Ampie van Straten (1937–1997)

  • 2

Gebore en getoë

Ampie (Abraham) van Straten is in 1937 op Maclear in die koue Noordoos-Kaapland gebore. Toe hy ’n kleuter was, het die gesin na Pretoria getrek, waar hy aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) gematrikuleer het.

Hy het aan Die Kaapse Bibliotekaris (Januarie 1988) vertel dat hulle in hul hoërskooljare ’n sekere aantal reëls prosa en poësie moes leer en memoriseer en "opsê" vir ’n modelinge punt. "Jaar na jaar het van my klasmaats sekere paragrawe uit Jochem van Bruggen se Ampie geleer en voorgedra, sinne wat min of meer só lui:

Ampie stamp sy simpel suster eenkant toe. 'Gee pad van my plek af!'
'Ma, kyk hier vir Ampie!'
'Ampie, jy sal bars,' brom sy ma sonder om te roer.
Ampie sit nou langs sy pa wat vrot tabakblare uit ’n kromsteelpyp rook en skelm sy goor ogies eenkant toe gooi op sy seun, vol agterdog. 'Was jy vandag by die wippe?'
'Ja, Pa, en toe loop ek Kasper Booyse op die lyf, en hy het net lelik na my gevry.'

"Jaar na jaar is dié groot prosa met groot gevoel opgesê terwyl almal na my loer om te kyk hoe ek dit 'vat'. Ek het elke keer, soos Uys Krige graag gesê het, gekners op die agterstes en gesmaail met die voorstes – en besluit om eendag ’n boek te skryf waarin ’n vertraagde Jog ’n sukkelrol speel."

En in Daar's ’n gaatjie in die middel van die see is daar ’n Jog, wat darem nie ’n sukkelaar is nie.

Verdere studie en werk

Ná skool is Ampie na die Universiteit van Pretoria waar hy sy BA-graad en onderwysdiploma behaal het. Vier jaar nadat hy matriek gemaak het, was hy terug by Affies, maar hierdie keer as Afrikaansonderwyser – ’n jaar lank vir die standerd sessies Afrikaans geleer, het hy aan Pierre Louw (Vaderland, 19 Augustus 1978) vertel: "Dieselfde werk oor en oor, want daar was baie klasse. Toe kry ek verhoging standerd sewe toe. Dieselfde werk, en erger nog – dieselfde kinders."

Oor hierdie onderwysjare aan dieselfde skool waar hy skoolgegaan het, het hy aan Corlia Fourie in Rooi Rose van 24 Januarie 1996 vertel: "Dit was nogal ’n ding om so gou na my matriek my oud-onderwysers as kollegas te hê. ’n Ding en ’n voorreg. Affies was nog altyd geseën met onderwysers wat nie net goeie leermeesters is nie, maar ook interessante persoonlikhede het.

"Eendag het ’n senior onderwyser ons ingelig dat dit verkeerd is om 'op diens' te wees, korrek is 'aan diens'. Dit het ’n bietjie gekrap dat ek ’n stukkie taalkunde moet gaan oordra wat vir my vreemd geklink het, maar gedwee en gedienstig het ek dit tog maar gedoen. Vandag is 'op diens' in ere herstel en word 'aan diens' tereg afgemaak as ’n kunsmatigheid wat nooit veld gewen het nie."

Na agtien maande as onderwyser is hy na die ATKV as assistent-hoofsekretaris met Taalgenoot, die ATKV se tydskrif, as verantwoordelikheid. En, het Ampie aan Pierre Louw vertel, was Calvyn Kruger, destyds hoofsekretaris, "die eerste man wat aan my taal 'gekrap' het en my gewys het op my gebruik van oorbodige woorde – waarvan daar veels te veel was.

"Niemand leer jou om te skryf nie, selfs al het jy jou BA in Afrikaans. En in die VSA is dit verpligtend as jy ’n taal-BA loop, om ook ’n kursus te volg in wat hulle 'practical writing' noem."

Ná agtien maande by die ATKV is Ampie na een van die bekendste reklame-agente, naamlik VZ. Daar het hy sy taalgebruik verder verskerp onder die uiters bekwame leiding van die direkteur Nic Tredoux, "'n man wat die taal so kompleet kon laat klink". By die reklame-agentskap het Ampie geleer om "kort en kragtig, ekonomies" te skryf. "’n Hele storie in sestig sekondes vir ’n radioflits, met byklank en dan moet die produk ook verkoop."

