Anlen Marais (1953–)

  • 0

Foto: verskaf

SêGoed van Anlen Marais:

“Poësie is vir my ’n medium wat ’n byna religieuse toewyding eis van wie daarmee besig wil wees.”

“As digter sal ek altyd Afrikaans bly. Dis die taal waarin die wonderbare stuk geel kaas van die maan vir altyd sawens voor my sal opkom.” (Die Burger, 20 Maart 1999)

Hoe gaan sy te werk as sy dig? “Soms kom dit gou. Maar meestal is dit ’n lang proses van besinning. Dis nie makliker (of vinniger) om ’n gedig te skryf – as sê – ’n drama nie.” (Insig, Februarie 1999)

Waar skryf sy? “In die studeerkamer. Alle gedigte vind egter nie noodwendig hul voltooiing daar nie. Dit bly draai maar in ’n mens se kop waar jy ook al gaan. Soms kom die oplossings waarna jy soek, by die onmoontlikste plekke by jou op – soos wanneer jy inkopies doen.” (Insig, Februarie 1999)

Hoe gaan sy te werk om iets te skryf? “My idees word vroeg gebore. Karakters speel in my gemoed. Dit duur ’n lang tyd voordat dit op papier kom.” (Die Burger, 20 September 2003)

“As ’n gedig voltooi is en hy het geword wat hy moes wees, gee dit ’n geluk wat niks anders dermate kan gee nie. Die effek is egter kortstondig, want die geluk kwyn as ’n mens afstand op die skryfsel kry, en dan begin die analise.” (Insig, November 1988)

Is sy ’n taalvegter? “Ja, ek is gekant teen Engafrikaans. Ek voel die gebruik daarvan voer ons drie eeue terug na die tyd toe Afrikaans as kombuistaal bestempel is.” (Die Burger, 20 September 2003)

Gebore en getoë

Anlen Elisabeth Marais is in 1953 gebore as ’n nooi Jordaan. Sy word groot op Fort Beaufort in die Oos-Kaap, waar sy matrikuleer. Sy was hoofmeisie daar en voeg vinnig by: “Daar was net tien kinders in die klas, waarvan twee meisies was.” (Oosterlig, 26 November 1984)

Haar vader was betrokke by die veiligheidspolisie en haar moeder was ’n dosent in Engels en Latyn aan die Fort Hare Universiteitskollege.

Anlen beskryf haar grootworddorp aan Roline Norval (Oosterlig,  5 Oktober 1988) as ’n “stimulerende dorp met baie bakens in die landskap. Van kleins af is ek gekonfronteer met die groot swart gesig van die dorp. Die swart werkers het elke oggend met hul perde uit die berge op die dorp aangekom en elke aand met die aandklok verdwyn. Van politieke werklikhede het ek van my pa gehoor, wat in die veiligheidspolisie was. My ma, wat Latyn en Engels aan die kollege doseer het, het saans voor die kaggelvuur vir my as klein kind die legendes en mites van die Griekse en Romeinse gode vertel. My pa het ook gedurig stories vertel.

“Dit is hier waar woorde en wat jy daarmee kan doen, vir my ’n gevoel van opwinding begin gee het deur die kontras tussen die onheilspellende skadu’s wat die vlamme agter teen die muur gooi en die veilige en geborge gevoel om die kaggel, waar Ma woorde optower en Pa biltong kerf.

“Fort Beaufort was ’n mengelmoes van plattelandse mense met ’n kosmopolitiese aksent uit die geledere van die universiteit en die Duitse klooster wat as die kultuursentrum van die dorp beskryf kan word. Dit is by die klooster waar ek Duits-klasse en musiek geneem het.”

In standerd ses lees Anlen “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw in ’n tydskrif en dit is toe dat sy haar eerste gedigte begin skryf: “Ek onthou nog die opwinding en dankbaarheid wat ek gevoel het dat so iets in Afrikaans geskryf is en dat dit hoegenaamd geskryf is,” vertel sy aan Norval.

