Angus Buchan en sy Mighty Men: Pieter de Villiers reageer

  • 9

Die Mighty Men-beweging as godsdienstige verskynsel

Elke geestelike beweging het sy indrukwekkende en skadukante. Die Evangelies illustreer met ’n eenvoudige gelykenis dat godsdiens en die kerk soos ’n oes op die land is waarin onkruid saam met koring groei (Matt. 13:24–43). Soms is dit moeilik om te probeer om die onkruid uit te trek, want ’n mens pluk die koring saam uit. Die beste is, volgens die gelykenis, om te wag tot die oestyd. Dan kan ’n mens die koring herken en van die onkruid skei.

Die boodskap is dus: nie te gou oordeel nie. Kyk en weeg versigtig. Moenie dat vooroordele ’n mens blind maak vir die wins van dit wat vir jou anders lyk nie. Dit is Gamaliëlswysheid: wat van God is, wat geloofsbene sterk laat staan, sal wel mettertyd duidelik word (Hd. 5:33–39). Wat nou na ’n bedreiging vir die status quo kan lyk, blyk môre God se werk te wees.

Dit geld ook van Die Mighty Men-beweging, wat onlangs in ’n nuwe boek van Angus Buchan op ’n glansryke en indrukwekkende manier beskryf is (Die Mighty Men Verhaal, CUM Uitgewers, 2012). Die teks en foto’s vertel van sukses en glorie: massas mense wat van alle windrigtings optrek om in die oop veld, rondom ’n massiewe verhoog, te aanbid. Hier is sprake van honderde duisende mense wat intens, knielend, handeswaaiend, biddend en singend betrokke is.

Byeenkomste word oor die land en in ander wêrelddele gehou. Die blote naam van die beweging het sy merk selfs in die besigheidswêreld gelaat. In die boek se titel, Die Mighty Men Verhaal, is daar ’n netjiese TM agter die Mighty Men-titel. Sy naam is nou ’n beskermde handelsmerk.

Ons het hier inderdaad, om Angus Buchan se eie woorde te gebruik, ’n “fenomeen”.

Fenomene soos hierdie is nie onbekend aan die Afrikaanse kerklike tradisie nie. Daarvoor kan ’n mens maar kyk na voorbeelde van die Pinksterbidure, sendingweke en CSV-byeenkomste. En deur die geskiedenis heen was daar toe, soos ook nou, vrae en kritiek.

 

1. Die kernvraag oor die fenomeen

’n Mens kan allerhande interessante wetenskaplike insigte oor die Mighty Men-beweging uitspel, soos ook in in hierdie WebSeminaar gedoen sal word. Daar is veel oor die beweging te sê vanuit die geskiedenis, die sielkunde, die sosiologie en die kultuur, wat alles sal help om dit te verstaan en te evalueer. ’n Mens sou ook oor die beweging kon nadink as ’n globale verskynsel, want daar is byvoorbeeld duidelike lyne wat na die Promise Keepers loop, en bekende outeurs soos Eldredge speel ’n prominente rol in die denke van Buchan.

Maar uiteindelik is die fundamentele vraag: Wat is die geestelike behoeftes wat in hierdie merkwaardige verskynsel aangespreek word? Wat is die godsdienstige inhoude waarby soveel mense aanklank vind? Watter spiritualiteit kom in die beweging na vore?

Dit is immers duidelik dat mense in die eerste plek veral ’n bepaalde en selfs intense godsdienstige ervaring het wanneer hulle Buchan se byeenkomste bywoon.

As ’n mens dit beter kan peil, kan dit ook jou reaksie teenoor die beweging bepaal, want per slot van rekening en in alle billikheid moet dit ook beoordeel word in terme van wat dit wil wees.

In hierdie bydrae wil ek dus kyk na minstens twee groot aspekte van die Mighty Men-beweging. Ek wil dit eers as ’n geestelike beweging verstaan, waarna ek wil let op die implikasies daarvan: Hoe pas die geestelike beweging in in die groot diskoers van godsdiens en die kerk? Watter ongeestelike kante is daar aan hierdie verhaal?

 

2. Dapperheid, onverskrokke, maar sag en teer

Die oorheersende perspektief van vele mense op die beweging word bepaal deur die naam “Mighty Men” wat daaraan gegee word. Angus Buchan is besonder bewus van die benaming wat hy vir sy byeenkomste gekies het. Hy heg duidelik baie waarde daaraan. Hy praat in sy voorwoord van “dapper manne” en gebruik die verhaal van Dawid met sy klein groep van 30 manne wat (volgens 1 Kron. 11:10) 300 mans met die spies doodgemaak het om die naam te verduidelik. Die ondertoon van die naam is dus vreesloosheid, aanval, gelding, spierkrag en stryd. Kortom, dit gaan vir hom om manlikheid in die sin van fisieke krag en psigiese durf.

Die naam weerspieël iets van Buchan se persoonlikheid. Dit sien ’n mens deurskemer wanneer hy sy teenstanders aanvat, juis oor hul kritiek op sy keuse van ’n naam en die inhoud van sy boodskappe. Buchan, van staal, en met oortuiging, wil onverskrokke die “ware” verhaal oor die fenomeen skryf – “die absolute, onteenseglike, outentieke verslag” wat staan teenoor die “baie teorieë en stories” van “mense met sekere persepsies” (11). Hy is bewus van die strome van kritiek teen hom – van die groot berigte oor finansies, seksisme en emosionele uitbuiting. Hy staan nie terug nie. Sy boek is sy dapper verweer teen kritikasters van sy beweging. Hy, die strydlustige, is self ’n “mighty” man wat met durf sy teenstanders aanpak. Hy is nie apologeties oor wat hy glo nie.

Hy skryf, uitdagend, mense moenie nou kom sê sy naam vir sy beweging is arrogant nie. Diesulkes word ronduit skynheilig genoem. Dapper en magtig is wat mans behoort te wees, want ook die Bybel sê so.

Kwaai woorde, dus. Maar, in alle billikheid moet hier meer bygevoeg word. Buchan verstaan dapperheid op ’n heel spesifieke manier. In sy siening van manlikheid is daar niks van die bloedstollende bloeddorstigheid van die mans in die Dawid-episode nie (wat hy origens nie bespreek nie).

Dapper manne, verduidelik Buchan (17–8), is eerder standvastige rolmodelle en mentors in ’n tyd “waarin alles uitmekaar val” en die gesin vernietig word. Die gedagte van voorbeeld en leierskap word die filter wat die beweging op die Bybel en die godsdienstige ervaring plaas en vir manlikheid opeis. Dus: mans moet deur hulle fisieke krag en psigiese durf voorbeelde wees en rigting aandui. Dit bly dus vir hom in die eerste plek ’n positiewe, opbouende mag wat aan die werk is in ’n omgewing waar dinge tot niet gaan.