Hy het verder aan Pierre Louw vertel: "My Pendoring-stories is gebaseer op my ondervindinge by die reklamemaatskappy – my suinige woordgebruik het ek daar geleer. Elke advertensie was al klaar in Engels geskep – die ruimte was klaar bepaal – en elke herskepping van ’n advertensie was ’n uitdaging – om jou sê te sê in ’n minimum-ruimte.

"En om te bewys dat Afrikaans pittig is en nie ’n langdradige vertaaltaal soos so baie mense verkeerdelik gereken het nie."

Ná die VZ-agentskap is Ampie na die Johannesburgse College of Education waar hy die jong onderwysers moes leer hoe om Afrikaans pittig en kragtig te gebruik en dit dan ook só aan die jongmense oor te dra.

Op 1 Januarie 1982 het Ampie by Human & Rousseau in Johannesburg begin werk. In 1986 is hy Kaapstad toe waar hy as redakteur: fiksie begin werk het. In 1990 het hy gevra om terug te gaan na die destydse Transvaal waar hy in Human & Rousseau se kantore in Pretoria gewerk het tot en met 10 April 1996.

Ampie was getroud met Cecily Luck, wat in Fort Hare in die destydse Ciskei gebore is en later in Uganda en Kenia grootgeword het. Cecily het eers op hulle wittebrood leer Afrikaans praat.

Ampie het aan Corlia Fourie in Rooi Rose vertel dat hy in "Engels gevry het en ná die troue van Cecily verwag het om Afrikaans te leer. Ek wou selfs hê dat sy Afrikaans met ons kinders praat toe dié nog babas en kleuters was. Dit was verkeerd, want ’n mens moet jou moedertaal met jou kinders praat, maar ek was ’n vuurvreter op my dag. Cecily het daarna met die drie seuns, Abrie, Piet en Chris, Engels gepraat en ek Afrikaans."

Ampie het As geword op die buiteblad van sy eerste roman, Daar's ’n gaatjie in die middel van die see. Hy het aan Joan Kruger in Transvaler (3 Oktober 1975) vertel: "Die titel en my naam, wat ek aangedui het met die voorletters A S, moes op die stofomslag kom. Maar toe is die plek ’n bietjie klein en die die letters wil nie lekker uitwerk nie. Toe doen die uitgewer, Chris Barnard, aan die hand dat ek die A S van Straten sommer As maak en so het dit As geword."

Ampie se eerste boek was Daar's ’n gaatjie in die middel van die see. Soos reeds genoem, is een van die karakters in die studenteroman Jog genoem, hoewel hy nie ’n sukkelaar was nie, maar "nogal ’n skaflike kêrel, ’n minsame lummel: mens hou van hom", het Ampie aan Die Kaapse Bibliotekaris van Januarie 1988 vertel.

Ampie het verder vertel: "Die Gaatjie het ontstaan tydens die ontgroening. Ek het die komieklikhede en wreedhede daarvan opgeteken en besef dit kan die begin van ’n boek wees. Maar eintlik was ek in my studentejare ’n formidabele digter wat verse geskryf het soos:

Kougometer

Eers was dit soet
maar hy het gekou en gekou
tot hy homself daarin kon proe.
Toe
het hy dit uit
gespoeg.

"Ek het die Gaatjie eers na my studies voltooi en toe gesukkel om dit gepubliseer te kry. In daardie jare, 1966, mog studente nie op papier 'vloek' nie en talle kwinkslae en sêdinge moes afgewater word voor ek my storie uitgegee kon kry. Die enigste verandering wat so vars was as die oorspronklike, was 'lekker gepaw-paw nog nie papdronk nie' vir die onaanvaarbare 'lekker gepiepie nog nie poepdronk nie'. Gelukkig is die Gaatjie ’n paar keer herdruk en toe het ek baie van die oorspronklike studente-uitdrukkings teruggesit."

In Dagbreek en Sondagstem van 27 Junie 1966 het JME Gaatjie as ’n ongewone boek beskryf. "Dit word aangebied as ’n studenteroman, maar met die lees begin ’n mens vermoed dat dit hier om meer gaan as blote studentejolyt en -trane. Dis ’n boek wat heelwat meer op die hart het en van die hart afkry as enigiets wat voorheen in Afrikaans as studenteroman aangebied is."

In die verhaal is daar Theun wat ’n gevoelige jong man is wat met die twyfel van die adolessensie worstel. Hy is ’n eerstejaarstudent aan die onderwyskollege en onmiddellik ervaar hy die "vreemde logika, die skynbare ongevoeligheid en redelose handtastelikheid van sy seniors".

Dit het dadelik vir die resensent opgeval dat die skrywer die student en die ontgroening deeglik ken. En ook weet Van Straten hoe om sy karakters uit te beeld, al is hulle persoonlikhede uiteenlopend.

