
Die kunste wêreldwyd moet planne beraam om te oorleef. Paul Loeb van Zuilenburg het die Bloemfontein City Orchestra op die been gebring en meer onlangs ook die Stellenbosch City Orchestra. Hy gesels met Naomi Meyer oor die geboorte van hierdie splinternuwe orkes en hoe almal wat musiek geniet, die kind kan help grootmaak.
Hallo Paul, wie is jy en vanwaar jou liefde vir musiek?
Ek het grootgeword op Stellenbosch, waar ek ook by die US my eerste graad studeer het. My pa was op daardie stadium dosent by die konservatorium en my ma was ’n bekende klavier- en blokfluitonderwyseres op die dorp. Daarna het ek trompet gaan studeer in Rotterdam by die konservatorium onder Theo Mertens. Terug in Suid-Afrika, na een en ’n half jaar diensplig (waar ek tydens basiese opleiding in infanterie toevallig die konsertmeester van die SCO Quentin Crida ontmoet het!), het ek en my vrou, Elize, Durban toe getrek, waar ons vir sewe jaar in die Natalse Filharmoniese Orkes gespeel het. Toe my seun, Paul, gebore is, het ek ’n pos by Hilton College naby Pietermaritzburg aanvaar, waar ek 10 jaar lank skoolgehou het. Vanaf 2007 was ek ’n senior dosent by Kovsies in die musiekdepartement, waarna ek in 2013 bedank het om al my tyd aan my vryskut projekte te wy waarvan die SCO natuurlik een is. My kinders is albei in musiek betrokke, maar as ek iewers tyd kry, sal jy my op die water in ’n Laser of in die garage onder ’n ou Porsche 911 kry!
Glo jy in musiek vir die massas? En wat beteken dit vir jou?
Dis ’n moeilike vraag. Einde verlede jaar het ek saam met Johrné van Huysteen op OFM in ’n twee uur lange radioprogram die musiek wat die BCO verlede jaar gespeel het, bespreek – hiervan was natuurlik ook heelwat filmmusiek. Aan die einde van die program het ons, en ek hoop die luisteraars ook, tot die slotsom gekom dat musiek alomteenwoordig is en dat mens nie baie keer besef dat jy na ’n simfonieorkes of selfs klassieke musiek luister nie. Aan die ander kant van die munt het die internasionale saksofoonster Andrew Young onlangs teenoor my opgemerk dat hy nog nooit soveel swak musiek oor die radio gehoor het as hier in Suid-Afrika nie! Iewers tussen daardie twee uiterstes moet “musiek vir die massas” lê.
Ek voel dat almal van kleins af aan goeie musiek blootgestel moet word. Dis amper soos kos of wyn: as jy nie weet wat goed is nie, kan jy ook nie werklik iets goeds waardeer of beoordeel nie. Op die oomblik het ons ongelukkig geen behoorlike musiekopvoeding in skole nie, en daarom probeer ek maar in konserte ’n klein element van opvoeding inbou. Iemand wat in 2013 na die Andrew Lloyd Webber-konsert gekom het, het na die tyd aan my gesê dat dit die eerste keer was dat hy ’n simfonie-orkes lewend gehoor het, maar dat hy nooit weer een van ons konserte sou mis nie! Waar het sy musiekopvoeding dan langs die pad verkeerd geloop? Ek voel dit is ons verantwoordelikheid om goeie musiek toeganklik te maak vir meer mense. Die enigste manier is om die orkes te gebruik om meer populêre musiek te speel. Queen saam met ’n orkes klink baie beter as Freddy saam met sy drie oorspronklike kamerade. En van daar af kan mens geleidelik hier en daar meer ernstige werke invoeg. Onthou: “Star wars” is geskryf deur seker een van die grootste komponiste van die einde van die 20ste eeu. Die musiek is ook eintlik veel bekender as die films self. En tog luister soveel mense na die substandaard musiek wat die media opdis as populêre musiek.
Hier's mos baie musiek en kultuur op Stellenbosch – waarom 'n Stellenbosch City Orchestra stig? En wat het dié orkes met die BCO te doen?
Jy is reg. Stellenbosch is bekend as ’n kultuursentrum, maar hier was vir die afgelope 50 jaar nog nooit werklik ’n gemeenskapsorkes wat simfoniese repertoire gespeel het nie. Daar was eintlik weinig of geen plek nie vir die amateur-entoesias wat ’n orkesinstrument bespeel om sy liefde vir musiek hier uit te leef. En verder speel die orkeste wat tans op Stellenbosch bestaan, soos die USSO, en selfs die USMO, oor die algemeen streng klassieke musiek, terwyl daar nog ’n magdom ander musiek bestaan wat ook met groot sukses deur so ’n orkes uitgevoer kan word. Die BCO, wat in 2012 as ’n gemeenskapsorkes vir amateur- en professionele musikante ontstaan het, was die eerste poging om hierdie tipe orkeste in Suid-Afrika van stapel te stuur – veral omdat ten volle professionele orkeste finansieel so swaar trek. Dit het so suksesvol in Bloemfontein gewerk dat daar besluit is om die model landswyd te probeer uitrol, en omdat ek op Stellenbosch grootgeword het, was dit maar ’n logiese uitvloeisel om die SCO hier te begin. Die voordeel van so ’n nasionale model is dat infrastruktuur gedeel kan word en sodoende kostes gesny word; die musiek kan byvoorbeeld sentraal bekom word en dan vir die verskillende orkeste gebuik word, en ander operasionele sisteme wat reeds bestaan, kan aangewend word.