Daar is egter nog meer. Hy verbind, verrassend genoeg, taamlik “onmanlike” trekke met sy dapper manne. As daar een dimensie is wat ’n boeiende kenmerk van die Mighty Men-beweging onderstreep, is dit trane – wat keer op keer en op vele bladsye ter sprake kom (bv 18, 36, 40, 65, 88, 92, ens). Trane vloei “soos riviere” en manne omhels mekaar (40). Dit is onsin (“’n aaklige leuen uit die hel” [94, vgl 181]), skryf Buchan, dat mans nie hulle emosies mag wys nie. Hy self bring dae deur in die bos op ’n heuwel waar hy voor God bid en huil (58). “By byeenkomste huil ek meer as wat ek praat” (126). Hy vertel herhaaldelik en uitvoerig oor sy ervaringe oor trane. Seuns van 12 tot 13 jaar en “groot, taai, bebaarde boere” kom hul arms om hom sit en huil “gebroke in die teenwoordigheid van God”. Een van die belangrike redes vir die sukses van sy beweging is dat manne op hul eie wil wees. “Hulle wil met mekaar kan identifiseer, hul maskers afhaal en net hulself wees. Hulle wil toegelaat wees om in mekaar se arms te huil, te lag en te praat oor dinge wat op mans betrekking het, nie op vroue nie” (111; my kursivering).

Dit is boeiend dat hierdie trane die geestelike karakter van die Mighty Men-beweging op ’n insiggewende manier verklaar. In spiritualiteit is dikwels geskryf oor die “gawe van trane” wat in sekere tye en kontekste ’n algemene aspek van mense se geestelike reis was. Veel is hieroor geskryf, maar in die algemeen word aangeneem dat die gawe van trane na innerlike omkeer verwys en op die ontfermende aanraking van God dui. Dit is opvallend dat dit juis aangetref word in lekespiritualiteit, hoewel bekende spiritualiteitsfigure dit ook beleef het en daaroor skryf. Dit is welbekend dat ongekontroleerde gehuil in die Pinksterbidure met hul bekeringsprediking in die 19de eeu in die NG Kerk voorgekom het en hoe sekere predikante desperaat probeer het om dit te beheer.

In die geskiedenis van spiritualiteit is hierdie gawe egter van die vroegste tye af besonder hoog geag. Die beroemde vroeg-Christelike skrywer Simeon die Teoloog noem die gawe van trane ’n tweede doop wat die vuil in ’n gelowige se lewe wegwas, terwyl die ewe invloedryke kerkvader Gregorius van Nissa dit as ’n vyfde doop beskryf. In sommige gevalle is daar dieper besin oor hierdie trane: soms is onderskei tussen trane van berou wat aan mense geskenk word, teenoor die “hoër” vorm van trane van liefde, wat in mense voorkom wat bewus raak van God se liefdevolle teenwoordigheid.

Terselfdertyd is dit sonder meer duidelik dat sulke trane ’n teken is dat mense wat die byeenkomste bywoon, ’n intens geestelike belewing gehad het. Sulke trane was oor eeue heen kenmerkend van ’n vernuwingsproses in godsdienstige konteks. Dit is dus opvallend dat ’n mens in die Mighty Men-beweging spontane tekens terugkry van ’n ervaring wat opgeteken en hoog geag is in baie ou vernuwingstradisies, veral in ’n Oosters-Ortodokse konteks.

Dit is boeiend dat Buchan hierdie gawe van trane toe-eien eerder as wat hy dit probeer beheer of voorkom. Die “gawe van trane” was naamlik nie baie gewild in Westerse kontekste met hul stoere uitbeelding van manlike krag nie. Mense het vir eeue daaroor gefrons, veral vanuit ’n koue verstandelikheid en uit vrees vir die skande om as swakkeling of om as emosioneel onstabiel aangesien te word.

Dat Buchan hierdie ervaring van sagtheid sy eie maak, kan op baie manier geïnterpreteer word. Een ding staan egter vas: hy is moedig genoeg om teen die sterk stoïsynse kultuur van die kontemporêre samelewing stelling in te neem. Eerder as van swakheid, is hierdie trane vir hom ’n teken van geestelike vernuwing van mense en ’n simbool van die soort man waartoe mense vernuwe word. Die dapper mans wat ná byeenkomste huis toe vertrek, kom, in Buchan se woorde, “sag en teer” by hul families aan (20).

Dit is merkwaardig dat ’n belangrike kontratendens in die moderne maatskappy in die Mighty Men-beweging bevestig word: mans het, soos in vele progressiewe literatuur bepleit word, ’n vroulike, sagte kant en moet ook met daardie kant van hul mens-wees in aanraking kom. Hulle het emosies, moet dit van naby en bewustelik beleef en moet hul emosies eerlik met mense in hul leefkonteks deel. Dit word dus byna ’n oksimoron: die Mighty Men-beweging is in sy uitbeelding van manlikheid progressief aan die werk om ’n feminisering van mans aan te moedig!

 

3. Leke-beweging

’n Verdere belangrike aspek van die Mighty Men-beweging is sy volkse karakter. Uit Buchan se boek blyk dat dit ’n “gewone” lekebeweging is. Buchan skryf (20) dat sy groep bestaan uit mense wat teologies ongekwalifiseerd is. Hulle is almal gesinsmanne, sakemanne, boere, myners, professionele sportmanne. Hy wil doelbewus nie ’n kerklike beweging wees nie, al het baie mense hom daarvoor gevra. Kerk en teologie, tradisionele insigte en verfynde debatte oor godsdienstige sake is nie op sy agenda nie. Trouens, die taal van die kerk spreek sy lidmate nie meer aan nie (106). “Hierdie manne wat na die MMK’s kom, verlang na goddelike kameraadskap. Hulle soek nie na ’n teologiese diskoers om dit of dat te bewys nie. Hulle wil vriende hê” (110; later meer hieroor). Buchan wy ’n hele hoofstuk (getitel “Identifikasie”) daaraan dat hy ’n eenvoudig mens is wat eenvoudig preek, net soos al “God se segsmanne eenvoudige, gewone mense was” (Elia, Samuel, Dawid die skaapwagter, Noag en Abraham die boere, en Josua; 108).

Die beweging se identiteit verbind hy dus met die eenvoudige feit dat hulle hulle nie vir die evangelie skaam is nie, en dat hulle manne is wie se lewens vir altyd daardeur verander is. Wat hier saak maak, soos in alle spiritualiteite, is dat die verhouding van God tot die mens omvormend werk en die mens in ’n nuwe geestelike reis intrek en opneem. “Dis niks werd as ’n mens bloot van ’n byeenkoms kan sê: ‘Dit was ’n goeie byeenkoms’ nie. Die verandering moet sigbaar wees” (117).

Die ondertoon hiervan is verder dat die evangelie ’n direkte, eenvoudige, lewensveranderde betekenis het waarvoor jy nie diepsinnige teologie nodig het nie. Niemand moet dus in hierdie beweging ’n intellektuele aanslag verwag nie.

Hierdie leke-karakter is al ’n belangrike aanduiding dat die Mighty Men-beweging in die tradisie van een van die oudste vorme van spiritualiteit staan. In Spirituality. Forms. Foundations. Method  (Leuven, 2002), sy massiewe werk oor spiritualiteit, skryf Kees Waaijman van die Radboud Universiteit in Nijmegen, sy heel eerste hoofstuk oor leke-spiritualiteit (ble 18–115). Hy vind dit belangrik genoeg om sy boek hiermee te begin, omdat dit ’n grondvorm van spiritualiteit is. Maar, voeg hy by, dit is ’n erg miskende vorm van spiritualiteit.

