ALV-kongres 2023: Eerste oproep vir referate

  • 0

23–25 Augustus 2023 
Rhodes Universiteit 
Kongrestema: Komvandaan 

Voorstelle vir bydraes tot die 20ste hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) word ingewag. Die ALV se stigtingskongres van 1984 was die eerste nasionale byeenkoms wat aan letterkundiges ’n geleentheid gebied het om bymekaar te kom om die Afrikaanse letterkunde te bevorder. Ons wil graag by vanjaar se kongres ook uitreik na die ander helfte van die Afrikaanse akademie en die sluise oopmaak met ’n spesiale uitnodiging aan taalkundiges, en iedereen met ’n belangstelling in taalkunde, om saam met letterkundiges idees te wissel en diepgaande gesprekke te voer. Hierdie samekoms is daarop gemik om sinergieë tussen die Afrikaanse literatuurstudie en die Afrikaanse taalkunde (met insluiting van die toegepaste taalkunde) te verken. Met hierdie doelwit voor oë word kongresgangers in 2023 verwelkom deur Rhodes Universiteit te Makhanda in die Oos-Kaap vanaf 23 tot 25 Augustus. 

Die tema, “Komvandaan”, is geïnspireer deur Diana Ferrus se gedig “Ons komvandaan” uit haar digbundel met die gelyknamige titel. Dit is ’n omvangryke tema wat ruimte bied vir wydlopende en uiteenlopende onderwerpe onder die vaandel van herkoms. Dit dui op die ontstaan of beginpunt van enige aspek van Afrikaans, taalkunde en die letterkunde, maar dit is vloeibaar, beweeglik en amorfies. Daar is beginpunte, groeipunte en raakpunte met aspekte soos erfenis, familie, variëteite van Afrikaans, ekologie en selfs geheue. Hierdie kongres oor “Komvandaan” fokus dus op wortels, stiggies en sinapse — die bakermat van onder meer lewende wesens, die planteryk, teorieë en abstrakthede; die (nie-)metaforiese lote wat in (vreemde) grond groei en ontwikkel tot volwaardige ‘nuwe’ identiteite/entiteite; die rol van geheue en die herlewing van herinneringe uit die verlede, maar terselfdertyd die vertakkinge en groei van sintuiglike sinapse deur nuwe ervaringe en ontwikkelinge in die hede met ’n blik op die toekoms. 

Die kongres dek ’n verskeidenheid onderwerpe (wat nie beperk is tot die onderstaande nie): 

👣 Herkoms en/of erfenis 
👣 Identiteit 
👣 
Gender(loos); seksualiteit; liggaamlikheid; etnisiteit; interseksionaliteit 
👣 Slawerny; representasie van die slaaf en/of slawe-narratiewe 
👣 Transnasionalisme; multikulturalisme 
👣 Reis(e); migrasie; ballingskap 
👣 Ontheemding/ontworteling (displacement); onteiening (dispossesssion) 
👣 Wit onskuld (witte onschuld, Wekker) 
👣 Wisselwerking; interverbondenheid; verstrikking (entanglement, Nuttall) 
👣 Plek en/of landskap; plek van herinnering (lieu de mémoire / site of memory, Nora) 
👣 Ekokritiek, antroposentries/antropogenies, klimaatsverandering 
👣 Kolonialisme; postkolonialisme; dekolonialisme (dekolonisering); herkolonisasie (recolonisation, De Sousa Santos) 
👣 (Kulturele) geheuestudies 
👣 Trauma en/of getuienis 
👣 Kaaps; Gariep-Afrikaans en ander taalvariëteite 
👣 Die erfenisbande tussen Afrikaans; Nederlands; Nama en Khoekhoegowab 
👣 Historiese taalkunde 
👣 Leksikografie 
👣 Letterkundige vertaling 
👣 Sosiolinguistiek 
👣 Naamkunde 
👣 Die onderrig van Afrikaans 
👣 (Outo)biografie 
👣 Ontwikkelings en groeipunte in die genreteorie; byvoorbeeld die narratologie; teorie oor die liriek en die drama 
👣 Die plek van letterkunde in taalverwerwing 

Voorlegging van referaatvoorstelle

Voorstelle vir referate van ongeveer 300 woorde word ingewag tot en met 23 Mei 2023. 

Referaatvoorstelle moet die volgende inligting bevat: 

👣 Titel van die referaat 
👣 Naam van die bydraer(s) 
👣 E-posadres van die bydraer(s) 
👣 Affiliasie 

Veral nagraadse studente word aangemoedig om referaatvoorstelle voor te lê. Die ALV sal twee beurse van R 5 000,00 elk borg, vir een nagraadse letterkunde- en een taalkundestudent, om die kongres by te woon. Tree asseblief hieroor in verbinding met Janien Linde (Janien.Linde@nwu.ac.za). 

Stuur alle ander korrespondensie aan alv2023@ru.ac.za.

Registrasie

Klik asseblief hier om te registreer. 

Registrasiefooie:

Kongresfooi: R 2 500.00 
Kongresfooi (nagraadse studente): R 1 250,00 
Kongresdinee (opsionele toevoeging): R 350,00 

Kongres-bankbesonderhede:

Rekeningnaam: Rhodes University 
Bank: First National Bank 
Rekeningnommer: 621 4550 4553 
Takkode: 21 07 17 
Verwysing: CONF100010 en u van 

Stuur asseblief ’n bewys van betaling aan alv2023@ru.ac.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top