Dinge is nooit so eenvoudig as om mense bloot in gerieflike kassies te kan prop nie; regs, liberaal, links, konserwatief. Ek het al in die verlede te velde getrek teen liberales, maar daar is tog sekere dinge waarmee ek die liberales volledig eens is. Vir my is aanstellings suiwer op meriete nie onderhandelbaar nie, iets waarmee ’n ware liberaal ongetwyfeld sou saamstem. Enkele jare gelede was dit dan ook ’n slogan van die DA: "Merit, not race."
Het die DA maar net sy eie slogan geglo en uitgeleef!
Ja, die DA het weliswaar al te velde getrek teen die ANC se kaderontplooiing, veral in die staatsdiens, en dus op die oog af sy slogan gestand gedoen met sy retoriek, maar gister het die DA presies gaan maak waarvan hy die ANC beskuldig. Die DA het gegaan en ’n Swazi-kader, me Lindiwe Mazibuko, loop ontplooi. Alhoewel dit kwansuis ’n demokratiese verkiesing was, was me Zille en me De Lille se hand duidelik in die proses. Moet ook nie vergeet dat die ANC self sy kaders dmv (dikwels gemanipuleerde) interne prosesse verkies nie. Die "PR"-veldtog van Mazibuko en haar trawante het vir niks geskrik nie. In die proses het die DA sy liberale beginsels nie net versaak nie, hy het homself eintlik belaglik gemaak.
Soos die bekende liberale rubriekskrywer, RW Johnson, uitwys, word daar van ons verwag om te glo dat me Mazibuko op 31-jarige leeftyd veel meer begaafd en bekwaam is as byvoorbeeld dr Van Zyl Slabbert, ’n formidabele intellektueel, maar iemand wat eers op 39 die parlementêre leier geword het. Ek is jammer, maar ek sien hoegenaamd geen aanduiding daarvan dat me Mazibuko hoegenaamd Van Zyl Slabbert se intellektuele eweknie is nie. So ook waarskynlik nie heelwat ander, huidige DA-lede s’n nie, veral nie in terme van politieke ervaring nie.
Daar is slegs een gevolgtrekking wat mens kan maak: Kameraad Mazibuko, die DA se Swazi-kader, is ontplooi want sy is swart.
Sy is ontplooi omdat die DA hoop dat haar identiteit as swart Swazi aanklank sal vind by swart kiesers. Vergete dus is die DA se aanklag teen partye soos die IVP of VF+ dat laasgenoemdes hulself skuldig maak aan identiteitspolitiek, want kameraad Mazibuko is op grond van haar swart identiteit tot parlementêre leier verkies. Sy is daar in terme van ’n siniese hoop dat ’n "token black" addisionele swart steun sal werf. Dit gaan eweneens bitter moeilik wees vir enige DA-lid om ooit weer in die toekoms sonder ’n rukking van die regteroog te lieg dat die DA gekant is teen kaderontplooiing, want die ANC sal onmiddellik en met goeie reg kan terugkrabbel dat me Mazibuko niks anders is as ’n DA-kader wat ontplooi is omdat sy swart is nie.
DA-kader. ANC-kader. Die een is soos die ander.
Anton B

