Angus Buchan en sy Mighty Men: Sakkie Spangenberg reageer

  • 3

Die ou-ou tyding en die teologie van die buiksprekende God: Die Shalom-bediening en die Mighty Men-konferensies

1. Inleiding

Die Mighty Men-konferensies wat van 2004 tot 2010 op ’n plaas naby Greytown gehou is en waarheen groot groepe blanke mans jaarliks opgeruk het, is ’n ietwat vreemde verskynsel op die blanke kerklike toneel, maar dit is nie ’n vreemde verskynsel onder Afrika-Christene nie. Groot getalle Afrika-Christene trek jaarliks tydens Pase en ook in September naby Polokwane saam. Hier word vir ’n naweek gesing, gedans, gepreek, gebid, gesond gemaak, bearbei en ingelyf. Na die naweek word mense weer weggestuur om gehoorsaam te gaan leef volgens die oortuigings van die Zion Christian Church (Hanekom 1975:54–7).

Die Shalom-bediening wat die Mighty Men-konferensies reël, is die spieëlbeeld van die soort bediening waaraan Afrika-Christene gewoond is. Dit voorsien in ’n groep blanke Christenmans se behoefte aan gemeensaamheid en identiteit. Hulle wil saam met ander ’n nuwe belewing van hul geloof ervaar. Hulle wil die Christelike God se stem hoor, die Bybel saam met ander lees, saam aanbid, saam sing, mekaar aanraak en bemoedig, en ervaar dat die lewe nie leeg en sinloos is nie. Hulle wil iemand ontmoet wat vir hulle as geestelike leier, voorbeeld en mentor kan dien. Hulle wil weggestuur word met ’n bemoedigende boodskap: Wees die besluitnemers in julle gesin. Wees mans vir julle vroue en pa’s vir julle kinders. Julle is God se ”magtige krygers”.


2. Belewing en herlewing

Wanneer ’n mens Die Mighty Men Verhaal lees en na die foto’s daarin kyk, is dit onmoontlik om die aspek van emosionele belewing en die aanspraak op herlewing daarin mis te kyk. Foto na foto wys mans met hande in die lug (40, 46, 50–1, 78, 90–1, 132, 183, 269, 282–3);1 mans wat knielend bid (21, 122, 151, 172); mans wat “kringetjie” vorm en saam bid (47, 71, 109); mans met kitare in die hand (110, 126, 182); mans met geopende Bybels (62, 140, 179); mans wat intens luister en meegevoer word (19, 21, 53, 78, 86, 113, 132, 161, 167, 172, 174, 175, 180, 186, 240, 269, 288–9).

Wat ook nie misgekyk kan word nie, is die man wat die as vorm waaromheen die byeenkomste draai: Angus Buchan. Hy is die prediker, die geestelike leier, die inspireerder, die voorbidder, die mentor, die rolmodel. Ook hy staan op foto’s met hande omhoog (193, 304) en met ’n geopende Bybel (71). Sy lyftaal spreek van entoesiasme (30–1, 67, 73, 101, 115, 229, 244, 304), veral wanneer hy die Bybel rondswaai (116, 119, 228). Hy is soos ’n goeie dirigent wat die orkes tot ’n eenheid saamsnoer. Hy is ’n generaal wat sy troepe bemoedig en aanmoedig (149, 185, 194, 208). Hy preek met drif, hartroerend, en spoor die manne aan tot kragtige geloofsdade (54–5, 120, 224–36). Hy jubel en juig oor wat God besig is om in Suid-Afrika te doen: hier is ’n herlewing aan die ontwikkel. Almal behoort dit te kan sien – selfs die wolkformasies vertel dat God by alles betrokke is en dat Hy alles goedkeur (88–9, 244).


3. Geslagsrolle, kinderopvoeding en sorg vir die aarde

Die mees opvallende in die boek is die beklemtoning dat mans bewoë raak en tydens die byeenkomste huil (89–90, 102–3, 111–2, 139–40, 146, 245, 272–3). “Die ou tradisie van ’n man wat nie huil nie is ver van die waarheid” (88); “Dis heeltemal in orde vir manne om te huil” (92) is Buchan se boodskap. Maar ten spyte van hierdie oënskynlike teenstrydigheid (mans wat emosioneel raak en huil) beklemtoon Buchan die tradisionele geslagsrolle. Die frase mighty men is die Engelse vertaling van die Hebreeuse woorde gibbôr hajîl, en dit verwys na ’n militêre kryger. Dit is wat die manne moet wees: geestelike krygers. Dit is dus nie vreemd dat Buchan na militêre veldslae uit die Skotse geskiedenis verwys (203–9) wanneer hy preek en skryf nie – ’n bewys dat sy teologie beïnvloed is deur militêre range waar lyne van bevel en beheer duidelik uitgestippel is. Die man is die bevelvoerder van ’n eenheid (lees “gesin”). Die vrou moet die rol van versorger speel (135). Sy bied die ondersteuningsdiens vir die manlike kryger en mag nie buitenshuise arbeid verrig nie. Die tradisionele geslagrolle is vir hom belangrik (143–4, 212–23).

