
Foto: Pixabay.com
Toe alle tyd vir jou verlore was
en jou aardse reis tot einde kom,
toe jou beeld nog bloot in denke tafereel,
jou stem tot doodse stilte
in my oor se labirint verstom
het die sterre en die maan
vir jou ’n tonnel deur die nag gebaan
na ’n ander plek en eeu
langs ’n berg in ’n vallei.
En in my land van drome
sal ek ontvlug uit hierdie hede
om (in toekoms of verlede)
jou op dáárdie plek te vind
waar jy glimlaggend vir my wink.
Die son sal oor die water speel;
lig sal oor die skubbe van ’n geelvis streel
wat in jou hande lê en blink.
En ek en jy (van alle stryd en waan gestroop)
sal hemelspore oor die nuwe aarde loop.


Kommentaar
Ai Carma!! Dis so besonders mooi!!
Baie dankie, Ize Ster. Ek waardeer.
Dankie, LitNet vir die plasing.