Hy plaas hierdie spiritualiteit in die konteks van die geskiedenis van spirituele bewegings wat deur die eeue verskillende vorme aangeneem het. In spiritualiteit word veral aandag aan die “groot” tradisies, skole en figure gegee. Bekende voorbeelde is die monastieke beweging, mendikante, Karmelitiese en Benediktynse spiritualiteit, maar ook sulke uitstaande figure soos Augustinus, Bernardus van Clairvaux, Franciskus van Assisi, Jan van die Kruis, Teresa van Avila, Ruusbroec, Meester Eckhart, Thomas à Kempis, Moeder Teresa en Thomas Merton. Dit is enkele van die bekende vorme en tradisies waaroor al veel geskryf en diepsinnig nagedink is.

Tussen al hierdie bewegings en figure het lekespiritualiteit nouliks enige aandag getrek en is min navorsing daaroor gedoen – al was dit eintlik die mees konsekwente vorm van spiritualiteit. Waaijman noem dit selfs oerspiritualiteit om daarmee aan te dui dat dit die mees fundamentele vorm van spiritualiteit is. Hierdie vorm van spiritualiteit trek nie soveel aandag nie, want dit het nie beroemde kerke, katedrale, kloosters of afsonderingsplekke om te wys nie. Daar is nie biblioteke vol boeke daaroor nie. Daar is ook nie ’n tradisie of skool van Lekespiritualiteit nie. Dit is ’n stil spiritualiteit wat op mikrovlak voorkom – sonder flair, sonder groot heroïek. En, kan ’n mens byvoeg, dit is die tipe spiritualiteit wat maklik vanuit die hoogte van intellektuele meerwaardigheid befrons kan word.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ’n mens die Mighty Men-beweging moet begryp. Dit is ’n beweging uit die hart van die gewone mens en wat, daarom, gerig is op die geestelike behoeftes van die gewone mens. En juis om hierdie rede is dit ’n beweging wat soms vanuit ’n “hoë” godsdienstige en teologiese hoek gou as minderwaardig beskou kan word.

Om alles te kroon is lekespiritualiteit in die geskiedenis van spiritualiteit vanaf Bybelse tye al ’n belangrike verskynsel. Die Bybel is deurspek met hierdie spiritualiteit. Dit is naamlik die spiritualiteit vanaf die aartsvaders in die Ou Testament tot in die tyd van die Nuwe Testament met Jesus (die leek) en sy volgelinge, maar dit kom ook steeds by herhaling in latere tye voor.

Wanneer ’n mens hierdie lekespiritualiteit ontleed, toon dit sekere vaste kenmerke en patrone.

3.1 ’n Akute bewussyn van God se teenwoordigheid

Die mees uitstaande kenmerk van ’n lekespiritualiteit is seker sy akute bewussyn van God se teenwoordigheid. Die aartsvaders het saam met en vir hulle gesinne hulle altare vir God as tekens van die goddelike teenwoordigheid opgerig. Die groot klomp gesinne wat uit Egipte in die teenwoordigheid van die vuur- en rookkolom opgetrek het, het die Pasga as ’n voortdurende ritueel gevier waar die vader in gesinsverband die verhaal van God se ingryping vertel het om die bewussyn van God se teenwoordigheid op te skerp. Die boek Spreuke in die Ou Testament is ’n uitstekende voorbeeld van die inhoud van hierdie spiritualiteit (sien veral Spr 1–2).

Hierdie spiritualiteit soek om wys en goed te leef uit ontsag vir en eerbied teenoor God (Spr 1:7). Lekespiritualiteit word dus gedryf deur ’n onmiddellike en direkte bewussyn van die teenwoordigheid van God in mense se lewens. Dit verklaar waarom Buchan se kernwerk uit godsdienstige byeenkomste bestaan. “Om God se Woord uit te dra, het my lewenstyl geword … Dit ’n kwessie van: ‘Here, as U dit nie laat gebeur nie, sal niks gebeur nie.’ Dis wat my skerp hou, bewus van die Skrif en van God se teenwoordigheid, dag vir dag” (61; sien ook 75; my kursivering).

Vir mense wat wil weet hoe hy God se stem hoor, antwoord Buchan dat dit dissipline en tyd vra. Hy soek veral alleenheid op deur te gaan stap. “Eintlik wil ek alleen wees in die teenwoordigheid van God. In sy arms voel ek baie gemaklik en veilig” (64).

Die ervaring van ’n goddelike teenwoordigheid neem selfs ’n ekstatiese vorm aan. Hans Hartman beskryf sy belewing: “Die atmosfeer ontplof met die sterkste teenwoordigheid van God wat ek nog ervaar het. My oë is vol trane; my liggaam is toegevou in ’n warmte wat ek nog nooit tevore gevoel het en my binneste voel losgemaak van my liggaam. Here, wat is aan die gang?” (44).

Hoewel die klem dus sterk op ’n wyse en goeie lewenstyl val, word dit steeds weer deur ’n geestelike ervaring gedryf. Dit maak die beweging minder moralisties en sterk spiritueel in karakter.

Buchan vertel hy was nog nooit so verstom as wanneer hy op die verhoog staan en manne onbeskaamd sien huil nie. “Jy vra hulle waarom en hulle weet nie. Dis die teenwoordigheid van God. Die kosbaarste ding in my lewe is om te sien hoe manne in ’n oogwenk verander, sonder aanmoediging of oulike teologie, geen bespreking nie, net die teenwoordigheid van God in die wye oop ruimtes, in die grootste katedraal in die wêreld, God se eie skepping” (102–3; my kursivering).

Daar is twee belangrike en wesenlike kenmerke van spiritualiteit wat hier van besondere belang is. Spiritualiteit beklemtoon dat die omvorming deur ’n besondere ervaring begin wat van buite mense tot hulle kom. Daar is ’n oorsprongsoomblik wat ’n lewe van omvorming aan die gang sit. Dit word in godsdienstige, en veral mistieke, taal as die aanraking van God beskryf wanneer mense bewus raak, in die woorde van Waaijman, van die feit dat die kern van hul lewens verskuif weg van hulle eie inisiatief na inisiatief en werking wat van buite hulle kom. Dit is presies wat in die Mighty Men-beweging gebeur.

Terselfdertyd beklemtoon spiritualiteit dat dit ’n prosesmatige gebeure is: die aangeraakte persoon begeer om in die teenwoordigheid van God te leef en word aldus op ’n geestelike reis geneem waar integriteit van persoon en volwassenheid in geloofsuitkyk die uiteindelike uitkoms is. Dit is ’n lewenslange reis waarin die mens op vele maniere verder groei. Dit beteken dat iemand God se teenwoordigheid steeds weer op nuwe, ander en ryker maniere sal beleef. Spiritualiteit hou dus rekening met voorlopigheid. Dit onderstreep dat die geestelike reis aanvanklik in kinderskoene staan. Vandaar dat spiritualiteit steeds weer met ontferming praat oor hierdie fase en alle vorme van veroordeling en hardheid vermy. Egte debat oor die Mighty Men-beweging sal steeds hierdie benadering van medereisigerskap weerspieël: pelgrims sien om na mekaar, ook en veral na hulle wat die geestelike reis begín aflê.

