Alexander Strachan (1955–)

  • 2

Foto: Naomi Bruwer

Sêgoed van Alexander Strachan

“’n Roman is moeilik vanweë sy omvangrykheid. Want daar’s te veel blaaie, te veel woorde om alles in een hok te hou. Jy kan nie begin sonder dat jy weet wat die slot is nie, anders gaan die los drade elkeen ’n eie rigting inslaan. Ek sal graag weer wil kortverhale skryf, en as ek weer met kortverhale sukkel, is dit seker van voor af weer die moeilikste.”

Wat is vir hom mooi? “Gestrooptheid. As ek met my 4x4 deur Namibië ry. En dis warm en die pad daar voor hou nie op nie. En dit word so warm dat die woestyn lelik word. En jy weet jy’t ys agter in die bakkie, maar jy raak nie daaraan nie. En dan draai die son en jy hou net daar stil. En jy haal daai ys uit en skink die whisky op die dak van jou 4x4. En jy neem daai eerste sluk terwyl jy uitkyk op daai onherbergsame Ugabvallei. Dis vir my mooi.”

Skryf hy oor sy lewe? “Ja, dis hoekom ’n skrywer nie ’n vervelige lewe kan lei nie, anders het hy niks om te rapporteer nie. Ek skryf altyd oor my eie ervarings, maar ek meng dit met fiktiewe karakters en gebeure. Om dit interessanter te maak.”

“En vergeet die romantiese idee van ’n skrywer wat met ’n sigaret en ’n glasie wyn sit en werk. Dis snert. Hy’s net ’n vakman. Dis swaar en harde werk. Elke dag sit jy en skryf en herskryf en maak beplande, taktiese skuiwe.”

“Ek glo ’n skrywer moet altyd in ’n mate vervreem bly van die gemeenskap. Ook van sy kollegas. Anders verloor hy sy angel. Sy besondere vertelhoek moet nie noodwendig die leser se hoek wees nie. En dit kan hy net doen deur hom van die leser te vervreem. Dit is ’n fyn balans. Vervreem jy jouself te veel, verloor jy kontak met jou leser en sit jy op ’n eiland. Miskien is dit eerder ’n geval van skryf omdat jy kwaad is. Of teen iets in-skryf. Só skep jy spanning.” (Die Burger, 29 November 1989)

“Ek was nog altyd rusteloos en het geleer om vrede te maak daarmee. Ek put ’n amper sadistiese genot daaruit om goed agter te laat en elders van voor af te begin. Miskien hou die jagtogte in my boeke verband met my swerwery. Die jagmotiewe wat ontgin word, is ’n manier om my rusteloosheid te verwoord.” (Beeld, 20 Januarie 1998)

In 1998: “My styl het vir my beklemmend geword. Ek moes my skryfwerk red. As ek nie wegbeweeg het van dié manier van skryf nie, sou my idees opgedroog het. Ek moes oper skryf om te keer dat ek in my skryfwerk stagneer.” (Beeld, 20 Januarie 1998)

“Ek het nie altyd ’n maat nodig nie. Soms wil ek alleen wees; ander kere verryk ’n sielsgenoot my lewe. ’n Deel van my is alleenloper. Soos ek ouer word, hou my verhoudings langer. Ek jaag die lewe nie meer na nie. As jy regtig ’n behoefte aan iets het, sal dit vroeër of later kom. Jy moet net wag en jou oë oophou.”

In 1996: “Ek dink nie komitees en goed rig enigiets uit om Afrikaans te red nie. Verenigings bewys nie ’n taal ’n guns nie. Die hele vereniging-ding rem taal af.” (Beeld, 3 Desember 1996)

Vir wie sê jy dankie? “Elke dag is daar mense wat jou pad kruis. Maar baie selde ontmoet jy iemand wat ’n regstreekse invloed op die res van jou lewe gaan hê – iemand wat jou horisonne verskuif, jou aan nuwe avonture blootstel. Dis aan hierdie mense wat ek wil dankie sê.”

Watter hoofrol sou jy wil speel? “Clint Eastwood en Lee van Cleef het in The good, the bad and the ugly onderskeidelik die goeie en die slegte ou gespeel. En ek sou nie omgegee het vir enige van die twee rolle nie. Dit was een van daardie tipiese Westerns. Jy weet, waar die cowboy so wegry die sonsondergang in ...”

“Die Afrikaner is ’n vreemde nasie. Heimlik is hulle trots op selfs die mees linkse skrywers omdat hulle Afrikaans is. Omdat daardie skrywers gekom het waar hulle is deur die Afrikaanse taal. Dit was moeilik vir die leser om hulle te verwerp, want hulle het in die moedertaal geskryf.” (Beeld, 29 Oktober 1992)

In 1992: “Die groot ding van die Afrikaanse letterkunde is dit breek die grense af wat eers as heilig beskou is deur die Afrikaner. Dit priem dinge wat aanvanklik verbode was, nie alleen oor die Afrikaner-establishment nie, maar ook oor literêre teorie.” (Beeld, 29 Oktober 1992)

Oor ’n Wêreld sonder grense: “Die Weermag was baie ontsteld oor my boek. Dit was te na aan die senuwee. Ons in Suid-Afrika was nie gewoond aan daardie soort blootstelling nie. Al die mense wat saam met my was, het saamgestem dat dit presies was wat gebeur het en die hoë offisiere wat in die kantore gesit het, het dit ontken.” (Die Burger, 6 November 1992)

“Ek was lank soldaat. Dit was ’n baie belangrike tydperk in my lewe. ’n Vormingstyd. Daardie tydperk het die grootste uitwerking op my gehad.”

“Inspirasie is nie iets waarop ek sit en wag nie. Dit is tydmors. Ek gaan sit voor die rekenaar en die oomblik wanneer ek betrokke raak by die stuk skryfwerk, kom die inspirasie vanself. Dis soos hardloop: As jy ’n tydtoets aflê, sien jy op daarteen, maar sodra jy begin hardloop, raak dit lekker. Dit lyk vir my of my hele lewe toenemend by die skryfproses ingetrek word.”

“Ek hou van vroue, ja, slim vroue, wyse vroue. Ek hou van vroue wat beroepe het. Ek hou van ’n vrou met wie ek lekker kan verskil. Ek kom deesdae agter ek het meer vriendinne as mansvriende. Dis nogal eienaardig.”

Oor pryse: “Ek beskou dit ongetwyfeld as ’n kompliment. Maar die grootste voordeel van die pryse is dat dit gewoonlik met finansiële vergoeding gepaardgaan. Aangesien die Afrikaanse skrywer bitter min met sy boeke verdien, is dít darem een ligpunt. Pryse help natuurlik ook om die boek bekend te maak. Maar wanneer jy die boek skryf, dink jy nie daaraan nie. Die skryfwerk is te hard om nog aan die luukse van pryse te dink.”

"Daar is min romantiek agter die skryfverhaal. Dit is ’n baie wetenskaplike proses en mens het metodiek nodig om elke stuk van die verhaal inmekaar te laat pas." (Volksblad, 9 Augustus 2011)

"Anders as ’n kortverhaal met een tema het ’n roman baie afdraaipaaie. Daar is ’n hooftema met hoofkarakter en verskeie ander karakters. ’n Roman hou aan om homself te skep en ek moes gereeld aan my skryfwerk skaaf om die boek deur die leser se oë te lees." (Volksblad, 9 Augustus 2011)

Wat sou hy met R5 miljoen doen? "Ek sal 'n wildplaas in die Laeveld koop. En 'n baie smart 4x4. Dan sal ek ’n visvangtog in Namibië by Terracebaai vir my en al my vriende reël. Vir drie weke lank. En dan ry ons Caprivi langs terug en gaan hou ’n moerse braai op my plaas in die Laeveld." (Beeld, 1 Maart 2000)

Oor Dwaalpoort se lengte: "As jy langer skryf, loop jy die gevaar om vervelig te raak en om vir jouself vervelig te raak. Ek het die ding baie oorgeskryf en soos enige langer kunswerk kom daai drade nie altyd bymekaar nie. Ek moes al die subtemas wat ek oopgemaak het, weer toemaak en dit was vir my geweldig moeilik – en toe moes ek weer sny en tekere gaan, maar dis my gunstelingtydverdryf.” (By, 25 September 2010)

"Baie skrywers sê dankie tog as jy sê brei uit daarop, maar ek sukkel met elke f*kk*n sin. Ek is nie ’n natural nie. Soos alles in my is ek maar gedwonge, gemaak, selfgemaak. Ek sukkel met f*kk*n alles." (By, 25 September 2010)

"Ek skryf nie meer omdat ek kwaad is nie. Ek wou net ’n roman skryf wat mense kan geniet." (By, 25 September 2010)

