Alba Bouwer (1920–2010)

  • 2

Sêgoed van Alba Bouwer

“En toe het ek geleer, so sonder my man en met my twee nuwe kinders, ’n mens moet werk vir ’n kind se liefde. Ek wens ouers met eie kinders kan daardie les leer. Jou kind se liefde kom jou nie sommer net toe nie.” (Saffier, Mei 1985)

“’n Baie belangrike insig wat jy kry soos jy ouer word, is: iets wat jy liefhet, verloor jy nooit nie. ’n Plaas wat jy met jou kinderlewe joune gemaak het, bly in jou. As jy ’n mens verloor wat jy baie liefhet, verloor jy nooit die beste deel van wat daardie mens aan jou gegee het nie.”

“Een van die lekkerste dinge vir my is om met my kleinkinders te gesels, al is hulle nog klein. Só ontdek ’n mens ’n heeltemal nuwe wêreld waarvan jy nie geweet het nie. Dit gee my ’n kyk op die werklikheid van nou. As ’n mens ouer word, moet ’n mens versigtig wees dat jy nie ’n bietjie eenkant van die werklikheid staan nie. Kinders van vandag sien die wêreld mos heeltemal anders as ons.” (Saffier, Mei 1985)

“Ek sê altyd hoe ouer ’n mens word, hoe ’n groter werklikheid word genade vir jou. Daar is geen definisie van genade nie, maar vir my is genade die wieletjies wat jy kry as jy voel nou kan ek nie meer loop nie. Die Here sit daardie wieletjies onder jou voete – en dan loop jy weer. Dit is genade.” (Saffier, Mei 1985)

“Die Here gee vir ons kursusse hier op aarde en jy moet weet dat elke ding wat met jou gebeur, deel is van jou spesifieke kursus – op geen ander manier kan die Here vir jou geestelik leer nie. Jy moet dankbaar wees vir wat jy kry.” (Saffier, Mei 1985)

“Ek het nog nooit gaan sit en dink nou moet ek ’n boek skryf nie. Dinge dring hulle aan my op. Dinge wat gedoen moet word en gesê wil wees en wat my hinder en by my bly spook totdat ek dit aanpak en afhandel.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“Ek is baie lief vir mense, maar veral vir kinders. ’n Kind se blindings is nog so oop. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer trek jy die blindings rondom jou toe sodat ander nie kan sien wat binne-in jou aangaan nie.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“Die belangrikheid van goeie menseverhoudinge is die grootste lewenswaarheid wat ek geleer het. Goeie verhoudings met die mense rondom jou is die liefde wat jy aangee gedurende jou verblyf op aarde.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“’n Humorsin maak darem van jou ’n makliker mens om mee saam te stap en dit help jou deur die klipperige driwwe van die lewe en die ouderdom. ’n Verhaal oor oumense sou seker baie neerdrukkend kon word as daar nie ’n skeppie humor by is nie.” (Die Kerkbode, 20 November 1992)

“Kersfees herinner my aan die groot bevryding wat daar vir ons deur Christus gekom het, en bowenal aan die wonder van God se genade. Genade bly vir my ’n woord waarvoor ek nog nooit ’n bevredigende definisie kon vind nie, maar dis so ’n werklikheid in ’n mens se lewe. Niks kan jou beter daaraan herinner as die koms van Christus en die herdenking daarvan met Kersfees nie.” (Die Kerkbode, 20 November 1992)

“Hoe meer ’n mens die dood sien, dit naby jou ervaar, hoe makliker aanvaar jy dit. Hoe meer besef jy dis nie ’n verskrikking nie. ’n Onsekerheid, maar nie ’n verskrikking nie. En die dood is so ’n natuurlike oorstap na iets anders toe wat werklik is, wat bestaan.” (Beeld, 2 September 1993)

“’n Vrou moet altyd onthou dat sy op haar manier ’n bydrae kan lewer. Sy moet haarself nie onderskat nie, al is dit dat sy ’n goeie huisvrou is. Dis nie minderwaardig nie. Ons het elkeen iets om te gee. Ons moet bydra tot die goeie verhouding tussen mense in die land. Dit kan vroue doen, beter as die mans self. En ons moet ons geloof in God onomwonde uitdra.” (Sarie, 23 Junie 1993)

“Ek moes in my stuk lewe wat agter lê heelwat diep driwwe deur, maar daar was altyd die wonderlike genade waarvan ek bewus was. Daarby was my lewe nog altyd so ryk aan vriendskap en liefde dat ek nooit daarvoor sal kan vergoed nie, al lewe ek nog 75 jaar. Nee, rede om sinies te word, was daar nooit nie, rede om meer te probeer gee aan die ewemens, dit bly daar.”

“’n Goeie boek is ’n boek waarin die werklike en alledaagse lewe realisties weerspieël word. ’n Goeie boek is nie net vol helde nie. Niemand is óf wonderlik goed óf baie sleg nie en in ’n goeie boek is die mense doodgewoon. Goeie boeke kan jou ook leer om ander mense en hul probleme beter te verstaan.” (Oosterlig, 3 Maart 1981)

“Die langste reis vir elke enkele mens op aarde is die reis van mens tot mens. Dit is ’n reis wat in ’n leeftyd nooit voltooi word nie.” (Die Transvaler, 10 September 1982)

“’n Mens het maar jou kinders almal ewe lief, so is dit ook met die karakters in my boeke, Hulle lê my almal ewe na aan die hart.” (Kerkbode, 20 November 1992)

Gebore en getoë

Alberta Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 op ’n Vrystaatse plaas op die wal van die Renosterrivier in die distrik Vredefort gebore. Haar ma, Bertha Zeeman uit die Drakenstein, is agter haar broer aan na die Vrystaat, waar sy ná haar onderwysdiploma op ’n plaasskool skoolgehou het. “Die plaas het behoort aan ’n niggie van haar pa. Alba se ma het haar pa, Adriaan Bouwer, na die Anglo-Boereoorlog op die plaas ontmoet. “Hy was een van dertien kinders en het op sestien agter sy pa en ouer broers na die Boerekommando’s weggeloop. Maar in sy eerste veldslag is hulle saam met generaal Piet Cronjé by Paardeberg gevange geneem en na St Helena gestuur,” het Alba aan Anneke van Niekerk vertel (Sarie Marais,18 Junie 1986).

In 1995 het Alba aan Hanlie Retief (Sarie, 29 Maart 1995) vertel dat sy in ’n donderstorm gebore is. “My pa is te perd weg om die vroedvrou te gaan haal, maar die spruit kom af en hy moes óór. Hy stuur toe solank ’n ou swart vrou huis toe, maar toe dié by die huis kom, is ek klaar gebore. Te klein, te vroeg.

“En die swart vrou sê: ‘Hoe! Hy’s so klein, hy sal nie lewe nie, maar ons moet hom was, hy moet begrawe word.’ Sy het die water gebring, maar met die was skree die baba dat die wêreld dreun, seker omdat ek die gevoel gehad het dat hulle my dood wil hê, het my ma agterna vertel.

“Toe’s daar niks klere wat pas nie, want ek’s te klein. My ma moes my in doeke toedraai. En een van die groot dinge was dat my pa se trouring oor my armpie op en af kon gaan. My pa het later daarmee opgehou. Hy’t begin gesê hulle mors met sy kind, want al die bure het na hierdie klein dingetjie kom kyk. Dit was groot vermaak in die buurt, dié trouring wat kon op en af oor die kind se arm.”

