Alles behalwe die waarheid: Die sesde simposium vir internasionale Afrika-vroueskrywers met Chris Steyn en Redi Tlhabi

  • 0

Op Vrydag 30 November 2018 om 18:30 bevind aktiviste, joernaliste, mediakenners en akademici hulle in die donker, rooibeligte Fringe-teater in Johannesburg. Dié aand vorm deel van die sesde simposium vir internasionale Afrika-vroueskrywers wat in samewerking met die Departement van Kuns en Kultuur gereël is.

Voor die gehoor sit Chris Steyn, medeskrywer van The lost boys of Bird Island (2018), en Redi Tlhabi, skrywer van Khwezi (2017). Die gesprek, gelei deur ’n ereprofessor aan die Universiteit van Kaapstad, Nomboniso Gasa, handel oor die skryf van waarheid te midde van die hedendaagse tydsgees.

Van links: Chris Steyn, Nomboniso Gasa en Redi Tlhabi (Foto: Marta Garrich)

Die aand begin met kragtige optredes deur die digters Vuyelwa Maluleka, Mutinta Bbenkele en Vangile Gantsho. Die woorde van Vuyelwa Maluleka, “This country is a liar”, hang swaar in die lug kort voor Gasa die aand inlei deur die joernalis Chris Steyn aan die woord te stel.

Steyn begin deur die agtergrond van The lost boys of Bird Island te skets. Saam met wyle Mark Minnie het Steyn dié boek gepubliseer wat beweer dat voormalige Nasionale Party-ministers, onder andere Magnus Malan, John Wiley en Dave Allen, deel gevorm het van ’n elite-pedofilienetwerk gedurende die 1980’s.

Minnie, ’n voormalige speurder van die Port Elizabeth-polisie se dwelmeenheid, het gedurende sy tyd in die polisiediens inligting bekom wat ooreenstem met inligting wat Steyn in haar beroep as joernalis moes ondersoek. Dertig jaar ná die ondersoek kortgeknip is, kon Steyn en Minnie uiteindelik notas vergelyk. Sodoende ontstaan die omstrede boek wat kritiek van verskeie partye in die land lok.

Vroeër vanjaar, agt dae ná die boek op die rakke verskyn het, is Minnie se liggaam op ’n kleinhoewe gevind. Daar is beweer dat Minnie selfmoord gepleeg het. Die boek eindig met Minnie se woorde aan die verlore seuns: “I am sorry that you were failed by society.” Minnie was volgens Steyn self ook as kind verkrag.

“Was die skryfproses terapeuties?” vra een van die gehoorlede. Steyn antwoord dadelik ontkennend. Die skryfproses was moeilik, maar dit was ’n verhaal wat sy en Minnie beide moes vertel. Die boek het ook nie sonder kritiek verskyn nie, waaronder dat die feitelikheid dikwels oor bespiegel is op goeie dae, en waar beide outeurs gedreig is op slegter dae.

Steyn is wel verlig dat die saak nou in die polisie se hande is, en alle inligting wat sy daaroor ontvang, word na die polisie verwys. Ten spyte hiervan, sê sy, is daar nog steeds mense wat die boek, die skrywers en die ondersoek probeer diskrediteer: “I believe it is not because of what is in the book, but what is not in the book.”

Ná Chris Steyn is Redi Tlhabi aan die woord. Tlhabi skets ook eerstens die agtergrond van haar boek, Khwezi, wat handel oor die lewe van Fezekile Ntsukela Kuzwayo, beter bekend aan die publiek as Khwezi. Khwezi het voormalige president Jacob Zuma in 2005 aangekla vir verkragting, maar het die saak verloor. Een van die redes waarom sy die saak verloor het, was vrae rondom die betroubaarheid van haar verklaring.