"’n Mens kry die indruk dat die skrywer die boek nie sommer 'uit die vuis' geskryf het nie. Hy moes modelle gehad het, modelle wat hy goed geken het. Hulle kwinkslae en koffiekan-filosofieë moes hy opgeteken het. Óf dit, óf ons het hier te make met ’n skrywer wat oorloop van oorspronklikheid en deurdrenk is van mensekennis, of studentekennis dan – want ’n mens en ’n student is nie noodwendig dieselfde ding nie.

"Dat die skrywer in ieder geval talent van sy eie moet hê, blyk uit die feit dat hy byna ongemerk daarin slaag om van Theun se eerste jaar as student meer te maak as wat dit voorgee om te wees: die roman word naamlik beeld van ’n wêreld wat stap vir stap afgetakel word, ’n mensdom wat sy daadkrag, sy sin vir waardes verloor het, ’n bestaan wat geen uitdagings meer bied nie. (...)

"AS van Straten het bepaald iets om te sê, en hy sê dit op sy eie, oorspronklike en dikwels verrassende manier. Daar's ’n gaatjie in die middel van die see sal aan hom ’n groot aanhang besorg – en ’n spesifieke plek in ons prosa."

In Vaderland (25 November 1966) het EvH geskryf dat die titel laf klink. "Dit is maar net ’n verspotte reëltjie uit ’n verspotte studenteliedjie! Dit aangeneem, verraai dit die inhoud – die eerste jaar aan die universiteit, en al die wel en wee wat dit meebring. (...)

"Daar's pret en korswil en jeugdige genadeloosheid, ontwakende liefde, ontnugtering, frustrasie en groei – alles deel van menswording. Maar deur dit alles loop ’n refrein van twyfel, van ’n soek na egte waardes, van vrees dat hulle die mas sal opkom in die alledaagse lewe nie. (...)

"Maar mens kan sonder huiwering sê dat hier sommer puik skryftalent aan die woord is, wat groot belofte vir Van Straten inhou, wanneer mens-wees minder onseker is."

Ampie se tweede roman, Die wenner, is in 1978 gepubliseer. Dit speel af in Hillbrow waar hy ’n ruk lank in ’n woonstel gebly het. Hy het aan Die Kaapse Bibliotekaris (Januarie 1988) vertel: "Digbevolkte, kosmopolitiese Hillbrow, waar mens ver voel van die natuur en waar jy dikwels al die Europese tale gehoor het, maar nie ’n woord Afrikaans nie. Toe ek een middag in ’n restaurant ’n Vaderland (Johannesburg se middagkoerant) lees, het ’n dame haar metgesel teen die skouer getik en na my kant toe beduie: 'That's an Afrikaner.'

"In die volksvreemde plek plaas ek drie Afrikaners wat van mekaar verskil soos kryt en kaas. Die beskaafde, lewensmoeë Bas, die selfgesentreerde Roelf en die arme Phillippus P van Staden wat meer van my in hom het as wat ek ooit sal erken.

"Die titel Die wenner het ’n ironiserende funksie en 'werk' in die verhaal, maar dis te ’n algemene titel, nie baie onthoubaar nie. Ek moes die roman die anglisistiese titel Die busvanger gegee het. Roelf is in alle opsigte ’n filistyn – hy ken onder andere nie die verskil tussen ’n anglisisme en pornografie nie – en hy ry baiemaal bus. En wanneer sy broer Bas by hom intrek, bou hulle boekrakke van planke en bakstene wat Roelf oral in die stad 'optel' en per bus aanry. Dit lei tot een van my gunstelingtoneeltjies:

'Jy mag nie bakstene in die bus inbring nie, meneer.'
'Bakstene?' Roelf het sy onderlip uitgestoot. 'Waar sien jy bakstene?'
'In jou hand.'
'Dis nie ’n baksteen nie, dis my kosblik. Net omdat my kosblik nie ’n rek om het nie, dink jy dis ’n baksteen!'
Die busdrywer het gevat en gedruk aan die baksteen. 'Dit is ’n baksteen!'
'Kan ek help as ek arm is?' ...

"Bas wat van die platteland af kom, ry ook soms bus en as hy opklim, stel hy homself voor aan die kondukteurs en skud blad met verbaasde mense. Bas háál busse, dis Roelf wat hulle vang ..."

Oor Die wenner het Abraham de Vries in Huisgenoot van 9 April 1971 geskryf dat Van Straten se taalgebruik die roman bietjie kortwiek. "Snaaks is dit wel deeglik plek-plek (en in Daar's ’n gaatjie in die middel van die see was dit funksioneel), maar hier steur dit, laat soms die indruk van gewilde komieklikheid. (...) Kortom, Die wenner is literêr sekerlik geen suksesverhaal nie. Vir die lekker-lees sou ek dit aanbeveel; en ’n paar flitse werklike onsin-komieklikheid daarin is werklk góéd."