In sy volgende boek wil hy die bosoorlog vanuit ’n agternaperspektief bekyk: “’n Wêreld sonder grense is uit die oorlog uit geskryf – dis ’n onmiddellike perspektief wat ek nooit weer sal kan nadoen nie. So as ek nou skryf, is dit ’n heeltemal ander perspektief met voorbehoude ingebou. Maar nee, dis nié terapie nie. Almal maak dit so f*kk*n heavy. Dis nié so f*kk*n heavy nie. Almal het hierdie wroeging. Ek het f*kk*l trane om te stort en f*kk*l wroeging. Ek was wat ek was; ek staan pa daarvoor en ek vra vir niemand om verskoning nie. Niks.” (By, 25 September 2010)

"Die motto van my lewe is die eerste sin van Die Jakkalsjagter: ‘As ’n mens aanhou beweeg is daar nie eensaamheid nie ...’” (By, 25 September 2010)

"Om aan te hou beweeg is nogal iets. Daarvoor moet ’n ou sekere goed opoffer, soos sekuriteit en verhoudings. Maar dis nie wat jy agterlaat nie, dis waarnatoe jy gaan.” (By, 25 September 2010)

"Ek's nie spyt oor die vriendskappe wat ek gemaak het of die dinge wat ek met spesiale ander mans gedeel het nie. As soldaat het jy vir jou ‘vyand’ net soveel respek as vir jou eie makkers. As daar nou ’n Swapo-soldaat hier instap, sal ek die eerste een wees wat opstaan en vir hom ’n stoel aanbied. Dis dan waar ek was. Op ’n manier is alle soldate broers.” (By, 25 September 2010)

"Dit is of daar 'n verwagting by mense is dat ek noodwendig met iets vorendag móét kom wat opspraakwekkend is. Met ’n Wêreld sonder grense het mense baie keer vir my gesê: 'Julle het darem swaar gekry.' Nie ’n woord oor die karakters en dat dit ’n storie is nie, sommer reguit vir my – dis ek. Nou gaan hulle my seker weer vra of ek die Jakkalsjagter is. Is dit ek?" (Beeld, 7 Junie 1990)

"Ek het nie van die begin af geweet hoe Brandwaterkom gaan eindig nie. Dit vertraag die skryfproses nogal heelwat. Die skrywer moet die einde so gou moontlik kry, want dit help dat jy nie van die sentrale lyn afwyk nie." (Die Burger, 3 Augustus 2015)

"As jy na ’n sigbare eindpunt toe skryf, sal jy minder geneig wees om dinge by te sleep wat nie ter sake is vir jou storie nie." (Die Burger, 3 Augustus 2015)

Hoe voed hy die kreatiewe vonk? "Een van die metodes is om eenvoudig net voor die rekenaar te gaan sit en te begin. Hoe dieper jy in die stof ingrawe, hoe meer word jy ingetrek. Aan die begin van ’n nuwe boek gaan dit dikwels moeilik, maar dan raak die materiaal waarmee jy werk, al hoe interessanter. Op hierdie wyse verskaf die gegewe voor jou op die skerm self die vonk. Deur aan te hou skryf, bly jy gestimuleer en begin jy soggens uitsien om jou karakters se 'lewens' verder te neem." (Rapport, 25 September 2016)

Gebore en getoë

Alexander Strachan, of Zander soos sy vriende hom ken, is op 9 Junie 1955 in die distrik van Ladysmith in Natal gebore. Hy word groot op die beesplaas Monoughmore, wat ’n groot rol in sy kinderlewe speel. In ’n onderhoud met Corlia Fourie in Rooi Rose van 27 Mei 1998 vertel hy: “Dit is nie ’n mooi plaas nie. Dis ’n harde wêreld. [...] Die swaarmoedige, ou huis het klipmure gehad en jy kon die rysmiere daarin hoor ritsel. Die voordeur kon nie sluit nie en het na binne en na buite oopgemaak.”

Sy voorouers is van Skotse afkoms, maar hulle verafrikaans gou in Suid-Afrika. Sy oupagrootjie was bekend as oom Daantjie, wat ’n houtbeen gehad het en ’n slaghuis op Harrismith besit het. Selfs nadat hy blind geword het, het hy steeds die slaghuis bestuur en beeste aangekoop deur op beskrywings staat te maak.

Alexander is vernoem na sy oupa, Alexander Strachan, wat op 3 Oktober 1899 in Bloemfontein gebore is, agt dae voor die uitbreek van die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog). Sy oupa het tydens die oorlog in die Sannaspos-konsentrasiekamp beland, maar het hierdie ervaring oorleef en is op 78-jarige ouderdom oorlede.

Van Bloemfontein trek sy oupa, pa en neefs oos en beland so in die Collingspas-distrik, waar sy oupa die familieplaas Oude Hamelberg bekom deur huurlande met ’n span osse te bewerk. Later bekom hy ook die buurplaas deur die eerste motor in die kontrei vir die plaas te verruil. Alexander word groot op die beesplaas Monoughmore naby Ladysmith, waar hy saam met werkerskinders speel en vlot Zoeloe leer praat.

Alexander is die oudste van drie kinders. Hy het ’n broer en ’n suster, maar hy kan hulle nie so goed onthou nie. Sy pa het nie veel tyd gehad om met hom te gesels nie, want hy was die hele dag besig op die plaas. Sy ma, Bessie, was sy enigste werklike geselskap. Sy maats op die plaas was die werkers se kinders en hy leer dus Zoeloe praat "soos ’n boorling". Toe hy vyf was, het hy sy eerste windbuks present gekry en voëls begin jag. Een van die hoogtepunte en groot gebeurtenisse op die plaas was wanneer die jakkalsjagter op die plaas gekom het. “Die jakkalsjagter het my laat besef dat daar ’n ander, groter ruimte is,” vertel hy verder aan Corlia Fourie.

Toe hy skoolgaande ouderdom bereik, het sy ma hom die eerste jaar op die plaas geleer en daarna is hy dorpskool toe in Keatestraat op Ladysmith. Soggens het hy saam met die melklorrie ingery en smiddae wanneer hy terug was op die plaas, het hy heel eerste sy windbuks gegryp. “Ek het skool met ’n passie gehaat. Dit was vervelig en ek kan nie onthou dat iets lekker was nie. Dit het my elke keer ses maande geneem om ’n onderwyseres op te lei sodat sy kan verstaan ek is nie lus vir praat nie. En nes sy mooi regkom en nie meer dink ek is dom nie, is ek weer in ’n ander klas.”

Alexander vertel aan Anika Louw in Rooi Rose van 9 Augustus 1995 dat hy op skool jaar na jaar dieselfde opstel geskryf het. En hy het elke jaar presies dieselfde punt vir die opstel gekry – iets wat hy tot nou toe nie kan kleinkry nie. “Die onderwerp was ‘My stokperdjie’. En elke jaar het ek geskryf my stokperdjie is om met beeste en skape te boer. En elke jaar, van standerd 6 tot matriek, het ek 7 uit 10 vir die opstel gekry.”

Toe Zander 13 jaar oud was, het hulle die ou plaas verlaat en na ’n nuwe plaas met ’n moderne huis getrek. “Daar was damme en mielielande, maar dit kon nooit praat soos die ou plaas gepraat het nie,” sê hy aan Anika Louw.

In standerd 8 gaan hy na die Hoër Landbouskool Tweespruit waar hy sy matriek in 1972 maak.

As jong kind was hy ’n redelik onsosiale mens, maar later het hy dit ontgroei en op hoërskool selfs rugby gespeel. In matriek was hy dux-leerling, maar het geen begeerte gehad om hom in die akademie te vestig nie.

Alexander vertel (Volksblad, 15 April 2016) meer oor sy twee jaar aan die Hoër Landbouskool Tweespruit: "As ek aan Tweespruit terugdink, is daar verskeie dinge wat by my opkom. Tog staan sekeres uit. Een hiervan is natuurlik ontgroening. In daardie jare is dit openlik toegepas, met die owerhede deeglik bewus van wat aan die gang was.

"Boonop het dit ’n jaar lank geduur omdat jy ’n baas gekry het vir wie jy deur sy hele matriekjaar moes werk: Sy bed opmaak, die regte boeke in sy skooltas pak om voor die regte klaskamer in ’n netjiese ry te gaan neersit. Jy moes sy rugbytrui was, vir hom vrugte in die boord gaan steel, badwater intap as hy oor ’n naweek nie wil stort nie, en talle ander dinge vir hom doen. (...)

"Byname was natuurlik die ander ding wat Tweespruit uniek gemaak het. Elkeen het ’n bynaam gekry sodra hy by die skool aanmeld. Myne was Vlerk. Dit word deur die matrieks aan jou toegeken en vir die res van jou skoolloopbaan word jy op geen ander naam aangespreek nie.

"Dit word só by jou ingeprent dat jy jare later onwillekeurig sal omvlieg sou jy dié woord iewers hoor. Jou bynaam is gewoonlik bepaal deur die eerste gedagte wat deur jou naamgewer se kop flits sodra hy jou vir die eerste keer aanskou. Dikwels het jou naam gekom van die persoon waaraan jy hom herinner het, wat vóór jou op skool was. In so ’n geval was dit so bestem dat jy dié naam sou kry. (...)

