Aminata

  • 0

“Aminata” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Aminata

Terwyl die Saterdagmiddag-loomheid saam met die laaste strale van die son oor die groepie hutte aan die wal van Ba Niger daal, swaai Aminata die plastiekemmer in een beweging vanuit die rivier tot op haar kop.

By die vuur gooi sy die ji in die boepenspot en krap met ’n stok in die kole. Onder by die rivier was die ander meisies van die kraal hulself. Hul naakte bolywe blink in die laaste lig.

Aminata hoor hulle lag. Daar was ’n tyd toe sy ook een van ’n groep laggende meisies was. Maar dit was lank gelede; lank voor die laaste san wat vir twee seisoene al nie meer val nie.

Wyl sy wag dat die ji warm word, sien sy Na Ama naderskuifel. Die ou vrou se skurwe voete is vaal van die stof en haar kopdoek sit skeef.

“Amali” het Aminata en haar eie broers kleintyd agteraf gespot. Mali beteken seekoei in die taal van die ou Madinke-konings. Na Ama was hul pa se tweede vrou en sy was altyd vet. Kort en dik, nes ’n seekoei. Ook so wispelturig soos ’n seekoeibul. En haar tong, dié was skerper as ’n Tuareg-swaard.

Aminata se eie na – Adja – was haar fa se eerste vrou. ’n Lang, slanke vrou uit die noorde. ’n Vrou met ’n trotse houding, fyn beenstruktuur, hoë wangbene en ’n reguit neus. ’n Vrou uit ’n welaf familie met troppe en troppe vee.

Haar pa het op ’n keer tydens die droë seisoen met die vee na groener weivelde vertrek en na ’n lang tyd met Ama teruggekom. “Sy is my vrou, my tweede vrou.”

Vanuit die staanspoor was Adja en Ama haaks. Uit die aard van die saak was Ama se koms vir haar na ’n onaangename verrassing. Dit was vir háár, Adja, die trotse vrou uit die vooraanstaande familie, ’n klap in die gesig dat haar man sonder ’n woord aan haar in ’n vreemde dugululu, ver van huis en haard, nog ’n vrou gevat het en boonop ’n groot deel van sy vee afgestaan het om haar te kon kry. Beeste en bokke wat hy nie sonder die hulp van haar (Adja se) familie sou kon bymekaarmaak nie.

Ama, vet en rond, met haar verslete bu-bu’s van goedkoop materiaal, was luid en stuitig, maar ook gevaarlik bitsig. Die teenpool van die stil, trotse Adja.

Nou is dit jare later en Ama het tot ’n artritiese, plooierige bondel bene weggekrimp ...

Aminata kyk op in die oumensoë.

Ini sokoma, na Ama,” groet Aminata.

“Kind, jou gedagtes loop ver?”

“Ek dink maar sommer, na Ama.”

“Ja, kind, ek sien dat jy jou nie meer meng met die ander meisies van ons kraal nie?”

“Dit is nie ek nie, na Ama ... Dit is ...”

“Kind, ek het baie gesien; ek het oud geword. Jy hoef nie te verduidelik nie. Eenmaal was ek ook, soos jy, die verstote een. Die een wat probeer goed doen het, maar min het dit raakgesien.”

Na Ama ...?”

“Hoe dit ook al sy, kind. Ek is dankbaar dat jy die goeie werk by die hotel gekry het. Ook is ek dankbaarbly oor die geld wat jy elke maand so onselfsugtig na jou mense terugbring. Ek sien dat jy vir jouself niks koop nie. Waar is die dae toe jou fa se beeste en bokke vet en vrugbaar was? Toe ons lekker geëet het, toe jou fa goue armbande en oorbelle vir sy vrouens kon koop?”

As die ou vrou maar net kon weet, dink Aminata bitter. Dán sou daar geen onverwagte lofprysinge van háár kant wees nie.

“Jy sal geseën word, kind. Jou loon sal groot wees.” Die ou vrou begin sukkelend na haar hut terugskuifel.

Aminata gooi die ji uit die pot terug in die bont plastiekemmer. Die emmer is een van die dinge wat sy gekoop het om haar mense hier aan die wal van die Niger se lewens te vergemaklik.