Anna Van Zyl was in Volksblad (6 Augustus 1971) van mening dat Van Straten in Die wenner "baie waarhede en wyshede kwytraak en dit teen ’n soort, speelse décor. Hy kan die mens in verskillende totaal uiteenlopende situasies met verskillende karaktereienskappe as individualiste op die toneel laat verskyn. Hy kan met die minimum woorde gestalte gee aan wat hy wil meedeel. Sy stylbeheer is uitmuntend en die dialoog in die boek is so vlot soos in ’n drama. Die verhaal is goed geïntegreer met die hele agtergrond. Dit is ’n verkwikkende en prikkelende boek wat ’n mens meer as een keer kan lees."

In 1975 het Ampie Pendoring (Edms) Beperk geskryf – ’n hoorspel waarmee hy die SAUK se GRA-hoorspelwedstryd gewen het. Dit is in 1977 ook deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die SAUK-prys vir hoorspele en hoorbeelde bekroon. Op daardie stadium was dit die hoorspel wat die meeste kere uitgesaai is en die meeste deur professionele en amateurgroepe opgevoer is.

In Beeld van 19 Desember 1991 is geskryf dat die volgende uittreksel uit Pendoring Edms) Beperk waarmee Gert Klopper geadverteer het vir ’n vakante pos, ook as advertensie vir die boek kan dien:

Pendoring-taaldiens van die Goudstad
soek ’n meisie wat dinge kan raakvat,
en van soggens tot saans
in pront Afrikaans
twee sinne met één woord kan saamvat.

Dit kan ook as Ampie se motto gelees word.

Pendoring (Edms) Beperk is ’n vrolike hoorspel oor die wel en wee by ’n advertensiemaatskappy, het Joan Kruger in Transvaler van 3 Oktober 1975 geskryf. Dit is op 2 November 1975 vir die eerste keer op radio opgevoer met Katinka Heyns en Matthys du Toit in die hoofrolle en Roelf Jacobs as regisseur.

Oor die skryf van die Pendoring-hoorspele het Ampie aan Kaapse Bibliotekaris (Januarie 1988) vertel: "Dit het ontstaan in my jare in die reklamewese. Ek het vroeg-vroeg agtergekom dat sekere ongesofistikeerdes hoë woorde gebruik om te kompenseer vir die gemisse wat hulle in hulself aanvoel. Hulle sê nie sommer net iets nie: hulle maak gewag daarvan, opper die feit, bring dit te berde, lug die opinie, is die mening toegedaan ... dat dit baie warm is. Soos die rugbykommentator wat nooit sê Naas Botha skop van die kwartlyn nie; nee, hy neem die skop van die kwartlyn af waar. Soos die dame wat meen dis 'plat' om te sê iets is te kry by alle goeie apteke. Jy moet sê dis verkrygbaar by alle goeie apteke.

"Dis sulke mense wat geskrewe Afrikaans altyd langer en lomper laat lyk as Engels, en dis met hulle wat ek ’n bietjie die spot dryf in my radiodramas. Ek moet nog ’n derde een skryf: Pendoring & Seun. Daarin wil ek veral gekskeer met mense wat meen werkwoorde moet verkieslik aan die einde van ’n sin staan – prof Ponelis noem dit die kondukteursindroom."

Gert Klopper, "die eienaar en stigter, besturende direkteur en uitvoerende amptenaar van Pendoring (Edms) Beperk, wat ’n taaldiens in die Goudstad lewer", is die hoofkarakter. Dan kom Sarie Verster op die toneel. Sy gaan werk vir Klopper en raak verlief op hom, maar hy het net een liefde in sy lewe, naamlik die Afrikaanse taal. En, het Hannes Horne in Hoofstad (16 Julie 1976) geskryf, is dit juis "die gespook met dié meisie wat Van Straten se stuk so heerlik vermaaklik en interessant informatief maak".

Horne het dit beskryf as ’n "vindingryke, oorspronklike werk, waar Afrikaans soos pêrels skitter en die skrywer heerlike satiriese steke uitdeel aan diegene wat ons taal moedswillig oorgewig maak met byvoegsels en aanhangsels."