Klein-kleintyd loop sy al, en praat sy al. Sy het altyd saam met haar pa veld toe gery op die bokkiekar, daar in die Vrystaat, dan sit hy haar kappietjie op en dan gaan sy saam met hom en dan hou hy haar vas. Een oggend ry hulle net so ’n draai, toe bring hy haar terug en sê dis te warm. Die middag het hy nie huis toe gekom nie. Hulle het hom onder ’n doringboom gekry, met die perde wat nog daar rondstaan. Hy het nog ’n paar dae gelewe na die beroerte-aanval en toe is hy dood.

Dit was toe Alba net ’n jaar en nege maande oud was, en haar ouers net drie jaar getroud. Haar ma moes dus haar lewe opnuut reël. By die tweemanskool op haar skoonpa se plaas was daar toe juis ’n vakante pos vir ’n onderwyseres en dit was die maklikste oplossing om met die klein dogtertjie by haar skoonouers in te trek en die onderwysbetrekking te aanvaar. Alba se eerste skooljare was op hierdie plaasskool en die jare op die plaas het die agtergrond verskaf vir haar twee Rivierplaas-boeke wat, soos sy self vertel het, ontstaan het uit haar heimwee na die plaas ná jare se woon en werk in Kaapstad.

Alba het in Klein koninkryk (Tafelberg) beskryf hoe haar oupa vertel het van haar pa: “‘Toe hy by my uitkom (op kommando), gee ek hom eers ’n deerlike loesing, en toe neem ek hom na generaal Piet Cronjé. Toe ons kort daarna by Perdeberg gevang word, word hy saam weggestuur Sintelena toe. Jare het ons daar gesit en daar het hy ook maar sy knak gekry. Dat hy so jonk dood is, is ook die Ingelse se skuld. Moet nimmer ’n Ingelsman vertrou nie, Oupa-se-kind. Net Emily Hobhouse. Sy was ’n Ingelse vrou, maar ’n Kristenmens. Gaan kyk sommer nou weer na haar portret in die eetkamer en sôre dat dit altyd hier bly hang.’

“‘Ja, Oupa,’ sê die kind. Sy sien in haar gedagtes ’n berg vol perde en heel bo-op die vrou op die portret in die eetkamer.”

Alba het in 1986 (Sarie Marais,18 Junie) aan Anneke van Niekerk vertel haar eerste beeld van ’n pa was dié oupa van haar. “Iets was fout met sy bene ná ’n lang ballingskap op St Helena. Vandat ek my verstand gekry het, het hy my teen die Engelse opgestook. Hy het gewoonlik op die stoep gesit en my so met sy kierie nader gehaak en dan stuur hy my na die eetkamer toe waar ’n groot portret van Emily Hobhouse gehang het.”

Alba se ma is op 6 April 1926 weer getroud, met Johannes Nel. Alba was toe ses. Hulle het na die plaas getrek waarop Stories van Rivierplaas later gebaseer is. Alba se broer Hendrik is hier gebore toe Alba sewe jaar oud was. Uit haar kinderdae hier het Alba die wonderlike gevoel van toegeneentheid tussen swart en wit mense onthou. Sy het die Sothovrou, ou-Melitie, onthou, hoe sy altyd verstaan het. En hoe sy Alba se Vrystaatse winterskurfte met ’n mieliestronkie moes wegskuur. En terwyl sy geskuur het, het ou-Melitie ’n storie vertel sodat die kind kon vergeet van die seerkry.

Op hierdie plaas was daar ook ’n Lulu. Lulu Diab het na ’n Katolieke skool gegaan en hulle het skoolklere, of gyms soos dit genoem is, gedra. Alba was so jaloers, want op die plaasskool het hulle gewone klere gedra. Haar ma het toe maar vir haar ook ’n gym gemaak.

Toe Alba twaalf jaar oud was, is haar stiefpa in ’n skietongeluk oorlede, vertel sy aan Nina Smit (Die Voorligter, Maart 1995). “Na sy dood het my ma teruggegaan na hulle ou familieplaas, Klein-Drakenstein in die Paarl, waar haar broer en suster gewoon het (die Bergplaas van Stories van Bergplaas). Daarna het ’n Babelse verwarring van vanne gevolg, want my ma se ongetroude broer en suster wat op die familieplaas tussen Franschhoek en die Paarl geboer het, die Zeemans, het ons kom haal om daar te woon. Sadewee in die stories is die familieplaas Hartebeeskraal in die Drakenstein, ’n omgewing met ’n streng tradisie.”

Alba het onthou dat haar ma lewenslank lief was vir woorde en dat sy dit onbewus, maar sterk, aan hulle oorgedra het. “In die verarmde Vrystaat ná die Anglo-Boereoorlog was boeke in ’n huis nie ’n vanselfsprekendheid nie, maar ons het dit altyd gehad – en geweet ’n boek is iets besonders en iets wat jy ook met eerbied behandel. Ek sien meermale my ma se gesig waar sy eendag buk oor ’n kis tuie wat my pa van ’n vendusie af saambring, ’n stowwerige boek uit die rommel haal, dit met haar voorskoot afvee en kopskuddend sê: ‘Om darem ’n boek so te behandel!’ Daardie boek was Sewe duiwels en wat hulle gedoen het door Ou Oom Jan.

“Ons het Ghwennie Barnveld en Genoveva gehad, Fanny Eden se Alleen op die wêreldGirls’ Manuals en Boys’ Manuals, Shakespeare se Complete works, Andrew Murray se boek oor die gebedslewe en so meer. Weggesteek agter in die rak was dr Van Schalkwyk se Raad in tyd van siekte, wat ek stiekem en sonder begrip probeer lees het, gefassineer deur die prentjies van manlike en vroulike binnegoed, opwindend geheimsinnig en onbegryplik.

“Later het Die Kleinspan van my Bolandse tante gekom, en my ma het geesdriftig daaruit voorgelees en die rektolle help maak. Toe kom sy eendag met die plan dat ons ons eie boek moet maak: die bladsye was van helderpienk plakpapier en die inhoud kleurprente, klaarblyklik advertensie-illustrasies wat my ma nugter weet waar gekry en met meelpap geplak het. Oor hierdie prente het ons saam met haar stories gemaak, baie opwindend. Die rooiwang-baba, byvoorbeeld, wat op sy plek in ’n tydskrif seker babakos geadverteer het, kon in die pienk boek die middelpunt word van ’n tragedie waarin hy eers hopeloos verdwyn en tevergeefs op baie plekke gesoek word, totdat sy laphoedjie op die plaasdam dryf … My groot speelmaat en medewerker aan die pienk boek was ’n meisietjie wat, soos ek, smiddae ’n bababroertjie moes oppas. Ek dink nie my ma was in haar skik met hierdie verbeeldingsvlug nie.” (Sarie, 6 Mei 1987)

In die Drakenstein het Alba se opvoeding ’n heeltemal ander wending geneem, het sy aan Anneke van Niekerk vertel. “My tante, ’n baie ingetoë mens, het met merkwaardige doelgerigtheid die Dra’enstein-tradisie tromp-op geloop. Dit skryf voor: jy gaan na die Strooidakkerk, word binne die kerkringmuur begrawe en stuur seuns na die Boys’ High en meisies na die Girls’ High. Sy het vir my by die meisieskool La Rochelle aansoek gedoen. Met die hulp van ’n afgetrede hoof en ’n medelid van haar van die ACVV, mej Martha Cillié, suster van prof Piet Cillié, is die byna onmoontlike gedaan. Ek dink daar het ek die saadjie van die ACVV ingekry.”