"’n Ander ding wat ek onthou, is dat nie die onderwysers nie, maar die betrokke jaar se matriekklas eintlik die hele skool bestuur het. Hulle was verantwoordelik dat die 'orde', wat natuurlik nie vir hulle gegeld het nie, gehandhaaf word. Nadat die stiltetydklok saans gelui het, mog jy nie eens fluister in jou kamer nie. Behalwe natuurlik die matrieks wat kon jolyt hou en lawaai tot so laat hulle wou.

"Die lang treinrit skool toe sal my ook altyd bybly. Ek was van Natal af en dit was ’n hele dagreis skool toe. By Bethlehem het ’n hele gros Lanties gewoonlik saam opgeklim. As jy skiewie was, moes jy die trein teen die opdraandes help uitstoot. Hierdie gestoot het in die treingang plaasgevind. Daar was ’n blink staaf aan die binnekant van die gang teen die vensters. Die skiewies, almal wakkergemaak, het dan aan die staaf vasgegryp en kreunend en beurend 'Ben Wieletjies' (die trein) teen die opdraande 'uitgestoot'.

"Partykeer het die skoolbus ons op die stasie kom haal, ander kere het hy net nie opgedaag nie. Dan was ons op onsself aangewese. Dit was jou eie saak hoe jy by die skool uitkom. Dapper en stapper. Ons het die kilometers 03:00 met al ons bagasie deur die los sand te voet aangedurf.

"'Basies' in die weermag was 'ligte vrugte' nadat jy Tweespruit aan die lyf meegemaak het."

Om te skryf, was iets waarvan hy in sy wildste drome nooit aan gedink het nie. Hy was wel baie lief vir lees, veral Elmar Steyn se verhale wat in die Ou-Kaap afgespeel het. Hy het nooit gelees toe hy jonger was nie, omdat daar nie boeke in hulle huis was nie.

Verdere studie en werk

Na matriek verrig Alexander sy militêre diensplig as ’n recce en gaan daarna na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein waar hy hom inskryf vir die BA-graad met Afrikaans-Nederlands, Zoeloe en Suid-Sotho as hoofvakke. Hy behaal hierdie graad in 1977, sy honneursgraad in Bantoetale, ook aan die UOVS, in 1979 en so ook sy MA. Sy skripsie was getiteld “Karakterisering in JM Ngcobo se ‘Qhude Manikikiki’”. In 1988 verwerf hy sy DLitt aan die Universiteit van Pretoria met “‘Uthingo lwenkosazana’ van DBZ Ntuli: ’n narratologiese ondersoek”.

Hy word in 1978 aangestel as dosent aan die UOVS se Departement van Bantoetale – ’n pos wat hy vir sewe jaar beklee. In 1985 word hy senior lektor in Afrikatale by Unisa tot einde 1988. Hy gaan toer vir drie maande alleen deur Europa. Met sy terugkeer is hy lektor by die Universiteit van Vista aan die Oos-Rand tot Julie 1993. Vanaf 1994 is hy werksaam by die Universiteit van Zoeloeland se Departement Afrikaans en vanaf 1995 as senior lektor. Hy tree as professor af.

Aanvanklik was sy enigste roeping om boer te word, vertel hy aan Susan Coetzer in Rooi Rose van Maart 2001. Maar toe neem hy Afrikaans as byvak op Bloemfontein, ontmoet Etienne Leroux en word na ’n letterkundekonferensie by Koffiefontein genooi. “Ek het nie gedink ek het iets te sê nie, maar toe ontdek ek ek hét. Die naweek by Koffiefontein was soos ’n tuiskoms. Ek het begin skryf.”

Hy publiseer enkele joernalistieke stukke en ontvang die PICA-toekenning vir ’n artikel oor ’n herbesoek aan die Caprivi. In 2002 skryf hy ’n artikel in Insig oor die Suid-Afrikaanse militêre operasies in Angola, wat aan hom ’n Mondi-benoeming vir die beste artikel besorg. Hy hou hom ook besig met industriële teater wat hy deur middel van die inheemse tale aanbied en is ook betrokke by die aanbied van slypskole vir aspirantskrywers.

Hy was ’n aktiewe lid van die Afrikaanse Skrywersgilde tydens sy bestaansjare en was ook vir twee jaar voorsitter. Hy is ook lid van die Afrikatalevereniging van Suider-Afrika. Vanaf 1996 is hy voltyds skrywer.

Alexander begin in 1979 kortverhale skryf en publiseer enkeles in Tydskrif vir Letterkunde. Die verhaal “Huldeblyk”, wat later “Koebaai” sou word, vorm die basis waarop hy sy debuutbundel kortverhale bou wat in 1984 verskyn onder die titel ’n Wêreld sonder grense. Volksblad berig op 20 Augustus 1984 dat die geweld rondom oorlog nog nooit vantevore op so ’n genadelose en brutale wyse in die Afrikaanse letterkunde vertel is soos in ’n Wêreld sonder grense nie.

Hy vertel aan Volksblad: "Ek was op ’n landsdienskamp waar al die kampeerders gekla het oor die massa wat hulle moes dra en al wat klippie is van die grond verwyder het voordat hulle hul slaapsakke saans oopgegooi het. As soldaat het ek dikwels my eie liggaamsmassa kilometers ver moes dra en sou ek snags in ’n bos of struik met my 'kit' nog op my rug neersak en slaap. Toe besef ek ek het ’n storie om te vertel. En ek was moeg vir geweld.” Hy het drie jaar lank aan die bundel gewerk.

Die bundel word met die Eugène Marais-prys vir 1985 bekroon, asook met die FAK-prys vir ontspanningsleesstof vir 1985. Dit word voorgeskryf vir studente in hul derde jaar en vir honneurskursusse aan die meeste universiteite. Dit is in Engels en in Nederlands vertaal. Hy vertel aan Marguerite Robinson (Beeld, 8 Mei 1985): "Die sukses van die verhale kan toegeskryf word aan die feit dat grensliteratuur ’n nuwe ding is. Mense stel belang daarin. Ek het dit as ’n tema gekies omdat ek verslag wou doen oor ’n wêreld waarvan ek weet, ’n wêreld waarvan min mense weet.” Hy het sy diensplig in ’n spesiale eenheid van die weermag gedoen, wat dalk selfs vir die gewone dienspligtige geheimenisse inhou. Met hierdie bundel hef hy sowel stoflike as geestelike grense op.

’n Wêreld sonder grense is in 1987 verfilm met Frans Nel as regisseur. Die film, en dus ook die boek, word deur Marcel van Heerden as “anti-oorlog” bestempel – in so ’n mate dat die weermag niks met die film te doen wou gehad het nie, behalwe om aanwysings aan die draaiboek voor te stel wat toe nie aangebring is nie. Alexander het self die draaiboek geskryf, wat dit sy eerste ondervinding van die rolprentwêreld gemaak het. Scot Scott speel die rol van die verteller, wat ook die hoofkarakter in die boek is. Marcel van Heerden is Jock en ander bekendes sluit Brümilda van Rensburg, Danny Keogh en Klaas de Boer in.

In 2002 is ’n Wêreld sonder grense­ deur Rolf Wolfswinkel in Nederlands vertaal. In hierdie vertaling is die oorspronklike Afrikaanse teks op liggrys papier en die vertaling op wit papier bladsy vir bladsy langs mekaar gedruk. Dit is deur die Nederlandse uitgewer In de Knipscheer gepubliseer.

Wolfswinkel het gesê hulle kon die boek so uitgee omdat die oorspronklike bundel nie baie dik was nie. Daar word met dié poging probeer om beide Nederlands en Afrikaans meer toeganklik vir die sprekers en lesers van die twee tale te maak.

Wolfswinkel sê aan Francois Smith (Die Burger, 2 September 2002): "Daar bestaan nie so 'n soort teks in Nederlands nie. Daar is ooreenkomste met WF Hermans, maar Strachan gaan verder as Hermans. Dit is nie ’n moeilike teks nie, maar die werklikheid agter Strachan se woorde is so onbegrypbaar."

Wolfswinkel, 'n dosent aan die Universiteit van Kaapstad se Departement Afrikaans en Neerlandistiek, wou so getrou moontlik aan Strachan se "eienaardige wêreld" bly, maar moes tog ter wille van duidelikheid van die weermagtaal verander. "Black is beautiful" het "blanco" geword, en "gatvol" het hy met die ewe enigmatiese "bale" vertaal, skryf Smith.

