Alfabet van die voëls wen die Universiteit van Johannesburg se debuutprys

  • 0


SJ Naudé het sopas die Universiteit van Johannesburg se prys vir skeppende debuutskryfwerk vir sy kortverhaalbundel Alfabet van die voëls verower.

Dié bakenverskuiwende bundel het in 2011 by Umuzi verskyn en het ook reeds vanjaar se Jan Rabie Rapport-prys gewen. 

Die beoordelaars beskryf die bundel as ’n “indrukwekkende debuut wat ’n daadwerklike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer” en prys die versameling se tegniese afronding en taalvermoë: “Elk van die verhale is sterk, maar hulle word nog sterker deur subtiele onderlinge verbande en terugkerende motiewe.” 

Steve Connolly, besturende direkteur van Random House Struik, sê: “Dit is duidelik dat Alfabet van die voëls lesers (en beoordelaars) diep roer. Dit is die tweede groot prys wat SJ Naudé in soveel maande wen en ons is trots om geassosieer te word met so 'n wonderlike boek en so 'n talentvolle skrywer.” 

Fourie Botha, redaksiehoof van Umuzi, sê: “Op baie lesers se boekrakke staan die uitstekende Alfabet van die voëls gemaklik langs groot boeke in die letterkunde. Dit is ’n eer om by SJ Naudé se skryfwerk betrokke te wees.” 

SJ Naudé is in 1970 gebore. Hy studeer in Pretoria en voltooi meestersgrade aan Cambridge en Columbia. Na jare as regspraktisyn in New York en Londen keer hy terug na Suid-Afrika vir 'n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy werk tans as redakteur in Kaapstad.

Klik hier om Jeanette Ferreira se resensie van Alfabet van die voëls op LitNet te lees.

Klik hier om Alfabet van die voëls te koop by Kalahari.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top