“My tante het my in die Engelse afdeling laat plaas. Haar rede was: ‘In hierdie land moet jy die Engelsman in sy eie taal te woord kan staan.’ Maar ek was byna dood. Ek was jonk vir my klas en om so vars uit ’n plaasskool in ’n groot skool met Engels te beland!”

Sy het nie goeie herinneringe gehad aan hierdie tyd toe sy alleen in die koshuis was nie. Sy het saam met die Joodse en Engelse kinders mathematics in Engels geneem en wanneer sy naweke op die plaas gehuil het, kon die huilbui nie lank aanhou nie, want haar ma het geglo mens moenie dinge doen om simpatie by ander mense te kry nie. “Jy teer nie op ander mense se jammerte nie. Haar ma het twee mans begrawe, maar sy was ’n vrolike mens, ’n trotse mens wat haar pyn binnetoe gedra het.”

Alba het later vertel van die skoolhoof, mej JJ Meyer, wat die reputasie gehad het dat sy “kwaai” was, maar met die terugkyk het Alba besef dat dit waarskynlik daarvandaan gekom het dat sy met niks minder as die beste tevrede was nie. “Haar eise was hoog, aan haarself en almal om haar.” (Sarie, 10 April 1985)

Alba was baie vreemd in die Engelse afdeling van die skool. Daar was dit mej Edith Aitken, haar klasonderwyseres, wat tot die redding van die jong Alba gekom het met haar onsentimentele en intelligente insig in ’n kind. Alba het mej Maria Münchmeyer wat verantwoordelik was vir Engels en Duits, se geesdrif altyd saam met haar gedra, asook haar ongeduld met kleinighede: sy het nooit aangedring op ’m klasbriefie nie en altyd gesê dat dit in die snippermandjie gegooi moes word. “Mej Kitty Dreyer het die droogste voorgeskrewe boek met vuur en geesdrif aangedurf en vir ’n kind wat vroeg al onder die betowering van die woord gekom het, was haar klasse hartsplesier.”

In La Rochelle het Alba al in haar standerd 9-jaar in die leerlingraad gedien. Sy het in 1936 op sestienjarige ouderdom gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná skool is Alba na die destydse Huguenot University College op Wellington wat later tot niet is. Daar was alles weer eens Engels, met selfs heelparty Amerikaanse professore. Hierdie kollege was in daardie dae by die Universiteit van Suid-Afrika ingeskakel en Alba was ondervoorsitter van die studenteraad. Sy het haar BA met Afrikaans en Duits en haar Sekondêre Onderwysdiploma verwerf.

Sy het vir vier jaar op Burgersdorp onderwys gegee en daarna by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Sy het toe haar weg gevind na die joernalistiek by ’n blaadjie getiteld Die Huishouding. Vanaf 1948 was Alba vir twee jaar die tannie van die Kaapse kinderprogram oor die radio en in 1950 het sy by Sarie Marais ingeval. Twee jaar nadat sy daar begin werk het, is sy as assistentredakteur onder Fred le Roux aangestel.

Uit hierdie jare het haar jare lange vriendskap met Audrey Blignault gedateer. Alba het onthou: “Elke dag het ons ’n ‘fruit lunch’ by Hildebrand gaan eet. Ek kan dit nou nog nie verdra nie, maar ons het nie geld vir iets anders gehad nie. So een keer in ses maande is ons baie deftig na die Grand-hotel. Dan het Audrey ’n pak sigarette vir die geleentheid gekoop. Ek kon nooit so lekker poef-poef nie, maar Audrey kon vir jou met styl rook, hoor!”

Terwyl Alba joernalis was, het sy haar eerste man, Hubert Coetzee, ontmoet. Hulle is in 1962 getroud. “Om met ’n wewenaar met ’n dogtertjie van elf en ’n seun van dertien te trou, het baie aanpassings geverg,” het Alba aan Nina Smit vertel. Toe hulle getroud is, het almal gesê: Waag jy dit? ’n Man met tieners? “Maar hy was ’n baie besonderse man, ’n besonderse pa. Hy is in 1969, ses jaar na ons getroud is, dood.”

In 1975 is Alba met Jan Hofmeyr, ’n prokureur van Riversdal in die Suid-Kaap, getroud en hulle het hulle op Riversdal gevestig. Jan en Alba se eerste man was saam op universiteit en hulle was vroeër jare huisvriende. Jan was vir dertig jaar getroud met pres MT Steyn se kleindogter, Tibbie van der Merwe en ná haar dood in 1969 was hy ’n alleenloper. Behalwe Leon en Annelette, die kinders wat sy van haar eerste man “geërf” het, het sy ook die vyf seuns van Jan ryker geword. Die seuns het almal dieselfde beroep as hulle vader gekies. Alba het haar huis in Oranjezicht in Kaapstad verkoop en op Riversdal ingetrek in ’n splinternuwe huis wat Jan laat bou het.

Sy het aan Rachelle Greeff (De Kat, Januarie 1993) vertel dat om jou lyf op ’n plattelandse dorp skrywer te hou, ’n “ander besigheid” is, al het hulle haar in 1987 ereburgerskap van Riversdal gegee. Die gemeenskap verwag ’n betrokkenheid van jou, nie afsondering in ’n “werkkamer” met baie boeke maar sonder telefoon nie. Veral van haar wat 23 jaar lank in die ACVV-hoofbestuur was en tot 1993 dorpsvoorsitter was. “Maar die energie en konsentrasie om elke keer weer terug te kom in die ander wêreld, die een waarin jy jouself moet verplaas. Om dit vir mense te verduidelik, is moeilik. Dis mos nie soos om agter die naaimasjien te sit, ’n naat te stik, op te staan en later kom sit en stik jy net verder nie.”

Jan is in Februarie 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Hy en Alba het sedert 1996 in die Helderberg Village aftree-oord op Somerset-Wes gewoon. Hy is op Riversdal begrawe.

Agterna, bieg sy teenoor Hanlie Retief (Saffier, Mei 1995), was sy bly dat sy nie eie kinders gehad het nie. Dis moeilik om “stief”-kinders saam met ’n eie kind groot te maak. “Vir Annelette het ek eendag ’n stukkie rooi koordferweel by die groothandelaar gekoop vir ’n rokkie. “Waag jy dit om vir jou kind rokmateriaal te koop?” wou ’n vriendin verbaas weet. Maar vir Annelette was dit baie mooi, en ek het haar vertel wat die vriendin gevra het. En hoe ek geantwoord het ek dink die dogtertjie by die huis sál daarvan hou. Toe het Annelette my met ronde oë reguit aangekyk en gesê: “Volgende keer sê Mammie vir haar: ‘My dogtertjie sal daarvan hou.’ Moenie weer sê ‘Die dogtertjie by die huis’ nie.’” Annelette is in 1994 op veertigjarige ouderdom aan kanker oorlede en dit was die grootste verdriet wat Alba nog gehad het, want haar kinders het haar vriende geword ná hul pa oorlede is.