Abraham H de Vries het in Die Burger van 17 Junie 1976 die eerste Pendoring só beskryf: "Tegnies is dit dan ook ’n jolyt, met die komieklike gebruikmaking van die vertelster, dialoog wat lóóp, vinnige verandering van tonele, en so meer. En dis by uitstek ook ’n leesdrama, waarvoor mens nie ’n regisseur hoef te wees om dit te geniet nie. Boonop lyk dit vir my taamlik maklik om hierdie hoorspel aan te pas vir ’n toneelopvoering. Selfs amateurs behoort nie te veel probleme te ondervind nie."

Ampie van Straten het na Pendoring (Edms) Beperk ook vorendag gekom met Pendoring en Kie in 1978 en in 1995 met Pendoring en Seun. Ook is die eerste twee hoorspele in 1992 saam uitgegee onder Pendorings: twee hoorspele.

In Die Burger van 22 Julie 2006 skryf Arnold Vermaak oor al drie Pendorings. Volgens hom is die stuk sonder Katinka Heyns en Matthys du Toit se stemme nie so sprankelend nie, aangesien "baie van die humor in hulle uitstekende tydsberekening lê".

Oor die tweede Pendoring waar Klopper by ’n reklame-agentskap begin werk het, het Vermaak gesê dat dit "ook swoerdloos en ewe gevat" was. "Die derde aflewering in die reeks, Pendoring en Seun, het met Richard van der Westhuizen as Gert ongelukkig net nie dieselfde trefkrag gehad nie. Hierdie laaste een in die 'reeks' was 'op ’n manier, AS van Straten se afskeidsgeskenk aan sy meisie, die taal wat hy so vertroetel het, want tydens die skryf daarvan was hy reeds baie siek aan kanker'."

Fanie Olivier (Vaderland, 25 Oktober 1979) het gemeen dat Van Straten met Pendoring en Kie in al die slaggate wat ’n opvolgwerk van ’n suksesstuk kon inhou, getrap het. "Die komplot is minder oortuigend, selfs flou op kolle en sy 'vafs' (die vaal, verbeeldinglose, veilige, Afrikaans-gebruikers) kom nie tot hulle reg nie. Daar is te veel didaktiek in die nuwe teks ingebou en dit maak kwaai inbreuk op die heerlike trant waarmee die skrywer wil vertel. As radiowerk dink ek slaag dit nog minder – daar is net te veel karakters wat in dié kort bestek saampraat en vir die hoorder gaan die onmoontlik wees om die verskillende karakters te identifiseer.

"Van Straten probeer dit oorkom deur die gebruik van Gert as verteller, maar dit slaag nie. (...) ’n Mens lees lekker aan Pendoring en Kie, Dit is nog ’n voorbeeld van hoe ’n bekwame skrywer met die taal kan speel. Maar dit is ’n groot teleurstelling na daardie heerlike eerste kennismaking met Gert, Sarie en Afrikaans."

In Transvaler van 24 Februarie 1979 het Henk Wybenga egter gevoel dat die tweede Pendoring logies op die eerste een volg. “Die skrywer word nooit swaar in sy aanslag nie. Sy karakters bly soepel en dartelend en die dialoog bly sprankelend. Om Pendoring en Kie te lees en te herlees, is louter vreugde. In die kort bestek van 31 bladsye word die hoorspel as medium besonder treffend en voortreflik ontgin."

Pendoring is in 2002 by die KKNK opgevoer onder die regie van André-Jacques van der Merwe met Diaan Lawrenson as Sarie en Van der Merwe self as Klopper.

Oor die laaste in die Pendoring-reeks, Pendoring & Seun, het Ampie aan Ingrid Karshagen in Die Burger van 18 Oktober 1995 vertel: "Pendoring en Seun verskil heelwat van die ander twee Pendorings. Dis twee maal langer, spot met meer soorte taalgebruik en bevat ook die nuwe hoofkarakters Driesie en Oom Dries. Die doel van die vertellings is om Afrikaans uit te beeld as ’n taal met ’n kaalvuiskarakter, ’n loslittaal wat kort en kragtig is.

"Die taal word ook uitgebeeld as aards en konkreet en leen hom voortdurend tot woordspel en woordpret wat jou kort-kort laat lekkerkry. Ek het agtergekom mense laat Afrikaans lomp voorkom. Ek wil juis ’n boodskap vir hulle oordra. Die fout lê by hulle, nie by die taal nie."

Vir PC van der Westhuizen (Beeld, 18 Maart 1996) het Pendoring & Seun ’n "onverwagse vreugde" gebring, maar ook tog ’n "gekompliseerde vreugde wat die oumense se van-té-veel-lag-wysgerigheid in herinnering roep".

