Anderkind
Betsie van Niekerk
Tafelberg Uitgewers, Kaapstad
2021
Anderkind is ’n historiese jeugverhaal uit die pen van die bekroonde skrywer Betsie van Niekerk. Reeds in 1996 ontvang sy ’n Sanlamprys vir haar boek Gamkab (1996). Die rooiberg is hol (1991) is haar debuutroman vir die jeug. Vir Anderkind ontvang sy die Silwer Sanlam-prys 2021.
.........
Die boek is tydens die hedendaagse, verwoestende pandemie geskryf, en die verhaalgebeure speel af tydens die vernietigendste natuurramp wat Suid-Afrika nog ooit beleef het: Die Groot Griep (1918).
..........
Die boek is tydens die hedendaagse, verwoestende pandemie geskryf, en die verhaalgebeure speel af tydens die vernietigendste natuurramp wat Suid-Afrika nog ooit beleef het: Die Groot Griep (1918). Hierdie epidemie staan ook bekend as die Spaanse griep (H1N1-virus), die Swart Dood, en in die volksmond is dit destyds die longpes genoem. Deesdae word algemeen aanvaar dat die virus ’n tipe voëlgriep as oorsprong gehad het. Daardie pandemie het ’n onuitwisbare invloed op alle sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing gehad. Nie net het dit ten tye van die Eerste Wêreldoorlog getref nie, maar ook kort na die Vryheidsoorloë en die vernietigende konsentrasiekampervarings, en dit was boonop ’n tyd van uiterste armoede onder Suid-Afrikaners.
Ten tye van daardie vernietigende pes bevind twee dapper weeskinders, Johannes en Dina, van buurplase in die Sandveld hulle in mekaar se teenwoordigheid en ’n hegte vriendskap ontstaan tussen die twee. Met behulp van Krummel, die skaaphond, en twee volwassenes, Lya en oom Andries, oorleef hulle die siekte, bedreiging deur wilde diere, en aanvalle deur rowers, en verwerk hulle verlies, vrees en onsekerheid oor die toekoms.
Reeds met die openingsin op bladsy 9: “God is kwaad vir ons”, word die felheid van die aanslag wat die jong Johannes moet trotseer, beklemtoon en bekendgestel. Hierdie sin word ’n soort refrein wat herhaaldelik deur die loop van die verhaal opduik. Op haar sterfbed het sy ma hierdie woorde geprewel en die kind met ’n onregverdige innerlike stryd gelaat. Hy sou voortaan nie net fisieke aanslae die hoof moet bied nie, maar ook met ’n diepgewortelde onsekerheid oor God se rol in hierdie ramp wat hulle tref en oor sy eie aandadigheid daaraan gekonfronteer word.
Die lyding wat die “pessiek” bring, word verwoord in teksgedeeltes soos “swart kolle op haar wange”, “gloeiende oë”, “bloed op die kussing”, “longe wat fluit” en die alomteenwoordige reuke van “mufstrooi, bergboegoe en geeljasmyn”. Johannes se verwarring en onsekerheid vergestalt in beskrywings soos: “Maar niks is soos dit moet wees nie, nie die skemerte oordag terwyl die son moet skyn nie, nie die stilte terwyl daar oral stemme moet wees nie”, en in die teksgedeelte “selfs die sonbesies in die seringboom voor die agterdeur bly stil …” Die vrese van die kind word telkens verwoord in die herhalende: “Soesa, my lam! Waarom is jy bang?” “Natuurlik!” wil ’n mens uitroep; “Natuurlik sal hy bang wees.” Johannes is immers alleen oor; sy familie is uitgewis. Hy weet nie waarheen nie, want hy word verjaag oral waar hy gaan. Hy weet nie hoekom God vir hom kwaad is nie. Hy weet nie wie voortaan vir hom sal sorg nie. Daar is die voortdurende vrees dat hy (en later ook Dina) sal siek word; dat een van hulle weggeneem sal word na ’n weeshuis.
Hierdie spanningsvolle ophoop van vrese en vreesaanjaende omstandighede word telkens afgewissel met grepe uit kinderverhale soos The Wonderful Wizard of Oz en bekende kinderrympies, soos “Wolf, wolf hoe laat is dit” asook volkspoësie, soos:
Engeltje, engeltje, vlieg en reis weg
Je vader is dood, je moeder is dood
Je kindertjes eten droog brood. (SJ du Toit, bl 30)
Telkens word daar na die griepepidemie verwys as “die swartreën” wat oral insypel en inkruip: “Suikerbosse en sandsalie, die swartreën sif, sif in by die skoorsteen, in by sy oë, sy neus, sy mond, dit brand sy longe, dit sit in seer bloukolle teen sy ribbes …” (19). Die vrees vir die siekte is allesoorheersend en ’n konstante, werklike bedreiging.
Tog is die taalgebruik in die boek bykans poëties en liries, veral wanneer daar na die natuur en die omgewing verwys word: “By die fontein lig hy die skilpadbos se takke op en kyk onder in tot daar waar die water drup-drup uitsypel. Hy steek sy kop onder die geel blommetjies in en suig aan die groen mos teen die rots, suig en suig terwyl die water afloop teen sy ken en voor by sy hemp in tot die sypelwatertjie op is” (18).
Wanneer Johannes nie sy dank in woorde mag oordra vir die brood en heuning wat hy ontvang het nie, “haal hy sy mondfluitjie uit. En hy speel sy dankie vir die brood en heuning vir die vrou daaronder. Hy stuur dit saam met die bokmakierie se geelkeel-roep vir haar.” Teksgedeeltes soos hierdie is aangrypend mooi te midde van die ontstellende situasie waarin die oorlewendes hulle bevind.
Volgens Nikolajeva (2010) het skrywers twee uiteenlopende doelwitte voor oë met die skryf van kinder- en jeugfiksie tydens ’n pandemie, naamlik om te bemagtig en om te onderrig. Tydens die lees van Anderkind word hedendaagse jong lesers bekendgestel aan historiese gebeure en lewenswyses. Hulle word dus onderrig. Die leser word egter ook bemagtig, aangesien daar klem gelê word op die feit dat kinders, soms selfs beter as volwassenes, tydens moeilike tye kan aanpas en leer oorleef. Johannes kom tot hierdie besef van moontlikhede, van uitkoms en hoop. Dit is verwoord in die teksgedeelte: “Dis of hy al hoe meer bewus word daarvan dat alles léwe hier reg voor sy oë. In die teebosse se goudgeel blomme werk daar bye, langstertjies swiep frrrp-frrrp oor die bosse en voor hom loop termiete doelgerig met hulle vlaggies droë gras” (54).
........
Met die lees van Anderkind kan die jong lesers hulle vereenselwig met uitdagende, vreesaanjaende en moeilike situasies oor tye heen. Hulle mag egter ook bewus raak van oplossings en moontlikhede; van die uitkoms wat hoop bring.
............
Met die lees van Anderkind kan die jong lesers hulle vereenselwig met uitdagende, vreesaanjaende en moeilike situasies oor tye heen. Hulle mag egter ook bewus raak van oplossings en moontlikhede; van die uitkoms wat hoop bring.
Hierdie jeugverhaal is aangrypend, roerend en treffend, en lesers van alle ouderdomsgroepe mag dit ’n boeiende leeservaring vind.
Verwysing
Nikolajeva, M. 2010. Power, voice and subjectivity in literature for young readers. Routledge: New York en Londen.