Soms, so in die wonder of dinge dáár altyd beter is, warrel my gedagtes deur spinnerakherinneringe van vervloë kinderjare. Brakpan, ’n vaal stowwerige myndorp aan die Oosrand, was ons tuisdorp toe ek die eerste keer skool toe is. Dit was in die laat ’50’s. Behalwe vir Vrydae se kinderkrans, was daar destyds natuurlik nog geen sprake van enige voorskoolse “makmakery” nie. Onthou ek reg, was my belewenis van die eerste skoolmaand of twee maar tranerig. Boonop het die skoolboelie, Tienie Britz, my ook amper elke middag op pad huis toe gebliksem as iets nie na sy sin was nie. Dink ek nóú daaroor, was ek tóé seker ook maar ’n regte ou “pissie”.
Einde ’62 is my pa Pretoria toe verplaas. Soos lank reeds afgetrede staatsamptenare weet, was daar destyds baie met die sogenaamde Justisie-“trekdonkies”gespot. Sommige, is gesê, moes al so baie trek dat hulle later nie eers meer alles uitgepak het nie. Daar is sommer so, uit die trekbokse, geleef. Ander se diere sou ook sommer op enige ding klim wat soos ’n treklorrie lyk en naby die huis stilgehou het. Dit was nie vreemd om soms twee of meer keer per jaar in verskillende skole te wees nie. Daar jy nie ’n idee gehad het waar die nuwe skool se kinders in hulle boeke trek nie, was jy dus maar altyd ’n paar treë agter. Nog slegter was die agterdog waarmee jy die eerste paar maande deur die “ou” kinders bejeën is. Jy kon dalk net goed rugby speel, of, as jy ’n meisie was, mooier as die ander wees. Sou jy dan vir die eerste rugbyspan gekies word, of as prinses vir die skoolkonsert, was die gort gaar. Al hierdie dinge het jou aanvaarding in die nuwe skool maar op wankelmoedige bene geplaas. Die beste was om maar vir ’n tydjie lank nêrens uit te blink nie. Gegewe my geaardheid destyds, was dit darem die een ding waarmee ek nie ’n probleem gehad het nie ... Ek het van nature daarin uitgeblink om nie uit te blink nie.
Ons trek Pretoria toe was gevolglik vir my ’n groot stap die onbekende in. Waar ek nie eintlik enige herinneringe van goeie vriende in Brakpan het nie, was dinge in Pretoria heel anders. Ek en Wilhelm, die bure se jongste knaap, het feitlik onmiddellik gekliek. Dat hulle ’n swembad gehad het en die heining tussen ons eintlik maar net ’n onbenullige lastigheid was, het waarskynlik heelwat tot dié skielike vriendskap bygedra. Wat ek natuurlik moet bysê is dat, anders as nou, ’n swembad destyds ’n baie ongewone ding was. Dit was nie soos mens dit vandag ken, ’n fyntjiese niertjievormige affêre met water wat tussen varings deur oor ’n kunsrots-watervalletjie in die swembad plas nie. Dit was ’n vierkantige dam met ’n penshoogte-wal, en as ek reg onthou, oral ewe diep. Daar was ook ’n aantrekkamertjie. So ’n aanmekaargetimmerde plank-kontrepsie, met ’n waarskuwingsbord by die ingang: “Ek swem nie in jou toilet nie, so moenie in my swembad piepie nie.” Aangesien daar destyds nie die luuksheid van chloorpille en Kreepy Krauly’s was nie, was dié piepieverbod nogal belangrik; veral met die somertydse kattemaaiery van ’n klomp seuntjies. Met verloop van tyd het ek en Wilhelm boesemvriende geword en saam baie dinge aangevang, sommige goed en ander minder goed ... Maar dis stories vir ’n ander dag.
