy, onmiddellik kwaad geword, eintlik ineengekrimp oor die meerderwaardigheid en beterweterigheid waarmee sy oor Afrika skryf. Miskien goed dat jy White en Boucke se boek gelees het voordat jy met jou eie Afrikaner-projek begin het.

Ja, só ’n boek wou ek nie skryf nie. My idee was om so genuanseerd moontlik te kyk na die Afrikaners en wat met hulle gebeur het na 1990-1994. Daardie vroeë negentigerjare was sonder twyfel traumatiese jare vir die Afrikaner, om so in één klap alle politieke mag te verloor. Boonop het Afrikaners dit natuurlik nie al te maklik in die wêreld gehad nie. Apartheid was die laaste ideologie waaroor jy nog lekker in eenvoudige terme kon dink: swart was goed, blank was sleg. Daardie cliché wou ek afskiet. En ek wou Afrikaners self laat praat.

Ek wou ’n idee kry van die verskillende generasies en wat hulle van al die veranderinge dink. Maar dan ontkom jy natuurlik ook nie aan alle mitiese en minder mitiese gebeurtenisse wat die Afrikanervolk gemaak het wat hy is nie: die Groot Trek, Bloedrivier, die Boereoorlog, apartheid, die Grensoorlog. En dan begeef jy jou op dun ys, want hierdie gebeurtenisse kan op soveel verskillende maniere geïnterpreteer word. Maar ook daar het ek probeer om soveel moontlik die verskillende kante te belig.

Dit was eers toe ek al regtig diep in die boek gesit het (byvoorbeeld toe ek met Flip Buys gepraat het) dat ek die weerstand wat jy noem, begin voel het – weerstand teen ’n buitestander wat waag om oor die Afrikaner te skryf, ’n Hollander nogal. Hollanders word, enigsins tereg, gesien as beterweterig en arrogant. Juis daarom het ek ook probeer om die verwronge verhouding tussen Nederlanders en Afrikaners ’n plek in die boek te gee, ook deur my eie ervarings daarin te verwerk, sodat iets van die ambivalensie daarvan ook duidelik word. (Eers het ons hier gekom as koloniste, slawehandelaars en burokrate, daarna het ons die felste anti-apartheidsaktiviste geword wat jy jou kan voorstel. Skuld? Skaamte? Kos vir sielkundiges!) Ek vertel byvoorbeeld oor hoe ons in die tagtigerjare deur die media ’n baie eensydige beeld van die Afrikaner opgedis gekry het en hoe daardie beeld vir my geleidelik verander het toe ek in 1992 vir die eerste keer hier gekom het.

En toe, net voor die boek verskyn het, het Simon Kuper ’n stukkie daaroor in die Financial Times geskryf. Ek was aanvanklik baie bly daaroor: niks verkeerd met FT nie. Maar die toonaard van sy stuk was nogal anti-Afrikaner, en mense wat dit gelees het, het gedink dat my boek dieselfde invalshoek sou hê. Gelukkig was dit danksy onderhoude, word of mouth en resensies al gou duidelik dat dit nie so was nie.

Maar Simon Kuper het ook mooi dinge in sy FT-stuk gesê, soos die aanhaling op die omslag: “A wonderful book of deep reportage”.

Ja, jy’s reg. Maar ek sal nie verbaas wees as daar onder potensiële lesers weerstand was teen die feit dat ’n kaaskop dink dat hy sommer maar oor Afrikaners kan skryf nie. Ek hoop dat die weerstand nou ’n bietjie gaan lê het en dat mense begryp dat ek juis probeer om ’n nuwe draai te gee aan daardie ou sêding: “Ons is nie almal so nie.”

Dan is daar ook nog ’n ander warm patat: die kwessie van die Afrikaner se identiteit en wyduiteenlopende aard. Wie en wat is die Afrikaner? Is dit hoegenaamd nog geldig om oor “een volk” te praat, soos die titel van die Nederlandse uitgawe dit stel: “Een volk op drift”. Wat was jou werksdefinisie van die Afrikaner toe jy met hierdie boek begin het? 