In 1950, toe MER 75 geword het, het Fred le Roux vir Alba saam met Rykie van Reenen Swellendam toe gestuur om die viering namens Sarie te gaan bywoon. Dit was vir Alba ’n wonderlike dag en daarna was sy dikwels by ta’ Miem (Boekewêreld, 18 Mei 1994): “MER was die eerste en enigste vroueredaktrise van Die Burger en sy was een van die groot seëninge wat die Here oor my pad gestuur het. Sy was ’n baie eenvoudige mens, maar terselfdertyd ’n gebore filosoof met besondere wysheid en ’n vlymskerp verstand. Haar eenvoud, opregte eerlikheid en diepsinnigheid het ’n geweldige invloed op my gehad. Rykie en ek het baie naweke by haar op Swellendam gaan kuier, veral as ons vraagstukke gehad het wat ons nie kon oplos nie. Sy het altyd doodstil na ons gesit en luister, maar die volgende oggend het sy vir ons ’n antwoord gehad. Sy was geweldig skerpsinnig, sy kon dwarsdeur jou kyk en ’n mens kon niks vir haar wegsteek nie. Die hele ding van eenvoudig skryf, het ek van haar gekry. Sy het altyd vir Ruskin aangehaal: ‘Have something to say, and say it as clearly as possible.’”

Dit was ook deur MER dat Alba betrokke geraak het by die ACVV. “Ta’ Miem was baie betrokke by die ACVV. Sy was jare lank reisende sekretaresse op die platteland waar sy wonderlike ontdekkings gemaak het. Sy het vir my ’n pragtige ding geskryf oor die klinieke wat die ACVV in haar tyd op die platteland gestig het waar behoeftige vroue kon kraam – hulle tarief ’n hoendertjie, ’n mandjie vol eiers.

“Sy het gesê ’n vrou wat gewoond is om haar in haar eie huis af te sloof en wat dan tien dae lank die voorwerp van aandag en sorg is, word nie net liggaamlik gehelp nie, maar ook geestelik. Dit is ’n kosbare les vir ’n opvoeder om te weet dat sy die moeite werd is om die voorwerp van aandag en sorg te wees.

“Ta’ Miem het nooit vir my gesê om by die ACVV aan te sluit nie. Ek het uiteindelik gevoel ek sal baie graag te doen wil hê met hierdie vereniging wat gemaak is deur mense soos MER en Anna Geyer. En vir my is dit ’n stimulerende ervaring wat ek vir g’n geld ter wêreld wou misgeloop het nie.”

Alba se skrywersloopbaan het in 1954 begin toe Landbouweekblad haar gevra het om ’n reeks stories vir hulle kinderrubriek te skryf. “In daardie stadium het ek vreeslik heimwee na die Vrystaat gehad en toe gaan sit ek en skryf Stories van Rivierplaas sommer so reguit sonder om eers te dink. Voor ek dit vir Landbouweekblad kon gee, lees een van die redaksielede van Sarie dit en gee dit vir Fred le Roux. Die volgende dag kom hy na my toe en sê: ‘Ek is baie jammer, jy kan die stories nie vir Landbouweekblad gee nie, ek gaan dit in Sarie publiseer.’”

Kort daarna het iemand eendag vir Katrine Harries by Sarie se kantoor aangebring. Sy en haar Joodse ma moes tydens die Tweede Wêreldoorlog vlug uit Berlyn waar sy ’n kunsdosent was, en sy het baie gesukkel om werk te kry. Fred le Roux het na haar sketse gekyk en vir haar Stories van Rivierplaas gegee om te illustreer. Alba het altyd onthou hoe hulle hulle aan Katrine se sketse verwonder het: “Ons was skoon verslae. Dit was só mooi.”

Alba het deur die jare haar verbintenis met die vrouetydskrif behou. “Ek kyk na die vrouetydskrifte om te sien hoe die posisie van die vrou verander het,” het sy aan Anneke van Niekerk vertel. “In my tyd by Sarie was dit soos die Engelsman sê ‘not quite nice’ vir ’n vrou van aansien om buitenshuis te werk nie. Vandag het dit natuurlik heeltemal verander, maar dit lyk my ons sit nog altyd met ’n dilemma: die man wil nie onder ’n vrou werk nie!

“Wat ook verander het, is dat maatskaplike werk wat altyd met behoeftige mense geassosieer was, nou in ’n groot mate onder die meer gegoede mense lê. Werkloosheid bring materiële nood. Maar daar is ook geweldige geestelike nood en die grootste hiervan is huweliksverbrokkeling. Ek kan nie vir jou sê watter afmetings dit aanneem nie, selfs op ’n dorp soos Riversdal. Huwelike verbrokkel onder die spanning en lei ook tot dwelmverslawing onder adolessente en toenemende tienerswangerskappe.”

In 1955 is Stories van Rivierplaas in boekvorm uitgegee. In die voorwoord het MER geskryf: “Uit die gewone moederaarde onder onse voete word gehaal die gekristalliseerde edelstene. Eg en skoon is hulle tot voortdurende plesier vir die mense, een geslag na die ander. Uit die gewone daelikse lewe, uit die omgang onder mense – ouer met kind, maat met maat, baas met kneg, huismense met diensmense – kom onse lafenisse, onse vreugdes, en onse voordeel. Daar is van ons wat sulke vreugdes en lafenisse weer kan ophaal uit die verlede, gekristalliseer, eg en skoon, vir almal tot voortdurende plesier. So ’n plesier vind ek en baie ander in hierdie stories van onse eie mense se daelikse lewe, op Rivierplaas.”

Felix Lategan het in Die Huisgenoot van 20 Junie 1955 geskryf dat Alba Bouwer een van die gelukkiges is wat ou vreugdes opnuut kan laat leef, ook vir ander. “In hierdie sketsverhaaltjies van ‘onse eie mense se daelikse lewe’ op die oop ruimtes van die Vrystaat het sy vreugdevolle beelde uit haar eie kleindogtertjie-dae opgediep – beelde wat noodwendig in die fluïdum van die herinneringsverbeelding in geïdealiseerde vorm uitkristalliseer, en dié laat sy deur haar eenvoudige, kinderlike vertelling leef. (…)

“Deur haar indieping in die kindersiel herinner Alba Bouwer aan die groot Nederlandse uitbeeldster van die kindergemoed Ina Boudier-Bakker, net soos haar idealiserende instelling op die dierbare dinge van die plaas wat aan die verbygaan is, aan Boerneef se Boplaas-sketse laat dink en haar simpatieke skepping van die menslike ou-Melitie aan Franz se Moeder Poulin.

“Die wêreld van Alie en ou-Melitie en die ander mense van Rivierplaas is nie groot of groots nie, maar dit is innig en eg, en dit raak die universele omdat Alba Bouwer in haar uitbeelding iets van die algemeen-menslike raakgevat het. Daardeur het sy op die gebied van die kinderuitbeelding ’n positiewe bydrae tot ons letterkunde gelewer.”

In Stories van Rivierplaas vind ons Alie en haar beste maat Lulu wat saam met die kinders speel en ook kaal-kaal die asdans dans. Ons lees van Alie wat eiers uithaal of na die melkery loer oor die kraalmuur. Alie en Lulu het heerlik in skeertyd die wol in die baal ingedra. Hulle stap met hulle leie en griffels en hulle botteltjies leiwater na die plaasskool en die lekkerste vir die jong Alie was om gedurende die vakansies saam met ou-Melitie en klein-Melitie en Sanna in die oggendson poetoepap te eet en te gesels.

Alie gaan kuier soms by haar ouma op Brakfontein waar daar “drie lekker dinge” was: die bulsakkie waarop sy snags slaap, die donkiekarretjie wat haar skool toe ry en saans wanneer hulle rondom die vuur van mieliestronke by die swart stoof in die kombuis sit. Ou-Melitie, oom Jan en tant Lenie, outa Hoppies, Kommetjie se kalfie, juffrou Barnard, die Engelsman wie se graf op Brakfontein is, saam met nog enkele ander, is die omvang van Rivierplaas se klein wêreldjie.