In die hut knoop sy haar lendekleed los en was haarself deeglik. Dit is belangrik om skoon te wees vir die werk. Baie belangrik.

Toe trek sy ’n eens-groenbont bu-bu aan en draai ’n doek om haar kop. Uit ’n toegedraaide stuk lap onder haar slaapmat haal sy ’n skelrooi lipstiffie en ’n amper-leë houertjie aanroldeodorant – La vie en rosé.

My lewe is beslis nie rooskleurig nie, dink Aminata en sug hardop.

Sy druk die lipstiffie en deodorant onder haar kopdoek in en stap die sterk skemer in. Weg van die groep hutte in die rigting van die stad.

Aminata stap ’n ent deur ’n stuk veld en hurk later by ’n boomstomp wat omgeval het. Van onder die stomp trek sy ’n plastieksak uit en krap haastig daarin. Sy haal ’n helderrooi minirompie, ’n skelpienk kleeftoppie en rooi platformskoene uit die sak. Haastig trek sy die romp en top aan en pluk dan die bu-bu met een beweging uit. Sy ruk haar kopdoek vinnig af en vervang dit met ’n blonde pruik wat ook uit die plastieksak kom.

Sy rol met ’n paar vinnige hale van die soet La vie en rosé aan – in haar oksels, tussen haar borste en bene. Daarna smeer sy die rooi lipstif voel-voel oor haar vol lippe. Aminata druk die bu-bu, kopdoek en ander los items in die sak en versteek dit weer onder die boomstomp.

Sukkel-sukkel loop sy met die rooi skoene. Haar enkels bly swik soos wat sy deur die veld loop.

Teen die tyd dat Aminata by die teerpad kom, is dit al donker. Mense sit in groepies voor TV-stelle op die sypaadjie; sommiges eet uit ’n gemeenskaplike pot, ander slenter rond. Sy herken van hulle, maar groet nie. Sy kyk op die grond voor haar en probeer so vinnig stap as wat die ekstra-hoë hakke haar toelaat. Aminata hou aan stap tot by die hotel.

Die ander meisies is al daar. Hulle groet haar nie, maar sy sien hoe hulle onderlangs na haar kyk, fluister en giggel. Sy bly op die smal sypaadjie staan.

“Daar eet baie ryk mense by die hotel,” het sy tuis van haar werk vertel. Haar mense het vol belangstelling na haar geluister. Aminata het vertel van die duur borde, messe en vurke, glase. Alles dinge waarvan haar mense nog net gehoor het.

Sy het vertel hoe sy die mooi breekware moet was, hoe versigtig ’n mens dit moet hanteer, hoe dit afgedroog en weggebêre moet word tot die volgende aand.

Die laaste twee jaar was die san min. Haar mense se oeste het op die lande verskroei. Die Niger se vlak het laag gebly en die seuns wat met die kurun uitgaan, het al minder vis gevang. Die stryd om oorlewing het by die dag feller geword.

Haar ouers is albei oorlede en as oudste kind het sy verantwoordelik vir die welvaart van haar familie gevoel. Dit is waarom sy begin werk het, om haar mense te help.

Twee mans stap by haar verby en begin met die ander meisies gesels. Hulle lag en stap dan almal saam weg.

Met haar skouers regop getrek, beweeg sy nader aan die straat. Die aandlug is warm, haar kopvel sweet onder die goedkoop pruik en die rooi skoene vreet haar voete.

Sy laat haar gewig op die een en dan die ander been rus. Kort-kort vee sy oor die blonde hare om seker te maak dit lê reg en pluk-pluk aan die rompie. Van die ander meisies kom terug, net om kort daarna weer saam met ander mans die donker in te verdwyn.

Veel later gaan sit sy op die blombak welwetende dat een van die hotelpersoneel haar gaan verjaag. Maar die skoene maak so seer ...

Dit raak later en die strate stiller. Aminata sien hoe die hotelpersoneel klaarmaak, toesluit en wegstap. Sy kyk om haar rond en besef sy is alleen. Nooit voorheen was sy dié tyd van die oggend nog voor die hotel nie.

