Albie Sachs se The Strange Alchemy of Life and Law

  • 0

Woensdagaand staan ek en die bekende akademikus tannie Meisie in die Book Lounge. Dit is stampvol en ons was te laat vir sitplek. Dit is die bekendstelling van Albie Sachs se boek The Strange Alchemy of Life and Law.

Prof Kader Asmal voer ’n onderhoud met regter Albie ter viering van hierdie belangrike gebeurtenis. Die regter is bekend daarvoor dat hy ’n storie kan vertel – met die klem op "vertel".

"Ek wens ek kan regter Albie in ’n eerstejaar-LLB-klas sit en net sê 'praat'," fluister ek vir tannie Meisie.

"Ja," sê tannie Meisie, "die man is darem baie indrukwekkend en hy praat so duidelik en met soveel opregte emosie oor die donker dae in die land se geskiedenis."

Prof Asmal pols vir regter Albie oor die boek en regter Albie vertel van die verlede, die hede en ook ietsie oor die toekoms terwyl hy op sy bekende manier met die stompie-arm beduie. Regter Albie se af arm is ’n lewende, sigbare, tasbare herinnering aan die geweld en vernietiging wat apartheid in die hand gewerk het. Maar regter Albie is ook ’n voorbeeld van die deursettingsvermoë en wilskrag van die menslike gees – van ’n lewe gewy aan die ideaal van geregtigheid.

Tannie Meisie fluister weer: "Het jy gesien die boek word opgedra aan regter Albie se kleuter, Oliver, sodat hy die geskiedenis en sy vader se rol daarin sal kan lees in sy vader se eie woorde?"

"Wat ’n wonderlike ding, maar ook bietjie hartseer," fluister ek terug.

"Hoekom?" wil tannie Meisie weet.

"Want ek wil nie nou al dink aan die dag wat groot geeste soos Albie Sachs nie meer met ons gaan wees nie."

Die lang gesprek tussen prof Asmal en die regter staan einde se kant toe. Na die tyd staan ek en tannie Meisie verder en klets in die volgepakte Book Lounge. "Hoeveel van jou studente weet wie is Albie Sachs? Hoeveel dink jy weet hoe dit gebeur het dat regter Sachs net een arm het?" vra tannie Meisie.

"O, dis nou goeie vrae, Tannie. Ek skat die meeste van my eerstejaarstudente weet darem teen die einde van die eerste semester dat Albie Sachs ’n regter van die konstitusionele hof is. Minder weet dat hy ook ’n freedom fighter was en die belangrike rol wat sy aktivisme in die stryd teen apartheid gespeel het. Die ding is, tannie Meisie, teen die einde van die LLB is daar min tot geen studente nie wat vir jou kan vertel hoe regter Sachs sy arm verloor het."

"Dis jammer, ja, maar dosente kan ook nie vir studente alles leer nie."

"Dis soos tannie Meisie daar sê. Met die bestaan van die internet het vandag se kinders wat kan lees en skryf, soveel geleenthede om vir hulself belangrike dinge uit te vind. Aan die ander kant sal ek graag wil seker maak dat elke student wat uit my klas stap aan die einde van die LLB, vir my kan sê dat regter Albie Sachs sy arm en die sig in een van sy oë verloor het nadat die apartheidsregering ’n bom in sy motor geplant het – Maputo, 1988."

"Miskien moet jy The Strange Alchemy of Life and Law vir jou studente voorskryf?"

"Ek gaan dit beslis oorweeg."

"Weet jy, ek het Albie Sachs al ’n stuk of vyf keer ontmoet. Ek skryf gedurig oor sy werk, ek dink hý is ’n alchemis van die lewe en die reg, maar elke keer as ek hom ontmoet, herken hy my nie," kla tannie Meisie.

"Ag, Tannie, as mens so beroemd is soos Albie Sachs kan jy tog nie rekening hou met almal wat jy ontmoet nie," paai ek.

"Is seker so. En die opofferinge wat die man darem vir hierdie land gemaak het, alchemis wat hy is. Mens kan hom sulke kleinigheidjies vergewe."

Met dié draai tannie Meisie in die regter se rigting om haarself nogmaals te gaan voorstel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top