En so het Alba haar merk gemaak in die Afrikaanse letterkunde, want hoewel Rivierplaas vir kinders geskryf is, word dit net soveel deur volwassenes geniet. Dit is dalk, soos Elizabeth Tredoux (Sarie Marais, 15 Junie 1955) geskryf het, omdat ons grootmense so mettergrootword hierdie kindergawes verloor of verslyt het – om ons so ver weg gedwaal het van die tyd toe die muur tussen werklikheid en verbeelding waarlik niks dikker as ’n melkdoek was nie – dat dit vir ons so wonderlik is om, al is dit net vir ’n paar kwartiertjies, weer terug te glip in daardie paradys waaruit die vlammende swaard ons verdrywe het. “Hoe tam en drooggepers mens ook al is, ná ’n teugie Rivierplaas moet jy eenvoudig weer verkwik voel.”

Vir Audrey Blignault (Huisvrou, 26 Julie 1955) is die “wesenlike kenmerke van Stories van Rivierplaas die egtheid van siening en uitbeelding, die warmte van menslike omgang in mooi menslike verhoudings op verskillende vlakke van die alledaagse aanraking, en die heel besondere vermoë van die skryfster om die stemminge en ervaringe van die verlede so oortuigend en onmiddellik te laat herleef dat ’n mens werklik voel asof jy dit nou weer alles net so sien en belewe. Vir my lê die eintlike plesier van die boek in sy inhoud: die fyn, deurleefde uitbeelding van die kinderlewe op ’n Vrystaatse plaas en die wonderlike skepping van stemming en atmosfeer soos ’n fyngevoelige, ontvanklike kind dit ervaar en onthou het.”

Die opvolg, Nuwe stories van Rivierplaas, is in 1956 gepubliseer en volg die lewe van Alie die laerskoolkind met onveranderde ideale: om met pronkhaarvlegsels te spog, om deur haar voortande te kan spoeg en om dik bene te besit as kompensasie vir haar bynaam Alie Spykerboud. Al die ander karakters is nog daar: Lulu, ou-Melitie en die ander grootmense.

Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas was albei blitsverkopers en is in 1959 bekroon met die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Alba was die eerste vrou wat die toekenning ontvang het. Haar voorgangers was PJ Schoeman, Mikro en WA de Klerk. In 1959 was Stories van Rivierplaas al in sy vierde druk en Nuwe stories van Rivierplaas in sy tweede druk.

In 1958 het Alba nog ’n karakter geskep wat vir homself ’n plek in die Afrikaanse letterkunde gevind het: Abdoltjie. AM Uys (Huisgenoot, 13 Maart 1959) het die koms van Abdoltjie, soos hy in Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap verskyn het, as ’n belangrike gebeurtenis vir die Afrikaanse kinderlektuur beskryf – “nie net omdat dit heerlike stories vir kinders is nie, maar omdat dit goed geskryf is – en met fyn gevoel. Ook omdat dit voldoen aan die eise wat aan alle goeie literatuur gestel word.

“’n Mens neem hom sommer gou aan, die bruin figuurtjie wat so ingedagte voel-voel aan die kofiatjie op sy kop. ‘Want kyk,’ vertel Alba Bouwer, ‘Abdoltjie is ’n Maleise kind’ – kind, ja dit is hy, heerlik natuurlik en oortuigend. In daardie suiwere kinderlikheid lê die voortreflikheid van hierdie stories: g’n neerbuigende ‘skrywe vir kinders’ nie, g’n sentimentaliteit van die volwassene oor die vervloë kinderdae nie, maar ’n herskepping van die kinderwêreld, suiwer en opreg. Daarom is dit, soos alle goeie kinderlektuur, leesstof waarin ook volwassenes plesier vind. (…)

“Deel van die genot wat hierdie boekie verskaf, is die mooi uitgawe. In ’n aantreklike, stewige band is dit keurig versorg; en die illustrasies deur Katrine Harries is louter plesier. Eindelik kry ons ’n kinderboek met tekeninge wat ’n goeie teks waardig is! Die tyd moet nog openbaar hoe die kinders self oor die verhaaltjies oordeel. Een ding is seker: ‘Abdoltjie’ is nie net stories nie – hy is ’n egte mensie, ’n stukkie van die ou Kaap, waarvoor ons Alba Bouwer dankie sê!”

WEG Louw het in Die Burger van 22 Desember 1958 geskryf dat hy hierdie stories hardop aan sy kinders voorgelees het, “want die stories is só mooi dat ’n mens hulle soos verse hardop moet lees, om elke klank te hoor, om elke woord as ’t ware te proe.

“Reeds as ’n mens dié boekie in die hand neem en jy Abdoltjie met die rooi kofiatjie vóór op die buiteblad sien, ’n paar hotnotsvygies, ’n silwerboompie en die lang rug van Seinheuwel met Leeukop en Tafelberg met sy wolk op sy kop doer ver op die agtergrond en ’n allersimpelste klein skippie op die see tussen die twee kruine, soos Katrine Harries dit op die buiteblad geteken het, dan weet jy: dit gaan iets besonders wees!

“Katrine Harries se 22 tekeninge by dié teks pas dit soos ’n handskoen die hand. En daardie klein kofiatjie agterop, wat ’n heerlike vonds! Die wêreldjie wat Alba Bouwer tussen dié twee omslae voor ons geestesoog oproep, is eintlik ’n sprokieswêreld. (…)

“Daar word teenswoordig baie oor ons prosa gekla, en met reg. Maar dit weet ’n mens, na jy dié boekie sorgvuldig gelees het: geleerde en grys koppe, dom doktore en astrante kritici, kan hier kom leer hoe mooi en eenvoudig ’n mens Afrikaans kan skryf! (…)

“Die speelse fantasie van dié verhaaltjies, die seldsaam sjarmante gebruik van Afrikaans – beurtelings algemeen beskaafd, beurtelings dié van die Slamse mense – met fyn, ritmiese sinne en al die ander elemente wat ’n mens van ’n goeie kinderverhaal verwag: inkanterende herhalings, opsetlike omslagtigheidjies, omskrywinge en so meer, maak dié boekie ’n kosbaarheid wat ’n mens vandag nog aan álle kinders, oud en jonk, vir Kersfees present wil gee.”

Alba het altyd gesê sy kan nie ’n gunsteling onder haar boeke kies nie, want hulle is soos haar kinders – jy’t almal ewe lief. Maar dit klink tog of Abdoltjie die een is wat haar die naaste aan die hart lê, het sy aan Rachelle Greeff in De Kat van Januarie 1993 vertel: “Dis die boek waaraan ek die maklikste geskryf het. Dit het begin toe ek gehelp het met ID du Plessis se Bo-Kaapse kore. Ek het met van die Maleiers bevriend geraak. Daar was ’n seuntjie wat so stip in die kersvlam op die tafel gekyk het en nie geëet het nie. Bokke wat teen Seinheuwel gewei het. En volmaanaande wat ons Leeukop geklim en ’n waatlemoen daarbo gesny het.

“Is dit nie wonderlik hoe ’n hele storie so half in jou aangerol kom nie. Hoedat net één stemming ’n ratjie in jou laat losspring. Dis ongelooflik, maar dit is so.”