Verdere studie en werk

Na matriek is Anlen na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA en BA Honneurs behaal. Sy was, soos vele ander digters wat in daardie jare op Stellenbosch was, lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium. In haar honneursjaar was sy Opperman se assistent en dit is veral in daardie tyd dat haar digwerk rigting gekry het. Terwyl sy haar vir ’n MA-graad in Afrikaanse letterkunde voorberei het, het Opperman siek geword en het sy haar studie op die lange baan geskuif. Sy is toe as gas van die Nederlandse Zuid-Afrikaanse Vereniging na Nederland.

In 1977 behaal Anlen haar HOD aan die Universiteit van Port Elizabeth en vanaf 1978 tot 1983 is sy verbonde aan verskeie skole in die Kaap en op Uitenhage.

Sy tree in die huwelik met A Marais en hulle gaan vestig hulle op Despatch. Die egpaar het ’n seun, Ernst.

Die Departement van Nasionale Opvoeding skryf in 1979 ’n prosawedstryd uit, en hoewel daar geen wenner of naaswenner aangewys is nie, word die derde prys gesamentlik aan Anlen en Roy Niemann toegeken. Anlen ontvang dit vir haar manuskrip Op parool.

In 1984 debuteer Anlen as digter in die bundel Visier, wat deur Charles Fryer en Petra Müller saamgestel is. Ander digters wie se werk ook in die bundel opgeneem is, is Carol Clark, Wium van Zyl, Donald Riekert en Rosa Smit. TT Cloete skryf in Tydskrif vir Letterkunde (Mei 1985) dat Anlen die digter is wat individueel die beste indruk gemaak het. Daniel Hugo meen in Die Volksblad (15 Desember 1984) dat Anlen die sterkste digter in die bundel is: “Haar gedigte is met ’n beheerste, vormvaste hand geskryf,” sê hy. Vir André le Roux in Beeld is Anlen se gedigte met elke herlees beter en dat haar eie bundel moet verskyn.

Foto: Pixabay.com

Na die geboorte van hulle seun was Anlen vir vier jaar by die huis en gedurende hierdie tyd ontstaan haar eerste selfstandige bundel, Die wolf in die blare. Sy verduidelik aan Roline Norval dat die titelgedig sinspeel op die kinderverhaal van die wolf en die drie varkies, “waarin sy die vrese wat met kindersprokies gepaard gaan en die rol wat die ma se vrese daarin speel, bekyk. Dit is veral die toonaard van hierdie gedigte wat van dié van my vroeë gedigte verskil. Ek is met ’n man getroud wat die lewe tong-in-die-kies benader wat my ook beïnvloed het om minder ernstig te wees. Ek voel ook ’n skatpligtigheid teenoor die omgewing en het die geografiese gebied beklemtoon.”

Die bly in ’n huis en die redes wat ’n mens dwing om daar te bly soos verpligtinge is die belangrikste tema van Die wolf in die blare. Ook is die son wat sleg is vir die menslike liggaam as gevolg van ’n siekte, ’n ander oorwegende tema.

Nadat sy in Visier gedebuteer het, hou Anlen aan met skryf en dit is hierdie gedigte wat in haar eerste bundel opgeneem is. In Insig van November 1988 vertel sy as volg: “Maar dis eers sedert Desember verlede jaar (1987) dat ek ’n patroon in die verse begin waarneem het en toe besluit om meer by te voeg en aan te las vir ’n bundel."

Pieter van der Lugt (Die Burger, 8 Desember 1988) sê dat dit “verblydend is om ’n debuut te sien waarin die peil van die verse so konstant is. Hier is min vaal kolle en origens ’n handvol verse wat talle lesers sal bybly. Daar is ’n konsekwentheid in die segswyse wat ’n afgeronde indruk laat en groot belofte inhou.”

Vir Joan Hambidge (Beeld, 5 Desember 1988) is “die vermoë om temas te kan komponeer, verdienstelik. Daar is blyke van ’n kragtige eie stem en ’n vermoë om konkreet te werk. Die verse is egter nie altyd tegnies af nie. Sou die digteres egter tegnies ontwikkel, behoort haar eiesoortige visie tot ’n boeiende digterskap te ontwikkel.”

Anlen skryf haar in 1988 in vir ’n graad in kuns aan Unisa. “Ek wou graag met ’n ander kunsvorm eksperimenteer soos met beeldhouwerk. Dit is interessant dat ’n mens met dieselfde probleme soos dié van integrasie te kampe kry in elke kunsvorm. Ek het my eerste jaar met beeldhou as hoofvak met vlieënde vaandels geslaag, maar het besluit om in my tweede jaar slegs kunsgeskiedenis aan te pak, omdat ek die wondere van die rekenaar ontdek het,” vertel sy aan Roline Norval.

