"Alle regte voorbehou" deur Angie Gallagher

  • 0

Alle regte voorbehou

Daar steek ’n dwars ding in almal se krop
Maar as die wind die sifdeur buite laat skop
Geniet ons die kromming van elke hoë boom
Terwyl die huisvrou heimlik van eie roem droom

Het jy ’n sent om in die poel te gooi?
In dié woeste dobbelspel is jy ook genooi
Die kletskoningin word oral bemin
maar in die kombuis word daar oor die ander tipe vuil wasgoed besin

Sy sê:
“Jy brand om nou dié halwe woord
in ligte laaie te begryp, nè?
Die pseudo-waarheid, die akkoord
styf op jou bordjie vas te knyp, nè?

“Punt is, die waarheid het verdof
tot ligte spore in die stof –
kunsmatig, maar dié reality bly:
om kuns te maak en skoon te maak en seer te kry

“Generic pille is te flou
vir die gerammel in jou kop
Ek laat die apie uit sy kou:
Halfvol’s beter as ’n leë dop

“Ek luister as die muse praat
Jy kon ook luister as jy wou
Ek kies woord en ek kies daad
Met al my regte voorbehou.”

Die huisvrou se take is berekend en kil
Sy loer onderlangs na die TV tussen die afstof deur
Terwyl sy haar huishoudelike pligte vervul
Weet sy, doodtevrede – dit is hier waar sy regeer

“Om die waarheid te sê, moet ek lieg:
Ek is uniek, nes almal is
Maar laat ek dan een stukkie bieg:
Ek het patentreg op my … dinges.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top