Allan kom huistoe

  • 0

Foto: Pixabay.com

Skaars ses maande oud, kom Allan by my woon. Gewese vroulief het ingestem dat ek hom permanent kan kry, en my hart kon nie groter swel van trots oor die mannetjie nie. Met my lugmagsalaris kan ek net net ons uitgawes dek, maar vir ekstratjies is daar niks.

Skaars ’n week of drie later bel sy – kan Allan nie vir die naweek na haar toe gaan nie? Ek woon in Pietersburg, maar terwyl hy by haar in Pretoria is, kan ek by my familie in Sasolburg gaan kuier en hom Sondag met die terugkomslag kry. Ek land Vrydagaand laat daar aan, sy is net te bly om hom te sien en ek is vort Sasolburg toe. Sondagmiddag op pad terug stop ek by haar woonstel, voor dooiemansdeur. Nee, sê die bure, sy is Saterdag vroeg na haar ouers in Vereeniging, en sy is nog nie terug nie. Ek raak effe paniekerig, en ry met ’n spoed terug Vereeniging toe. My kind is my kind en hy moet huis toe kom. Vandag nog.

Skoonpa maak die woonsteldeur op die eerste vloer oop. Skoonma verrys soos ’n hersenskim agter hom en bevestig – ja, Allan is daar. Ek kan inkom en, kondig hulle selfvoldaan aan, hulle het besluit Allan gaan voorts by hulle woon en hy gaan nie saam met my nie. Hulle het klaar besluit. Hoe ek ookal redeneer en probeer, hulle staan bankvas by die besluit.

Dit is reënerig en koud, en daar sit hy op die mat in die sitkamer en speel, geklee in net ’n doek. Skoonpa en -ma is nie baie lus vir my nie, maar laat my toe om ’n bietjie met hom te speel. Stadig begin ’n noodplan in my kop vorm aanneem.

Siende dat die skoonouers anti-rook is, gaan ek buitentoe onder voorwendsel dat ek solank gaan rook terwyl hulle koffie maak. Intussen hardloop ek na my kar wat onder die woonstel staan en sluit die bestuurdersdeur oop. Ek hardloop terug en rook ’n halwe sigaret om my asem tot bedaring te bring sodat hulle nie onraad vermoed nie.

Met ’n hart wat in my keel klop gaan ek terug en gaan sit by Allan op die mat, sleutels gereed in my hand. Skoonma is nog besig met die koffie, en Skoonpa gaan badkamer toe. Toe is dit my kans. Ek raap Allan op in my arms en sny ’n lyn vir die deur. Agter my hoor ek vir Skoonma histeries skreeu dat Skoonpa my moet stop.

Ek spring die trappe gly-gly af, Allan vasgeklem in my arms, met Skoonpa kort op my hake. In die omdraai sien ek hy het sy rewolwer by hom en hy skree hy gaan my skiet. Genadiglik is ek jonger en vinniger en bereik die kar voordat hy my kan stop. Ek pluk die deur oop, plak die verskrikte Allan op die passasiersitplek langs my en sluit my deur van binne. My hande bewe so erg ek sukkel om die sleutel in die ontsteking slot te kry, maar wonder bo wonder kry ek die kar aan die gang. Skoonpa slaan met sy vuis teen die ruit en skree ek moet uitklim, maar in die truspieël sien ek hoe hy agterna hardloop en die rewolwer in die lug wuif. Ek bly ry, maar by die eerste afdraai stop ek en draai my bewende halfkaal klein seuntjie toe in die sitplek oortreksel.

My eerste stop is by die SAPS in Vereeniging. Ek verduidelik vir die speurder wat gebeur het, en hy stel my gerus dat ek die wettige ouer is en alle reg het om my kind te gaan haal. Volgende stop is Sasolburg waar my ma vir Allan droog aantrek en vir hom ’n warm bottel melk maak. Minute later sê Pa hy sien Skoonpa se kar buite stop.

Ek gryp weereens vir Allan, spring oor die agterste heining en gaan kruip in die bure se agterplaas tuin weg. Dit voel soos ure, maar uiteindelik is hulle weg, dreigend met al wat regsaksie en wraak is.

Laatnag is ek eers terug in Pietersburg, maar my kind is terug by my. Dit is al 25 jaar later, en die beste ding wat ooit met my kon gebeur het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top