Tydens die Wits-beraad in 1985 praat Alexander oor sy en werke en dié van ander van sy tydgenote, soos Etienne van Heerden, Louis Krüger en Koos Prinsloo. Hy noem dit tydsdokumente. “Die jong Afrikaanse skrywer skryf nie betrokke in die jare tagtig nie, [...] want vandag se skrywers se situasie het drasties verander. Hy beleef sy wêreld aan sy lyf en die beste resente werke het die grens as tema. Ons skryf nie meer oor nie, maar vanuit ’n situasie. Afrika was destyds die enigste realiteit."

Op ’n vraag of die term grensliteratuur nie verarmend van aard is nie, antwoord hy: "Grense hoef nie net fisieke grense te wees nie, maar ook emosionele grense. Dit is in elk geval vir my blote dokumentering."

Alexander se eerste roman, Die jakkalsjagter, verskyn in 1990 en selfs voor die publikasie word dit bekroon met die De Kat/Antenne-romanwedstryd se eerste prys. Hy erken teenoor Adèle Hamblin: "Elkeen van my skeppinge is vir my ’n dramatiese belewenis is: ek werk en werk daaraan, verander iets hier, iets daar, rond dit honderd keer af ... En uiteindelik, ’n boek."

Hamblin vertel in Rapport van 9 Desember 1990: "Alexander stel homself herkenbaar bloot in Die jakkalsjagter. Die eensaamheid waarmee hy altyd geworstel het, het hy nou vir homself in Die jakkalsjagter wat eers Toe ek eensaam was sou heet, uitgemaak."

Hierop reageer hy: “Ek hoef nie meer mense se geselskap te hê om my gelukkig te maak nie. In die ou dae kon ek nie alleen wees nie. Ek het mense gemis en die oomblik dat hulle by my huis aankom, wou ek weer hê hulle moet loop.”

In Die Burger van 13 Desember 1990 beskryf Gunther Pakendorf Die jakkalsjagter as ’n sterk en boeiende roman. “As verwerking van die manlike psige in ’n patriargale bestel en die geweld, verbrokkeling en ongevoeligheid wat daaruit voortspruit, is dit sonder twyfel ’n belangrike toevoeging tot die eietydse Afrikaanse prosa.” Volgens hom toon dit heelwat ooreenkomste met ’n Wêreld sonder grense.

In sy resensie in Die Burger van 29 Oktober 1990 skryf JC Kannemeyer: "Dit is ’n roman wat groot eise stel, maar wat die leser in sy speurende verkenning ryklik en opwindend sal beloon. Daarby is dit bloot as verslag van ’n hele lewe ’n fassinerende stuk leesstof."

Met sy volgende roman, Die werfbobbejaan, wat in 1994 verskyn, verwerf Alexander die WA Hofmeyr-prys vir 1995 en ook die tweede prys in die De Kat/Sanlam Romanwedstryd in 1993. In ’n onderhoud met Rachelle Greeff in De Kat van Junie 1994 sê Alexander dat hy na hierdie roman vir eers klaar is met die metafiksionele ding. “My drie boeke vorm ’n trilogie: baie van die drade wat al in ’n Wêreld sonder grense begin het, word in Werfbobbejaan saamgevat. Die mite van die swerwer is vir eers vir my verby.”

Volgens Rachelle het sy die boek baie boeiend gevind, veral omdat die vroulike hoofkarakter, Khera, verbeeld word deur een van die skrywers wat beskou kan word as die mees macho in Afrikaans. En ook omdat Alexander daarin geslaag het om ’n gedeelte van Zoeloeland op ’n meesterlike wyse uit te beeld. Die Zoeloe-volksverhaal vorm ook ’n onlosmaaklike deel van die res van die teks. “Geen ander Afrikaanse skrywer het tot dusver Afrika se folklore so behendig in die Westerse konstruk van die Afrikaanse literêre tradisie vervleg nie.”

LS Venter skryf in Beeld van 19 September 1994: "Strachan is hier weer meester van die dramatiese verhaal, die skepper sonder weerga van ’n gelaaide, dreigende atmosfeer."

JP Smuts lewer die commendatio tydens die oorhandiging van die WA Hofmeyr-prys aan Alexander. Hy sê onder andere: "Die werfbobbejaan beïndruk deur die hegte konstruksie daarvan, die groot sorg waarmee dit geskryf en afgewerk is en die deeglike vakmanskap van die skrywer. Keer op keer in hierdie teks wys Strachan dat hy ’n verfynde woordgebruiker en ’n uitmuntende verteller en beskrywer is. Die beeld wat hy van die Zululandse subtropiese wêreld opbou, is indrukwekkend, en die sensitiewe wisselwerking tussen personasies word dikwels knap gehanteer en toon die waarmerk van ’n werklike goeie skrywer."

Alexander se volgende boek was veronderstel om ’n roman te wees, “maar dit wou nie werk nie,” vertel hy aan Lerinda Steyn. “Eers toe ek besluit om eerder ’n bundel aaneengeskakelde kortverhale daarvan te maak, het die teks in posisie geval. Ses weke later was die manuskrip klaar.” Die titel van die bundel is Agter die suikergordyn en hierin word ’n "paradysagtige suikerrietwêreld uitgebeeld waar die mense deur pure verveling tot seksuele dekadensie gedryf word".

LS Venter (Beeld, 16 Februarie 1998) skryf: "Die konklusie van die bundel is dat daar agter skanse van onverstoorbaarheid en onaangeraaktheid geskryf is. Dit is vir my ’n teleurstellende bundel, maar dit moet dalk gelees word as ’n verposing, ’n moment van konsolidering."

Vir JC Kannemeyer is Agter die suikergordyn ’n "oper teks wat vir baie lesers meer toeganklik sal wees. Daarby beïndruk Strachan met sy raak woordkeuse en die natuurlike prosa wat hy skryf. Dit is ’n enigsins ander Strachan wat hier aan die woord kom."

Tydens die KKNK in 2000 word Alexander se drama Hartebees opgevoer met Perle van Schalkwyk in die hoofrol as die ontkleedansers Gigi (Perle is ook ’n ontkleedanseres van beroep). Die stuk het uiteenlopende resensies gekry en in 2003 word dit deur Protea Boekhuis gepubliseer as Kloof. Daar is egter heelwat aan die teks verander en nie net is die aantal karakters verminder nie, maar ook van hulle name is verander. Eben Cruywagen (Die Burger, 29 Desember 2003) beskryf dit as ’n meesleurende teks wat teaterliefhebbers ’n teaterervaring soos min behoort te besorg.

Oor Alexander se eerste gepubliseerde drama skryf Johan Coetser in Beeld van 15 Desember 2003: "Die handeling speel op 'n jagplaas af waar ’n jonggetroude regter (Jurgens, 58) en sy aantreklike vrou, Riana (31), gaste van die eienaar Emma, en haar man, Henning, is. Sake begin verkeerd loop wanneer die karakter Bullet vir Riana as 'n ontkleedanseres herken en sy later voor hom en Henning 'n vertoning lewer.

"Teen dié agtergrond vertoon die 'jag'-motief twee variasies. Daar is eerstens Jurgens se jag van ’n rooihartbees. Die tweede hou met die verwerkliking van die metafoor van die man as 'jagter' van vroue verband, en met die dekonstruksie van manlike, chauvinistiese mag. Hierdie dramateks kan gevolglik ook teen ’n postkoloniale agtergrond gelees word. In albei gevalle bied Riana se optrede sleutels vir interpretasie.

"Benewens die seksuele konnotasies wat toeskouers aan die bokhorings en gewere kan heg, blyk dit uit die dialoog dat Jurgens seksueel impotent en ’n voyeur is wat vroeër Riana se ontkleevertonings gereeld besoek het. Uit die situasie bevry Riana haar simbolies wanneer sy die horings van Jurgens se trofeebok in die slottoneel stukkend skiet. Inderdaad keer sy die situasie om deur Jurgens as ’n onetiese en immorele karakter te ontbloot. Nie verniet nie sê sy: 'Onthou, ék is nooit kaal nie. My werk is om ander kaal te maak.'

"Onder meer die geroep van jakkalse lê in die byklanke ’n ruimtelike verband met die kloof as verlore paradys en intertekstueel met die dramaturg se prosawerke. Teen dié agtergrond groei veral Jurgens en Riana tot ’n gekorrupteerde Adam en Eva, en Bullet tot die slang. Daarby sluit ’n aantal verdubbelings aan.

"In sommige gevalle dui karaktername die verdubbeling van personasies en hul agtergronde aan, soos met Riana/Ria Fyndraai of met Emma/Emmarentia. In ander gevalle verdubbel karakterpare (Jurgens/Riana, Henning/Emma en Bullet/Emma). In ’n derde vorm hunker karakters na ’n tyd en plek waar hulle vroeër gelukkig was. Vir Riana is dit haar vorige bestaan as ontkleedanseres en vir Jurgens sy trofeekamer met die dooie dierekoppe. (...)

"Die gebruik van stroboskopiese beligting, wind en tromme verhoog die dramatiese van die oomblik, simbolies ondersteun deur 'n dubbele algehele verdonkering van die verhoog.