’n Toneelstuk van Anlen, Wittakker se laaste trippie, word in 1989 by die ATKV se Kampustoneelfees opgevoer deur die Universiteit van die Witwatersrand se Dramadepartement. Sy beskryf die stuk as post-protesteater. “Dit is teater van versoening. Daar is ondertone van protes teenwoordig, maar dit is nie die protes van spoeg nie,” verduidelik sy aan Roline Norval (Oosterlig, 23 Maart 1989). Die stuk is ’n huldeblyk aan Wittakker, ’n Engelse narkotiseur wat altyd saam met ’n groepie bruin vissers gaan visvang het. Daar is twee sterk rolle in die stuk en een is geskryf met die akteur Eric Nobbs in haar agterkop, en in die ander rol sou sy graag ’n akteur soos John Kani wou sien wie se gesigspel een van sy sterk punte is.

Anlen was een van die eerste persone wat die ATKV se werkskole bygewoon het. Sy het in 1985 ’n werkskool bygewoon wat deur Nico Luwes gelei is oor die skryf van dramas.

In 1990 ontvang Anlen ’n oproep van Japie Greeff, voorsitter van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in Oos-Kaapland, met die versoek om ’n passiespel te skryf. Sy was juis besig met navorsing vir ’n gedig oor die opstanding soos dit in Johannes 20 beskryf word. Hierdie gedig het Maria Magdalena se slotliriek in die passiespel Die passie van onse Heer geword. Anlen het die teks en lirieke geskryf en die passiespel is onder haar regie in 1991 in Happy Valley in Port Elizabeth opgevoer in samewerking met Kruik. Van die soliste was Randall Wicomb, Rudi Neitz, Theo Boekkooi, Retha Smit en Patricia Smith.

Saam met Patricia Smith is Anlen in 1992 verantwoordelik vir ’n kinderreeks, Moeder Aarde, wat oor omgewingsbewaring handel en wat oor Afrikaans Stereo se kinderprogram Siembamba uitgesaai is. Sy beskryf die oorsprong van hierdie reeks aan Roline Norval (Oosterlig, 2 Oktober 1992): “Ek het vir Patricia vertel van die liedjie wat ek geskryf het met ’n paar stories met ’n bewaringstema. Ek het egter weer daarvan vergeet totdat Patricia vir haar gevra het om daarna te kyk. Patricia het die stories aangevul met ’n paar van haar eie totdat daar genoeg was vir ’n hele reeks. Die stories, almal met ’n bewaringstema, speel hulle af in die Oos-Kaapse omgewing met die bedreigde diere van die streek as tema. Patricia het die stories ‘gered’ het, want ek was baie besig om aan talle projekte te werk, soos ’n etniese drama met musiek, asook ’n Kersspel wat opgevoer sou word om Despatch se 55ste jaar te vier.” In 1993 skryf Anlen ’n opvolgreeks van ’n verdere tien episodes van Moeder Aarde.

Ben de Koker van Bloemfontein neem die regie waar van haar Kersspel, Die seuns van Jonathan, wat in 1992 op die planke gebring is.

In 1993 ontvang Anlen ’n uitnodiging om haar kinderdrama Koer-koer vir opvoering te neem na die Third International Women Playwright’s Conference in Adelaide in Australië.

Anlen is ook ’n skilder van naam en sy het al ’n uitstalling van haar skilderye saam met ander kunstenaars in Uitenhage gehou.

Anlen se veelsydigheid ken geen perke nie en in 1995 word haar eerste musiekspel, Noah was his name, deur die Hoërskool Brandwag op Uitenhage opgevoer. Hierdie stuk is ’n unieke benadering tot die storie van Noag, wat die “natuurbewaarder” was toe die groot vloede die aarde verswelg het. Deur die stuk hoop Anlen om die kinders meer betrokke te kry by natuurbewaring.

