Amanda Strydom in State of the Heart (20 jaar later)

  • 0

DIE BOER RESTAURANT TEATER- DURBANVILLE
021 979 1911
15, 16 Augustus 2013
20:00
KOSTE:  R130 

Die bekroonde Amanda Strydom het “State of the Heart” in 1993 geskryf, die eerste van tot dusver ses eenvrou toneelstukke uit haar pen.

Sedertien het Strydom hierdie meesterstuk oor die lengtes en breedtes van Suid Afrika opgevoer – in groot en klein teaters, skoolsale,sitkamers,stoepe,tente,’n grot in Hermanus en op ‘n trein tussen Johannesburg en Bloemfontein.Ook in Namibië en Nederland is sy staande toegejuig vir haar eg Suid Afrikaanse meesterstuk.

“State of the Heart” het die Dalro en Showtime toekennings gewen vir Beste Kabaret en Kabaret van die Jaar in 1994 en sy voer dit steeds op publieke aanvraag op.

Hierdie tydlose liefdesverhaal steek op ‘n teer wyse die draak met ou Afrikaner tradisies en kyk na die geskiedenis van Suid Afrika van die twintiger tot sewentigerjare.Vooroordele tussen mense word tegelykertyd subtiel,skreeusnaaks en hartverskeurend bekyk. Die wreedheid van oorlog,die passie van ‘n hart wat bly glo,ten spyte van teenslae,dat die liefde sál seëvier, word ook in hierdie kabaret blootgelê.

Dit was ‘n tyd toe vrouens hulle plek moes ken,hulle velle gebleik het as hulle sproete gehad het ( want sproete was glo kômmin), mans kruisbande gedra het, Springboktwak gerook het en Boeremeisies net met Boerseuns getrou het. Dit was ook in hierdie tyd dat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.

Wanneer die heldin van die verhaal,die Afrikaanse Maxie de Meyer,op ‘n Engelse loods,Raymond G.Bartlett,verlief raak,spat die vonke behoorlik en ontplooi daar ‘n liefdesdrama in die tradisie van die ou Springbokradiovervolgverhale.

Strydom vertolk op meesterlike wyse ál die rolle – van die knorrige Oupa Dikdaniël,die heldin Maxie,haar kindervriend Sipho Motsepe,Stoffelina du Plooy van die Langekloof en die hele orkes uit die Baviaanskloof wat by haar troue musiek moet maak,Dolly Parton,Maxie se broer Willie,die stywe bolip Frances Pennington-Smythe en ‘n horde ander karakters.

Amanda sing in ses tale : Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Hollands en Zoeloe.

 “Hierdie is Strydom se kabaret meesterstuk”, skryf Janine Morris ( Metro) “Dit weerspieël die vrou se talent as aktrise, sangeres, skrywer en bowenal as storieverteller.’n Mens hang behoorlik aan haar lippe”  

“You will leave with your heart singing” – Diane de Beer, Pretoria News.
 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top