Hy het sy resensie afgesluit: "Ou vissermanne weet al: nes jy 'n beker koffie of ’n toebroodjie in jou het dán byt die vis. Dieselfde beginsel geld in ’n groot mate Van Straten se skerpsinnige Pendoring en Seun; dit is ’n teks waaroor jy nooit te gerus kan raak nie. Aangesien hierdie hoorspel seepglad lees, word dit aanbeveel vir almal wat in die Afrikaanse letterkunde belangstel, en in kwessies oor Afrikaans se stand, toestand (!) en toekoms."

Barrie Hough (Rapport, 17 Maart 1996) het Ampie van Straten beskryf as die "meester van die hoorspel. Sy oorskakeling van vertelling tot dramatisering geskied naatloos. Pendoring & Seun is ontwerp spesifiek om gehoor te word en Van Straten benut gevathede op ’n ouditiewe vlak. Die tempo is ook ontwerp om gehoor te word – blitsig en in die hoogste versnelling. Pendoring & Seun luister veel lekkerder as wat dit lees. Die gedrukte uitgawe laat ’n mens egter toe om stadig te kan smul aan hierdie meesterwerk waarin Afrikaans vreugdevol gevier word."

Ampie het in 1985 ’n toneelstuk geskryf, naamlik Die potlooddief en die engel. Dit was die eerste stuk wat in die ATKV-Kampustoneel ’n "oefenlopie gekry het", het Ampie aan Die Kaapse Bibliotekaris vertel. "Uit dié aanbieding het ek heelwat wyser geword en die komedie verder geslyp vir ’n professionele speelvak in 1985 in die Staatsteater, Pretoria en die Alexander-teater, Johannesburg.

"'Being a woman,' het Joseph Conrad gesê, 'is a terribly difficult trade, since it consists principally of dealing with men.' Die potlooddief en die engel is skaamteloos pro-vrou, baie krities teenoor die growwe skepsels met wie die skones hul lot moet deel."

Marisa Mouton (Volksblad, 14 Desember 1985) het Die potlooddief beskryf as ’n "ligte romantiese komedie met ’n element van die fanatiese. Hoewel dit ’n komedie met die tradisionele gelukkig einde is, is die res van die stuk geensins gewoon nie."

Die twee hoofkarakters is Tonie en Lena wat nie jou tipiese romantiese paartjie is nie. Tonie is ’n losbol wat potlode steel en op soek is na werk en ’n meisie. Lena het nie baie vertroue in die mansgeslag nie as gevolg van vroeëre mislukte verhoudings. Hulle het altwee ’n beskermengel wat in hulle lewens en verhouding inmeng en uiteindelik die gelukkige einde in die hand werk.

Mouton het afgesluit: "Die ligte, humoristiese gang van die gebeure tesame met die invoeging van die elemente van die fantastiese gee aanleiding tot ’n hoogs suksesvolle komedie – een wat ’n genotvolle aand in die teater behoort te waarborg."

Ampie se volgende drama was getiteld Die aand van die fynproewer. Vir Lucas Malan (Beeld, 7 Maart 1993) het die skrywer se gevoeligheid vir die taal hom dadelik getref. Die dialoog is "rats" en Van Straten maak knap daarvan gebruik om sy karakters te definieer en om die spanningslyn "deurgaans soepel te hou".

Die agtergrond van die drama is ’n restaurant waar n lastige klant die personeel se siele versondig. "Uit dié situasie kom daar dan heelwat aan die lig omtrent die restaurantpersoneel se griewe én ook die veeleisende gas wat hulle telkens met sy kennis van die gastebedryf antagoniseer. Hierop volg ’n baie effektiewe motoriese moment wanneer hy aankondig dat hy die nuwe eienaar van die restaurant is. (...)

"Dit alles sorg vir goeie teater en die outeur boei sy gehoor of die leser met die verwikkeling in die tweede bedryf. (...)

"Daar is ook ongelukkig ’n teatrale moment in die tweede bedryf wat die drama geleidelik ondermyn wanneer die bordjies verhang word. (...) Die aand van die fynproewer is egter ’n eietydse drama met verrassende wendinge en daarom is dit ’n vars bydrae tot die skraal produksie van toneeltekste in Afrikaans. Dit is ’n teks wat vanweë sy energieke dialoog en interessante sondebok-tema deur toneelverenigings verwelkom sal word."

Wilhelm Grütter (Die Burger, 6 April 1993) het Die aand van die fynproewer beskryf as ’n "vernuftig uitgewerkte swart komedie van neurotiese wraak en weerwraak, waarin die 'restaurant as mikrokosmos' figureer (volgens ’n resensent). Tewens, eweneens die aanstellerigheid van die fynproewers van die lewe, wat selde daarin slaag om hul genietinge met die werklikheid te laat klop.