Wat nog boeiender is, is dat hierdie geestelike reis in die teenwoordigheid van God soms selfs ’n mistieke karakter het. Wanneer God ingryp, skryf Buchan, word ’n mens se lewenswaardes drasties omvorm. “Onbenullighede” word dan nie meer belangrik geag nie. “In die wêreld is dit vir ’n jong man belangrik watter kar hy ry, of watse klere hy dra, watse werk hy doen of aan watter sosiale groep hy behoort” (146–7). Ná God se aanraking word dit eerder belangriker hoe opreg iemand die pad van God loop. In die mistiek is nietiging ’n kernwaarde: mense gee hulself prys en offer alles op om niks te wees voor God. God moet meer word, hulle minder. By Buchan neem dit selfs gestalte in die afsterf aan uiterlike dinge aan.

3.2 Gesin

Veral kenmerkend is dat lekespiritualiteit op die gesin en die individu in gesinsverband ingestel is. Dit is dus ’n klein-kring-spiritualiteit wat die lewensiklus as ontwikkelingslyn geestelik inklee. Dit fokus byvoorbeeld op geboorte as ’n mistieke gebeurtenis waarin die wonder van die lewe tot stand kom. Dit is ’n spiritualiteit waarin ouers en opvoeders (dws geestelike leiers, onderwysers) hul inspan dat kinders tot gelukkige, vervulde mense grootgemaak word. Eks. 15:2 verwys byvoorbeeld na God as die Magtige Een wat deur die vader aan die kind bekendgestel is (Waaijman). Die pa is die een wat die kind in die mees basiese oervorm van ’n verhouding tot God inlei. Die spiritualiteit lê dus groot klem op die huis, waar egte lewensgeluk te vind is, waar geslagte aan mekaar gebind word en waar daar ’n unieke intimiteit gevind kan word. Die huis is nie net ’n plek nie. Dit is ’n liefdesruimte waar ouers en kinders in ’n noue eenheid saamleef.

Die spiritualiteit gee ook veel aandag aan die huwelik as afbeelding van God se liefde en as ’n verhouding tussen twee mense. Die boek Hooglied in die Bybel is ’n voorbeeld hiervan. Hierdie spiritualiteit is origens deurtrek met ontferming. Dit wil in die gesin as liefdesruimte ’n omgee-mentaliteit kweek: mense leef vir mekaar en verset hulle juis teen twis en haat, wat vernietigend op die gesin en individue kan inwerk.

Uiteindelik is dit ’n spiritualiteit wat ook veel aandag aan die dood bestee: die rituele van begrafnis help die gesin om met afskeid om te gaan, om in eerbied aan die afgestorwenes te dink en om in die tyd van trauma troos te vind. Die dood skep die ruimte vir mense om die plek in te neem van die ouer geslagte en hulle wysheid weer na die volgende geslag oor te dra. Dit is dus ’n spiritualiteit wat gedra word deur die bewussyn van tydelikheid, kortstondigheid en die uitkoop van geleenthede.

Al hierdie dimensies vind ’n mens in die Mighty Men-beweging terug. Lekespiritualiteit deurtrek die prediking van Buchan. Vir hom gaan dit heel konkreet om die gesin. Hy vertel van sy eie funksionele ouerhuis met ’n baie veilige tuiste met ’n pa as ’n ware man en sy ma as ’n vroulike vrou. “Ek het nooit kwesbaar gevoel nie en dit is wat jong manne nodig het. Pa was ’n ware heer en het nooit skuld gemaak, vuil stories vertel of bedenklike insinuasies gemaak nie. Hy het dit nie verdra nie. Hy is nog steeds vir my ’n voorbeeld” (136).

By herhaling praat hy oor die verhouding tussen man en vrou, ouers en kinders. Hy beskryf, sensitief hiervoor, wat in ’n byeenkoms plaasvind: “Pa’s en seuns was in mekaar se arms. Broers wat jare lank nie meer met mekaar praat nie, en pa’s en seuns het in een oomblik versoen geraak” (40). Dit is die ruimte van sy spiritualiteit, die lokaliteit wat deur die Godverhouding ingekleur word.

As sodanig is dit ’n mikrospiritualiteit, gefokus op die konkrete lewenskring van mense wat in intieme gesinsverband leef. Buchan spel dit alles uit: die man het verantwoordelikheid om kos op die tafel te plaas, om kinders te dissiplineer, om sy vrou te beskerm, om ongure vriende te vermy, sy skuld te betaal, immorele verhoudings te verbreek en sondes te bely (180–7).

Maar mans moet ook ’n bepaalde karaktervorming nastreef: om nie arrogant, selfgesentreerd en eiegeregtig te wees nie. “Vir ’n ware man gaan dit oor hoe nederig hy bereid is om te wees, hoe deursigtig, hoe eerbaar voor mense en voor God, hoe opreg hy die pad van God loop” (147).

Sy slotsom oor die konteks van die man is (187): ’n Gelukkige huisgesin is waar man en vrou lief is vir mekaar en na hul kinders omsien, waar “kinders goeie maniere het en gehoorsaam is, heeltemal geborge omdat die Pa sy verantwoordelikheid as profeet, priester en koning in die huis geneem het.”

Wanneer ’n mens sy boek lees, is dit asof ’n mens die boek Spreuke in ’n moderne parafrase beleef. Dit beteken dat ’n mens vir jou familie sorg (Spr 12:10; 13:4, 22; 14:1). Getrouheid aan die huweliksmaat is deurslaggewend en ontrou is vernietigend (Spr 29:3).

3.3 Tradisies en wysheid

Lekespiritualiteit is dus ten nouste aan die gesin en sy lewensloop verbind. Die klem val egter in hierdie gesinsverband op die individu wat onderdanig binne die gesin ’n lewenstyl moet nastreef wat strook met alles wat die voorgeslagte geleer en vasgehou het. Die individu moet gehoorsaam streef na kennis van die Skrif en leef volgens die wysheid van vorige geslagte.

Dit is weer eens dieselfde soort spiritualiteit wat sterk in die Bybelse boek van Spreuke na vore kom. Om te oorleef moet ’n mens die wysheid van die voorgeslagte en ouers eerbiedig (Spr 1:8; 4:10; 5:1). Hulle “spreuke” word van geslag tot geslag oorgedra. Daarom is ’n waarde soos gehoorsaamheid sentraal.

Dit sien ’n mens ook by Buchan: hy is die meditatiewe Bybelleser (12–3) wat deur Bybelgedeeltes God direk tot hom hoor praat. God, skryf Buchan, stel nie belang in mense se vermoëns, talente, gawes of enigiets anders nie. Net in gehoorsaamheid. Maar om sy punt te beklemtoon, haal hy 1 Sam 15:22 aan: “Gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.” Die lyne na die Bybelse Spreuke-boek en die tipiese eienskappe van ’n lekespiritualiteit is onmiskenbaar: ongehoorsaamheid kan iemand se lewe vernietig.

