Among the Boers in peace and war bied ongewone insig in die oorlog

  • 0

Titel: Among the Boers in peace and war
Redakteurs: Ione Rudner en Bill Nasson. (Vertaal uit Noorweegs deur Ione en Jalmar Rudner.)
Uitgewer: Africana Publishers
ISBN: 9780620528023
Prys: R180 plus R10 posgeld

 

Bestel by africanapublishers@mwebbiz.co.za.

Hierdie werk is gebaseer op ’n dagboek wat gehou is deur ’n Noorweegse telegrafis wat in 1898, op 27-jarige leeftyd, op soek na werk, in Suid-Afrika aangekom het. Werk was skaars en sy Engels en Nederlands beperk, maar op grond van voorafgaande korrespondensie word hy as ’n assistent by ’n staatslandmeter in die voormalige Transvaalse bosveld aangestel. Sy vertelling van sy eerste kennismaking met die land, sy treinreis, die plekke wat hy sien en veral die snel-groeiende Johannesburg is boeiend. Vanweë die skrywer se jeugdigde openhartigheid, afwesigheid van vooroordeel en sinvolle gevolgtrekings verryk sy vertelling die leser. Dit word veral duidelik wanneer hy skryf oor Boeremense, hul gebruike (soos huisgodsdiens en psalmsang!), wonings, plase en boerdery. As neutrale vreemdeling beleef hy ’n betreklik sorgelose tydperk hoofsaaklik in die veld as leerlinglandmeter ten spyte van die groeiende bedreiging van oorlog. Wanneer oorlog dan ook uitbreek, keer sy Britse baas terug na die Kaapkolonie, Schrøder-Nielsen koop voorlopig sy plasie en huis en bly daar woon as oppasser.

By sy Britse baas en dié se vriende het hy die dreigende oorlog net van die Britse jingo-kant gesien; dis eers nadat hy alleen op sy plasie, Hill Side, was, dat hy onbelemmerd met Boere kon kennismaak en mettertyd die ander kant van die geskiedenis van die Boererepublieke kon leer ken.

Daar op Hill Side, omring deur tuisblyers en huistoeganers, het hy as neutrale buitelander die verloop van die oorlog gevolg. Hy verwonder hom daaraan dat soveel Boere met tuisverlof van hul kommando’s af kon wees en dit soms met onbenullige wonde. In sy naïwiteit druk hy sy vinger egter op die gebrek aan dissipline waarop soveel buitelanders die aandag gevestig het en wat aan Boeregeneraals soveel hoofbrekens besorg het.

Nadat ’n patrollie Britse soldate sy huis deursoek het en hom taamlik hardhandig behandel het, besluit hy om by die Boere aan te sluit, omdat die regverdigheid van hul saak hom sterker aangespreek het as dié van die Britte. Na 15 maande van besondere eensaamheid op Hill Side, verruil hy die plek aan ’n Boer vir ’n perd, geweer en 12 patrone, en sluit aan by generaal De la Rey se kommando.

Sy uitstekende beskrywing van die aard en werkswyse van die Boere-gevegsmasjien sal vir menige leser ’n openbaring wees. Hierdie eenvoudige sisteem het gewerk, ten spyte van geldige kritiek wat daaroor uitgespreek word en die foute wat begaan is. Ook besonder insiggewend is die beskrywing van die voorsiening in die daaglikse benodighede van die burger te velde, wat op sy perd gelaai moes word, wat geëet is, hoe geslaap is en die organisasie van daaglikse bestaan op kommando. Die skrywer laat die leser deel in sy trots op sy verkiesing as korporaal – ’n prestasie vir ’n uitlander! Hy behou nog kontak met die mense in die omgewing van Hill Side; daar is ook so ’n klein dreigende liefdesverhaaltjie hier opgesluit, maar meer beduidend is die byna kinderlike beskrywing van “opsit” vir dié wat nie weet nie.

Gevegte, skermutselings, wagposdienste en noue ontkomings wat deel is van kommando-lewe word interessant en lewendig beskryf. Hierby pas die vertelling van die Slag van Vlakfontein op 31 Mei 1901 ook besonder goed in. Aspekte van oorlogvoering, vrouekampe en die optrede van die Britte teenoor gevangenes, en sy laaste drie maande te velde word met sorg en beklemtoning van hoe moeilik toestande vir die Boere geword het, vertel.

Dramaties is sy beskrywing van sy laaste geveg en sy waarnemings mbt vrees. Hy word ’n krygsgevangene en word per toeval blootgestel aan die dood van ’n ou bekende, Piet Schuil, wat op vals aantygings deur die Britte ter dood veroordeel is. Na Schuil se fusilering, waarby hy teenwoordig moes wees, word hy in onsekerheid gehou en die angswekkende dreigemente waaraan hy blootgestel word, is teen alle reëls van behandeling van krygsgevangenes.

Uiteindelik word hy as ’n gewone krygsgevangene na Ladysmith gestuur en vandaar via Durban na Bermuda, waar hy in ’n kamp vir vreemdelinge aangehou word. Hierdie fragment is belangrik, omdat die Britte se hantering van vreemdelinge verskillend was van dié van Boere of rebelle.

Dit is ’n interessante, leesbare en leeswaardige boek wat ’n halfbekende terrein dek, maar waarin selfs die deel wat ons dink ons ken, nuut benader word deur hierdie intelligente jong man met ’n besonderse sin vir regverdigheid. Hy het hierdie ongestadige tydperk in die geskiedenis van Suid-Afrika as neutrale uitlander, as Boere-partisaan en as krygsgevangene met besondere insig beleef.

Die boek is mooi uitgegee en ek as leser was dankbaar vir hierdie ongewone insig in die oorlog.

Die inleidende hoofstuk, wat deur Bill Nasson geskryf is, behoort deur elke persoon wat in hierdie oorlog belangstel, gelees te word. Daar is ongelukkig enkele onnodige spelfoute en feitefoute in die voetnotas: Rustenburg is nie Rustenberg nie; daar is measels ipv measles, heads of cattle vir head of cattle; guineafowls as meervoud bestaan nie. En die Russiese dokter by generaal De la Rey was Von Rennenkampf. Sir Arthur Conan Doyle was nie aangestel as ’n Voluntary Field Doctor nie, maar as ’n supplementary medico in an unoffically supervising capacity van die Langman Hospital, een van die Britse private hospitale.

Dit is jammer dat die groothartigheid van generaal De la Rey teenoor die gewonde en gevange lord Methuen weer verdraai en gesentimentaliseer is. Selfs die Times History of the War in South Africa kontrasteer sy optrede met die soms laakbare optrede van Britse bevelvoerders teenoor gevange Boere-offisiere op daardie stadium van die oorlog.

 


Hierdie resensie is in 2012 gedeeltelik op Fine Music Radio uitgesaai.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top