Aan die begin het ek my nie te veel bekommer oor ’n definisie nie. Natuurlik bestaan daar groot verskille tussen Afrikaners, maar dit geld ook vir Franse of Hollanders. Daar kan nie groter verskille wees as dié tussen ’n gebore en getoë Rotterdammer en iemand uit ’n Friese gehuggie nie. En tog noem hulle hulself albei, sonder enige probleme, Nederlander. Dit geld ook vir Afrikaners. Daar is ’n gemeenskaplike taal, kultuur en ’n geskiedenis wat hulle bind. Die geskiedenis was turbulent, bloedig en traumaties, maar dit is tog onweerlegbaar wat die Afrikaner gevorm het, of jy nou ’n hensopper was of saam met De la Rey teen die Engelse geveg het, of jy nou vir of teen apartheid was. Daarom is Christi van der Westhuizen vir my net so Afrikaans as Pieter Mulder of Max du Preez of Dan Roodt of Marlene van Niekerk of Jannie Mouton: hulle is gevorm deur wat daaraan vooraf gegaan het, en dit het begin met die koms van Jan van Riebeeck en die Nederlandse sug na kolonies.

My boek kyk veral na blanke Suid-Afrikaners met Afrikaans as eerste taal. Maar ook na mense soos Rian Malan wat homself ’n soort Afrikaanse imago toegeken het omdat dit ’n goeie identiteit bied van waaruit jy jou as joernalis/skrywer kan uitspreek teen die nuwe maghebbers.

En die afwesigheid van bruin Afrikaners?

Dat bruin Afrikaanstaliges nie in die boek voorkom nie, het te make met my uitgangspunt om te kyk wat daar met ’n volk gebeur as hy alle politieke mag verloor. En soos almal weet, het bruin Suid-Afrikaners tydens apartheid bitter min mag gehad. Wat daar met bruin Afrikaanssprekendes na 1994 gebeur het, vereis ’n heeltemal ander boek – jy kan hulle nie sommer iewers in ’n hoofstukkie wegsteek nie, want hulle geskiedenis en kultuur is fundamenteel anders as dié van blanke Afrikaners. Of miskien beter gestel: dit is iets soos ’n foto-negatief. Hulle was die slawe, die onderbetaalde landarbeiders, die Moslems en die tweederangse burgers wat tydens apartheid weggehou moes word van die blankes en na troostelose townships verban is. Maar hulle het wel dieselfde taal gepraat. Soos my vriend Danie Marais ’n keer gesê het: dit was ’n huwelik wat uitmekaar gespat het as gevolg van onversoenbare verskille en wat nooit weer regkom nie.

Maar kom ons praat verder oor die kritiek wat mense soms het op ’n sogenaamde buiteblik, en oor jou blik. Hoe lank woon jy al in Suid-Afrika en hoe goed dink jy ken jy die Afrikaner?

Ek woon nou altesaam byna dertien jaar in Suid-Afrika, eers van 1992 tot 1995 en daarna van 2003 tot nou. Ken ek die Afrikaner? Ek het in baie ander lande gewoon en was buitelandse redakteur vir die Volkskrant en daarna korrespondent in Rotterdam, my geboortestad. Gedurende al die jare, al die reise, al die gesprekke, indrukke en onderhoude ontwikkel jy ’n soort skrywersinstink en ’n goeie mensekennis. Jy leer om te luister en om seine op te vang, jy leer om dit te interpreteer en te kontekstualiseer. Jy vergelyk en begryp. Jy moet ook oor ’n soort gevoeligheid beskik, ’n sensitiwiteit, sodat jy jou in ander se posisies kan inleef sonder om hulle te maklik te veroordeel óf op te hemel. Dit maak die lewe soms vermoeiend, want al daardie inlewing is intens en vreet energie. Tog is dit alles die moeite werd.

Maar voel jy jou verbonde met die Afrikaner?