"Nog ’n resensent, Laetitia Pople, beskryf dit 'as ’n intense spel waarin haat, liefde, werklikheid en droom-werklikheid teenoor mekaar afgespeel word'. Dit begin so ’n bietjie na Eugene O’Neill klink – nogal vanpas.

"Maar pleks van die O'Neill-modus van donker orreltone het ons hier ’n strykkwartet wat ’n bittersoet Pretoriaanse polka speel: Vindingryk, veranderlik en vlug.

"Dié drama is sprekende getuienis daarvoor dat hedendaagse toneel relevant kan wees sonder modieuse betrokkenheid. Dit is ’n speelbare, intelligente teaterteks wat sterk steun op wat Pople noem '’n parate gehoor'. As jy is wat jy eet (Feuerbach) dan is hierdie teks ten minste ten dele sy gehoor."

Die aand van die fynproewer is in Februarie 1992 deur Truk onder regie van Francois Swart opgevoer voordat dit gepubliseer is.

Ampie van Straten is in 1995 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met ’n erepenning vir Pendoring & Seun vereer. In 1995 is die prys vir voortreflike Afrikaanse reklame die Pendoring-toekenning genoem, uit erkentlikheid vir die kreatiewe rol wat Ampie in die reklamewese gespeel het.

Ampie het gehou van aardse dinge soos swem, veral in die see, en om branders te ry, het hy aan Corlia Fourie in Rooi Rose (24 Januarie 1996) vertel. "My skoonouers het, na my skoonpa se aftrede, buite Plettenbergbaai gaan woon en ons bring baie vakansies daar deur. Ek hou ook daarvan om vrugte van die boom af te eet. My skoonma se marmelade. Poësie met klinkende, onvergeetlike reëls soos Van Wyk Louw se ‘terging van die lente in haar stap’ en ‘die somer is ’n dag oud’ en ‘ek word grys van aard’, Yeats se ‘and may she live like some green laurel, rooted in one dear perpetual place’.

"Waarvan ek nié hou nie, is TV wat outomaties luider word vir advertensies ná ek dit ingestel het vir my ore. Veral swáár voertuie wat uitgelate die hele wêreld besoedel."

In 1993 is Ampie gediagnoseer met kanker, maar het eers in 1996 opgehou werk. Hieroor het hy in 1996 aan Corlia Fourie in Rooi Rose gesê: "Die toekoms is onseker, maar nou ja, ons is almal sterflik. Intussen het ek seëninge om te tel, en ek tel hulle. Ek kyk deesdae anders na dinge. Ek aanvaar niks meer as vanselfsprekend nie. Ek probeer mense vermy wat stres en spanning veroorsaak. Ek het nog altyd humor geniet, nou waardeer ek ’n vonkel in die oog en ’n tong in die kies meer as ooit."

Op 29 April 1997 is Ampie oorlede en het hy sy vrou, Cecily , sy drie seuns en een kleinkind agtergelaat. Hy is uit Irene se Anglikaanse Kerk begrawe.

Koos Human het na sy dood oor Ampie in Die Burger van 3 Mei 1997 geskryf: "Sy vriendekring was wyd, want hy was in die onderwys, die reklamewese en die uitgewersbedryf. In al hierdie wêrelde het hy vriende gemaak en hulle behou. As hy met ’n ondeunde vonkel in die oë aankom met die woorde: 'Ek het ’n ou maat gehad ...' kon jy jou maar klaarmaak vir ’n kostelike staaltjie, wat nooit per ongeluk herhaal sou word nie. (...)

"Ek was bevoorreg om Ampie te ken as kollega en skrywer, maar bowenal as vriend, met wie mens ook oor vertroulike sake kon gesels met die sekerheid dat dit vertroulik sou bly. Hy was ’n minsame, saggeaarde mens wat ek nooit kwaad gesien het nie, selfs nie vir die domste taalvos nie. Deur hierdie laaste moeilike jare het Cecily (self ’n gesiene skryfster) hom bygestaan, en was sy ’n toonbeeld van morele steun en krag. Sy wye vriendekring, hier en in die buiteland, sal Ampie van Straten mis."

Kerneels Breytenbach, ’n kollega en vriend het in Insig van Junie 1997 geskryf: "As daar ooit een begrafnis was wat Ampie van Straten se onopgesmuktheid waardig was, dan was dit sy eie. ’n Kis sonder vernis, toue vir handvatsels. ’n Bondige diens sonder prekerigheid. In die loop daarvan het die stampvol kerk saam met die gesin geluister na DJ Opperman se 'Sproeireën', NP van Wyk Louw se 'Vroegherfs' en ’n toonsetting van Boerneef se 'Die berggans het ’n veer laat val'.

