ALV-kongres, 23-25 Augustus 2023: Derde en finale oproep om referate

  • 0

ALV-kongres 2023 | Gqeberha 
23–25 Augustus 2023 | Rhodes Universiteit, Nelson Mandela Universiteit
Kongrestema: Komvandaan

Derde (finale) oproep vir referate

Voorstelle vir bydraes tot die twintigste hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) word ingewag. Die ALV se stigtingskongres van 1984 was die eerste nasionale byeenkoms wat aan letterkundiges ’n geleentheid gebied het om bymekaar te kom om die Afrikaanse letterkunde te bevorder. Ons wil graag by vanjaar se kongres ook uitreik na die ander helfte van die Afrikaanse akademie en die sluise oopmaak met ’n spesiale uitnodiging aan taalkundiges, en iedereen met ’n belangstelling in taalkunde, om saam met letterkundiges idees te wissel en diepgaande gesprekke te voer. Hierdie samekoms is daarop gemik om sinergieë tussen die Afrikaanse literatuurstudie en die Afrikaanse taalkunde (met insluiting van die toegepaste taalkunde) te verken. Met hierdie doelwit voor oë word kongresgangers in 2023 verwelkom deur die Rhodes Universiteit en die Nelson Mandela Universiteit. Neem asseblief kennis dat die kongres nie meer in Makhanda sal plaasvind nie, maar wel in Gqeberha vanaf 23 tot 25 Augustus by die historiese South End Museum.

Die tema, “Komvandaan”, is geïnspireer deur Diana Ferrus se gedig “Ons Komvandaan” uit haar digbundel met die gelyknamige titel. Dit is ’n omvangryke tema wat ruimte bied vir wydlopende en uiteenlopende onderwerpe onder die vaandel van herkoms. Dit dui op die ontstaan of beginpunt van enige aspek van Afrikaans, taalkunde en die letterkunde, maar dit is vloeibaar, beweeglik en amorfies. Daar is beginpunte, groeipunte en raakpunte met aspekte soos erfenis, familie, variëteite van Afrikaans, ekologie en selfs geheue. Hierdie kongres oor “Komvandaan” fokus dus op wortels, stiggies en sinapse — die bakermat van onder meer lewende wesens, die planteryk, teorieë en abstrakthede; die (nie-)metaforiese lote wat in (vreemde) grond groei en ontwikkel tot volwaardige ‘nuwe’ identiteite/entiteite; die rol van geheue en die herlewing van herinneringe uit die verlede, maar terselfdertyd die vertakkinge en groei van sintuiglike sinapse deur nuwe ervaringe en ontwikkelinge in die hede met ’n blik op die toekoms.

Die kongres dek ’n verskeidenheid onderwerpe (wat nie beperk is tot die onderstaande nie):

  • Herkoms en/of erfenis
  • Identiteit
  • Gender(loos); seksualiteit; liggaamlikheid; etnisiteit; interseksionaliteit
  • Slawerny; representasie van die slaaf en/of slawe-narratiewe
  • Transnasionalisme; multikulturalisme Reis(e); migrasie; ballingskap
  • Ontheemding/ontworteling (displacement); onteiening (dispossesssion)
  • Wit onskuld (witte onschuld, Wekker) 
  • Wisselwerking; interverbondenheid; verstrikking (entanglement, Nuttall) 
  • Plek en/of landskap; plek van herinnering (lieu de mémoire/site of memory, Nora)
  • Ekokritiek, antroposentries/antropogenies, klimaatsverandering 
  • Kolonialisme; postkolonialisme; dekolonialisme (dekolonisering); herkolonisasie (recolonisation, De Sousa Santos) 
  • (Kulturele) geheuestudies 
  • Trauma en/of getuienis 
  • Kaaps; Gariep-Afrikaans en ander taalvariëteite 
  • Die erfenisbande tussen Afrikaans; Nederlands; Nama en Khoekhoegowab 
  • Historiese taalkunde
  • Leksikografie
  • Letterkundige vertaling
  • Sosiolinguistiek
  • Naamkunde
  • Die onderrig van Afrikaans
  • (Outo)biografie 
  • Ontwikkelings en groeipunte in die genreteorie; byvoorbeeld die narratologie; teorie oor die liriek en die drama
  • Die plek van letterkunde in taalverwerwing

Voorlegging van referaatvoorstelle

Voorstelle vir referate van ongeveer 300 woorde word ingewag. Die sperdatum vir referaatvoorstelle word verleng tot 26 Julie 2023.

Referaatvoorstelle moet die volgende inligting bevat:

  • Titel van die referaat 
  • Naam van die bydraer(s) 
  • E-posadres van die bydraer(s) 
  • Affiliasie

Stuur die referaatvoorstelle aan alv2023@ru.ac.za

Klik asseblief hier om te registreer vir die ALV-kongres 2023.

Lees die volle dokument in PDF-formaat hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top