Laat ek dit so stel: ek voel my baie meer verbonde met die Afrikaners as met die Engelstalige Suid-Afrikaners (van wie ek trouens baie meer weerstand teen my boek as Afrikaners kry). My gevoel van verbondenheid met die Afrikaner is natuurlik as gevolg van die geskiedenis en die taal, maar ook omdat ek as Nederlander myself in positiewe en negatiewe dinge van die Afrikaner herken.

Soos?

Dit het te make met trots, met ’n donker gevoel vir humor, met ’n soort onversetlikheid, met gasvryheid, met die idee van die underdog (Rotterdammers hou daarvan om misken te voel en die underdog te speel), met ’n geneigdheid tot melankolie. Maar daar is ook baie aspekte waarmee ek heeltemal nie kan identifiseer nie, soos die konserwatiewe, macho kante van die Afrikaner.

Ek bly natuurlik ’n buitestander, in die woorde van Breyten Breytenbach ’n “middellander”, iemand wat nêrens meer tuis is nie. Ek voel meer soos ’n Rotterdammer as ’n Nederlander of Suid-Afrikaner. Ook dit is vermoeiend. Maar vir ’n skrywer is dit natuurlik ’n gerieflike posisie, want jy begryp iets sonder dat jy soveel binding daarmee het dat dit jou skryfwerk op ’n al te negatiewe of positiewe manier beïnvloed (dat jy byvoorbeeld sekere dinge verswyg of vermy).

Ja, ek dink sommige mense is van nature makliker “middellander”, mense wat nie so hou van groepsgebondenheid nie, wat altyd in elk geval so bietjie teen die grein in beweeg. Middellanderskap kan dus vir sommige mense ’n ideale posisie wees. Ek kan sterk daarmee identifiseer. Middellanders hou afstand, hou perspektief, want jy hoort nêrens meer nie. Maar om terug te kom na die boek. Het jy eers die boek in Nederlands geskryf en is dit daarna in Afrikaans vertaal?

Ek het in Nederlands begin. Toe het ek toevallig op Aardklop vir Annie Olivier van Tafelberg raakgeloop en haar van my boek vertel. Sy was dadelik baie geïnteresseerd. Ek het ’n paar dinge op papier gesit, ons het ’n keer gaan eet, sy het dit by Tafelberg onder die aandag gebring en ek het ’n kontrak gekry! Selfs voordat daar nog ’n Nederlandse manuskrip was. Ek het gou agtergekom dat dit baie moeilik is om tegelykertyd ’n boek vir die Suid-Afrikaanse en Nederlandse leser te skryf en het toe eers die manuskrip vir Tafelberg voltooi. Daarin kom baie besonderhede en name voor wat vir ’n Nederlandse leser nie veel sal beteken nie. Daarna het ek dit bewerk vir die Nederlandse mark. Daarvoor moes ek byvoorbeeld baie meer verduidelik oor dinge soos die Boereoorlog en die Grensoorlog. Ek het begin agterkom dat Nederlanders nie veel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis na 1994 weet nie. My Nederlandse redaktrise het gesê: “O, ik dacht dat het na 1994 allemaal wel koek en ei was voor de blanken in Zuid-Afrika.” Ek moes dus baie meer verduidelik in die Nederlandse boek.

Tafelberg het toe Zandra Bezuidenhout as vertaalster aangestel.

Ja, Zandra het my styl en ironie uitstekend aangevoel en ’n pragtige vertaling gelewer. Sy het so hard gewerk dat Rigtingbedonnerd selfs ’n maand voor Afrikaners. Een volk op drift verskyn het. Rigtingbedonnerd is ook dikker, en vir die Suid-Afrikaanse leser natuurlik interessanter. Vir my voel dit byna soos twee verskillende boeke.

Rigtingbedonnerd
Fred de Vries
NB Uitgewers
ISBN 9780624054658
R230

Klik hier om Rigtingbedonnerd van Kalarhari.com te bestel.

Waaraan skryf jy die Afrikaanse leser se positiewe ontvangs van Rigtingbedonnerd toe?

