Titel: Trousseaukis
Skrywer: Annelie Botes
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046509
Publikasiedatum: 30 Mei 2008
Bladsye: 208
Klik hier om Trousseaukis nou by kalahari.net te bestel!
Sowat 'n dekade na die eerste verskyning van Annelie Botes se kortverhaalbundel Trousseaukis het Tafelberg Uitgewers dit goedgedink om vanjaar 'n heruitgawe van dié bekende bundel die lig te laat sien. Hierdie "storieskatkis", wat bestaan uit 13 boeiende kortverhale, elkeen uniek en elkeen geskoei op 'n ander aspek in die menslike psige, bou voort op die sukses wat Botes in 2001 met Raaiselkind en in 2004 met Klawervier gehad het.
Die bundel begin met die gelyknamige verhaal, "Trousseaukis", waarin die verteller die hoofkarakter, Elsebet, skets as 'n middeljarige huisvrou wat sukkel om sin te maak uit haar lewe omdat sy nie haar verlede kan verwerk nie. Dit is dié verlede, in die vorm van 'n donker embuia-trousseaukis wat van haar oorlede ouma geërf is, wat sy besluit om een oggend trompop te konfronteer, want "vandag sal hierdie euwel uit haar huis uit" (bl 1). Terwyl sy die swaar kis uit haar huis probeer stoot, worstel sy ook met die gedagtes van haar ouma se teenkanting teen haar en hoe dit verband hou met wat in 1944 gebeur het toe haar pa in Egipte was. Die verhaal bereik sy hoogtepunt wanneer Elsebet beheer oor die kis verloor en dit (figuurlik gesproke, tesame met haar emosies) in stukke aan die onderkant van die trappe beland. As sy die inhoud van die kis optel en uitsorteer, vind sy iets wat haar tot diepere insig lei.
Nog 'n verhaal wat handel oor die emosionele trauma verbonde aan die verwerking van 'n verlede, is "Die Indringer". Hierin speel Hendrina Louw die rol van 'n pas-geskeide vrou wat die emosionele skerwe van haar gebroke huwelik moet optel en terselfdertyd "besef ... dat die eensaamheid haar in die ruveld ingestuur het" (bl 9). So probeer sy emosioneel en finansieel kop bo water hou deur naaldwerkbestellings te aanvaar, maar kort voor lank blyk dit dat selfs hierdie reddingspoging ook skipbreuk gaan ly. Dit is dan, in die vorm van haar Portugese buurvrou, Mariá de Freitas, dat uitkoms letterlik aan haar deur kom klop, en hierdie twee karakters vind ten einde 'n steunpilaar in mekaar: "Toe hulle voorkoppe teen mekaar druk, word hulle eenders; huil hulle dieselfde soort trane" (bl 17).
So ook in die verhaal "'n Tyd vir elke ding" sukkel die hoofkarakter, Dawid, om sy vrou, Kalinka, se dood te verwerk. Hy klou vas aan haar herinnering in die vorm van hulle sterwende kat, Nêne, wat volgens die veearts slegs op geleende tyd leef. Dawid probeer weer sin aan sy bestaan gee deur sy orrel-lesse voort te sit en raak op hierdie manier met Janke, die orreliste, bevriend. Soos Dawid, het Janke egter ook 'n geraamte in haar kas wat "op geleende tyd leef" en vroeër of later wel sal uitkom. Dit is dan dat hierdie twee karakters saam-saam sin probeer maak uit die toonlere wat die lewe aan hul gegee het, en hulle leer mekaar om weer die orrel van die lewe te bespeel, sodat Dawid ten einde weet "'n nuwe, ander tyd het aangebreek" (bl 123).
'n Ander deurlopende tema in die bundel is dié van kinders. In "Koms van die kind" smag die hoofkarakter daarna om liefde te ervaar. Dié drang van haar is so erg dat sy probeer om die leemte in haar te vul deur 'n kind ontvoer, "[s]odat sy ook iemand van haar eie kan hê" (bl 86) en om die vrees dat sy "'n spieëlbeeld van haar ma geword het", te help besweer. Sy steek die seuntjie dan weg, want sy "sou hom nie deel nie. Dit was háár kind" (bl 92) en sy was bang die mense sal begin vrae vra. Met tyd besef sy egter dat hoe meer sy die kind probeer dwing om haar lief te hê, hoe minder wil hy met haar te doen hê en besef sy sy moet 'n plan maak.
