Die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs van R350 000 is pas aan Willem Anker, skrywer, dramaturg en dosent, toegeken. Naomi Meyer het hom gou 'n paar vrae gevra voordat hy begin skryf.
Hallo Willem – en baie geluk met die toekenning van die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs. Ek sê “geluk”, maar ek weet nie of dit die regte woord is nie. Hoe voel ’n mens as jy hoor jy kry die grootste skrywersbeurs in die land?
Dit is in die eerste plek ’n groot eer, en ’n wonderlike geleentheid. Dit is ’n ongelooflike voorreg om vir ’n tyd lank voltyds te mag skryf. Daar is natuurlik ook die druk wat ’n mens voel om hierdie eer waardig te wees en iets van gehalte te lewer. Al wat ek nou kan doen, is om myself besimpeld te werk en te hoop dat die produk iets is wat mense sal wil lees en wat die beurskomitee se besluit sal regverdig.

Desmond Painter het in 2007 op LitNet geskryf Siegfried, jou debuutroman, laat die Afrikaanse roman “nuwe rigtings inslaan”. Beoog jy om ook met hierdie projek, waarvoor die UWK-beurs toegeken is, vernuwing te bring?
As ’n mens skryf, is die hoop seker altyd dat die skryfsel iets sal wees wat nog nie voorheen gedoen is nie, maar ek dink nie ’n mens moet ’n stuk skryfwerk aanpak met die primêre doel om “vernuwend” te wees nie. Slim vang gewoonlik sy baas.
Ek sien in Die Burger Steward van Wyk sê jou beoogde roman sal “tematies en vormlik ’n verruiming in die Afrikaanse letterkunde bring”. Wat is vir jou interessante nuwe teoretiese perspektiewe en hoe beoog jy om die verruiming waarvan Van Wyk praat, te bewerkstellig?
Temas en teorieë is dinge wat skrywers sover moontlik probeer wegsteek in romans – sommige van die slinkses sal ontken dat dit hoegenaamd daar is. En om oor hierdie dinge te praat nog voor die eerste sin geskryf is, sal definitief die boek jinx.
Wat ek kan sê, is dat ek die storie van Coenraad de Buys wil opskryf, en omdat hy ’n historiese figuur is, sal die grootste uitdaging van die projek, naas die dik geskiedenisboeke wat ek moet lees, miskien juis lê op die vormlike en stilistiese vlak, dws hoe die verhaal vertel moet word. Want geen roman oor die geskiedenis gaan werklik oor die verlede nie, en niemand is meer fiktief as historiese figure nie.
Jy het ook prominensie as skrywer van dramatekste, en as akademikus. Hoe werk mens in al hierdie skryfsfere verskillend met woorde?
Die tale van die akademie, drama, prosa en poësie is elk ’n eie taal, en in elke taal is dit moontlik om dinge te doen wat nie in ander tale moontlik is nie (alhoewel akademiese taal verreweg die minste kan doen). Afrikaans het byvoorbeeld nie ’n woord vir mind nie, en Engels het nie ’n woord vir janee nie. Net so is daar byvoorbeeld dinge wat gesê kan word in prosa wat nie in ’n drama, ’n gedig, en definitief nie in ’n akademiese artikel, sêbaar is nie, en, natuurlik, vice versa.
Jy doseer ook kreatiewe skryfkunde by die Universiteit Stellenbosch. Hoe beïnvloed hierdie rol jou eie skryfwerk?
Veral die MA-seminaarklasse, waar almal om ’n tafel sit en mekaar se werk bespreek, is ’n wonderlike ruimte waar gewerk word met uiteenlopende tekste. Die skryfkunde-klasse bied my die moontlikheid om met letterkunde besig te bly op ’n heel praktiese wyse en ek leer ongelooflik baie by sowel my kollega in die kursus, Marlene van Niekerk, as die ander skrywers wat die kursus volg. Soms is dit egter moeilik om saans self iets te probeer neerskribbel na jy heeldag iemand anders se manuskrip bekrap het met ’n rooi pen.
Behalwe om die roman te skryf, watter ander oogmerke het jy vir die tydperk terwyl hierdie beurs aan jou toegeken is?
Vir die volgende twee jaar wil ek elke beskikbare uur aan die roman bestee. En nou lyk dit darem of daar heelwat sulke ure gaan wees! Ek wou al lankal hierdie storie skryf en nou het ek uiteindelik die tyd om saam met Coenraad tot ver anderkant die Kolonie-grense te trek.