"Kloof is ’n teks wat in gedrukte vorm en vanweë postmodernistiese trekke die potensiële gehoor nooi om verby die sensasie te lees wat die eerste opvoerings – op die KKNK in 2000 onder die titel Hartebees – gekenmerk het. Dit is ’n grondige herskrywing van Hartebees. Die regisseur en akteurs se grootste uitdaging sal wees om van Jurgens en Riana oortuigende verhoogpersonasies te maak. As dramaturg kon Bartho Smit dit doen deur ’n oënskynlike mal keiser kaal en in sy onderklere voor ’n juigende volk en huilende hofnar in die straat te laat afloop."

Alexander was ook deel van SABC2 se projek Vierspel 2, en sy riller Sjampanje vir Vrydagaand is in April 1996 gebeeldsend met André Jacobs en Michelle Botes in die hoofrolle. Antoinette Wilkinson was die regisseur.

Alexander is gelukkig: wanneer hy moeg raak vir mense het hy altyd sy plase waarnatoe hy kan wegloop. Eers was dit Moyeni (“plek van die wind”) in Ladysmith se distrik en later Isomphemba (Zoeloe vir “jakkalsoog”) naby Johannesburg in Heidelberg se geweste. Tans woon hy in Harrismith nadat hy en sy broer Johannes sy oupa se familieplaas teruggekoop het. Hier boer hy met vleisbeeste en is hy besig om die murasies skoon te maak en te herstel.

Hy bieg teenoor Johann Lodewyk Marais op LitNet dat die eiesoortige sandboustyl van Harrismith en omgewing vir hom ’n groot bekoring inhou. “As ek op die plaas tussen die sandsteenkoppe rondry, voel dit dat tyd hier gaan stilstaan het en die verlede en hede ineenvloei. Jy kry die gevoel dat dit is soos dit eeue was. Niks het hier verander nie. [...] [D]ie plaas inspireer my. Elke boerdery, hoe klein ook al, het sy eie bekommernisse en jy probeer maar gedurig jou skades beperk. My aandag is dus nie altyd by die skryfwerk nie; dis ’n luukse wat behoort aan skrywers wat voltyds voor die rekenaar kan sit. Maar ek kry stof uit elke dag se gebeure en as ’n skrywer met min verbeelding, put ek hieruit. So iewers in my skryfwerk sal Oude Hamelberg ook deurskemer.”

Alhoewel hy as kind voëltjies geskiet het, laat hy nie jag op sy plaas toe nie. Die wild was nog altyd op sy plase om in nette gevang te word en aan ander wildplase te verkoop.

Hy praat nie graag oor die feit dat hy as vrouejagter bekendstaan nie, al vra die meeste onderhoudvoerders hom daaroor uit. Hy sê hy is nie; gewis nie. “Jare gelede was ek byna drie jaar lank getroud. Maar dis lank terug; ek kan nie meer onthou nie.” Aan Lerinda Steyn erken hy dat hy liewer oor die ander liefdes in sy lewe gesels, soos diepseehengel, KwaZulu-Natal en sy diere, veral sy windhonde.

Alexander weet hy het ’n image. Mense sien hom as ons eie Hemingway. Baie mense dink ook dat hy as skrywer Etienne Leroux probeer navolg met die dra van net swart en wit klere. Hieroor sê hy aan Rachelle Greeff op LitNet dat daar wel sekere fasette van sy lewe kan wees wat met Hemingway s'n vergelyk kan word, soos die soldaat, die jagter en die skrywer van gestroopte prosa. Dan dra hy ook net swart en wit klere nadat hy in 1988, toe hy aan depressie gely het, nie kleure van mekaar kon onderskei nie. Hy erken teenoor Greeff: "’n Deel van my is ’n totale alleenloper. Mens is nie net een mens nie.”

In 1994 vertel hy aan Rachelle Greeff dat sy skryftyd vroeg soggens is. Hy staan sesuur op en gaan sit dan tot so twaalfuur en werk. Afwisseling is die belangrikste in ’n dag van skryf. “Hier na twaalf moet ek eers iets anders doen, iets fisieks. Soos hardloop. Dan kom daar ’n afstand sodat ek ’n oordeel kan vel. Nou eers kan ek weer vir so twee ure kom sit. [...] Jy moet jouself merendeels dwing om te gaan sit en skryf, dan kom jy in die stemming. Ek sal enige plek kan skryf. Dit raak luuks as jy sê jy het die see in die agtergrond nodig, of spesifieke musiek. Sommige mense oorbeklemtoon dit.”

In 2010 verskyn Zander se volgende roman, onder die titel Dwaalpoort. Oor die lang letterkundige stilswye tussen Kloof en Dwaalpoort vertel hy dat hy vyf jaar aan die roman gewerk het.

Die verhaal speel af op Dwaalpoort, die familieplaas wat ’n paradys vir jagters is en iewers op die grens tussen KwaZulu-Natal en die Vrystaat geleë is. In By van 25 September 2010 vertel Willemien Brümmer dat die plaas die verlede van Suid-Afrika verteenwoordig. "Die plaas is ook ’n mitiese ruimte, met sy wit hartbees, Mhlope, hoeder van reg en geregtigheid.

"Wanneer ’n gesiene regter, Jurgens, en sy jong vrou, Anne, na die plaas kom om ’n rooihartebees te skiet, word die plaas, sy inwoners en sy geskiedenis gedekonstrueer. (...) Bekende Strachan-motiewe maak weer hul opwagting: karakters wat vanuit sy hele oeuvre met mekaar praat, die jagter wat ook prooi is, die ontluistering van manlike chauvinistiese mag. Hier gaan die bowenal oor die ondergang van ’n bestaande orde. Die teks word ’n grieselrig-erotiese dodedans waarin die karakters op ’n onafwendbare apokalips afstuur."

Die drama Kloof het gelei tot die storie van Dwaalpoort, vertel hy aan Willemien Brümmer. "Ek was ontevrede met die drama as medium. Daar's te veel mense betrokke. Dis die regisseur, die akteurs, die klankman, die saal ... dis later nie jou teks nie. ’n Romanskrywer of ’n prosakrywer is altyd ’n individualis. Die roman is egter nie ’n verwerking van vorige tekste nie.

"Die roman is heeltemal iets anders. Die beste om dit mee te vergelyk is PG du Plessis se Feast of the uninvited wat Katinka Heyns verfilm het, en toe gaan skryf hy die roman. Syne is baie nader aan mekaar as myne, maar hy beskou dit as twee onafhanklike entiteite wat f*kk*l met mekaar te doen het."

Dwaalpoort is heelwat langer as sy vorige twee romans, Die jakkalsjagter en Die werfbobbejaan. Hy verduidelik aan Brümmer: "Ek het gevoel ek skuld dit vir myself om te bewys ek kan ’n langer roman skryf. In ’n mate het ek gevoel ek het darem ’n paar lesers. Selfs Alexander Strachan het ’n paar lesers; ek het hulle iets geskuld."

Alexander het teenoor Brümmer gesê dat hy dink die boek is "f*kk*n briljant" en sy beste werk tot op hede. "Dis ambisieuser en meer geskakeerd as Die jakkalsjagter en Die werfbobbejaan saam."

Op ’n vraag van Brümmer of die roman doelbewus polities was, antwoord hy: "As jy terugkyk daarna, ja, maar ek het nie doelbewus probeer polities of betrokke of avant garde skryf nie. Ek het ’n storie vertel, maar ek kan daai element nie negeer nie. Dit gaan oor plaasonteiening, oor grondhervorming, oordrag van eienaarskap, klaarmaak van ’n bestel. Mine Own (die township oorkant die distrikspad) neem die plaas oor. Mine Own is die toekoms, Dwaalpoort is die verlede.

"Dis ’n aktuele boek, maar ’n skrywer moet nooit maak asof dit die antwoord of die oplossing is nie. Op die ou einde is dit ’n postmodernistiese plaasroman. Dit is ’n apokaliptiese roman oor hoe mense op eindtye reageer."

Brümmer het ook vir Strachan gepols oor die muilbandwetgewing wat die ANC wil inbring: "Dit kan baie kreatiwiteit ontlont, want dan is die skrywers weer gevestig teenoor iets. Dan begin die skrywers as ’n groep skryf soos die Sestigers of in ’n mindere mate die Tagtigers wat nie regtig ’n groep of ’n eenheid van protes gevorm het soos die Sestigers nie. Maar as die regering dit te ver dryf en aanhou ernstig wees met hulle k*k, gaan hulle k*k van die skrywers kry.”