Anlen lees in 1995 in Die Burger van BBC World Service se dramawedstryd en sy besluit om daaraan deel te neem. Vir haar drama Dear Miester Mandela word sy aangewys as die streekwenner vir Afrika en die Midde-Ooste en die moontlikheid het bestaan dat dit as radiodrama oor die BBC uitgesaai sou word. Sy beskou hierdie toekenning as een van die hoogtepunte van haar skryfloopbaan. Sy het die stuk aanvanklik in Afrikaans geskryf en dit toe in Engels vertaal. Anlen meen dat die stuk baie beter in Afrikaans klink, omdat dit in die streektaal van die Oudtshoorn-distrik geskryf is.

Die idee vir die stuk het ontstaan na aanleiding van ’n storie wat haar oupagrootjie, ’n Skot van geboorte wat by Oudtshoorn geboer het, vertel het, vertel Anlen aan Roline Norval (Die Burger, 28 September 1995). Haar oupagrootjie se plaas is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse soldate beset en een van die werkers op die plaas het ’n Engelse soldaat se kind gehad. Anlen het geen idee wat van die kind geword het nie, maar sy het hierdie gegewe as agtergrond gebruik in haar verhaal waarin sy ’n beeld probeer gee van die gebeure van die twintigste eeu in Suid-Afrika.

In Anlen se verhaal erf die kind wat destyds gebore is, ná 90 jaar £10 000 van sy Engelse kant van die familie. Hy kan egter nie lees of skryf nie en die brief wat hy aan sy vrou dikteer, dra hy op aan “Miester Mandela” en dit vorm die drama.

In 1997 is die Afrikaanse weergawe van die stuk, Horiesô Madiba, by die hooffees van die KKNK deur Kruik Oos-Kaap opgevoer met David Goliath en Vinette Ebrahim in die hoofrolle en onder regie van Marléne Pieterse. Na die opvoering skryf Roline Norval dat hierdie stuk Afrikaanse teater, veral in die Oos-Kaap, weer moed gee. “Met skerp waarneming, aanvoeling en verbeelding het sy vir haar Martiens en Ragel ’n verwysingsveld geskep wat hulle eg en geloofwaardig maak. Sy gebruik byvoorbeeld die rol wat mites in die kultuuragtergrond speel om die meer gesofistikeerde teatergangers ’n subtiele aanduiding te gee van wat van hul kleinseun geword het. Dit is nie net twee karakters nie, maar die geskiedenis en ’n plek waaraan lewe gegee word.”

Een van die beoordelaars van die BBC se kompetisie, Tim Butchard, hoof van die Departement Drama en Dans van die British Council, het die stuk as “roerend en skerpsinnig en ’n besonderlike effektiewe stuk teater” beskryf. Die paneel van ses beoordelaars het die stuk se “roerende eenvoud en die patos waarmee die twee bejaarde mense se oorloggeteisterde lewens uitgebeeld word, aangeprys en die stuk opgesom met: ‘Goeie karakterisering en ’n goeie uitbeelding van die verhouding tussen die twee mense en ’n gevoel vir die taal wat hulle praat ... die skrywer het baie talent, vernuf en kundigheid’.”

Anlen se kulturele bydrae oor twintig jaar tot die Oos-Kaap word in 1998 deur die Departement van Kuns en Kultuur erken toe sy ’n toekenning van hulle ontvang.

In 1998 tree sy saam met ander skrywers by die Universiteit van Port Elizabeth se skryfskool op. Sy het die afdelings radiodramas en dramas behartig. In 1998 bied sy ook ’n radiodrama-werkswinkel op Graaff-Reinet aan vir die Departement van Kuns en Kultuur.

Na elf jaar word Anlen se tweede digbundel, muur van berge, in 1999 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is geïnspireer deur die gebeure toe haar moeder nie meer kon praat nie weens keelkanker. Daarna kon sy net deur briefies te skryf met haar dogter kommunikeer. Anlen en haar geneesheer-man het haar so lank as moontlik tuis verpleeg en daar was eenvoudig nie die tyd of energie om aan gedigte te dink nie, vertel sy aan Cas van Rensburg (Insig, Februarie 1999). Petra Müller en Danie Botha van Tafelberg Uitgewers was die groot impetus om met die materiaal om te gaan. “Jaar ná jaar het hul Kerskaarte aangekom met die boodskap: Ons wag.”