In 1960, die jaartal wat so intrinsiek verbonde is aan vernuwing in die Afrikaanse prosa, skryf Elize Botha, verskyn ’n versamelbundel van sketse en essays, met die titel van een van MER se sketse wat daarin opgeneem is, as bundeltitel: Die dammetjie. Die ander bydraes was van Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde, Elise Müller en Rykie van Reenen. In literatuurbeskouings is later van dié groepering gepraat as “Die Skool van MER”; MER het hulle “haar Kaapse kinders” genoem – geesverwante in wat Elise Müller met verwysing na MER genoem het “dié deernis met die mens, dié eerbied vir sy aard”, ook in hul sorg en opmerksaamheid vir die natuur, in die skerp waarneming van landsomstandighede.

“Die skeppende energie wat in hierdie bedrieglik kleinbenoemde dammetjie bymekaargebring is, het óók in hierdie ‘episode van vernuwing’ die landskap van die Afrikaanse letterkunde gevoed, en na die mense, groot en klein, wat Afrikaans-lesers is, oorgevloei.”

In 1961 het Katrientjie van Keerweder haar opwagting op die Afrikaanse kinderboektoneel gemaak. Volgens Rykie van Reenen (Die Burger, datum onbekend) het Alba Bouwer met Katrientjie ’n kinderkarakter geskep het “wat op dieselfde bankie kan sit as Alie en Abdoltjie, maar sy het speel-speel die driekuns verwerf. En het sy met Katrientjie van Keerweder ’n karakter geskep wat ’n plek in kinder- en grootmensharte sal hou solank as wat Afrikaans gelees word.

“En dan is daar ook Tina Tierat, wat by ou-Melitie kan kers vashou. Tina Tierat wat op ’n oggend haar nô Trinatjie met ’n verestoffertjie in die nek wakker kielie en in eie persoon al die ongeërgde gevatheid, al die vrolike onafhanklikheid van gees, al die gulle kinderliefde en -begrip van die Bolandse bruin mense saamvat. “Daar kan g’n beter gedenkteken opgerig word nie vir die goeie verhoudinge wat onder ’n nou uiteraard verbygaande bedeling hier in die Boland tussen wit en bruin geheers het as dié onpretensieuse kinderboekie, wat soveel meer is as net ’n kinderboek. (…)

“Baie op die patroon van Abdoltjie is Katrientjie ook ’n boek wat enersyds onverbeterlik die intieme, besige wêreldjie van ’n kleintjie herskep, en andersyds selfs ’n verstokte groot mens terugvoer na die helaas vir ons verlore tyd toe die grense tussen wat sig- en tasbaar is en wat in die verbeelding leef nog nie so onverbiddelik was nie. (…)

“Dis ’n verdienste van die boekie dat die oorgang tussen die wêreld van werklikheid en die wêreld van fantasie deurgaans so ongedwonge is. Oor die letterkundige gehalte van Katrientjie sal die literatore ter gelegener tyd weer hul dissertasies lewer. Intussen: ek ken min skrywers wie se taal hul gedagtes so moeiteloos pas as wat by Alba Bouwer die geval is. Sy is – met ’n vonkeling in die oog – een van die allerfynste waarnemers wat ons het en haar woorde kan altyd byhou om nie net wat sy sien nie, maar ook wat sy hoor, straallewendig vir haar lesers te herskep.

“Inhoud daar gelaat: Katrientjie van Keerweder is stellig die bes-versorgde volkome Suid-Afrikaanse kinderboek van die jaar. Dit bring ’n mens (jammer so laat) by Katrine Harries, wat vir die soveelste keer as spanmaat van dié skryfster medeskepper was van iets werklik pragtigs. Niks minder as medeskepper inderdaad kan ’n mens ’n kunstenaar noem wat met sulke volmaakte aanvoeling ’n skryfster se presiese nuanse van waarneming weergee nie.”

Katrientjie van Keerweder is in 1961 deur die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging met die CP Hoogenhout-medalje bekroon as die beste kinderboek wat in 1961 verskyn het. Dit was die eerste keer dat hierdie toekenning gemaak is. Die beoordelaars het in hulle motivering geskryf: “Die agtergrond van die verhaal is tipies Suid-Afrikaans. Keerweder is ’n Bolandse plaas wat binne-in die dorp lê met ’n laning dennebome wat teen die ysterhek vasloop. Katrientjie is ’n dikkerige krulkopdogterjie wat met haar pa, ma en Ouboet op Keerweder woon. Ouma Vrystaat wat ‘nie sommer net ’n dikketjie, maar ’n regte potjie-dotjie-ronde-rol’ is kuier ook op die plaas. Besonder treffend is die karaktertekening van Tina Tierat met haar spontane vrolike geaardheid, raak sêgoed en liefdevolle behendigheid met kinders. En dan is daar nog die Oupahorlosie wat ‘sy blink ure van mooi dinge’ en sy ‘vaal ure van lelike goed’ agter sy groot gesig bêre en hulle net aan dié klein dogtertjie openbaar.”

“In die verhaaltjie is ’n kombinasie van droom en werklikheid. Dit handel oor ’n dogtertjie wat midde in die daaglikse boerelewe staan, maar wat telkens deur die Oupahorlosie en die beminlike kleurlingbediende na ’n heerlike storiewêreld weggevoer word. Maar hoe uitmuntend slaag die skryfster nie daarin om die oorgang van werklikheid na dié van fantasie ongedwonge en oortuigend te laat plaasvind nie! Die fyn oorskakeling tussen droom en werklikheid getuig van ’n geniale verbeelding en ’n gawe van die skryfster om haar in die ervarings- en verbeeldingswêreld van die kind in te leef, daarmee een te word en dit te verwoord. So doen die gebeure dan nooit oneg aan nie, of is daar die gevoel dat die karakters marionette is nie, maar in moeitelose, onopgesmukte taal word gedagte en handeling uitgebeeld.” (bron onbekend)

In haar toespraak by geleentheid van die oorhandiging van die medalje het Alba gesê dat die geleentheid haar herinner aan ’n gesprek wat sy nie lank voor die geleentheid nie met ’n bejaarde Basothovrou in die Vrystaat gehad het (bron en datum onbekend). “Ek het haar gevra om my van die ou Sothoverhale uit haar kinderjare te vertel. Sy doen dit toe en vra my of ek nog hou van die stories wat ’n kind se stories is.

“‘Ja,’ sê ek, ‘ek hou nog van die stories wat ’n kind se stories is. Hou jy van hulle?’

“‘Ja,’ sê sy toe, ‘ek hou ook nog van daardie stories, maar nou sal ek vir die nonnie iets sê: As ’n mens nog ’n kind is, is jou hart groen soos die somerveld ná die reën en daar is baie weiplek vir die klein diertjies en klein goggatjies. Nou, party mense word groot en hul hart word oud en moeg en droog soos die wit gras van die winter en al die klein goggatjies en diertjies gaan dood. Maar ander mense word weer groot en hulle hart word oud, maar bly groen soos die somerveld na die reën en daar bly altyd plek vir die klein diertjies en goggatjies.’

“Dit was vir my ’n pragtige beeld van die mense wat die droomwêreld van hul jeug verloor soos hulle ouer word, en van dié wat dit behou en altyd iets oor het van die drome en vir die drome van ’n kind. En nou wil ek vandag in die heel eerste plaas dankie sê aan dié mense in die SA Biblioteekvereniging wat daardie groen somerveld van die kind in hul hart behou het en by wie dus die gedagte kon ontstaan vir die instelling van hierdie toekenning vir die kinderboek.