Net soos met sy ander boeke is die volksverhaal van die Zoeloe ook in Dwaalpoort ’n integrale deel van die verhaal, maar hier was hy self die skepper van die mite: "Ek wou nie die folklore gaan herhaal wat ander mense klaar vertel het nie. Op ’n manier is ek ook die skepper van folklore. Ek het die hartebees gekies want niemand vind hom romanties nie. Ek hou van die underdog. Baie skrywers gebruik folklore, maar dan skryf hulle net die storie oor, soos André P Brink in Bidsprinkaan, wat ek beskou as sy beste boek. En Duiwelskloof, wat my gunstelingboek is. Maar daar het André die fout gemaak. Hy kon net sowel sy eie folklore geskep het en aanvertel het. Hou aan vertel, las by, lieg saam.”

Cilliers van den Berg (Volksblad, 4 Desember 2010) skryf oor Dwaalpoort: "Tipiese kenmerke uit Strachan se oeuvre is ook duidelik in die teks aanwesig waarvan die ooglopendste sekerlik die onderbou van die sterk manlike diskoers is: die jagmotief, die personasie van die oudsoldaat, die relasie tussen man en vrou. Op sy beurt kry die diskoers bykans ’n mitiese betekenis uit eie reg binne Strachan se oeuvre en die vraag is of dit hier nog oortuigend, of nie dalk tog soms enigsins geforseerd, die leser aangebied word nie. Aan die ander kant is van die jagtonele, veral die beskrywings van die dood van die bokke, werklik indrukwekkend. As roman kom die teks, veral weens die verskillende aspekte wat betrek word, vergestalt in die verskillende ruimtes wat hierbo aangedui is, tog enigsins onaf voor. Want nie net word tematies in veelvoud gewerk nie, ook die narratologiese strategie van afwisselende ek-vertellers wat Strachan gebruik, benodig ’n baie duidelike, integrerende afwerking wat verder as net die styl-kosmetiese gaan.

"Steeds is Dwaalpoort ’n beduidende roman en veral ’n sterk bydrae tot die genre van die plaasroman, wat so ’n belangrike rol in die Afrikaanse letterkunde speel. Dus word die teks ook ’n literêre ruimte waar op post-modernistiese wyse in gesprek getree kan word met hierdie tradisie in Afrikaans. Dit is waarskynlik dan ook die intrigerendste aspek van Strachan se roman."

Louise Viljoen het Dwaalpoort in Die Burger van 15 November 2010 bespreek: "Die slot is rokerig en apoka­lipties. Veldbrande kruip oor die plaas en die finale konfrontasie ­tussen man en dier vind plaas in ’n afgebrande stuk veld met ’n ­­spesi­fieke groepie omstanders wat ­toekyk. Die laaste hoofstuk van die ­roman word, soos die eerste, vertel uit die gesigspunt van die hartbeesram Mhlope wat die ­vernietiging van Dwaalpoort ­bekyk uit ’n bykans bo-tydelike perspektief.

"In ’n sekere sin is die slot van die roman ’n herhaling van wat met die plaas gebeur het in die Anglo-Boere­oorlog (ABO), sodat dit ­duidelik word waarom die verhaal van ­Rentia se voorouer Henriëtte uit die ABO ingeweef word.

"Dit gaan dus in hierdie roman oor universele kwessies (die ­dier­likheid van die mens, die menslikheid van die dier, arge­tipiese manlikhede en vroulik­hede, seksualiteit, oorlewings­vermoë en sterflikheid) wat binne ’n aktuele ­­kon­teks geplaas word. Deel daarvan is vraagstukke soos gekommersialiseerde jag­togte, grond­hervorming, die oorwoekering van landelike ­ge­biede deur dorps­ont­wikke­lings en die vernietiging van ’n ouer ­bestel.

"Deur die dominante rol wat die hartbees Mhlope in die slot speel, suggereer die roman dat dié ver­anderinge deel is van ’n onvermydelike natuurkrag wat ­onbewoë sy gang gaan terwyl ­geslagte uitsterf en politieke ­stelsels mekaar vervang.

"Strachan se vakmanskap is ­duide­lik. Hy is behendig met die skep van ’n web van kruisver­wysings in die roman en die lê van leidrade wat deur die leser ­­ont­rafel kan word. Die simboliek word meestal subtiel gehanteer en is slegs in enkele gevalle oordrewe.

"Die prosa is hier minder ­gestroop as vantevore. Karakters soos ­Bullet en Anne word lewendig herskep deur die spreektaal van hul eie­ ­vertellings. Die beskrywings van die jag- en vegtonele is vol ­besonderhede soos in ou jagver­hale; dié van die sekstonele suggestie­ryk en ­poëties. In die ­geheel beskou is die roman toegankliker as sy ­vorige werk waarin ook oor die skryfproses ­besin is.

"Lesers wat Strachan se werk ken en volg, sal dit met ’n gevoel van her­kenning eerder as verrassing lees. Diegene wat die eerste keer met sy werk kennis maak, sal die genot hê om ’n goedgemaakte en ­onderhoudende roman met ­verskil­lende betekenislae te lees."

Dwaalpoort is in 2011 met die WA Hofmeyr-prys bekroon en was ook die bronswenner van die Sanlam Groot Roman-wedstryd in 2010.

Willemien Brümmer het ook in haar onderhoud met hom die onderwerp van Bullet, ’n macho oudsoldaat in Dwaalpoort, aangeraak. Bullet is soos so baie van sy vorige karakters ’n swerwer en wildvanger. Hieroor sê Alexander: "Ek het altyd hierdie macho-karakter gehad in al my werke. Dis nie vir my ’n issue om ’n macho-werk te skryf nie. Dit was in ’n stadium mode as jy ’n baie slim manlike man is om in ’n klein Beetle rond te ry en ’n oorringetjie te dra. Ek het nooit daai k*k in my lewe gehad nie. Goddank nie, ek ís die jakkalsjagter. Daai Bullet-karakter se manlikheid baseer ek waarskynlik op hoe ek was in my lewe. Ek kan hom nie meer nastreef nie. Hy’t my ontgroei, hy’t meer as ek geword. Hy’s groter as ek, ek’s kleiner as hy.

“’n Mens word mak gemaak deur die ouderdom. Jy kan nie meer dinge doen wat jy tóé kon doen nie. Omdat ek daai Bullet-karakter was, het ek as weermagsoldaat my eie gewig gedra in operasies. Ek moes albei my heupe vervang as gevolg van daai kit; dit was te f*kk*n swaar – niemand kon dit dra nie. As jy 36 is en jy lyk pragtig en jy moet daai kit uittrek, dan knak die liggaam, maar die gees gaan aan. Maar ek droom glad nie meer daaroor om dit te wees nie, want ek wás dit. Partykeer is ek selfs verleë daaroor.”

In 2015 verskyn Strachan se volgende roman, Brandwaterkom. In hierdie roman skuif die Anglo-Boereoorlog en die grensoorlog in Angola oor mekaar.

Strachan vertel vir Willem de Vries (Die Burger, 3 Augustus 2015) wat vir hom die belangrikste in hierdie verhaal is: "Voorop in Brandwaterkom staan die kwessie van verraad," sê Strachan. "En dan praat ek van verraad op meer as een vlak: die werkplek, die sakewêreld en die huwelik. Niks onder die son is nuut nie. Die struwelinge en kwessies van meer as ’n eeu gelede kom vandag nog in ons lewens voor. Minderhede teenoor meerderhede, vrou teenoor man, man teenoor man, magsbeheptheid, die rassekwessie, die met mag wat nie voor die ander wil swig nie, ontrouheid, ensovoorts."

Oor die naas mekaar stel van die Grensoorlog en die ABO sê Strachan aan De Vries dat dit nogal ’n groot uitdaging vir hom was. Hy was nie bewus van ander werke waarin dit al gedoen is nie. "Dit het baie konsentrasie en herskryf geverg om die twee temas naatloos oor mekaar te laat skuif. In welke mate ek dit reggekry het, sal die leser self oor moet oordeel."

Willem de Vries maak die stelling dat karakters "nomades" is wat uit die een boek na ’n volgende een beweeg. Hy beweer ook dat "elke boek deel van en ander aspekte van ’n langer verhaal belig". Hy sou dus weet hoe belangrik feite vir die verhaal was.

"Vir sommige skrywers is karakters nomadies, vir ander nie," is Alexander se antwoord op hierdie stelling. "Lesers hou nogal daarvan om ’n bekende figuur in ’n volgende boek raak te lees. Daar ontstaan dan dadelik ’n bepaalde verwagtingshorison van só ’n figuur en die boek word saamgelees met ander verhale van die skrywer. ’n Mens kan die leser natuurlik ook vervreem van ’n karakter deur hom/haar anders aan te bied as wat die leser verwag het.

"’n Terugkerende karakter kan ’n tema of simbool word. Soos Bullet in my werk wat vir baie lesers die ongeslypte kant van die skrywer verteenwoordig. Sommige lesers identifiseer met só ’n karakter. Die skrywer moet daarop bedag wees om die leser nie te veel van een karakter te voer nie, want dan kan verveling intree."

