Anneke

  • 1

bloedvreemd300Juliana Coetzer se outobiografiese roman Bloedvreemd oor haar dogter Anneke, wie se lewe op 'n jong ouderdom weens siekte vir altyd verander het, het onlangs by Jonathan Ball verskyn. Hierdie verhaal verskyn nie in die boek nie.

“Anneke, jy móét pie-pie,” sê ek terwyl ek die plastiekkoppie tussen haar boude en die toiletbak inforseer. Sy sit op my hand en ek kan nie sien of die koppie op die “regte” plek gehou word nie, maar al moet ek die urine van my hand afskraap vandag, pie moet hier gepie word.

“Ek kan nie. Sa wil nie hê ek moet nie.”

Nou wie is ek om met Sa te stry? Ek is net die ma. Sa is die hoofdirigent, die stem in haar kop. Die een wat sal sê wanneer daar gepie word.

“Weet jy hoe gatvol is ek al vir Sa,” sê ek met die wete dat ek nie verstaan word nie en dat dit in elke geval nie ʼn duit aan Anneke of Sa saakmaak wat ek dink nie.

Ons loop met die leë koppie terug na die suster se kantoor waar haar bloeddruk gemeet en pasiënte geweeg word en al daardie dinge wat ʼn suster doen voor die pasiënt by die ginekoloog uitkom. Sekerlik werk dit nie orals so nie, maar by die militêre hospitaal is dit prosedure.

In die staatsdiensstoele sak ons neer. Langs my sit een wat haar kougom om haar tong knoop, en die klapgeluide laat staan elke senuweepunt in my kop orent. Ek het daardie siekte, het ek onlangs op die internet verneem, daardie een wat mense wat hard kou, wil klap. Ek hou my in en kyk verwonderd hoe dit nie ʼn vaal kol aan die ander wat rondom ons sit, maak nie. Wat is dit met my? wonder ek vir die sewehonderdmiljoen-en-vyf-en-tagtig-honderdste keer, om ons president aan te haal. Hoekom doen hierdie goed niks aan ander mense nie? Dan is die fout mos by my as dit net vir my voel iemand kou binne in my kop. Ek voel skamer vir myself as wat ek deesdae vir Anneke voel wat net eenvoudig haar kop wegdraai as sy nie iemand wil groet nie.

Jammer vir myself, sit ek langs haar. Die lewe saam met Anneke beteken ure se gewag by dokters, spesialiste, pensioenfondskantore en hospitaalsale. Gelukkig is ek lief vir lees, maar deesdae is dit nie meer ʼn grap nie, want Sa hou nie van wag nie. Vier jaar gelede is ʼn apparaat onder narkose in haar uterus geplant sodat sy nie hoef te menstrueer nie. Die ding is veronderstel om vyf jaar te hou, maar verlede maand het sy weer begin menstrueer. Sy gaan kla by haar pa. “Hier is bloed by my bene. Ek hou nie daarvan nie.” Sy is 25, maar verstaan nie die meisiedinge nie. Die pak pads gooi sy in die gang af dat dit hop. “Ek dra nie doek nie.” Saak afgehandel en Sa was nie eens ter sprake nie.

ʼn Verpleegsuster kom staan voor ons. “Where is the urine?”

“As jy krag het om ʼn oorlogsone te betree, kyk of jy dit uit haar kan kry,” sê ek. Ek is 56 en nie meer lus vir die gesukkel nie.

“What is wrong with her?” kom die vraag op ʼn moederlike manier. Ek begin voel hoe die trane agter my oë brand.

“She is mentally disabled.”

“Born that way?” (Hoekom dink ek nou aan Lady Gaga?)

“No.” En toe begin huil ek. Van die snot-en-trane-soort, maar onthou tog dat ek net moet probeer om nie te snik nie, want dan kan ek maar die dag afskryf en in die bed gaan klim. Ek ken myself so.

