Anderkant die spieël deur Melissa Scharneck

  • 0

Titel: Anderkant die spieël
Skrywer: Melissa Scharneck
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800719

 

Koop Anderkant die spieël by Kalahari.com.

 

 

 

Anderkant die spieël, die nuutste werk van Melissa Scharneck, bied nie net ’n blik op die lewe van Maggie, ’n huisvrou wat so pas in ’n nuwe huis op ’n nuwe dorp ingetrek het, nie, maar ook op dié van haar buurvrou, Lenta, en dié se huishulp, Anna, en op wat anderkant die spieëls in hulle lewens aangaan.

Scharneck het haarself reeds as skrywer van veral vroueverhale, sogenaamde “chick-lit” of “mommy-lit”-verhale, bewys. Sy skryf toeganklik en met humor en patos oor vrou-wees en verhoudings. Ook so in hierdie roman.

Anderkant die spieël vertel die verhaal van drie vrouekarakters, naamlik Maggie, Lenta en Anna. Deur Maggie as die ek-verteller se oë leer ons meer van haar lewe, en later, deur middel van Anna se vertellings aan Maggie, leer ons ook meer van Lenta se lewe.

Maggie bly alleen in haar nuwe luukse huis, wat sy tans besig is om te feng shui om sodoende ’n kalm, rustige en gelukkige huis te skep en sien haar man maar selde. Sy wens hy wil meer huis toe kom: “Alles moet perfek wees wanneer hy hier aankom. So perfek soos dit kan wees tussen al die bokse. Dalk bly hy ’n bietjie langer as alles mooi en lekker en reg is. Dalk is dit dan vir hom moeilik om te gaan, as ek kan bewys ek is die bly werd.” Daarteenoor wens Lenta dat haar man nié gereeld huis toe kom nie. Tussen hulle twee staan Anna, wat vertroueling en ma-figuur vir beide vroue word: aanvanklik eers net vir Lenta en daarna al hoe meer vir Maggie. Die drie vroue se stories is nie net hulle stories nie, maar verteenwoordig dít wat in baie vroue se lewens agter geslote deure aangaan.

Dit is ’n verhaal wat handel oor verhoudinge – veral die huweliksverhouding en hoe vroue hulleself in ’n huwelik kan verloor; soos wat dit op die agterblad verwoord word: “Ek weet nie wie ek is nie en iewers is daar altyd ’n man, lewend of dood, wat my aandag so beset dat ek nie tyd het om uit te vind nie.” Maar dit is ook ’n verhaal oor die vriendskap tussen vroue, en met hierdie twee temas kan baie lesers identifiseer.

Die tema van verhoudinge is een wat met hartseer en neerdrukkendheid uitgebeeld word, aangesien beide Maggie en Lenta nie gelukkig in hulle huwelike is nie. Maggie sê: “Niks is soos ek gedink het dit sou wees nie. Niks is soos ek wou hê dit moet wees nie”, terwyl Lenta sê: “Hoe wens ek nie Lodewyk wil leer om van my te vergeet nie. Jy soek jou man by die huis en ek sou myne vir ’n jaar pos as ek kon. Dis net pyn en lyding wanneer hy by die huis rondhang.” Daarteenoor is die tema van vriendskap een van genesing en hoop, en dit is veral die jonger Lenta wat vir die ouer Maggie genesing bring: “Ek soek nog die perfekte plek om dit op te hang, want ek sal Lenta de Waal altyd onthou. Sy het my die moed gegee wat sy altyd vir iemand wou gee.”

Anderkant die spieël handel veral oor die tema van refleksie, soos in die titel met die woord “spieël” gesuggereer word. Die spieël-beeld bied eerstens ’n refleksie van en oor Maggie se eie ek, haar lewe en haar huwelik, maar dit bied veral ’n refleksie van en oor ontbloting en onthou. Spieëls is nie net ’n simbool van fisiese refleksie nie, maar veral van spirituele refleksie, aangesien ons ook oor die gevolge van ons dade reflekteer wanneer ons in ’n spieël kyk. Spieëls reflekteer verder net wat waarlik voor die spieël is, maar daardie waarheid is nie net die werklike waarheid nie, maar ook die waarheid wat geskep is en verbeel word.

Die simboliek verbonde aan die kyk in ’n spieël en die raaksien (of nie raaksien nie) van die waarheid en die werklikheid word treffend in die roman uitgebeeld tot waar dit die klimaks bereik wanneer Maggie al die spieëls in haar huis stukkend slaan: “Spieëls moet glo nie na die bed wys nie, anders verteenwoordig hulle ’n derde party wat op jou huwelik inloer”; “Beautify the room to mirror the beauty you want from the relationship”; “’n Vriendin van my dring daarop aan dat ek na jou spieëls en rame kom kyk.”; “Ek hou dit vas soos hy my geleer het en begin by die spieël in die sitkamer. Ek slaan asof my lewe daarvan afhang. Ook al die ander spieëls (buiten een) wat ek met soveel navorsing en sorg op die perfekte feng shui-plekke geplaas het. Nou is verskeie spieëls gebreek tussen my en hom.” So word die spieël-beeld dan ook vir die leser ’n spieël om in te kyk en te sien wat in haar eie lewe en huwelik aangaan.

Scharneck gee ’n sikliese samehang aan die roman deur middel van intertekstualiteit om ’n dieper nuanse aan die verhaal te verleen. Sy begin en eindig die verhaal van Maggie met die Alice in Wonderland-beeld: “Op hierdie dorp is al die slotte te groot en die sleutels te klein. Mark het my al na meer as een plek gesleep waarmee ek nie heeltemal tevrede was nie, maar dié dorp is ’n hasegat. Ek het so gevoel toe ek hier inry en ek voel nog steeds so. Dis ’n hasegat waarin ek besig is om te val.” En: “Maar Alice het teruggekom uit Wonderland en ek het teruggekom uit Voortrekkersrus. Ons het oorleef, en nou wil ek nie meer soos sy wees nie. G’n mens kan lank oorleef in ’n plek waar jy een oomblik te groot en dan te klein is nie.”

Enkele punte van kritiek kan tog teen die roman genoem word, soos die “mooi” slot en “gelukkige einde” wat tipies in romantiese verhale voorkom; en die enkele geforseerdhede in die taal, soos die geykte “Nou is verskeie spieëls gebreek tussen my en hom” (uit Ingrid Jonker se gedig “Bitterbessie Dagbreek”), asook die eensydige uitbeeldings van die manlike karakters as boos en sleg. Ten spyte hiervan is dit ’n roman wat vroue maar kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van twee vereensaamde vroue in ongelukkige huwelike nie, maar verwoord veral die verhaal van vriendskappe tussen vroue. Die bied aan die leser ’n spieël waardeur ons na vriendskappe en verhoudings in ons eie lewe kan kyk.

Anderkant die spieël is ten slotte ’n reis na begrip en aanvaarding van veral ons vrou-wees.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top