Brandwaterkom het in 2015 weggestap met die derde prys in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Die beoordelaars (Kerneels Breytenbach, Michiel Heyns en Heilna du Plooy) het in hulle commendatio geskryf dat hierdie roman ’n getuigskrif is van deeglike en uitgebreide navorsing na die Boereverraaiers of die Joiners, nog altyd ’n boeiende aspek van die Boereoorlog.

"Dit is ook ’n ondersoek na die ontwykende aard van die verlede, en van die motiverings rondom verraad. Die skryfwerk is besonder oortuigend danksy die moeitelose manier waarop historiese feite en die fisiese konteks van die verhaal geïntegreer is. Op ’n tegniese vlak toon die vertelling die stempel van ’n gesoute outeur in die spel van kontraste en ooreenkomste en die wisselende vertelritme wat die twee historiese tydvakke in die roman van mekaar help onderskei. Die beskaafde Britse sfeer waarin baie Vrystaatse professionele lui hulle voor, tydens en ná die ABO ondervind het, word knap vasgevang.

"Brandwaterkom is sowel bloedstollende oorlogsverhaal as diepsnydende ondersoek na die verraderlike manier waarop verhale met ons op loop gaan." (LitNet)

Brandwaterkom was ook die wenner van die kykNET-Rapport-fiksieprys in 2016. Nadat die prys aan hom toegeken is, het Alexander aan Rapport (25 September 2016) vertel dat hy eers oor ’n onbekende gebied (vir hom) soos die Karoo wou skryf, maar dan sou hy vir ’n ruk daar moes gaan woon om die "gees van die plek" raak te vat. Hy het dus nader aan die huis gekyk en dit was toe dat hy op Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat naby hom besluit het. "Ek sou dit gereeld kon besoek en beleef. Ek het ook nog nie daardie deel van die ABO-geskiedenis regtig geken nie en was dus heel verras toe ek Fanie Vilonel tussen die ou geskrifte en mondelinge oorlewering raakloop. Hy het toe ’n baie interessante karakter geword om mee te werk (teen die agtergrond van Marthinus Prinsloo se oorgawe), juis omdat hy as verraaier eintlik uit die geskiedenis geweer en vir die openbare oog weggesteek is."

Oor die skryfproses verduidelik Alexander aan Rapport dat hy ’n jaar lank basies net navorsing gedoen het deur te lees en inligting te versamel. En al is die verloop van die ABO in sy boek redelik akkuraat uitgebeeld, het hy met die uitbeelding van sy karakters sy verbeelding gebruik om hulle meer boeiend en interessant weer te gee. Selfs nadat die navorsing klaar gedoen was, het dit hom ’n verdere twee jaar geneem om die manuskrip te voltooi. "Soos altyd was dit maar ’n proses van herskryf en skaaf om ’n unieke teks te probeer lewer met sy eie eienskappe en aanslag."

In die commendatio vir die toekenning van die kykNET-Rapportprys vir 2016 was die beoordelaars (uit monde van Frederik de Jager) dit eens dat Brandwaterkom ’n hoogtepunt in Alexander Strachan se oeuvre is. Hy bring in hierdie roman nie net die ABO en Grensoorlog saam in een verband nie, "maar bring ook oorlogstemas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ’n nuwe verdieping.

"Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ’n verteller (een met ’n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel.

"Hy laat ’n historiese persoon op ’n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ’n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd.

"En wanneer dit gebeur in ’n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hul karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: Wat is geskiedenis?

"Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa ... dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ’n deksels vernuftig skrywer is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kykNET-Rapportprys vir 2016."

In Rapport van 28 Junie 2015 is Joan Hambidge baie beïndruk met Brandwaterkom. Sy beskou Strachan as ’n "fyn stilis en vernuftige skrywer". "Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

"Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar 'slow violence' ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van generaal Mannetjie Mentz? op.

"Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort. (...)

"Die ABO-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé. (...)

"Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

"Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende subteks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

"Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

"Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in die dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

"Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk ...

"Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na 'The jacket'. Lees hierdie uitstekende roman."

In Brandwaterkom word die lewensverhaal van verskeie karakters uit die perspektiewe van verskillende persone vertel, skryf Dewald Koen (Volksblad, 13 Julie 2015). Esther van Emmenes, ’n navorsers aan ’n universiteit, gaan na Fouriesburg in die Vrystaat waar sy navorsing oor die ABO doen vir haar tesis. Sy ontmoet verskillende interessante persone gedurende hierdie tyd. Hieronder tel Bullet, "’n karakter wat talle ooreenkomste toon met ’n gelyknamige karakter in Strachan se Dwaalpoort. Bullet se verbintenis met die plaas Dwaalpoort en veral ook die withartbees, Mhlope, lei Esther op ’n senutergende speurtog wat geskiedkundige navorsing na allesbehalwe vervelig laat lyk. (...)

"Die tweede 'loop' van die 'dubbelloop-roman' handel oor Fanie Vilonel wat as regsgeleerde hoë aansien onder die plaaslike Vrystaatse gemeenskap geniet. Fanie is egter terdeë bewus van sy verpligtinge as Afrikanerman en voer ’n innerlike stryd om die regte besluite te neem. As kryger speel Vilonel ’n belangrike rol tydens die verskeie veldslae waaraan hy deelneem en wat deur onvoorsiene omstandighede tot ’n verrassende voorval aanleiding gee. (...)

"Strachan het op meesterlike wyse die geskiedkundige feite met fiksie verweef. Sy beskrywing van verskeie veldslae is treffend. Hy fokus veral op geskiedkundige figure, soos sir Redvers Buller wat op amper komiese wyse uitgebeeld word. (...) Strachan se skerp sin vir detail en fyn sintuiglike waarnemingsvermoë stel lesers in staat om die veldslae mee te maak asof hulle self daar teenwoordig was.

"Verwysings na die Grensoorlog kom ook in die roman aan die bod. Bullet se gesprekke met Van Emmenes beklemtoon die feit dat talle oudsoldate steeds nie hierdie traumatiese hoofstuk in hul lewe kan afsluit nie. Net soos Vilonel se karakter, moes Bullet ook traumatiese oomblikke tydens oorlogvoering beleef wat sy siening van die lewe drasties verander het.

"Volgens Bullet is Dwaalpoort 'die plek waar die twee oorloë bymekaar kom'. Dié aanhaling wek talle vrae rondom Bullet se obsessie met die plaas Dwaalpoort en watter betekenis Bullet se geheime vir Esther en Vilonel inhou.

"Vrae en antwoorde is deel van Strachan se literêre spel. Wat is feit en wat is fiksie? En wie vertel die verhaal? Watter vertelling is geloofwaardig? Die antwoorde op laasgenoemde vrae moet die leser maar self ontdek.

"Dit is juis Strachan se vernuftige verteltegniek wat Brandwaterkom van soortgelyke romans onderskei. Op kreatiewe wyse word die leser op ’n speurtog in die geskiedenis geneem wat ’n onverwagte draaipad neem."

In Taalgenoot (Somer 2016) skryf Natie Botes: "Na Brandwaterkom gelees is, kan jy nie help om te wonder oor die plek van standbeelde en heldeverering in moderne gemeenskappe nie. Is dit nie maar ’n gegewe feit dat die ware helde nooit erken word nie? Met groot sukses systap Strachan al die slaggate wat met ’n geskiedkundige verhaal kan opduik en laat hom selfs lei deur die magiese.

"Moontlik die grootste rede vir die sukses van Brandwaterkom is dat die skrywer indiepte navorsing gedoen het oor sy onderwerp. Dit was dus nie net ’n heerlike leeservaring nie, maar ook ’n opwindende stukkie geskiedenisklas."

Ook Louise Viljoen is beïndruk met Brandwaterkom. Op LitNet eindig sy haar LitNet Akademies-resensie-essay as volg: "Strachan keer met Brandwaterkom terug na vraagstukke in verband met die geskiedenis wat reeds die afgelope dertig, veertig jaar groot prominensie in die Afrikaanse letterkunde geniet, maar slaag tog daarin om ’n vars perspektief daarop te gee. Sy uitwys van die raakpunte én verskille tussen die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog bring ’n nuwe invalshoek. Dit is veral die idee dat verskillende oorloë 'momente is van dieselfde verhaal' wat stof tot nadenke bied. ’n Mens sien uit daarna dat Strachan in sy verdere werk die raamwerk van die 'verhaal' waarin hierdie twee oorloë met mekaar verbind is, in groter besonderhede uitwerk nadat hy dit op so ’n evokatiewe wyse in Brandwaterkom gesuggereer het.

"Sy hantering van die skrywersfiguur wat tegelyk binne die teks is en dit van buite manipuleer, sluit aan by die metafiksionele strategieë wat tipies was van die postmodernistiese tekste van die 1980’s en 1990’s. Deur die verglyding van die karakter Bullet met die skrywer binne die teks en die werklike skrywer Strachan verkry die gegewe egter ’n bepaalde kompleksiteit en onmiddellikheid. Verder skep die lewendige rekonstruksie van die Anglo-Boereoorlog, die liriese evokasie van ruimtes soos die Brandwaterkom en Dwaalpoort en die geloofwaardige karaktertekening ’n roman wat die leser se aandag uit die staanspoor vasvang en deurgaans behou."