In "Die lappieskombers" tree die idee van volwassenes wat deur kinders tot diepere lewensinsigte gelei word, ook in Heila se lewe na vore. As weduwee van 'n man wat voor sy selfmoord geld by die ouetehuis gesteel het, word sy verstoot deur die gemeenskap en voel sy, soos die hoofkarakter in die verhaal hier bo, alleen en eensaam. As Robin die dag op haar voorstoep opdaag om lootjies te verkoop, verander dié kind Heila se lewe vir ewig. Dis deur hierdie dogtertjie se nuuskierigheid om met stukkies weggooilap te leer werk dat Heila weer stadig die stukkies van haar eie lewe aanmekaar begin las en in die proses weer mens word in die gemeenskap se oë.
In die verhaal "Oud van dae" is Salien se ma gedoem tot 'n rolstoel vanweë 'n groot emosionele skok wat sy ervaar het. Salien se pa hou egter vol "Dis als in haar kop" (bl 18) en dat Salien moet dophou vir die dag wat haar ma se skrik "deur 'n ander groot skrik ontklaar kom" (bl 18) en sy weer begin loop. Om die impak van haar ma se trauma op haar eie lewe te verwerk, skep Salien 'n verbeeldingswêreld vir haarself waarin sy 'n partytjie vir haar naderende verjaarsdag beplan. Dit is dan op Salien se groot dag dat die noodlot dit bestem vir 'n tweede groot skok om beide Salien en haar ma se oë oop te maak en Salien vind: "Op elf gee die Here 'n mens nuwe oë om beter te kan sien" (bl 27).
Deur die loop van die kortverhale speel geloof as tema ook 'n beduidende rol. "'n Tiende van alles" is 'n verhaal wat vertel van hoe die mens se geloof tot die uiterste beproef kan word. Die hoofkarakter is 'n bruin vrou, Dina, wat ten spyte van die ellende en armoede waarin sy leef, steeds jaar na jaar haar tiende aan die Here opdra. Hierdie Kersfees weet sy egter nie, want dit "Dit was 'n sware jaar" (bl 48) en daar was min kere wat sy die renosterboskop kon uitklim om haar spaargeld weg te bêre vir die Here se tiende en die bruin klavier wat sy so graag by Dominee wil koop. Deur haar lewensomme reg op te tel en af te trek, word Dina se seëninge op die ou einde van die dag bymekaar gesit en kry sy meer as waarvoor sy gewens het.
In "Meulsteen om die nek" wys die verteller dat selfs nie eens dominees gevrywaar is van die beproewinge van die gees nie. In hierdie verhaal is die hoofkarakter, Egbert, 'n emosioneel uitgeputte predikant wat verwyder voel van die Here en sy vrou, Henna. Egbert se obsessie met 'n rekenaarspeletjie word sinoniem met sy beheptheid om beheer in sy eie lewe uit te oefen en "[b]aasskap te hê oor rigting en koers en puntestand" (bl 100). Hierdie stryd dryf hom egter tot raserny en op die ou end moet hy swig voor die druk van die lewe. As Egbert dan gehospitaliseer word, is dit in die woorde van een van sy gemeentelede, oom Tol, dat die boodskap van die verhaal na vore kom: "As die mensdom eers gesien het 'n ander mens se sonde en seerkry sit ook maar net veldiep, verbaas 'n mens jou partykeer hoe hulle agter jou saamskaar" (bl 110).
In verdere verhale soos "Die paradysdonkie" en "Op soek na 'n skaduwee" bemoei die verteller haar met die lot van die huisvrou en die alledaagse druk wat sy ervaar om 'n huishouding aan die gang te hou en vir haar eggenoot aantreklik te bly. Die sterk punt van dié verhale, en ander in die bundel, lê dan juis daarin dat dit fokus op die mens se swakhede. Egbert, Heila en Hendrina word nie as perfekte karakters met perfekte lewens uitgebeeld nie, maar hul foute en tekortkominge word op die voorgrond geplaas en lesers kan aanklank hierby vind.
Die bundel skep ook nie die indruk dat die skrywer vrouens as goed en mans as sleg teen mekaar probeer afspeel nie, maar eerder dat hulle mekaar bystaan in hul swaarkry. Dit gaan hier eerder om 'n gevoel van samehorigheid en meegevoel met die lot van die mens in die geheel, om ten einde uitgebeeld te word as oorwinnaars oor hulle omstandighede. Die skrywer wil die leser ook laat glo in die goeie wat daar in mense steek - iets wat sy wel regkry, want aan die einde, net soos met Pandora se boks, ná al die stories uitgepak en geliasseer is, is dit die gevoel van hoop wat by die leser bly wink.