Die nag is om en sy het geen geld om huis toe te neem nie. Die vorige week het sy weens ’n pynlike infeksie ook nie gewerk nie.

Wat gaan sy vir die mense in die kraal sê? Hulle maak staat op haar karige inkomste en sy kan hulle nie teleurstel nie. Sy kon nog altyd geld huis toe neem, al was dit soms net 500 CFA. Dit het in hul basiese behoeftes voldoen: ’n sak rys, bietjie suiker, tee, houtskool.

Vannag was daar niks nie ...

Sy kyk af na haar stywe bostuk en kort rompie. Haar klere is vuil; ’n hele paar wellusvlekke kleef aan die rompie en die bostuk ruik na ou sweet. Sy het geen plek om die wegsteekklere te was nie en dit skrik die kliënte met rolle CFA’s af. Dié wat wel belangstel, betaal letterlik met kleingeld.

Dit voel asof ’n tou al stywer en stywer om haar span. Ontredderd begin sy deur die leë strate strompel, struikel oor rommel. Verby die casino, nog ’n hotel, verlate vrugteraampies, die graanmark, die vismark.

Maande lank al lieg sy vir haar mense oor die werk. Sy het vertel wat sy deur die hotel se kombuisvenster gesien het. Hoe kan sy hulle nog in die oë kyk? Sy wou help, maar het in die proses almal versaak. Haarself die meeste.

Stadig begin sy oor die groot brug stap. Sy voel naar en klou aan die relings vas. Dan leun sy ver oor en staar af in die troebel water van Ba Niger. Daar is niemand wat haar sien nie.

Trane drup op haar wange, maar uit haar keel kom geen geluid nie. Ek het hulle versaak, ek het hulle almal versaak, maal haar gedagtes. Sy leun nog verder oor en tuimel dan met ’n dowwe plons die donker dieptes in.

**********************

Die Dinsdagoggend roep Ama twee van die jongmans in die kraal nader. “Ek wil hê julle twee moet stad toe loop en Aminata gaan soek. Die kind is al Saterdag hier weg en steeds nie terug nie.”

“Gaan vra die baas van die hotel waar sy is,” beveel sy.

Dit is sterk skemer toe die jongmans terugkom. “Ons kry haar nie, Na Ama. Niemand ken haar nie. Ons was by die groot wit hotel waar sy werk, maar geeneen weet van haar nie. Ons het gevra by die ander hotelle, maar niks. Jammer, Na Ama.”

“Julle moet môre teruggaan. Gaan na die polisie. Sê vir hulle jul suster is weg.”

“Die polisie sal kom sê as hulle iets uitvind. Hulle het haar naam en jare gevat en ook gevra waar ons kraal is,” berig die twee die volgende middag.

**********************

Dit is meer as ’n week later toe twee polisiemanne in groen uniforms by die kraal opdaag en vra om Ama te sien.

Die kleingoed kring nuuskierig om Ama en die polisiemanne; die oueres staan skugter verder weg.

“Julle het berig jul dogter, Aminata, is vermis? Behoort dié aan haar?” vra die sersant.

Uit ’n papiersak haal hy ’n bloedrooi platformsandaal. “Dit was aan die lyk van ’n jong vrou wat in die Niger gevind is.”

Na Ama neem die skoen by hom en staar lank daarna. Die oumenshand bewe en haar gedagtes loop ’n lang pad terug.

Die lewe is ’n kringloop en nog ’n sirkel is voltooi. Om my sukkelende familie te help, het ek soveel geld uit Aminata se fa uit, dat hy nie anders kon as om my sy tweede vrou te maak nie. Ek het toe gedink ek sou nog beter vir my mense kon sorg as ek met dié welaf man getroud is. Maar knaende droogtes het hom – ons almal – verarm. Ek kon my familie nie help nie; ek het hulle nooit weer gesien nie. Ek het hulle versaak ...

Die ou vrou kyk op en gee die rooi skoen terug. “Ayi,” sê sy in ’n sterk stem. “Ayi, die skoen behoort beslis nie aan ons Aminata nie.”

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top