André P Brink vertel oor die grootste uitdaging in sy skrywersloopbaan: Philida het haar lê gekry

  • 0

Towerbosch-restaurant op die wynplaas Knorhoek net buite Stellenbosch bied ’n lieflike ambiance vir een van die vroeë hoogtepunte van vanjaar se Woordfees, en die kos is heerlik.

Maar André P Brink draai nie doekies om nie. Die Afrikaanse letterkunde is onder beleg, sê hy, en die Afrikaanse taal het baie aanvalle om te verduur. Natuurlik, meen Brink, is dit in die lig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verstaanbaar dat die taal ’n slegte smakie gekry het en dat party mense dit beskou as “apartheidstaal”. Maar dié wat so voel, besef nie dat Afrikaans, soos Langenhoven dit reeds gestel het, die enigste Suid-Afrikaanse taal is wat nie van buite af ingevoer is nie. Dit het in Suid-Afrika self ontstaan, in die monde van mense wat slawe was, onderdruktes. Dit het uit die bodem van die land voortgekom en ’n stem gegee aan die onmondiges. Dis die taal, aldus Brink, van die mense wat hier is, wat hier móét wees en wat hier wíl wees. “En daarom is dit des te belangriker dat ons die taal in lewe hou,” sê Brink, “en dat ons hom lewe gee.”

Oor tientalle jare het Brink met sy omvangryke oeuvre ’n belangrike bydrae gelewer om die Afrikaanse taal en literatuur lewend en lewendig te hou. Vandag, Maandag 5 Maart, het hy na hierdie Bolandse wynplaas gekom om te praat oor sy nuwe roman, Philida. Om Philida te skryf was ’n lang en moeilike proses, sê Brink. Maar dit lyk asof die roman nou in die stadium is dat sy “haar lê gekry het”.

En in sekere sin is dit ook passend, voel Brink. Want Philida is koppig. Sy het ’n wil van haar eie. Soos haar literêre voormoeder Antigone is sy ’n karakter wat nie bang is om nee te sê nie. Philida was ’n slavin wat omstreeks 1813 aan die Kaap gebore is. Sy het gebly op Zandvliet in die Drakensteingebied, wat tans behoort aan ’n vriend van Brink, Mark Solms. Solms het ’n historikus aangestel, Tracey Randall, om die geskiedenis van hierdie plaas, wat tans bekend staan as Solms-Delta, te dokumenteer.

By die navorsing vir sy roman was Randall vir Brink ’n belangrike bron van inligting. Agt jaar lank was Philida bevriend met Francois Gerhard Brink, die plaaseienaar se seun. Hulle het saam vier kinders gehad. Maar toe besluit Francois se ouers dat dit tyd word dat Francois behoorlik getroud raak, uit die aard van die saak met ’n “Duusvrou”, en Philida en haar kinders word verkoop.

Die roman raak aan die gegewe dat heelwat Suid-Afrikaanse families ’n “kleurryke verlede” het. In die Suid-Afrikaanse geskiedenis loop nosies van “reg” en “nie reg nie”, van “hoort en behoort” al ’n lang pad saam, sê Brink, veral waar dit gaan oor die bruin bevolking aan die Kaap.

In 2010 het Brink die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs ontvang. Dit het hom in staat gestel om Philida te skryf. En Brink is dankbaar daarvoor, want om hierdie boek te skryf, was vir hom een van die grootste uitdagings in sy skrywersloopbaan. Daar is heelwat bekend oor Philida se lewe op Zandvliet. Maar van die oomblik af wat sy op die slawemark in Worcester verkoop word, raak sy net weg. Om ‘n beeld te skep van haar later jare, moes Brink hom verlaat op meer algemene historiese bronne, wat maar net ’n indruk gee van wat kón gebeur het met mense soos sy. Die feit dat daar geen besonderhede beskikbaar is oor Philida se latere lewe nie, gee die skrywer ’n “verwilderende vryheid”, sê Brink. Die historiese beeld verloor aan diepte, maar dit moet nogtans geloofwaardig bly. Om ’n balans te vind tussen die vroeëre en die latere deel van die roman was vir Brink nie maklik nie. Maar dit was ook vir hom wonderlik om iedere treetjie te verken. Drie jaar lank het hy aan hierdie roman gewerk. En nou word dit tyd vir Philida om haar pad alleen verder te loop.

Die boek verskyn in September 2012.

Terug na LitNet se virtuele Woordfees-indeksblad

Lees nog oor die skrywer aan wie die volgende Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs toegeken is

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top