Ek wou ’n boek skryf wat die Nederlandse beeld van Afrikaners verstel. My vriende en kennisse (goed opgelei, progressief) het Afrikaners nog altyd redelik simplisties gesien: aan die een kant die fors, onversetlike boere wat hul personeel afsnou en aan die ander kant die boete-doenende Antjie Krog-tipes. Ek dink dat my boek bygedra het om hierdie beeld aan te pas. En ek dink, ek hoop, dat de Afrikaners wat my boek gelees het, of gaan lees, dit ook so begryp.

Nederlanders wat simpatiek staan ten opsigte van die Afrikanerkultuur, deur byvoorbeeld deel te neem aan Afrikaanse kunste-, boeke- of ander feeste, word dikwels met geweldige hartlikheid ontvang. Ek het al gehoor dat dit vir Nederlanders voel of hulle daar in ’n bad met heerlike warmwater beland … ’n soort vertroeteling en verheerliking wat in Nederland onvoorstelbaar is. Die Nederlanders (veral die jongmense uit die Randstad) begin al hoe meer ’n wrewel ontwikkel teen gedrag of omgang wat na die soetsappige neig, oa oordrewe hartlikheid. Maar as Nederlanders, selfs die hartlikheid-kritici, eers in Suid-Afrika is, is dit natuurlik lekker om aan die ontvangkant te staan.

Hier in Suid-Afrika bestaan beslis nog ’n gasvryheid, beleefdheid en waardering wat in Nederland sedert die sewentigerjare verdwyn het. In Nederland is hoflikheid in die loop van tyd vervang deur ’n grootbek-kultuur, waarin jy so grof, onbeskof en luid moontlik moet wees, verkieslik met die nodige gevloek. Soos jy tereg sê, is Nederlanders, veral in die groot stede, sinies en hard. Dus, as jy as Nederlandse skrywer of musikant Stellenbosch toe kom en jy word ontsettend gasvry onthaal en bederf, dan is dit natuurlik ’n aangename verrassing. So was my uitgewer, Tafelberg, ook uitermate entoesiasties oor die boek, en het ook nie geskroom om hul opgewondenheid te laat merk nie. Ek het ’n fantastiese redakteur (Annie Olivier) en ’n fantastiese promosiemedewerkster (Surita Joubert) gehad.

Maar jy’s heeltemal reg, die waardering vir alles wat Nederlands is, is wel soms ’n bietjie oordrewe.

En soms ook onkrities. Dit het waarskynlik deels te make met die feit dat ons so lank geïsoleer was en die aspoestertjie van die wêreld was. Dan maak jy ’n groot ophef oor elke nuwe maatjie wat wil saamspeel en behou hom ten alle koste te vriend.

Ja, ongelukkig is dit so. Ek sien byvoorbeeld hoe middelmatige Nederlandse sangers hier onthaal word asof hulle die nuwe Bob Dylan en Leonard Cohen is.

Vir die sanger of kunstenaar is dit natuurlik heerlik, maar daar is ook iets triest daaraan.

Moes jy jou aanvanklike mening oor die Afrikaner tydens jou navorsing vir die boek aanpas? Het jy tot nuwe insigte gekom oor wie en wat hulle is en waarheen hulle op pad is?

Sommige mense was interessanter en minder problematies as wat ek verwag het. Ek was nogal benoud oor Steve Hofmeyr, maar ek was aangenaam verras. Hy het ’n gevoel vir humor, beantwoord elke vraag so eerlik as moontlik, neem geen blad voor sy mond nie en is bereid om jou soveel tyd te gee as wat jy nodig het.

Dit was ook my gevoel toe ek met hom ’n onderhoud gevoer het. Terloops, Steve is ook ’n uitstekende skrywer, maar dit lyk vir my of die Afrikaanse letterkunde hom nie die erkenning gun wat hom toekom nie. Vanweë sy konserwatiewe politieke uitsprake is hy sommer ook literêr melaats. Maar jy was besig om te praat oor mense, soos Steve, wat jou aangenaam verras het.