Tlhabi begin deur dit duidelik te maak dat Khwezi haar verklaring oor die verkragting verander het deur die advies van polisiebeamptes te volg. Sy is aangeraai om haar verklaring aan die Sunday Times terug te trek sodat dit nie haar saak belemmer nie. Tog, argumenteer Tlhabi, het sy die moeilikste uitweg gekies – sy het die saak teen Zuma voortgesit. Dit is juis die feit dat Khwezi hierdie moeilike keuse gemaak het wat Tlhabi aangemoedig het om in haar boek te besin oor die mag wat in Suid-Afrika teenwoordig is.

Vuyelwa Maluleka – “This country is a liar” (Foto: Marta Garrich)

Met haar boek wou Tlhabi graag ’n publieke ruimte skep waarin Suid-Afrika kan bevestig wat reg en verkeerd is. Sy vra die gehoor: “Are we not being called upon to be bolder, louder and committed to the truth?” Met Khwezi hoop sy om daardie “heilige” ruimte te skep waarin ons “bolder, louder and committed” kan wees oor die waarheid.

Die bespreking is oopgestel aan die gehoor, en vrae oor die media se verantwoordelikheid om die waarheid, eerder as stories wat sensasie lok te publiseer, is deur verskeie gehoorlede gevra. Tlhabi het die gehoor herinner dat elke joernalis en skrywer met ’n bepaalde wêreldbeskouing ’n storie rapporteer, maar dat dit nie noodwendig die neutrale stem van die joernalis en skrywer belemmer nie.

Tog moet die media bewustelik kant kies, verkieslik nie die kant van die maghebbendes nie. Sy het ook aangevoer dat die publiek ’n verantwoordelikheid het om ’n ruimte te skep waar mense gemaklik en veilig voel om die waarheid na vore te bring voordat ons mense aanmoedig om die waarheid te vertel.

Die eerste vraag wat gedurende die gesprek oor waarheid in die hedendaagse tydsgees opduik, en wat dalk onbeantwoord moet bly, is natuurlik wat die waarheid is en wie se waarheid vertel word. Soos vroeër genoem, het die gehoor hoofsaaklik bestaan uit Johannesburg se liberale joernaliste, aktiviste, mediakenners en akademici.

Hulle waarheid, met die voorbeeld van Steyn en Tlhabi, is om ’n stem te gee aan dié wat nie ’n stem het nie. Of hierdie soeke na geregtigheid omgesit kan word in die werklikheid van die motoriste wat in die verkeersknoop in Johannesburg tot stilstand gekom het, of in die waarheid van die bedelaars wat tussen die karre deurgeloop het, bly onseker. ’n Definisie van die paneel se interpretasie van die waarheid en hulle perspektief daarop kon na my mening die gesprek aangevul het.

Die tweede vraag word deur een van my vriende geopper: Is gesprekke wat poog om oop te krap, wat inklusiwiteit nastreef, nie juis eksklusief nie? Ek was teleurgesteld om te sien dat die aand tog iets van eksklusiwiteit uitgestraal het. Hoewel die aand gratis was, het dit tog voorgekom asof dit slegs aan ’n baie bepaalde gehoor bemark was. As ons werklik die waarheid wil skryf, hetsy van gehoorde of ongehoorde stemme, moet ons nie juis in gesprek tree met dié wie se waarheid ons wil vertel nie, eerder as met dié wat slegs die waarheid wil vertel nie?

Die vrae wat ná Tlhabi en Steyn se toesprake opgeduik het, was kommerwekkend. Dit was, inderdaad soos Gasa vroeër die aand opgemerk het, ’n “safe space”. ’n Gemaklike ruimte waarin min uitgedaag of bevraagteken word. Dit was miskien in hierdie geval nie noodwendig ’n paneelgesprek oor die waarheid in die hedendaagse tydsgees nie, maar eerder ’n ooreenstemming met dit wat bepaalde joernaliste, aktiviste, mediakenners en akademici oor die waarheid dink.

Die agtergrond tot The lost boys of Bird Island en Tlhabi se inleiding oor Khwezi was insiggewend, maar die gesprek het nie op ’n antwoord uitgekom oor hoe om die waarheid te skryf, of waarin die waarheid bestaan gedurende die politieke onsekerheid waarin Suid-Afrika verkeer nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top