3.4 Gemeenskap

Die lewe van die individu is in lekespiritualiteit nooit los van ander mense om jou nie. ’n Belangrike kenmerk van hierdie spiritualiteit is sy gemeenskapsbewussyn: in al die lewensfases gaan dit om die samebinding van ’n groep mense, hulle onderlinge solidariteit en hulle intieme bande. Hierdie gemeenskapsbewussyn is deurtrek met warmte, ontferming en meelewing. Wie gehoorsaam die wysheid van alle tye volg, sal steeds weer deur die liefdesbande met ander geborge wees.

Wat beteken dit nou alles konkreet? Om gehoorsaam te wees en om vir ander om te gee, word in die spiritualiteit van die Spreuke-boek eenvoudig uitgewerk: ’n mens is sensitief teenoor ander: jy skinder nie (11:13), minag nie (14:21), maak nie rusie nie (17:14), is nie lui nie (10:4–5), nie oneerlik nie (11:18; 14:25) en drink nie (20:1). Jy gee ook om vir jou gemeenskap. Jy lewer nie valse getuienis nie (6:19) en bly weg van misdaad (29:24). Alles is daarop gerig om die goeie te doen (Waaijman 2002:18–115).

’n Mens kan hierdie temas op vele maniere in Buchan se boek terugvind. Hy praat  ook oor soberheid, ligte praatjies, vloekery en vuil taal, en harde, eerlike werk. By die byeenkomste word ook oor alkohol en dwelms (160), pornografie en “negatiewe media” (166), werksetiek (170) en landsake gepraat (130). Sy boodskap bring selfs mee dat iemand R450 000 aan inkomstebelasting gaan betaal (27). Hy vertel (55) dat die Mighty Men-beweging vir die gees van die Reënboognasie staan, omdat dit die verdelinge tussen kerke en kulture oorkom het. Hy het ’n duidelike nierassistiese ingesteldheid. Buchan beklemtoon: die Mighty Men-byeenkomste is ’n “inklusiewe platform waar mans van alle rasse en kulture verwelkom word” (48).

 

4. Die donker kant

Soos in alle bewegings is daar egter ook met en in die Mighty Men-beweging probleme. Vele mense merk op dat dit in baie opsigte oppervlakkig en ongenuanseerd is. Dit is egter nie uitsonderlik nie. Spiritualiteit is pynlik bewus van die onvolmaaktheid en onvolledigheid van geestelike bewegings. Die geskiedenis wys te duidelik uit dat selfs diepsinnige spiritualiteite hul mislukkings en tekortkominge het – daar is vele voorbeelde hiervan. Die grote liefdesmistikus, Bernard van Clairvaux, wat onder andere vir Andrew Murray grondiglik beïnvloed het (sy pastorie heet selfs Clairvaux!), het oor die hele Europa in opdrag van die pous gaan preek om soldate vir die bloeddorstige kruistogte te werf. Die bevindelike tradisie in die NG Kerk met sy Pinksterbidure het hand aan hand met ’n apartheidsteologie geloop. In die Rooms-Katolieke geloofsgemeenskap met sy imponerende spiritualiteite (die Franciskane, die Benediktyne, Moeder Teresa) is kindermisbruik ’n kritieke kwessie, terwyl vroue nie net gemarginaliseer word nie, maar ook dikwels geviktimiseer word. Onkruid en koring groei saam op die land. Die Mighty Men-beweging se donker kante is nie vreemd aan godsdiens nie.

Die vraag wat gevra word, is eerder hoe hierdie gebreke die hart van godsdiens raak. Lê die gebreke op die periferie, of is dit ’n bedreiging vir ’n egte geestelike lewe?

Dit is duidelik dat sekere basiese insigte van die Mighty Men-beweging ernstige vrae oproep. Hier bo is uitgewys dat Angus Buchan nie ’n slapsiel is nie. Hy gryp dapper sy teenstanders as skynheiliges by die bors. Hy hou nie van hulle kritiek op hom nie. Hy is boonop duidelik beterweterig en selfs uitdagend. In die polemiek met sy teenstanders weet hy presies waar hy staan en waar sy teenstanders nie is nie. Daarom skryf hy dat die Woord van God vir hom ongelooflike vrede en veiligheid gee, veral wanneer dit eenvoudig en akkuraat aangebied is (soos hy, uiteraard, dit doen). Dit is vir hom ondenkbaar dat daar twyfel oor die Woord, en dus oor sy siening van mense, die gesin en die samelewing kan wees. Dit is vir hom selfs onvoorstelbaar dat ’n mens hieroor sou kon twyfel of wonder.

En dit is hier waar Buchan se intellektuele vlakheid die duidelikste word: “Wanneer ons grys areas bespreek en die manne begin twyfel, kweek dit in hulle onsekerheid. Sodra iets onderhandelbaar is, kom daar twyfel en dan argumente. Ek het nie daarvoor tyd nie. Ek is deur en deur ’n fundamentalis. God het dit gesê, ek glo dit, en daarby volstaan ek” (152; my kursivering). Wat God gesê het, stem natuurlik volledig ooreen met wat Buchan sê dat God gesê het. En al die mense van oor die hele wêreld en vanuit vele kerke, tradisies en tye wat nie met hom saamstem nie en wat God anders hoor praat, is uiteraard verkeerd.

So ’n uitspraak laat ’n mens versteld staan. Want in fundamentalisme, een van die slegste aspekte van die godsdienstige diskoers, sit daar stiksienige onverdraagsaamheid en verwerping van mense wat nie met jou eie, hooggeagte greep op die waarheid saamstem nie. Fundamentaliste is mense wat beter as alle ander mense weet en ander as afwykend en boos uitbeeld omdat hulle nie hierdie waarheid deel nie. Soms is hulle selfs meer onverdraagsaam teenoor ander godsdienstiges as teenoor ongelowiges en spaar hulle hul hewigste kritiek vir gelowiges met ander oortuigings. Buchan se opmerkings teenoor teenstanders, sy siening van vrouens wat nie huisvrouens wil wees nie, sy homofobie en seksisme is natuurlike uitgroeisels van fundamentalisme.

Deur die eeue heen was fundamentaliste immers die ketterjagters en die hekseverbranders wat niks en niemand ter wille van hulle waarheid ontsien het nie. Hulle is die vrome vingerwysers wat die splinter in die oog van die kerk graag raaksien. Een van die ondertone van die boek is, soos hier bo uitgewys is, juis ’n negatiewe ongeduldigheid met die kerk: “Ek gaan al baie jare met tussenposes kerk toe, maar is nooit deur die waarheid uitgedaag om my lewe te verander nie. Toe ek dit die dag doen, is my lewe verander. Dit gebeur altyd by die MMK’s. Die waarheid is dat die Woord gevangenes vrymaak” (156). Die taal is fundamentalisties: hy is nóóitverander nie, maar by die MMK’s gebeur dit áltyd. Die waarheid is alleen op een plek te ontdek.