Ja, iemand soos Eugène Terre’Blanche ook. Ek het hom meer jammerwekkend as angswekkend beleef. Hier sit die man wat jy net ken van die televisie en wat daar soos ’n bulderende fanatikus tekere gaan. En dan sit jy en praat met hom en dan sien jy die klein hartseer ogies en dink jy: Man, gaan lekker na jou plaas toe en jou koeie, jy het geen krag meer oor nie, jou charisma is weg.

Ek het ook met Angus Buchan, die evangelis, gepraat. En alhoewel ek geen aanklank vind by sy soort godsdiens nie, kon ek my goed voorstel waarom hy 250 000 mans, veral Afrikaners, na sy Mighty Men-konferensies trek. Hy is down-to-earth, positief en vol passie. En dit werk aansteeklik. Die feit dat ek nie ’n Christen is nie (sy eerste vraag was: “Is jy ’n Christen?”), was vir hom geen enkele probleem nie. Hy het hom hierby aangepas en net eenvoudig minder aanhalings uit die Bybel gebruik, ek dink omdat hy bang was dat ek dit nie sou kon interpreteer nie.

Dit was dus alles onverwagse dinge op jou pad.

Ja, en wat verdere nuwe insigte betref, ek het nooit besef dat daar so ’n groot verskil bestaan tussen Afrikaners uit die Kaap en Afrikaners uit die noorde nie. Wat my ook opgeval het, is dat byna alle Afrikaners met wie ek gepraat het (behalwe dié wat na Australië geëmigreer het), tog nog redelik positief oor die toekoms is. Hulle houding is oor die algemeen: ons sit almal in dieselfde bootjie en ons moet saam so goed roei as wat ons kan. Natuurlik het elkeen ’n ander idee oor hoe dit moet gebeur.

Verder het ek ook agtergekom dat jongmense eintlik bitter min oor apartheid weet. Dit is so ’n bietje soos met Duitsers na die Tweede Wêreldoorlog: daar word nie tuis daaroor gepraat nie. Terselfdertyd is die jongmense weer baie meer optimisties oor die toekoms.

Waaraan skryf jy dit toe?

Miskien het dit te make met daardie gebrek aan historiese kennis. Die generasie wat die hardste klappe gekry het en die meeste verbitterd is, is diegene (veral mans) wat grootgeword het in die sewentiger- en tagtigerjare, sê maar die veertig- en die vyftigjariges. Óf hulle het die Grensoorlog meegemaak en voel dat hulle vir niks hul lewens gewaag het nie, óf hulle het baie groot verwagtings van die postapartheid-tydperk gehad, verwagtings van ’n nierassige Mandela-land waarbinne hulle hulself ook nuttig sou kon maak – verwagtings wat toe nie waar geword nie. In plaas daarvan kry hulle te make met affirmative action en black economic empowerment.

Almal hou van die Afrikaanse titel. Die woord bedonnerd is in Afrikaans ’n lekker growwe woord. Die dominee sal nou nie eintlik van die preekstoel af sê dat die Israeliete rigtingbedonnerd was nie; dit is ook nie ’n woord wat mens op ’n boekomslag verwag nie. Daarom het dit ’n humoristiese effek … maar dan humor oor die feit dat die Afrikaner sy rigting verloor het. Die titel laat dus ’n bitter-soet smaak agter. Maar humor het altyd te make met ’n stukkie waarheid wat gevaarlik is, is dit nie? Ek dink nou aan ’n aanhaling uit die pragtige boek The lllicit happiness of other people (in Nederlands vertaal as Het onzichtbare geluk van andere mensen) van Manu Joseph (hy word nog groot!) waarin ’n karakter sê: “Onze lach heeft zich ontwikkeld uit een woest gezicht dat de vroege mens placht te trekken. Dat gezicht trok hij als hij niet zeker wist of een gevaar voorbij was. Mettertijd werd dat gezicht de menselijke lach. We lachen omdat de humor ons met een scherfje waarheid aanvalt en we gevaar bespeuren. Daarom lachen mensen in een vliegtuig ook; als er turbulentie is en de mensen zijn bang, dan lachen ze toch?”