Hierdie paradyslike ervaring het egter oornag in ’n nagmerrie verander. My ouer suster het in allerlei hogere klaviereksamens uitgeblink. Dis toe dat my ouers besluit dat ek ook klavierlesse moes neem, en bid jou dit aan, in klassieke musiek. Tot vandag toe glo ek dit was my suster wat hulle aangehits het, omdat ek haar so dikwels met my droogmakery irriteer het. Ons twiste het soms plofbare vlakke bereik en ek vermoed die oorsprong van my nagmerrie was toe sy die eerste keer in die hoërskool met ’n kêrel uitgegaan het. Sy het botweg geweier dat ek saamry as my pa hom gaan oplaai, toe kruip ek maar vroegtydig agter die kar se sitplek weg. So net voor ons by die knaap se huis kom, pop ek toe soos ’n “jack in the box” agter die sitplek uit; jy kan dink wat die gevolge daarvan op ons reeds kwesbare verhouding was.
Dit eers daar gelaat, dink aan my benarde posisie: ’n standerd 3-laaitie wat, terwyl sy pelle in die swembad jil, druipstert en verward in die beneukte ou mevrou Blignaut se huis op maat van ’n klakkende metronoom moes gaan sit en tokkel terwyl hy kort-kort oor die vingers geneuk word. Net om in daardie skemer sitkamer, met die reuk van motbolle en ou mens te wees, was klaar ’n nagmerrie vir ’n jong gemoed. Amper erger nog was die plat musiektas waarmee ek na haar huis toe moes stap. Die hele ervaring was vir my erg traumaties. Was destyds al in dié trant gepraat, het ek vir seker die prentjie van ’n “nerd par excellence” uitgemaak. Tot vandag toe is ek nog nie seker wie die lyding gestop het nie – my ouers wat nie meer my gesanik kon verdra nie, ou mevrou Blignaut wat my nie verder kon verduur nie, of ek, wat geweier het om weer te gaan. Plaas dat hulle my eerder by Jannie Raath laat lesse neem het. Onthou ek reg, het sy straatpaal-plakkate destyds gespog dat hy tot ’n bobbejaan kon leer klavierspeel.
Maar terug na die twyfelvraag aan die begin, was dít blykbaar die gevoel wat my skuif na Pretoria by my “agtergeblewe” klasmaats geskep het. Vroeg die nuwe jaar het ek aan hulle geskryf om van my nuwe lewe in Pretoria te vertel ... of dalk bietjie daaroor te spog? Die onderwyser besluit toe dat hulle moet terugskryf. Ek onthou nog die opwinding waarmee ek die dik koevert geadresseer aan “Die Jongeheer Lourens Kotzé” oopgemaak het. Die briewe was van klasmaats, sommiges wie se name ek nog so vaagweg onthou: Heinrich, Kelsay, Soné en nog ’n klompie ander. Het ek geweet hoe Facebook werk, sou dit nogal interessant wees om te sien hoe die spulletjie, of liewer dié wat nog leef, vandag lyk.
Die briewe was, soos die een hier onder, meestal maar op dieselfde trant.
2 Spoorweghuis
Brakpan
15 April 1963Beste Lourens
Ek wonder darem hoe lyk die moderne huis waarin julle woon. Ek hoor dat julle vriende wat langsaan woon het ’n swembad. Jy is seker al Noord Transvaalse swemkampioen. Ek glo nie dit is in die winter so warm daar as in die somer nie. Ek is ’n rugbyspeler van die derde span. Jan Horn was ’n sieklike kind en hy is oorlede.
Nou weet ek ook nie meer wat om te skryf nie.
Alles van die beste ou maat
Heinrich Kotzé
Tog was die een briefie op ’n manier anders ...
Invernesslaan 7
Dalview
Brakpan
14 April 1963Hallo Lourens
Ek hoor jy het ’n nuwe fiets. Hy is seker al stukkend gery. By ons is dit al baie koud maar ek hoor dis nog lekker warm in Pretoria. Jy is gelukkig om so naby iemand met ’n swembad te bly. Ek wens jy kon my ook leer swem .
Onthou jy nog verlede jaar se kermis? Ek en jy het op die mallemeule gery en toe ek bang was het jy my hand vasgehou. Ek het baie daarvan gehou en ek wens jy kon hierdie jaar weer hier wees! Skryf asseblief gou weer vir my.
Lekker bly
Soné
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