Die probleem is dat hierdie houding op langer termyn groter probleme veroorsaak as wat dit oplos. Eintlik is fundamentalisme ’n contradictio in terminis. Dit weerspreek homself. Terwyl dit op die Bybel roem, kyk dit belangrike aspekte in die Bybel gerieflik mis. Die Bybel as geloofsdokument van die Christendom steek byvoorbeeld nie die ongeloof of klein geloof van sy groot leiers weg nie en is lank nie so seker oor geloofsake en -helde soos wat Buchan dit wil maak nie. Daar is die twyfelaar Thomas, die apostel van Jesus, wat nie maklik kon glo nie; Petrus en Jakobus wat vir ’n lang tyd nie God se wil vir nie-Jode wou verstaan nie – Petrus het ’n lang geloofsreis nodig gehad voordat hy begryp het dat sy duidelike godsdiensbeeld van Jesus eintlik Satanies was (Mt. 8:27 vv.); Job en die boek Prediker worstel diepsinnig met die skynbare afwesigheid van God en geloof; Paulus skryf dat mense maar net gedeeltelik ken, net deur ’n spieël in ’n raaisel sien.

Spiritualiteit beklemtoon dat die pelgrimstog in die geloof tye bring dat geloof nie net ontbreek nie, maar vir die pelgrim in alle eerlikheid selfs onsinnig kan lyk (Prediker). Dit dink dan na oor wat ’n mens in so ’n donker nag van die siel en die gees orent hou. Dit werk diepsinnig met die gedagte dat die trotsste uitsprake dat ’n mens alles so seker van en oor God weet, juis ’n muur tussen die mens en die Onsienlike en Verborgene oprig. Spiritualiteitskrywers het geworstel met God se verhewenheid bo menslike kategorieë en denke en oor die arrogansie in vele vlak godsdienstige bewegings om God ’n gevangene van menslike denke te wil maak.

Die fundamentalisme van Buchan en sy groot aanspraak op seker wete leef volledig buite so ’n genuanseerde, ryk en lank-gevestigde tradisie. Dit bewys met so ’n houding eintlik ’n ondiens aan sy volgelinge. So seker as wat hulle in hul geestelike reis opnuut die ou las van twyfel en terugslae weer gaan ervaar, so seker gaan daardie fundamentalisme en maklike antwoorde hulle dan in die steek laat.

Dit is wat denkende medegelowiges vir Buchan wil sê. In die gloed van vernuwing wat die beweging na vore gebring het, is daar egter nie ruimte vir ’n rustige besinning hieroor nie. Mense wat deur die beweging aangegryp is, is ongeduldig met kritiek. Hulle voel beledig deur wat hulle as intellektuele beterweterigheid beskou. ’n Belangrike gevolg is ’n anti-intellektuele instelling onder Buchan en vele van sy volgelinge. Dit is hierdie beterweterige geslotenheid wat die gesprek oor Buchan se seksistiese uitsprake, sy hoogs verouderde rolverdeling in die gesin, sy onverdraagsaamheid oor en gebrek aan insig in nuwe verhoudings tussen mense, sy simplistiese Skrifgebruik en vele ander ongenuanseerde uitsprake so moeilik, indien nie onmoontlik nie, maak.

Terwyl kritiek teen die beweging soms veralgemeen en soms onbillik is, moet die kritiese vrae nie besweer of vermy word nie. Die wetenskap het altyd vernuwend ingewerk waar dit nie gehuiwer het om ongemaklike en ongewilde vrae te vra nie. Op ’n dag sal ook hulle wat deel is van hierdie merkwaardige fenomeen die dieper antwoorde soek. Wanneer die aanvanklike opwinding verby is, moet die mense gereed wees om ’n tuiste te bied vir hulle wat nie meer op vlak antwoorde sal kan steun nie. Spiritualiteit het oor eeue heen geworstel met geloofsvrae wat nie deur ’n mikrospiritualiteit op ’n slagspreuk-manier beantwoord kan word nie. Dit is uit hierdie skatkis van die eeue oue wysheid dat daar dan geput sal word.

 

5. Sosiale konteks

Lekespiritualiteit is dikwels ’n bemagtigingsbeweging wanneer die kerk en teologie hul geestelike karakter verloor of wanneer ’n samelewing uitmekaar val. Die geykte opmerking dat sektes die gewete van die kerk is, geld ook van groepe aan die rand van die kerklike lewe, soos die Mighty Men-beweging. Hulle vernuwe waar daar verstarring is wat vernietigend op mense se geestelike reis inwerk.

Die navolging van Christus deur Thomas à Kempis is ’n beroemde resultaat van so ’n lekespiritualiteit. Dit is gebore in die 14de eeu binne die konteks van die Devotio Moderna (die Nuwe Toewyding) toe korrupsie in die kerk en samelewing in Nederland hoogty gevier het. Die teologie het in ’n spekulatiewe skolastiek verstar. Die gewone mens is uitgebuit en het in slegte omstandighede geleef. In hierdie konteks het ’n beweging ontstaan waarin groepe mense vanuit ’n mistieke ontmoeting met God gesoek het na ’n geestelike verdieping en ’n lewenswyse waarin hierdie vernuwing prakties na vore gekom het. Geert Groote, die invloedryke leier en stigter, was ’n leek wat ’n klomp vriende om hom versamel het en wat geestelike byeenkomste gereël het waaruit allerhande maatskaplike aksies ontstaan het. Die kerk was die beweging aan die begin nie goedgesind nie, maar binne ’n geslag het dit onder geestelikes posgevat en ’n kerklike karakter gekry.

Die Mighty Men-beweging is dus deel van ’n tipiese patroon wat ’n mens herhaaldelik in die geskiedenis kry. Trouens, dieselfde tendens kry ’n mens in die Bybel. In 1 en 2 Timoteus en in Titus (die sogenaamde pastorale briewe) kry ’n mens ’n heel “gewone” godsdiens: dit vra byvoorbeeld van mans om getrou aan hul vrouens te wees, om nie dronk te wees nie, om nie hul kinders te mishandel nie. Vrouens moet hul huishoudelike pligte doen en nie skinder nie. Dit is ’n tipe godsdiens wat in ’n moderne konteks nie altyd positief beskou is nie. In die 20ste eeu het bekende Bybel-uitleggers hierdie briewe vir hul “kleinburgerlike” moraliteit geminag. Die briewe, sê daardie eksegete, kon nie van Paulus wees nie, want hy het hom nie met ’n gesinsmoraliteit opgehou nie.

Sodra ’n mens daardie briewe egter lees in hul konteks, waarin die samelewing deurtrek met geweld was en oproerige, bandelose gedrag die huisgesin uitmekaar geskeur het, word dit ’n ander saak. Ook nie-Christene was oor die situasie bekommerd. Grieks-Romeinse morele filosowe het in hul filosofiese tekste gedurig daarop gehamer dat so ’n verbrokkelende samelewing net deur ’n normale, goeie gesinslewe herstel kan word. Die Christene het hierby aangesluit. ’n Gelowige mens, is geredeneer, sal nie in disfunksionele gesinne kan leef nie. En, is logies geredeneer, ’n gesonde gesin skep ’n gesonde samelewing. Uit hierdie agtergrond is die pastorale briewe gebore.