Hy haal die bekende gedig “If” van Rudyard Kipling (1865–1936) aan om sy siening van man-wees te ondersteun (223). Maar Buchan vertel nie die tragiese verhaal van Kipling se seun, John, nie. Die seun wou sy pa trots maak deur by die weermag aan te sluit en ’n vegsoldaat te wees. Maar sy sig het hom ’n ongeskikte kandidaat gemaak. Rudyard Kipling moes ’n spesiale woord vir sy seun doen om hom in die weermag te kon kry. John, ’n skamele agtien jaar oud, sterf tragies op 27 September 1915 in die veldslag van Loos gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914–18). Die familie is nooit ingelig oor die presiese omstandighede van sy dood en hoe vermink hy was nie. Sy liggaam is nooit gevind nie. Geen graf en geen grafskrif vir hom nie. Na die seun se dood was Rudyard Kipling minder entoesiasties oor die oorlog en het hy verskeie grafskrifte geskryf – miskien as ’n soort boetedoening. Die volgende grafskrif verwoord iets van sy eie wroeging oor sy seun se dood (Bilsing 2000):

If any question why we died,
Tell them because our fathers lied.

In Buchan se teologie is daar nie ruimte vir bevraagtekening nie. Alles is klokhelder in die Bybel uitgespel. Daarom is daar ook nie ruimte vir ’n Margaret Thatcher, ’n Angela Merkel, of ’n Mamphela Ramphele nie. Dis vroue wat manlike rolle inneem en na regte teen die voorskrifte van die Bybel handel.

Wanneer dit by kinderopvoeding kom, is sy voorskrifte eenvoudig: Wees ’n voorbeeld, en wanneer dit nodig is, wiks die ongehoorsame en rebelse kind (181, 214).

Oor die aarde en die ekologiese krisis waarin die mensdom verkeer, rep Buchan geen woord nie. Dis nie waaroor die evangelie van Jesus gaan nie. Jesus het nie gesê: “Gaan heen en sorg vir die aarde nie”, maar “Gaan geen en maak dissipels van die nasies.”


4. Die ou-ou tyding en die teologie van die buiksprekende God

Die evangelie wat Buchan verkondig, is ’n maklik verstaanbare een. God het mense lief en wil hê dat hulle Hom moet liefhê en met alle ander mense in vrede en harmonie moet saamleef. Jesus het gesterf om mense van hul sondes te bevry en harmonie op aarde te bewerkstellig. Dis die ou-ou tyding waarmee heelwat Christene grootgeword het. Die manne moet maar net weer hierdie evangelie hoor en dit uitleef, dan loop alles weer klopdisselboom in hul huise en in die Suid-Afrikaanse samelewing. Verder is die Bybel nie ’n ingewikkelde boek nie: “Lees soos dit geskryf staan, glo soos dit geskryf staan en jy sal ontvang soos dit geskryf staan.” Of in Buchan se eie woorde: “God het dit gesê, ek glo dit, en daarby volstaan ek” (152). Dit vat sy Skrifbeskouing en teologie goed saam. Verder glo hy dat gebed alle probleme kan oplos – van homoseksualiteit tot onvrugbaarheid (147).

Buchan lees die Bybel van Genesis tot Openbaring as geskiedenis en verstaan alles letterlik. Neem sy vertellings oor Dawid en Moses as voorbeeld (145–6). Hy haal tekste uit konteks aan en ryg dit soos krale in ’n snoer om sy boodskap tuis te bring. Volgens sy oortuiging spreek God direk deur die Bybel, daarom kan hy tekste uit konteks aanhaal. Dis immers God se woorde vir alle tye en alle kontekste. Buchan se teologie kan ook getipeer word as ’n teologie van die buiksprekende God. Die Bybel is die medium waardeur Hy praat. Almal wat die Bybel lees (soos Buchan dit lees), kan aanspraak daarop maak dat God direk tot hulle gespreek het en dat hulle sy stem gehoor het. Die lang geskiedenis van Bybelinterpretasie en van teologiese nadenke is van weinige belang.