Dit is so waar, ja.

Die Afrikaner sit nou eintlik ook in so ’n vliegtuig wat heftige turbulensie meemaak, en boonop is die vliegtuig nie meer op koers nie. Maar waar en wanneer en hoekom dink jy is die Afrikaner sy koers kwyt?

Ek dink dat dit veral te make het met die feit dat hulle na 1994 in ’n skoktoestand beland het. Skielik het alles wat hulle altyd gevrees het, waar geword: daar was ’n swart regering waaraan hulle oorgelewer gevoel het. Eers teen ongeveer 2000 het hulle uit die skoktoestand ontwaak toe hulle agtergekom het dat die Groot Wraak tog nie gaan kom nie en dat hulle ten spyte van ’n nuwe swart regering ’n belangrike deel van hul voorregte behou het. Die Afrikaanse koerante, tydskrifte, televisiesender, skole, universiteite, dit het nog grotendeels bly bestaan. Behalwe hiervoor, het hulle ook ekonomiese mag behou. In die onlangse Forbes Top 40 van die rykste mense in Afrika kom daar twaalf Suid-Afrikaners voor, van wie die helfte Afrikaners is!

Maar wat daarna moes gebeur het, het onduidelik gebly.

Presies. Daar was geen leierskap meer nie. Die NP is opgehef, De Klerk was te oud, Pieter Mulder is nie regtig ernstig opgeneem nie, Flip Buys is te veel van ’n intellektueel en in Orania woon nog steeds nie meer as ’n duisend mense nie. Boonop het die NG Kerk leeggeloop en het die Broederbond opgehou om te bestaan.

Afrikaners het gesien dat die voorheen verfoeide DA ’n groter politieke vuis kon maak as FF+, en loop toe oor na die DA. Die charismatiese kerke het wat godsdiens betref, uitkoms gebied. En Solidariteit en AfriForum bemoei hulle met tipiese Afrikaner kwessies (taal, werk, straatname, haatliedjes) – kwessies wat die buitewêreld laat roep: hulle wil apartheid terug hê!

Gee Rigtingbedonnerd enige rigting?

Die Afrikaner moet homself van vooraf uitvind, ’n nuwe identiteit karteer en daarmee gemaklik voel. Al word daar nou al gepraat oor die “hibriede Afrikaner”, het dit nog nie gebeur nie en sal dit ook nog ’n tydjie (een of twee generasies) duur voordat alles reg is daarvoor.

Ons het gepraat oor die Afrikaanse titel, maar nou na die Nederlandse omslag. Die agtergrond is ’n tipiese bar Suid-Afrikaanse plattelandse landskap … droog en klipperig, leeg, en altyd êrens ’n draadheining. (Terloops, slap draadheinings is iets waarna ek ontsettend hier in Nederland verlang – ek kan dit nie verklaar nie.) Maar die man op die voorgrond het ’n “on-Afrikaanse” voorkoms. Wie is hy en waarom staan hy op die omslag?

Dit is die basspeler van Fokofpolisiekar, Wynand Myburg, van Bellville. Aanvanklik wou die uitgewer ’n foto van ’n Afrikaner-ekstremis met ’n geweer gebruik. Dit wou ek definitief nie gehad het nie. Die boek gaan nie oor ekstremiste nie en die man wat hulle wou gebruik, het ek nie geken nie en kom ook nie in my boek voor nie. Ek wou juis ’n ander beeld van die Afrikaner wys. Wynand lyk moeg en gedaan op die foto, en jy’s reg, hy is nie ’n cliché-beeld van die Afrikaner nie. Maar wat hy uitstraal, is wel simbolies van sy generasie: moeg, maar bereid om verder te gaan.