Dit is interessant dat met ongekende maatskaplike en sosiale uitdagings in die laat 20ste eeu, ’n herwaardering vir die briewe onder teoloë na vore gekom het. In moderne kontekste van gefragmenteerde samelewings met kroniese geweld, korrupsie en slegte menseverhoudings is die briewe eensklaps herwaardeer. Wanneer samelewingstrukture uitmekaar val en vernietigend raak, is “kleinburgerlikheid” nie ’n slegte boodskap nie! Die Mighty Men-beweging met sy klem op ’n praktiese lewenskuns waarin individu, gesin en gemeenskap heel moet word, lê in die verlenging van hierdie burgerlike tradisie.

Terwyl hierdie boodskap herwaardeer word, word die briewe egter deur uitleggers as deel van die Bybel in sy geheel gesien. Dit word onderstreep dat die pastorale briewe net een dimensie van die evangelie verteenwoordig. Die herstel van ’n gesinslewe beteken byvoorbeeld nie dat vroue altyd tot ’n huisvrou-rol verdoem word nie. Daar is ander dele van die Bybel wat die vrou duidelik van minderwaardige rolle en ondergeskiktheid aan die man bevry. Daar is die Galasiërs-brief, waarin die vrou se vryheid in Christus en haar gelykheid aan die man beklemtoon word en op grond waarvan vele kerke kerklike ampte vir vroue oopgestel is.

Dit is hierdie genuanseerde manier van Bybel-interpretasie wat Buchan en die Mighty Men-beweging met hul sekere, vaste en ware kennis mis. In sy verstommende verheerliking van sy fundamentalisme ontbreek daar by Buchan juis daardie nederigheid waarop hy origens soveel klem lê en wat hy as gedragspatroon vir magtige manne wil vaslê. Terwyl mans volgens hom nederig moet wees in hul verhouding met ander, ontbreek daardie nederigheid op ’n kritieke vlak in sy eie verhouding tot die Bybel.

Dieselfde Paulus wat gepraat het van die raaisels waarvoor die gelowige gedurig in sy geestelike reis te staan kom, het aan sy geesvervulde en deur die gees gedrewe gemeente in Korinte geskryf dat hulle nie met melk alleen gevoed kan word nie. Daar kom ’n tyd vir vaste spyse – om te kan groei en volwasse in die geloof te kan word. Dit is die tyd verby wonders, en gawes, verby spreek in tale en opgeblase kennis (1 Kor 13).

Daarom kon Paulus in ander tye en by ander geleenthede so diepsinnig, en selfs moeilik, sy groot briewe (Romeine, Korintiërs, Galasiërs) oor godsdienstige sake skryf. Petrus sê dat daar dinge in Paulus se briewe is wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onverstandige mense gee daaraan ’n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang (2 Pet. 3:16; my kursivering). As Petrus sukkel om Paulus (en by implikasie die Bybel) te verstaan, moet die res van sterflinge nie te seker wees dat hulle dit wel kan doen nie.

’n Triomfantelike aanspraak dat ’n mens ’n fundamentalis is, is dus wesenlik onbybels. Die praktyk daarvan is egter kommerwekkend, veral omdat dit mense die kans ontneem om dieper oor hul geloof na te dink.

 

6. Samevatting

Die Mighty Men-beweging is by uitstek ’n geestelike beweging van die gewone mense in die konteks van hul konkrete werklikheid waarin hulle soek na die dieper betekenis van hul lewe met sy groot oorgange van geboorte, grootword, huwelik en sterwe. Dit is veral ingestel op ontferming en omgee, op ’n goeie lewe van billikheid teenoor almal en alles en ’n verset teen wat afbreek en vernietig. Dit verlang na menslikheid en bewoënheid, na konkrete lewenswysheid, na getransformeerde verhoudinge. As mikrospiritualiteit maak dit staat op intuïsie wat deur tradisies en praktiese lewenswysheid opgeskerp is. Dit klim nie die hoogtes van diepe teologie en genuanseerde insigte nie.

Die beweging het daarom ’n inherente neiging om te vereenvoudig. Dit het nie die vermoë om in te sien dat die lewe en die werklikheid kompleks kan wees nie. Dit kan ook maklik ou antwoorde in nuwe tye probeer oordra. En dit kan uit onkunde bevrydende insigte in die Bybel ignoreer of verwerp. Die gevolge daarvan is soms skadelik, want dit maak van godsdienstige mense verdrukkers en uitbuiters. Des te meer rede om in gesprek te bly. En om, altyd binne die breë raamwerk van spiritualiteit, ’n Emmaus-reis met die dapper manne van Buchan te bly onderneem.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 9

Kommentaar

  • Brenda de Wet

    De Villiers presents a thought provoking evaluation of the Mighty Men phenomenon from a spiritual perspective. He articulates the more serious questions asked by religious and non-religious critics and frames answers with both academic acuity and spiritual discernment. His word artistry (in Afrikaans) is, as always, impressive.

    I find myself in agreement with De Villiers: an unexamined faith built on an uncritical reading of Scriptures is a house built on sand. What is astounding is that so many men find Buchan's brand of spirituality not only acceptable but inspiring. Could its exclusivity be part of its appeal?            

  • Ek wonder net waarom kerkleiers (teoloë) dit altyd nodig vind om sulke bewegings soos Mighty Men so krities te evalueer asof hulle die finale laaste sê moet hê. Dalk is dit net 'n unieke pad wat God met 'n klomp individue loop op 'n stadium in hulle geestelike lewe. Buchan is nie die "leier" van die "nuwe kerk" waarby elkeen wat 'n MM byeenkoms bygewoon het, nou in 'n blikkie gedrukte lede van 'n "groep" word met hom as dié profeet nie. Elkeen is steeds lid van 'n eie kerk/gemeente waar eie insig en groei gevorm word. Ek het een so 'n MM byeenkoms bygewoon en was geestelik verryk daardeur. Was die skrywer self blootgestel aan so 'n ervaring, of praat hy ook maar net van hoorsê? Los die "beweging" dat God sy pad daarmee loop!

  • Stanley W Theron

    Prof PGR, 'n gebalanseerde alomvattende artikel wat nie soos sommige akademici summier "spiritualiteit" verkleineer nie (veral erg in lande van geestelike verval!) U kan gerus in 'n verdere artikel aandag skenk aan die XIXe eeuse spiritualiteit in veral die NG Kerk wat die uitbrei van Christelike beskawing, onderwys en opheffingswerk dwarsdeur sub-Sahara Afrika help vestig het (my eerste kandidaatskripsie) met min van die "eienaardighede" wat veral in die VSA van daardie tyd posgevat het vanweë 'n minder "teologiese anker!" Baie Westerse teologie is over-serebraal en kind van Helleense rasionalisme sedert ten minste die vierde eeu. Besondere insigte hieroor is so pas beskikbaar in 'n ander oud-Matie se insigte wat elke "minder tonnel-visierde" teoloog en "leek-gelowige" (lelike Middeleeuse Roomse etiket!) vir splinternuwe insigte behoort te bekom: Dr Eli Lizorkin-Eyzenberg se "Jewish Gospel of John" vide The Jewish Gospel of John: Discovering Jesus, King of All Israel Aug 2, 2015 Eli Lizorkin-Eyzenberg