5. Slot: Net ’n fundamentalistiese teologie bring heil

Buchan erken ruiterlik dat hy ’n fundamentalis is (152) en dat daar volgens die Bybel net één weg tot saligheid is (20). Die feit dat vele Christene uit allerlei denominasies aan sy lippe hang, sy byeenkomste bywoon en hom as die groot evangelieprediker van Suid-Afrika sien, wys hoe sterk die fundamentalistiese denkstroom in Suid-Afrika loop. Die bewindsverandering in Suid-Afrika het stellig iets hiermee te doen. Die verandering het vir heelwat onsekerheid en trauma gesorg – veral onder die blanke deel van die bevolking. Sommige Christene gryp onnadenkend na fundamentalisme omdat dit maklike antwoorde op ingewikkelde samelewingsvraagstukke bied. Maar Christelike fundamentalisme hou net soveel gevaar vir ons wêrelddorpie in as wat Islamitiese fundamentalisme daarvoor inhou, want dit verabsoluteer een waarheid – die waarheid soos weergegee deur fundamentaliste.

Jürgen Moltmann wys heel tereg daarop dat die moderne samelewing gebou is op individuele vryheid, en dit sluit die vryheid van godsdiens in (1992:101). Godsdiensvryheid beteken dat ander sienings en standpunte in ’n bepaalde godsdiens verdra moet word – iets waarmee Buchan en sy aanhangers duidelik nie gemaklik is nie.

Na die lees van Die Mighty Men Verhaal het James Barr se woorde oor fundamentaliste en hulle wil tot mag, hulle wil om te beheer en te domineer, my aan Buchan en die Shalom-bediening laat dink (1984:119):

Fundamentalists seem to me to fail to perceive that the Bible itself can be made into the instrument of human pride, human self-affirmation, human will to dominate, human ideological fervour. They cannot believe it of the Bible. If one really and completely accepts its authority, one will not be able to go wrong. But this is what does happen, and there is plenty of evidence and experience for it. People who sincerely and completely accept the Bible can build it into the structure of their own will and desire, just as any other object can be used.

Hierdie beskrywing pas Buchan soos ’n handskoen. Sý gebruik en uitleg van die Bybel is bo verdenking. Daar is nie ’n sweempie van eiebelang nie. Sý boodskap is eenvoudig en ongeskunsteld, maar absoluut waar. Dis suiwer alleen op die Bybel begrond. Wanneer hý vir mense bid, word sy gebede verhoor (147). Hy het ’n direkte verbindingslyn met God en hy praat voortdurend met Hom. God praat ook voortdurend deur die Bybel en deur daaglikse lewensgebeure met Buchan. Hy keur alles wat hy doen, goed. Hy seën hom en sy gesin ongelooflik. Alles loop klopdisselboom op sy plaas en in sy bediening – ander mense moet maar net sorg dat hulle hul finansiële beloftes gestand doen (175).

 

Eindnota

1 Bladsyverwysings tussen hakies is deurgaans na Die Mighty Men Verhaal, tensy anders vermeld.

 

Bibliografie

Barr, J. 1984. Escaping from Fundamentalism. Londen: SCM.

Bilsing, TE. 2000. The process of manufacture. Rudyard Kipling’s private propaganda. http://www.wlajournal.com/12_1/Bilsing.pdf (19 April 2013 geraadpleeg).

Buchan, A. 2012. Die Mighty Men Verhaal. Vereeniging: CUM.

Hanekom, C. 1975. Krisis en Kultus: Geloofsopvattings en seremonies binne ’n Swart kerk. Pretoria: Academica.

Küng, H en J Moltmann (reds). 1992. Fundamentalism as an ecumenical challenge. Londen: SCM. (Concilium Special.)

Moltmann, J. 1992. Fundamentalism and modernity. In Küng en Moltmann (reds) 1992.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 3

Kommentaar

  • Beste Sakkie, die gebrek aan kommentaar dien as bewys hoe min jou mening tel. Jou sienings is nog erger verdraai as die van AB.

  • Die opinie van agnostici of ateïste kry nie baie aanhang in die algemeen nie. Ons word meestal gemarginaliseer of ge-ignoreer agv 'n gebrek aan insig en ondersoek. Meeste mense is nie reg om te aanvaar dat hul kosbare geloof eintlik 'n pot snot is nie.
    Religion makes you passive, teaches you to hope (trust) in what cannot be objectively experienced, seen or investigated. The perfect tool for the power hungry or those with a bloated self esteem to exercise over the uninformed.

  • JesusIsDieHere

    Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.

    1 KORINTIËRS 2:14 AFR83

    Jy, klein stippeltjie in die heelal en op die tydlyn van die ewigheid – wat 'n wonderwerk is jy nie met jóú meerdere kennis dat jý nou die verhewe insig moet hê nie, nè?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top