“Die Afrikaanse kinderboek, dit wil sê die boek vir die kind onder twaalf, was geslagte lank die verwaarloosde weeskind van sowel uitgewers en boekverspreiders as boekkopers. (…) Gelukkig het daar die afgelope jare op die gebied ’n groot kentering gekom en die instelling van ’n toekenning soos hierdie, gee nie alleen beter status en groter waarde aan die Afrikaanse kinderboek as sulks nie, maar is ook vir uitgewers ’n uitdaging en vir skrywers ’n nuwe stimulus.

“Baie dankie ook aan die beoordelaars wat Katrientjie, die dikketjie, geweeg en swaar genoeg bevind het vir hierdie toekenning. Sy voel nie alleen geëer nie, sy voel ook baie dankbaar dat sy daardeur indirek tot die bevordering van die saak van beter boeke vir ons kinders kan bydra. Baie dankie ook vir al die mooi en goeie wat hier van haar gesê is. Sy herken die beeld van haarself byna nie, maar sy stel dit baie hoog op prys.

“In die tweede plaas ’n spesiale dankie aan my ou spanmaat Katrine Harries sonder wie Katrientjie nie Katrientjie sou gewees het nie en nooit hierdie toekenning sou verwerf het nie. Die helfte van die eer van die toekenning gaan aan haar en ek is bly dat sy vandag hier is sodat ek dit voor getuies aan haar kan sê.”

Nadat Alba Tafelberg Uitgewers en by name Leo van der Westhuijzen en JD Pretorius vir hulle bydraes bedank het, het sy afgesluit: “Ek wil graag vir u aanhaal wat Astrid Lindgren, ’n bekende Europese skryfster, by geleentheid gesê het: ‘Alle groot dinge wat in die wêreld plaasgevind het, het allereers in iemand se fantasie tot stand gekom, en hoe die wêreld van môre daaruit sal sien, hang in groot mate af van die krag van die verbeelding van hulle wat op die oomblik leer lees. Daarom moet kinders boeke hê en daarom moet daar mense wees wat werklik ’n oog het vir die soort boeke wat die kind in die hand gelê word.’

“Baie dankie aan almal in ons biblioteke wat daardie oog het en werklik omgee watter soort boeke ons kinders in die hand gelê word.”

Katrientjie van Keerweder is in 1965 saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck met die Scheepersprys vir Jeuglektuur bekroon.

Stories van Ruyswyck, wat in 1963 gepubliseer is, neem die verhaal van klein Alie verder. Sy gaan nou kosskool toe en moet leer om aan te pas by nuwe mense en ’n lewe wat baie anders is as dié wat sy op die plaas geken het.  Die sêgoed en die hele siening van die kinderlewe en die grootmense is fris en onbedorwe, maar nooit naïef nie. En dit is waarom soveel mense van verskillende ouderdomme ewe lekker hieraan sal lees.

Stories van Bergplaas is ook in 1963 uitgegee en RN (Die Burger, 20 Desember 1963) beweer weer “dat ook hierdie boek van Alba nie soseer vir kinders bedoel is nie, maar wel ook vir grootmense wat nog iets van hul kinderlike verbeelding oorgehou het of wat oud genoeg geword het om weer aan hul kinderdae terug te dink. Miskien ook vir mense wat nog van mooi dinge hou, want daar lê ’n waas van skoonheid oor die boekie.

“Dit vertel van Grietjie wat deur die klank van woorde getoor word, en haar meer aardse broertjie Bramie, die bruin kinders Klein Willem Houtmens, Jaffie en Diksiel, en Trui met Dingetjie op haar heup – dis die kinders van Bergplaas. ’n Paar van die grootmense is tant Letta en oom Koos, ou Jafta, die liewe ou outa Warie, met sy bruinmenswysheid, en ai Nonkie. Daarby kom Lappies, die hondjie, en die ou hoenderhaan, Steier, wat deur sy koppigheid ’n ontydige dood vind.

“Hierin is ’n poësie aanwesig en so waaragtig as dié in enige gedig waaraan ’n mens kan dink. Het Rilke in sy briewe aan ’n jong digter nie vir hom met nadruk aangeraai om die weg na sy kinderland terug te vind nie, dié ware en onuitputlike bron van álle poësie?

“Maar daar is, intiem en byna onopsigtelik met dié verruklike poësie van die aarde vervleg, ook morele standpunte aanwesig, waarmee ’n mens nie anders as rekening móét hou nie: die wedersydse vriendskap en trou tussen blank en bruin plaaskinders; die strenge en tog werklik begrypende geregtigheid in die optrede teenoor nie-blankes in die algemeen. Dit is ligpunte dié in ons menslike verhoudinge, waarvan buitestaanders gewoonlik niks begryp nie.

“Terwyl ’n mens Stories van Bergplaas lees, kry jy in toenemende mate ’n gevoel van opwinding: dis mos beter as alles wat Alba Bouwer al ooit geskryf het – nie heeltemal so naïef as die mooi Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas nie, ryper en nader aan die werklikheid as die byna fantastiese Abdoltjie, nie so beperk aan tyd en plek as Stories van Ruyswyck nie. Kortom, ek voel in hierdie stadium absoluut oortuig daarvan; dis Alba Bouwer se mooiste, mooiste boek!

“Ek was jare lank jaloers op boeke soos dié van Eleanor Farjeon in Engels, maar Stories van Bergplaas is mooier: daar is duursamer kwaliteite daarin en dis wesenlik beter geskryf!”

Dirkie van Driekuil het in 1966 sy verskyning gemaak en hy is beskryf as ’n “waardige saamstander” in die ry van heerlike, woelige persoontjies wat Alba Bouwer vir klein lesers en nog-nie-lesende luisteraartjies in die lewe geroep het. VDB (SA Beeld, 23 Oktober 1966) het die stelling gemaak dat Dirkie van Driekuil een van Alba se beste kinderboeke nog is en beslis haar digterlikste. “Dit het die lewegewende verbeelding, die kleur-oorbruggende menslikheid, die humor, die speelsheid, die raak waarneming, die onuitblusbare plesier in woordklank en veral dialoog wat haar vroeëres ’n lus gemaak het. Daarby is dit of die kinderboekie dié keer met ’n ryper, dieper lewenswysheid pols. Maar van prekerigheid is daar nie sprake nie, en die geheel het die afgeronde eenheid van ’n klinkklare klein lied. (…)

“Want dit is die lewenshouding wat onopdringerig hierdie Alba Bouwer-boeke ten grondslag lê wat hulle onbetaalbare besit maak vir die Afrikaanse kind. Die illustrasies en die pragtige skutblad en omslag is deur die skryfster se ou spanmaat, Katrine Harries. ’n Mens kan van ver sien hoe diep Dirkie en ou Koeneels ook in haar hart gekruip het.”

Op die program Oor skrywers en boeke (Anneke Keyter, 22 November 1966) van die Afrikaanse Diens van die SAUK is as volg gesels: “Met die natuur as leermeester, aan Dirkie vertolk deur die ou bruinman Koeneels, leer die kind begryp dat daar ’n seisoensiklus in die natuur sowel as in die mens se lewe is. Hy word bewus gemaak van ’n planmatigheid daaragter. Terselfdertyd leer hy die hartseer ken wat dit meebring, maar ook ’n positiewe aanvaarding van ’n ‘nuwere bedeling’.

