Anna Atoom en die magnetiese meermin, lekker leersame leesstof

  • 0

Titel: Anna Atoom en die magnetiese meermin
Samestellers:
Elizabeth Wasserman
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
9780624054887

Klik hier om Anna Atoom en die magnetiese meermin by Kalahari.com te koop.

 

Hierdie boek is die tweede in die Anna Atoom-trilogie van Elizabeth Wasserman en, soos Anna Atoom en die seerower se dolk, ’n opwindende klein juweel. Die finale boek in die reeks, Anna Atoom en die digitale draak, het ook reeds verskyn en lesers kan nou die volledige stel opraap. 

Met hierdie reeks bring Wasserman, ’n geneeskundige mikrobioloog op die Tygerbergkampus, ’n vars en genotvolle (om nie eens te praat van leersame nie) toevoeging tot die genre van wetenskapfiksie in Afrikaanse jeugliteratuur.  Die boeke is gemik op lesers van 12 jaar en ouer, maar wees verseker dat die aanhangers van hierdie verhale veel omvangryker sal wees.

Op die eiland Mon Petit, iewers in die omgewing van die Seychelle-eilande, woon Anna, haar biotron-boet, Pip, hulle geheimsinnige oppasser en versorger, Ton, hulle eksentrieke en geniale ma, Sabatina, hul briljante rekenaar, Maks, en hul robothond, Brak, in idilliese omstandighede saam. Haar pa, Abraham Atoom, moes ná ’n ongeluk waartydens die molekules in sy liggaam versteur is, in die buitenste ruimte gaan leef.  Hy bly daar in ’n ark saam met voorbeelde van elke moontlike dierespesie op aarde (uitgestorwe en lewend) en ’n hoogs gevorderde rekenaar, U6, as enigste geselskap.

Hierdie keer is die uitdaging en avontuur wat voor Anna Atoom  beland, een van katastrofiese proporsies.  Eerstens word Brak onsigbaar wanneer Anna met sy verstellings peuter en haar instruksiegids tussen neus en ore verdwyn.  ’n Onsigbare hond kan groot konsternasie veroorsaak, onthou!  Verder is Uranus Draak, ’n skoolmaat van haar pa en boosaard, besig met planne om die aarde se magnetiese pole te verskuif en sodoende die proses van aardverwarming om te keer.  Hierdie plan van hom kan egter katastrofiese gevolge vir die lewe op aarde bring.  Draak gee nie ’n snars om vir die miljoene mense wie se lewens bedreig sal word nie.  Hy glo sy plan sal oorbevolking ’n nekslag toedien, ongeag die verwoesting wat sal volg.  Om sy bose planne uit te voer, ontvoer hy Abraham Atoom en ook Ton.  Hulle is deel van sy meesterplan.  Hulle en ’n beeldskone, maar dodelik meermin. In haar poging om Draak in sy spore te stuit en haar pa van ’n gewisse dood te red, moet Anna na Duitsland en uiteindelik die Noordpool reis. Met Maks die robot as hulp en Brak (asook ’n onverwagse laspos) as reisgenoot, pak sy onverskrokke die tog aan in hulle JetKopter. 

Met hierdie trilogie spreek Wasserman ’n relatiewe onontginde gaping in Afrikaanse jeuglektuur aan, naamlik wetenskapfiksie wat leersaam dog opwindend en boeiend spanningsvol aan lesers gebied word.  Die boeke skep ’n gulde leergeleentheid om kinders omgewingsbewus en ekokrities te maak.  Dit stel hulle bekend aan wetenskaplike terme en konsepte sonder om die genot van die leeservaring in die wiele te ry. 

Sy het die Anna Atoom-reeks begin skryf met die belang van haar eie dogter in gedagte, sê Elizabeth Wasserman.  In haar woorde tydens ’n onderhoud op Sarie.com stel Wasserman dit só:  “Maar Anna Atoom het ek vir haar begin skryf toe sy op die ouderdom gekom het waar haar belangstelling in wiskunde en wetenskap begin taan het.  Dit het my bekommer.  Ek wou hê sy moet dinge verstaan, soos: hoe werk molekulêre biologie en hoe werk noorderligte, en die fisika en die wetenskap agter alledaagse dinge.” 

Oral in die boeke is daar teksboksies waarin waardevolle, interessante feitekennis aan die leser gekommunikeer word sonder om die storielyn te steur.  Trae lesers kan hierdie “ekstra” inligting dalk lastig vind, maar vir die nuuskierige en weetgierige leser is dit ’n ideale ekstra bron van kennis om die veld van wetenskap en tegnologie beter te leer ken en te verstaan.

Wasserman wys self op die ekofeministiese inslag van die Anna Atoom-boeke.  Sy noem dit ’n “reaksie teen boeke wat gaan oor feeprinsesse en towerkuns”.  Met Anna wou sy wys “dat die wetenskap net so wonderlik is soos towerkuns, dat jy goed kan doen met die wetenskap” en dat die rol van meisies/vroue op hierdie terrein van waarde is.  Hierdie idee van die skrywer word suksesvol volvoer.  Die hoofkarakter is Anna Atoom, ’n dapper, waaghalsige, onverskrokke, avontuurlustige meisie wat die “groen” boodskap passievol uitdra.  So anders as die stereotipiese voorstelling van die vrou as magtelose wese.  Hier word twee baie sterk vroulike karakters uitgebeeld:  Anna Atoom en haar ma, Sabatina.  Tog sal manlike lesers kwalik vervreemd voel met die lees van hierdie trilogie.  Met manne soos Ton, Maks, Abraham Atoom, Uranus Draak en selfs klein Pip, is daar geen gebrek aan sterk manlike medekarakters nie.

Met ’n lekker spanningslyn, ruimskootse humor en die vloeiende verduideliking van hoogs ingewikkelde tegnologiese en wetenskaplike konsepte, is daar ’n uiters geslaagde simbiose tussen feite en fiksie.  En te midde van dit alles staan Anna Atoom, die meisie met die attitude.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top