  • Theresa Jaquire

    Dit was gewone mense wat Jesus se dissipels was, ’n Petrus, Thomas en Jakobus. Jesus het die Boodskap van Versoening met vrymoedigheid aan hul toevertrou. En hulle belowe Hy is by hulle tot die voleinding en dat Hy die Heilige Gees sou stuur. Dit is met daardie selfde opdrag en belofte wat elke gewone mens vandag ook met vrymoedigheid ’n getuie kan wees in sy stad, Bloemfontein of Beijing. Kom ons wees dankbaar dat in ’n wêreld met soveel nood, daar gewone mense is wat in opregtheid ’n verskil wil maak en lewens ten goede wil verander. Verhoudings wil herstel. Maar ook dankie aan elke leraar wat in sy gemeente met vrymoedigheid ’n getuie is en opgelei is om lewens te verander. Wat verhoudings wil herstel. Laat ons ’n handevat-land, -nasie en -kerk wees. Opgeleide prediker of lekeprediker. Laat ons nie hierdie toets dop as gelowiges nie. Die ander toetse gaan soveel moeiliker wees!

  • Roedolf Botha

    Die beste reaksie op die Buchan-beweging wat ek nog gelees het: eerlik, openlik met 'n opregte poging na objektiwiteit.

  • Gerrit de Lange

    Dankie Theresa, nadat ek die "lesing ' gelees het as 'n "leek" moes ek telkemale terug gaan en ook my Afrikaanse Verklarende Woordeboek bybring om van die hoogdrawende "teologiese terme " te kon verstaan, en toe ek die verskeie kommentare gelees het en by jou kommentaar kom, kon ek elke woord verstaan en 'n sug van groot verligting ervaar. Los vir Buchan, en bid dan vir hom. Met sy "leke" kennis van die Bybel en sy persoonlike verhouding met Jesus Christus, lei hy honderde en meer manne na Jesus. My vraag is hoeveel siele het al die wyse teoloë met al hul teologiese kennis en hoogdrawende terme en taal, na Jesus gelei? Baie van my vriende en kennisse het al die MM-konferensies bygewoon en is deur die Heilige Gees omgekeer ten goede. Angus is 'n gewone mens, en deur die Here geroep en hy kommunikeer die heerlike Evangelie van Jesus Christus in 'n taal wat ons gewone ouens en "leke" kan verstaan en inneem. Die een dissipel kom na Jesus: "Meester hier anderkant is 'n paar manne wat die Evangelie verkondig maar hulle is nie van ons nie.” (In my leketaal.) Jesus antwoorde: "Los hulle, wie nie teen My is nie, is vir My."

  • Dit is soos tereg gesê ’n baie goeie artikel wat anders as ander artikels nie sommer net leke spiritualisme afmaak as ’n opsweep van emosies nie. Maar tog bly die artikel gebreke om die vraag te vra wat God sou wou hê. Daar word baie duidelik klem gelê op wat die mens sou wou hê, of dit dan nou sogenaamde oppervlakkige leke-spiritualisme is of dan dit wat die teologiese geleerdheid voorstel. Word geestelikheid dan nie duidelik voorgeskryf deur die bybel nie? Is dit dan nie so dat die Heilige Gees juis vrug dra in emosies van mense nie. Volgens die meeste sielkundiges het die mens net twee emosies waaruit alle ander emosies ontstaan. Liefde en vrees. Is dit nie interessant dat die bybel leer dat God liefde is nie en dat ook die vrug van die Heilige Gees in mense se lewens emosies van liefde teweeg bring nie? Jesaja het van satan geskryf dat hy die een is wat nasies laat bewe het, maw vrees gesaai het. Is dit nie so dat God die uitstorting van die Gees in Handelinge nie al deur monde van die profeet Joel belowe het nie. Die probleem met die geleerde teologie aan die anderkant is dat daar heeltemal te min op die Gees van God gekonsentreer word. Op diep intellektuele vlak word daar besin en redeneer oor wat reg is met suiwer menslike verstandelike vermoëns. Dit is vir die teologiese geleerdheid baie moeilik om te huil en hul harte voor God oop te skeur. Jesus het gesê God is Gees en soek ook mense wat Hom in Gees en waarheid wil aanbid. Paulus het geskryf dat die dinge wat hy van die evangelie aan ander leer met die gees beoordeel moet word en nie met die verstand nie. Hy het selfs gewaarsku dat as jy dit met die verstand gaan probeer beoordeel dit vir jou na onsin kan lyk. Ons kan maar net na die geleerde teologiese siening van Calvyn se voorsienigheidsleer kyk om te besef dat die geleerde teologie ook nie altyd heeltemal reg is nie. Voorsienigheid wil dit hê dat God reeds alles vooruit bepaal het in Sy groot raadsplan en dat God nooit sy raadsplan laat vaar nie. Die vraag is of hierdie raadsplan ook moord en doodslag insluit. Leke0-spiritualisme weier om dit te glo omdat die bybel dit nie van God leer nie. Jesaja sê dat niemand besef dat die regverdiges omkom vanweë die boosheid in die wêreld nie. Ons kan maar net die stad Nineve as ’n voorbeeld neem waar God van Sy vernietigingsplan afgesien het toe die mense berou toon en tot Hom terugkeer. Vra ’n mens hieroor is die geleerde teologiese antwoord dat God sekere dinge in Sy raadsplan toelaat tot die groter goedheid van die mensdom. Leke-spiritualisme kan dit ook nie aanvaar nie, want hoe ver moet mens iets toelaat tot jy self daaraan aandadig is en ons weet dat God nooit aan moord van onskuldiges aandadig sal wees nie. Die hartseer van alles is dat ons almal saam wat in Jesus glo die kerk is. Jesus self het vir ons almal gebid wat deur die woorde van Sy apostels tot geloof in Hom sou kom en Sy gebed was dat ons een sou wees. Een soos wat Hy en die Vader een is. Is die verwydering tussen die geleerde teologie en die leke-spiritualisme so groot dat dit nooit oorbrug kan word en ons mekaar kan leer en mekaar kan aanvul nie? Waarom moet daar altyd hierdie veroordeling van mekaar wees? Het dit nie tyd geword dat ons dan eerder elkeen maar aan Paulus se woorde begin ag slaan waar hy sê "Aanvaar jou broer wat swakker in die geloof as jy is en moet niks doen wat aanstoot kan gee nie.” Ongelukkig is jaloesie een van die sewe dodelike sondes en wil dit tog lyk of jaloesie tussen die twee groepe altyd die oorhand kry. Beide groepe weet en aanvaar dat God alomteenwoordig en almagtig is. My vraag is, verloor God soms of wen Hy altyd? Die antwoord is eenvoudig God verloor meer male as wat ons besef. Van die vroegste tye af het Hy teen die mens verloor. Wat ek sê mag ydel klink maar God wou ’n liefdesverhouding met die mens hê wat male sonder tal sy eie kop gevolg het en sy eie ding gedoen het net soos wat ek en jy dit vandag nog doen. Al wat Hy vra is dat jy Hom sal liefhê met jou hele hart, jou hele siel en al jou kragte en dat jy jou naaste sal liefhê soos jouself.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top