Ek hoor dit het goed gegaan met jul vorige optrede in Stellenbosch – wil jy dalk iets hieromtrent vertel?
Die Oude Libertas-konsert het bo verwagting goed verloop. Ek dink daar was twee redes hiervoor. Eerstens het die orkes met ongelooflike entoesiasme die konsert benader en dit, glo ek, het die gehoor ook aangevoel. Tweedens het die gehoor ontsettend positief op die uitvoering gereageer en dit het natuurlik tot gevolg gehad dat die orkes weer op sy beurt nog beter gespeel het! Bogenoemde is natuurlik aangehelp deur Bondina Oosterhof en die span by Oude Libertas wat die geleentheid regtig goed bemark het. So ’n eerste konsert is altyd ’n waagstuk. ’n Mens is nie heeltemal seker hoe die orkes gaan klink nie en ook nie hoe die gehoor gaan reageer nie. Ek was in albei gevalle aangenaam verras!
Vertel asseblief vir ons lesers na watter musiek hulle kan uitsien as hulle kaartjies koop vir die konsert by Lourensford teen die einde van April?
Die Lourensford-konsert gaan op twee vlakke fantasties wees. Eerstens is Laurent, waar die konsert gaan plaasvind, in ’n absoluut asemrowend mooi omgewing geleë! Tweedens bestaan die konsert uit letterlik die grootste treffers van Andrew Lloyd Webber oor die afgelope 50 jaar op Broadway. Uittreksels uit Phantom, Cats, Superstar, Joseph, Pie Jesu, Evita, Sunset Boulevard en Aspects of Love sal gehoor kan word. Dit is dieselfde program wat as “Beste Vrystaat-produksie” by die 2013 Vryfees in Bloemfontein aangewys is. Twee fantastiese Vrystaatse soliste sing saam met die SCO. Corneil Muller het verlede jaar ontsettend positiewe persresensies tydens die “Best of Broadway”-konsert saam met die BCO gekry en Caroline Grace, wat verlede jaar met groot sukses saam met die FSSO in hulle Lerner en Loewe-produksie by die Vryfees opgetree het, is so pas terug uit Japan.
Het jy hoop vir die kunste in die land? Anders gestel: hoe lyk jou hoop en jou droom?
Ek kan nie ons, of enige ander land, voorstel sonder die kunste nie! Ons moet net ’n manier vind om dit te maak werk! My groot bekommernis aan die een kant is dat veral universiteite nie die realiteit van die musiekbedryf ernstig opneem nie. Geen van die groot vier musiekdepartemente het ’n behoorlike kunste-entrepreneurskapprogram nie en verder is die aandag op net 10% van die musiekbedryf gerig. As mens jazz insluit, dan miskien 20%. Waar gaan die student leer om in die ander 80% te oorleef? Dit is alles goed en wel om byvoorbeeld te leer van die invloed van Westerse musiek op die Maleise kore aan die Kaap, maar hoe gaan dit help om brood op die tafel van die voornemende professionele musikant te plaas? Andersyds ontmoet ek tog mense met visie en passie wat self hul toekoms skep en die uitvoerende kunste, soos musiek, op hulle eie bevorder. Mense soos Charl van der Merwe, Christopher Duigan, Zorada Temmingh, Magda de Vries en Richard Cock. Ek vind dit egter ontsettend moeilik op die oomblik om korporatiewe instellings daartoe te beweeg om in die kunste eerder as in sport te belê. Ons woon ongelukkig in ’n land wat eerstens baie goeie weer het en tweedens ’n tipe van kultuur geskep het waar mense blykbaar slegs deur na sportwedstryde te kyk, ontvlugting van hulle daaglikse bestaan kan ervaar, pleks dat hulle liewer die ervaring van ’n goeie konsert daarvoor inspan. Die regering help ook nie werklik nie. Soveel geld word aan ondeurdagte projekte spandeer, terwyl ’n klein porsie daarvan, op die regte plek aangewend, ’n groot verskil in die gemeenskap sou kon maak.
Tog ... musiek het al vir duisende jare oorleef en sal dit steeds bly doen. Miskien nie heeltemal in die vorm wat ons oor die algemeen verwag nie. In kort: my droom is dat elke Suid-Afrikaner nie net die geleentheid sal kry om goeie musiek wat deur byvoorbeeld simfonieorkeste gespeel word, te beleef nie, maar van kleins af blootgestel sal word aan musiek op so ’n vlak dat hulle ook persoonlik daaraan kan deelneem deur ’n instrument te leer bespeel.
Stellenbosch City Orchestra tree op 26 en 27 April 2015 by Lourensford in Somerset-Wes op. Bespreek by Computicket.



Kommentaar
Die is n toetes