"Die vermoë om na aanleiding van enige prikkel onder die son skielik ’n aanhaling te vind wat die saak kon belig, was iets wat mens altyd van Ampie bewonder het. Dít, of ’n staaltjie wat hy kon toedig aan een van die menigte maats wat hy deur die jare versamel het.

"'Maat' was hul almal, nie pêl nie. Ampie, getroud met ’n Engelssprekende vrou, het ’n suiwer, maklike Afrikaans sonder windlawaai gepraat. Niemand sal hom daarvan kan beskuldig dat hy probeer het om getrou te bly aan die karakter Gert Klopper, die taalman van Pendoring (Edms) Beperk, nie. Dis eerder ’n geval dat Ampie vir Gert Klopper kon skep, sy gevoelens oor die taal kon uitleef, en in die proses ook ’n bietjie spot met taalpuriste, omdat hy die terrein al vir Gert bespied het. 'Ek was nog altyd teen vertraagde Afrikaans,' lê hy Gert Klopper in die mond, en mens hoor Ampie praat.

"Ampie – AS, of As, soos sommige mense hom genoem het – het in 1982 by Human & Rousseau se Johannesburgse kantoor begin werk ná sy (soos hy dit genoem het) 'wilde jare' in die reklamewese, en ook ’n tydjie in die onderwys. In 1986 is hy verplaas na die Kaapse hoofkantoor. In onbewaakte oomblikke het hy nog die Tukkie-handdruk gegee, pinkie wat so effens hang, weg van die ander vingers af. Niemand was verbaas toe hy in 1990 na die Randse kantoor terug is nie. 'Ek verlang na die boswêreld,' het hy verduidelik. Selfs op dié afstand had hy ’n kalmerende effek op ’n mens se lewe.

"Baie mense sal hom oor baie dinge dankbaar bly. Buiten die raakheid van sy insigte en die vaderlike ontferming waarmee hy skrywers en manuskripte benader het, is daar die magdom grappe wat hy paraat gehad het. Wanneer dinge plofbaar raak en humeure kort, was hy die een wat sake gered het. Soos die aand toe hy met my vrou gaan wandel het nadat ’n moeë en emosionele skrywer haar klaphand laat kriewel het. Ampie het dinge raakgesien voordat ander kon.

"Ampie van Straten sal onthou word as dramaturg en uitgewer, asook een van die beste dinge wat ooit met die Afrikaanse reklamewese gebeur het. Gert Klopper sal voortleef; Ampie van Straten is vir almal wat hom geken het, ’n kosbare herinnering."

In Beeld van 19 Februarie het Ampie vertel wat hy op daardie stadium gelees het: "Ek lees deesdae meesal poësie. Baie gedigte laat jou direk inloer in ander mense se gemoedere en laat jou besef ons is nie so alleen as wat ons soms dink nie. Gregory Corso sê: 'I love poetry because it makes me love and presents me life.'

''Afrikaanse gedigte waarin ek my nou verlekker, is onder andere Tom Gouws se troglodiet, Lucas Malan se Hongergrond, SJ Pretorius se Amper postuum, Peter Blum se Enklaves van die lig en Ina Rousseau se nuwe bundel, ’n Onbekende jaartal.

''Ina skryf van '...voëls besig om 'n lang strook Vlaamse kant uit klank te knoop.' As ek Ina se fyn verse lees, dink ek terug aan kostelike en kosbare geselsies met haar, en verlang ek erg na sommer al die Kaapse skrywers.''

Publikasies

Publikasie

Daar's ’n gaatjie in die middel van die see

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1971
  • 1984

ISBN

0624022595 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pendoring (Edms) Beperk: ’n hoorspel

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1978
  • 1979
  • 1980
  • 1981
  • 1984
  • 1989
  • 1990

ISBN

0624008290 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pendoring en Kie: ’n hoorspel

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1981

ISBN

0624011801 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wenner

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1983
  • 1985
  • 1993

ISBN

  • 062401147X (hb)
  • 0624021688 (sb)
  • 0624032388 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die potlooddief en die engel

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118504 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vyftig 1932–1982 Afrikaanswording: drie eenbedrywe. Saam met Henriette Grové en Louis de Villiers.

Publikasiedatum

1988

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Universiteit van Pretoria

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die aand van die fynproewer

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798130393 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pendorings: twee hoorspele

Publikasiedatum

  • 1992
  • 1997

ISBN

0624031101 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pendoring & Seun: die derde hoorspel in die Pendoring-trilogie

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134666 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Ampie van Straten beskikbar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top