Alexander se boek oor die recce's, 1 Recce: die nag behoort aan ons, word in 2018 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

In ’n onderhoud met Charles Smith (Netwerk24, 27 Oktober 2018) vertel Alexander dat twee voormalige lede van 1 Recce, Jakes Swart en André Bestbier, hom genader het met die idee om ’n boek oor 1 Recce te skryf. Daar was al publikasies oor 4 Recce en 5 Recce, maar daar het nog nooit iets verskyn oor die moedereenheid van die recce's, 1 Recce, nie.

"Sonder enige omhaal het hulle my toe ingelig dat hulle my gekies het om die geskiedenis van 1 Recce te skryf. Hulle sou nooit ’n buitestander – iemand wat nie deel van die spesiale magte was nie – vir die skryftaak oorweeg het nie," vertel Strachan aan Smith.

"My bewese skrywersrekord het sterk in my guns getel. Die kort en kragtige vergadering is verdaag en ek is verseker dat ek hul volmag het asook hulle ondersteuning vir die reël van onderhoude met voormalige operateurs en ander lede van die eenheid. Ek het die vryheid gehad om die inhoud van die boek te bepaal en te bepaal wat hulle later sou wou sien. Dit het vir my baie gewig gedra dat die besluitneming vir hierdie skryfprojek op generaalvlak geneem is."

Alexander het twee jaar aan die boek geskryf en die laaste paar maande voor voltooiing het hy 16 uur per dag gewerk. Frans van Dyk was van groot hulp met die reël van die meer as 50 onderhoude met recce-operateurs. Daar is seker gemaak van die betroubaarheid van al die materiaal wat gebruik is en sy uitgangspunt was om inligting by diegene te kry wat persoonlik in die kontak (vuurgeveg) was. Hy het ook nie van inligting wat op hoorsê-basis verkry is, gebruik gemaak nie. Vir hom was persoonlike onderhoude met die "manne op die grond" belangriker as operasionele verslae – hierdie verslae het dikwels foute bevat, het hy agtergekom.

Alexander was self van 1977 tot 1984 ’n lid van 1 Recce. Alles het by 1 Recce, die moedereenheid, begin waar voornemende lede by Durban Bluff moes aangemeld het vir keuring en verdere opleiding. Hy het nog altyd kontak met die instrukteurs Hennie Blaauw en Flip Marx wat hom gekeur het.

Hy vertel aan Smith: "Ek onthou magiese plekke soos Fort Doppies waar die atmosfeer en uitsig oor die Kwandorivier idillies was. Daar was baie reise na ver en onbekende plekke, groot vyandige aktiwiteit, vrees, sweet wat in jou oë inbrand, honger, dors en geweldig baie adrenalien wat jou dikwels lighoofdig gelaat het.

"Die eerste ding wat vir my uitstaan, is die hegte vriendskappe wat ek in my tyd in die eenheid gesmee het. Die Recce's vorm ’n baie hegte broederskap en dié kring kan nie deur buitestanders binnegedring word nie. Iemand het voorheen genoem dat na afloop van sy tyd in die Recce's die res van sy lewe maar redelik saai was. Daar was inderdaad groot opwinding, maar natuurlik ook groot swaarkry wat die onderlinge band tussen die Recce's net sterker gemaak het."

Alexander se kortverhaalbundel, ’n Wêreld sonder grense (1984), kan beskou word as een van die eerste fiksiewerke wat oor die Recce's geskryf is. "’n Wêreld sonder grense is so half in die geheim geskryf omdat alles (die inligting en die politieke klimaat) in daardie stadium nog uiters sensitief was. Derhalwe het ek die boek in fiksievorm aangebied. My benadering in die huidige boek (1 Recce) is meer in die ope hoewel ek steeds die spanningslyn van weleer in veral die hoofstukke in die vuurgevegte behou.

"Ek het probeer om die leser as ’t ware in die vliegtuig saam te neem, die valskermsprong saam met die operateur uit te voer en die gevoel te kry dat hy aan die ontplooiing op die grond deelneem. Sodoende het ek gereken kry die leser ’n baie nabye ervaring van hoe dit was om aan ’n geheime militêre operasie deel te neem."

In Rapport (6 Januarie 2019) skryf Abel Esterhuyse dat die literatuur oor die Grensoorlog aan die opbloei is. Daar is verskeie redes daarvoor en dit is veral geskrifte wat fokus op die spesiale magte, of die recce's soos hulle in Suid-Afrika bekendstaan, wat veral gewild is. Dit kan wees omdat hierdie stories die fondamente van ’n goeie storie bevat: avontuur, spanning, waagmoed, ongekende ontbering, geheimhouding en helde.

"As lekkerleesboek bevat 1 Recce inderdaad al dié elemente én dit vul ’n gaping in die Suid-Afrikaanse militêre geskiedskrywing deur die 'vorming en opbou' van 1 Verkenningsregiment as ’n onafhanklike operasionele eenheid binne die voormalige weermag te dokumenteer. (...)

"1 Recce vertel ’n interessante storie van historiese aard, maar steun nie op omvattende historiese navorsing nie en is ook nie ’n regimentele geskiedenis van 1 Verkenningskommando nie. Dit verander geensins die feit dat die boek ’n belangrike en boeiende bydrae lewer tot die dokumentering van die geskiedenis van die spesiale magte in Suid-Afrika nie. Dit is regtig uitstekend geskryf en besonder leesbaar. (...)

"Die boek bevat verskeie interessante anekdotes wat tot die algemene publiek sal spreek. (...) Maar bowenal is daar ’n verhaal van menslikheid en die soeke na sin, vrede en werklikheid in die boek opgesluit. Miskien is dit uiteindelik Strachan se grootste bydrae met 1 Recce: die nag behoort aan ons: dat oorlog ’n diep menslike werklikheid is in uitdaging, hantering en gevolge."

Willie Burger skryf in Vrouekeur van 5 Januarie 2019 dat die leser van 1 Recce nie ’n boek met presiese datums en "konseptualisering" moet verwag nie. Daar is ook nie eintlik sprake van versigtige argiefondersoek nie. Dit bestaan hoofsaaklik uit onderhoude met oudrecce’s en het dus ’n sterk anekdotiese inslag.

Burger sluit af: "Strachan maak op sy skryfvernuf staat om telkens die leser midde-in ’n gevegsituasie of gevaarlike operasie te plaas, wat later opgevolg word deur herinnerings en terugskoue wat nie vry te spreek is van romantisering nie. Uiteindelik is 1 Recce ’n lofsang aan die heldedade van ’n groepie uitsoeksoldate. Daar is iets nostalgies daaraan sodat die boek effens soos ’n koshuisjaarblad voel. Breër historiese en politieke kontekstualisering ontbreek. Dit is ’n boek oor en vir kamerade. Maar ook byna alle mans oor 45 jaar sal die boek waarskynlik nuuskierig optel om meer van daardie ouens te probeer weet wat steeds deur baie as helde bewonder word."

Oor moontlike toekomstige boeke vertel Alexander aan De Vries dat hy hom byna laat verlei het om verder te skryf oor die laaste twintig lewensjare van sy hoofkarakter in Brandwaterkom, Fanie Vilonel. Maar ’n goeie vriendin wat ook ’n literator is, het hom afgeraai aangesien ’n roman soos Brandwaterkom nie moet afgesluit word nie, sodat die leser kan bly wonder oor wat verder gebeur het.

"Nietemin bly ek lus vir die historiese roman en hoewel ek Vilonel in Senekal agterlaat, mag ek dalk met een van die mindere karakters na ’n nuwe milieu reis om die geskiedenis van daardie landskap te gaan ontgin."

Publikasies:

 

 

 

 

 

Publikasie

Dwaalpoort

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624049210 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 2011
  • 3de prys Sanlam se Groot Romanwedstryd

Vertalings

Nederlands deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brandwaterkom

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624073369 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • 3de prys, Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd
  • kykNET-Rapport Boekpryse 2016, fiksiewenner

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

1 Recce: die nag behoort aan ons

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624081494 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Militêre geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Alexander Strachan beskikbaar op die internet:

Artikels deur Alexander Strachan beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Johan (Vulletjie) de Nysschen

    Dit was goed om te lees van 'n oud-lantie wat groot spore in die akker van die letterkunde getrap het. Merkwaardig. Ek was 'n skiewie toe Alexander in st10 was. Ek kan my net voorstel hoe trots meneer van der Walt was oor al die koerantuitknipsels wat hy in die boek in die biblioteek kon plak. Die landbouskool was nie in daardie jare bekend vir sy uitstaande uitslae en uitblinkers nie. Wel gedaan ou maat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top