Ná twintig jaar het Anlen uiteindelik die moed gehad om deur die boks met papiere te gaan: “Met die skryf van muur van berge moes ek my nie alleen in tyd terugverplaas nie, maar ook na die gebeure se ruimte. Dit het soveel konsentrasie geverg dat ek soms vergeet het waar ek my eintlik bevind.”

Sy vertel aan Cas van Rensburg dat dít waaroor sy in muur van berge skryf, haar vir baie lank sonder woorde gehad het: “Selfs nou nog vind ek dit moeilik om daaroor te praat. Voorts het ek vir ’n lang ruk gemeen die onderwerp is dalk té persoonlik vir publikasie. Deur te wag het ek gehoop dat ek die nodige afstand daarop sou vind en sodoende reg sou kon laat geskied aan die omvang en diepgang daarvan.”

Oor die titel van die bundel verduidelik Anlen aan Van Rensburg dat haar ma die laaste ses maande nie meer kon praat nie; dus moes sy alles wat sy wou sê, neerskryf: “Muur van berge is haar laaste woorde. So het sy dit wat sy toe gesien het, onder woorde gebring. ’n Vertroostende nalatenskap.”

In Zuid-Afrika van November/Desember 1999 skryf Hans Ester: “Ik vind deze poëzie zeer indrukwekkend en ik ben blij dat er in Zuid-Afrika ook nog gedichten werd geschreven waarin de ironie en de onbetrokkenheid het moeten afleggen tegen de werkelijke levensproblemen.” AP Grové (Beeld, 24 Mei 1999) meen dat daar beslis beplanning en struktuur in die opset van die bundel sit, asook afwisseling van spanning. “Maar die bundel het ook sy skadukant. Baie van die gedigte, selfs van die bestes, word plek-plek te informatief, mededelend, prosa-agtig, ritmies spanningloos. [...] Dis ’n bundel wat sekerlik ’n bydrae lewer, maar daarby is dit ’n bundel wat vanweë verstegniese tekorte nie sy moontlikhede en beloftes ten volle kon verwesenlik nie.” Francois Smith (Die Burger, 2 Junie 1999) skryf dat Marais se poësie nie soseer deur die beeldgebruik of liriese toon bekoor nie. “Dit is egter ’n ryk bundel vir diegene wat bedag is op hoe die ‘fyn net van die woord’ reg deur die bundel ingespan word.”

Anlen se radiodrama The medic was onder die tien finaliste in die Sanlam/RSG se hoorspelkompetisie in 1999 en word op RSG uitgesaai onder regie van Terrance April. Verskeie van haar verse word in versamelbundels opgeneem, onder andere in Sy sien webbe roer, wat in 1999 deur Lina Spies saamgestel is. Twee kortverhale wat Anlen ingeskryf het vir De Kat se Vonkfiksie-wedstryd word saam met ander finaliste s’n gepubliseer in ’n bundel wat by Human & Rousseau uitgegee is.

In Maart 1999 ontvang Anlen ’n oorkonde van die ATKV vir haar bydrae tot Afrikaans.

Op grond van ’n nominasie deur die BBC word Anlen in 1999 genooi om deel te neem aan die Alexander Onassis International Competition Prize for the Composition of an Original Theatrical Play, wat geskeduleer was om in 2001 toegeken te word met ’n prysgeld van $150 000.

In 2003, met haar vyftigste verjaardag, het die Port Elizabethse Amateur-toneelvereniging (Peaat) haar vereer vir haar bydrae tot Afrikaans deur ’n toneelstuk, Die storieboom, oor haar werk op te voer. Agt van haar gedigte is in Groot verseboek 2000, wat deur André P Brink saamgestel is, opgeneem.

Anlen is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en op 2002 se toekenningsplegtigheid vir die Hertzogprys het Elize Botha vir Anlen persoonlik bedank vir haar bydrae tot Afrikaans. “So ’n opmerking kan geen geld ter wêreld koop nie.” (Die Burger, 20 September 2003)

Publikasies:

Publikasie

Die wolf in die blare

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026647 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

 

Publikasie

muur van berge: elegieë

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037533 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen


Artikel oor Anlen Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Anlen Marais beskikbaar op die internet

  • Bygewerk op 8 Januarie 2020
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top