Sy gesigsuitdrukking op hierdie foto is ’n kombinasie van verwesenheid, afgematheid, maar ook vasberadenheid. Bietjie soos die landskap waarbinne hy staan.

Presies. Toe ek nie die foto van die ekstremis wou gebruik nie, het die uitgewer met ’n foto gekom van iemand by Tafelberg. Maar ook dit is natuurlik ’n cliché. ’n Groot deel van Suid-Afrika lyk soos op die foto van die omslag: droog en dor, en ja, die draadheining. En ek het gevoel dat die dialoog tussen die landskap en die langhaarman goed werk … ook danksy die geel wat vir die letters gebruik is.

Jou laaste hoofstuk gaan oor die toekoms van die Afrikaner.

Ja, ná die verskriklike gebeure rondom Marikana, Anene Booysen en die Mosambieker wat agter die polisiekar aangesleep is, dink ek soms: ek moes nie gevra het of daar ’n toekoms vir die Afrikaner is nie, ek moes gevra het of daar hoegenaamd ’n toekoms vir Suid-Afrika is. Voeg daarby die werkloosheid, die skrikbarende teenstellings tussen arm en ryk en die bedremmelde onderwys … die prentjie is nie juis rooskleurig nie. Daar sal ’n gemeenskaplike poging onderneem moet word om die land weer op die regte spoor te kry.

En dink jy dat daar ook vir Afrikaners ’n rol daarin te speel is?

Beslis. Hulle is meestal goed opgelei, weet hoe om dinge aan te pak en het ’n nou band met die land. Maar op die oomblik ontbreek daar ’n visie, nie net onder die Afrikaners nie, maar in die algemeen. Die land karring maar so ’n bietje aan ... niemand weet regtig wat hy moet doen nie. Die land is rigtingbedonnerd.

Ek dink dat die toekoms van die Afrikaner daar lê waar hy sy hibriede identiteit, wat ek vroeër genoem het, gaan vind - die teenoorgestelde van die laer-mentaliteit. Jy moet jou aanpas by jou omgewing en aanvaar dat die tye van politieke en rasse-dominasie vir altyd verby is, maar terselfdertyd besef dat daar voldoende moontlikhede is om jou eie taal te praat en jou eie kultuur in stand te hou. Dit is ’n soort lokale variant op die kosmopoliet: jy het as individu in Suid-Afrika verskillende persona nodig omdat jy te make het met soveel verskillende wêrelde. Binnenshuis kan jy so Afrikaans wees as wat jy maar wil, maar daar buite moet jy ’n soort verkleurmannetjie wees wat steeds ’n ander gedaante aanneem, afhandend van die omgewing waarin jy verkeer. En dit sien jy, veral in stede, steeds meer.

Ons hoop om jou binnekort in Nederland te sien as jy hopelik óf die MJ Brusse-prys vir beste joernalistieke boek, óf die Bob den Uyl-prys vir beste reisboek kom haal. In sigself is hierdie nominasies natuurlik al klaar ’n pragtige bekroning vir jou deeglike navorsing en jou onderhoudende aanbieding daarvan.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Lynda Gilfillan

    Challenging, insightful deconstruction of a hybrid identity whose future hope lies in hybridity.

  • Avatar
    Emma Huismans

    My eerste reaksie hier: "Breek me de bek niet open"!  Iemand wat sy eerste voet pas in 1992 - let wel- op "Afrikaner" - bodem sit -  beledig deur 'n boek soos The UnDutchables, kenner van die verskil tussen Rotterdammer en  Amsterdammer, dat díé persoon, na 'n verblyf van 13 jaar  'n kenner van die Afrikanervolk of nie-volk kan wees klink vir my as redelijke ervaringsdeskundige nogal ongelooflik ...

    Maar alles is moontlik ... laat my maar eers die boek lees ... erger nog veral beide versies!

    Intussen, was dit 'n baie interessante gesprek  ... oor 'n vir my nogal super belangrike onderwerp met talle herkenbare temas en punte. Goed gedoen, Annemarie van Niekerk.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top