Alles van waarde is weerloos

  • 1

Die week in woorde

Een van die plekke wat ek gewoonlik probeer vermy, is Protea Boekwinkel in Stellenbosch. Dis nie dieselfde tipe vermy as die groot draaie wat mens om sekere dodgy dele van sekere dodgy stede loop nie, en ook nie dieselfde vermy as daardie plekke waar jy dalk iemand mag raakloop by wie jy twee jaar gelede ’n boek geleen het wat jy nog nie wil teruggee nie. Hierdie vermy gaan eerder oor geestesgesondheid. 

Ek dink nie ek is die enigste een wat heeltemal getik raak as ek skielik omring word deur derduisende boeke wat ek almal ewe veel begeer nie. Die kanse is net te goed dat mens a) geld spandeer wat jy nie het nie of b) geld spandeer wat jy op die oomblik het, maar teen die einde van die maand gaan berou wanneer jy besef dat jy nie ’n boek vir ontbyt, middag- of aandete kan eet nie, en ook nie ’n boek in jou motor kan gebruik as brandstof nie.

Nou die dag moet ek egter noodgedwonge Protea Boekwinkel toe om vir my ander helfte ’n boek te gaan soek. Terwyl ek in die drama-rak krap, spring bestuurder (en digter) Louis Esterhuizen uit sy kantoor uit – hy het my op die sekuriteitskamera gewaar. (Nee, ek was nie besig om ’n boek te steel nie. Ek het darem nog ’n mate van beheer oor my boekgetiktheid.) Louis roep my in die kantoor in. Hy het vir my ’n presentjie. Nou kyk, my ma het my mooi geleer om nie saam met vreemde mense in kantore of motors te verdwyn agter beloftes van presentjies aan nie, maar gelukkig ken ek vir Louis goed en is daar geen stranger danger ter sprake nie. 

In sy kantoor neem hy my na ’n stapel boeke – Nederlandse digbundels en boeke oor die digkuns – en nooi my om vir my een te kies. ’n Pasellatjie.

Sommer redelik boaan die hoop vind ek ’n bundel deur Lucebert, ’n digter vir wie ek op universiteit ’n ernstige fassinasie ontwikkel het. Dit het ’n pragtige omslag en met ’n vinnige flip deur die boek vind ek ook bladsye waarop Lucebert se inkblerts-sketse afgedruk is.

Louis staan en kyk oor my skouer en lyk soos ’n ouer wat paaseiers weggesteek het en wag vir sy kind om hulle te ontdek. “Waar kom die boeke vandaan?” wil ek weet.  Hy slaan die boek wat ek uitgekies het, oop, en beduie na die ex libris-boekteken wat voorin geplak is. Dit vat my ’n rukkie om te registreer wat daarop staan.

DJ Opperman se dogters het die boeke aan Protea geskenk. Die res van sy boekery is by die Universiteit Stellenbosch, maar hulle kon nie die Nederlandse boeke akkommodeer nie. So het dit gekom dat ek 'n versamelaarsitem besit en vanoggend, toe ek dit weer bewonder, op ble 68 en 69 op hierdie verbruinde artefak met die gebuigde punt afkom:

Dit laat my dink aan daardie treffende versreël van einste Lucebert: Alles van waarde is weerloos. Vandag dink ek ook, dis dalk op hierdie einste weerloosheid wat mens moet afskryf om sulke stukkies egte menslikheid in woorde om te woeker.

Tot volgende week: Easy draw. More flavour. More satisfaction.

Met ander se woorde

Voorgeskrewe leesstof

Ek het allerhande interessante dinge aanlyn opgespoor oor sogenaamde bookplates – of ex libris-boektekens. 

Wikipedia se artikel oor hierdie outydse kentekens gee deeglike agtergrond. 

Lees ook sommer oor die Amerikaanse ekwivalent van die bookplate, die book rhyme.

Hierdie fotostel op Flickr is ’n versameling voorbeelde van ’n wye verskeidenheid ex librisse.

Nog vintage-voorbeelde van die Guardian se webwerf.

Op hierdie werf kan jy boektekens bestel.
Dit word beskryf as “exquisitely civilized and personal”. Daar het jy dit!

Hier is voorbeelde van Lucebert se gedigte. 

Hier is nog verse deur Lucebert.

En hier kan jy voorbeelde van Lucebert se kunswerke sien. 


 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


   

  • 1

Kommentaar

  • Trienke Laurie

    Dit sweerlik misgekyk. Ek het juis gister na hom verwys: “Slaap als een reuz”
    Geniet dit.
    Liefde,
    Trienke
    Dis duidelik laas gelees voordat hy een van die “duiwels” gelos het. Die ander een natuurlik die alkohol. Later was dit “hoe eufories helder water skop”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top