“Sorry, nè, sorry, my dear, so sorry,” sê die suster asof dit alles haar skuld is en slaan haar arms om my skouers. “I didn’t want to hurt you. You know God is great, He wil give you power.” Sy praat saggies in my oor.

In die ondersoekkamer hanteer sy en die jong verpleegster Anneke asof sy enige oomblik kan breek.

“Don’t worry about the urine,” sê die suster met die troosarms en vryf Anneke se wang. “No problem, sorry nè.”

Ons gaan sit weer in die wagkamer en wag vir die dokter. Ek stuur vir Fanus ʼn WhatsApp: “Nou pie sy natuurlik soos ʼn transport donkie.”

Na drie ure word ons ingeroep. Teen dié tyd is Sa én Anneke rasend.

ʼn Jong dokter wat besig is met haar Zuma-jaar, groet vriendelik.

“Ons sal haar moet ondersoek om te sien of die apparaat geskuif of uitgeval het.”

“Jy kan haar nie ondersoek nie. Sy sal nie saamwerk nie.”

“Sal dit beter wees as ek ʼn ander dokter roep?” vra sy. Ek hoor tussen die reëls: sy vra of Anneke meer gemaklik met ʼn “wit” dokter sal wees.

“Nee, asseblief, dit het niks met kleur te doen nie. Dis net, niemand het nog ooit daar gevat nie.”

Sy gaan roep die spesialis, ʼn groot swart man.

“Ek sal ʼn inwendige ondersoek moet doen.”

“Nee, u sal nie kan nie. Die kind is verstandelik gestremd. Hoe moet sy dit verstaan?”

“Sal dit vir haar makliker wees as ʼn vrou haar ondersoek?”

“Nee, asseblief hoor my, dit het niks met kleur of geslag te doen nie. Die kind is deur genoeg in haar lewe. Moenie binnedring waar nog nooit binnegedring is nie.

“So sy is nie seksueel aktief nie?”

“Ek verstaan nie hoe u die vraag kan vra nie. Sy is die hele tyd onder toesig. Sy is ʼn 7-jarige in ʼn 25-jarige liggaam.”

“Goed, kom ons doen ʼn sonar om te sien wat gebeur het.”

In die sonarkamer wys hy my geduldig elke deel van my kind se vroulike binnegoed. Daar is die blaas, die eierstokke en die uterus. Daar is die plek waar die apparaat behoort te wees, maar hy het geskuif en dít is waar hy nou sit. Anneke lê doodstil. Sy het geen idee waaroor die ondersoek gaan nie.

Ek hoor hom van stemtoon verander. “Ons gaan haar nie traumatiseer nie. Ons neem haar teater toe, verwyder die ou apparaat onder narkose en sit ʼn nuwe een in. Miskien moet ons ook sommer met die proses begin om uiteindelik ʼn histerektomie te doen. Ongelukkig moet ʼn hele paneel daardie besluit neem.”

My kind wat nog twee jaar gelede gesê het sy wil eendag drie kinders hê. Natuurlik het ons geweet dis nie moontlik nie, maar wat bly oor as mens nie meer kan droom nie?

“Ek sal mooi na haar kyk,” sê hy toe hy groet en gee Anneke ʼn druk.

Uiteindelik, op pad uit, gaan soek ek die suster. Ek kry haar nie. Ek sê vir die jong verpleegster wat gehelp het: “Thank you for your kindness and please give my love to the sister.”

ʼn Dag daarna vra ʼn joernalis wat ʼn gesprek met my voer oor Bloedvreemd: “Wat laat jou huil?”

“Kindness,” sê ek. “Kindness laat my huil.”

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Elsabe Strydom

    Ek het Bloedvreemd gelees en soveel aanklank gevind, want ons seun wat ons op die ouderdom 20 verloor het , het ’n liggaamlike gestremdheid gehad. Hy was so lank deel van ons bestaan en leefwyse. Dink aan jou en lees graag van jou skrywe. Baie sterkte vir julle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top