“Toe Koeneels nie meer kon styfstaan vir wingerdwerk nie, moes hy werf toe. Alles was vir hom asvaal totdat hy besluit het: ‘ek sal gestuk nie vaal wees nie’. Hy het sy huisie se deur blou – ‘soos die April se lug oor die geelwingerde’ – geskilder en toe hy so tru staan, toe sê hy: ‘Nuwere bedeling ofte nie nuwere bedeling nie, maar waar is die vaal kolle nou?’ Hiermee begin vir hom ’n nuwe tyd van nuttigheid – ’n ander soort nuttigheid.

Dirkie van Driekuil wek die indruk van ’n ballade. Elke strofe bevat ’n ontwikkeling van die gedagte of van die verhaal en eindig óf met ’n soort refrein waaraan elke lid van die gesin deelneem, óf met ’n beskrywende afrondingsparagraaf wat net so herhaal word.”

Alba het haar tweede CP Hoogenhout-medalje in 1971 gewen met ’n Hennetjie met kuikens. Dit vertel die verhaal van Sarie, die wit kind, en Sara, die bruin kind, wat albei in die Goudstad woon: Sara in ’n klein grys huisie in Soweto en Sarie in ’n wit huis in een van die voorstede. En soggens wanneer Sarie se pappa en Sara se pa Ennereke albei werk toe is, vertel die wit mamma en die bruin mamma albei dieselfde storie aan hulle onderskeie dogtertjies. Sarie en Sara se mammas was as kinders maatjies.

MJM skryf in Volksblad (18 Mei 1972) as volg oor Hennetjie: “Die betonwoud staan tussen die grys huisie en die wit huis, maar die verhaal van die plaas en van Ma Matêba, van die Iemelaai, die hennetjie-met-kuikens en die liedjie van die rooi blom in die hart, van die boerseepreuk en die nuwe-melk-ruik, van die vuurhuis en die poppe-met-die-stokkies-lywe bly aan weerskante van die woud voortleef: sprokiesmooi en onvergeetlik. 

“Vir Sarie en Sara sou alles maar net ’n verhaal uit hulle mammas se kinderdae gebly het as die wit dogtertjie nie op ’n dag ’n nuwe hoed moes kry en die bruin dogtertjie nie op daardie selfde dag ma Polani se hennetjie-en-sy-kuikens wat so lekker na roet en strooisrook ruik, moes gaan verkoop nie.

“Hierdie kinderverhaal is ’n innige samevatting van waardes wat nie durf uitsterf nie, ’n samevatting van ’n leefwyse wat aan die wegvaag is en van menseverhoudinge soos wat dit tog kan bestaan. Dit is ook die verhaal van kindwees in die ware sin van die woord: van stilweg speel en grootoog luister en raaksien; die geniet van dinge wat onherroeplik sal verander. In die boek vind die leser die waardigheid en gelykwaardigheid van twee rassegroepe, die vrede wat daar in suiwer menseverhoudinge te vind is. Hierdie klankryke, nostalgiese verhaaltjie is méér as net ’n onvergeetlike storie. Ondanks – of miskien juis vanweë – die sober eenvoud daarvan, bevat dit ’n les in menseverhoudinge wat soos Saa-Saa-Saa-rie-tjie se rooi blom in die hart sal blom.”

In sy motivering vir die toekenning van die CP Hoogenhout-medalje het Carl Lohann gesê (Die Burger, 15 September 1972): “Soos in haar vorige werke gee die skryfster ook hier aan die leser ’n blik in die gevoelslewe van gewone, alledaagse mense. Maar dié kinderboek is nie gewoon en alledaags nie, omdat sy met soveel liefde en deernis ’n herskepping gee van die verlede, van ’n tydperk wat gekenmerk was deur ’n besonder mooi verhouding tussen mense. In hierdie waardige menslike verhoudings wys sy op die waarde van opregtheid en natuurlikheid in menslike omgang.

“Die verhaal val in drie dele, waarvan die eerste twee oënskynlik herhalings van mekaar is. Op ’n besonder vernuftige wyse word hulle egter inmekaargevleg, op so ’n manier dat hulle aanvullend tot mekaar is en die hele beeld eers deur albei saam blootgelê word.

“Die kenmerkende skryfstyl van Alba Bouwer, die ritme en klank, die sensitiewe woordkeuse, die eenvoud waarmee sy ’n ingewikkelde situasie teken, dit alles maak hierdie werk puik lektuur vir ’n kind. Maar omdat ons hier ware kuns het, sal ook die volwasse leser, hoewel op ’n ander vlak, groot waardering kan hê vir hierdie werk, een van die bekoorlikste stories wat nog ooit in Suid-Afrika vir jong kinders geskryf is.”

Die omslag van die boek beeld ’n swart hennetjie met wit spikkels en die oulikste swart kuikens uit. Dit laat ’n mens nogal aan tarentale dink, maar vir die Vrystater in Alba Bouwer het daardie hoendertjies haar teruggeneem na die kleihenne en kuikentjies wat die Basotho’s gemaak het.

“Dié gewoonte het ook al effens uitgesterf, hoewel ’n mens nog soms die kleihenne en kuikens op plase aantref,” het Alba vertel (Die Burger, 13 Maart 1972). “So het ek enkele jare gelede een dag op ’n Bantoeseuntjie afgekom wat met toe oë gesit en sing het. Voor hom het hy nog ’n enkele hennetjie en ’n paar kuikens gehad. Ek was so bly dat ek dit vir my kinders gekoop het, want ek glo ’n kind kan nie sonder hierdie kleidiertjies grootword nie.”

Onder die naam Magriet Coetzee het Alba in die sewentigerjare gebedeboeke vir vroue die lig laat sien. Dit was oorspronklik deel van ’n rubriek wat in Sarie verskyn het. Sy was aanvanklik taamlik huiwerig om dit aan te pak, omdat sy gevoel het dat ’n mens nie vir ’n ander persoon kan skryf hoe om te bid nie. “Aan die oorweldigende reaksie het ek egter besef dat die gebede wel vir die lesers iets beteken. Dit het hul behoeftes en probleme wat hulle soms moeilik in woorde kon omsit, verwoord. En hulle meer insig gegee. Hulle het besef dat daar ook ander is met dieselfde behoeftes en probleme.” (vertel aan Suzette Truter, Die Burger, 12 Oktober 1988)

In 1984 het Alba dit weer reggekry – ’n nuwe prys vir kinderlektuur ingepalm. Hierdie keer wen sy die eerste MER-prys vir haar boek Vlieg, swaeltjie, vlieg ver wat in 1983 gepubliseer is. Dit het ook die CP Hoogenhout-medalje vir 1982–1983 ontvang.

Die besluit om die MER-prys aan Alba toe te ken, was eenparig en is geneem deur ’n onafhanklike groep beoordelaars wat bestaan het uit Marina le Roux, Elize Botha, Roy Pheiffer en Rykie van Reenen. Alba se reaksie was dat MER ’n groot invloed op haar en haar werk gehad het. In Alba se kinderstories gaan dit hoofsaaklik oor die omgang tussen mense van alle rasse, soorte en ouderdomme, en oor die kosbaarheid wat uit so ’n omgang voortvloei as dit goed is. In Vlieg, swaeltjie, vlieg ver gaan dit oor die wonder wat daar kan wees in die vriendskap van ’n mensegesin met drie kuikens.

Vlieg, swaeltjie, vlieg ver is Alba se eerste kinderboek in twaalf jaar. Dit was ook haar enigste kinderboek wat nie deur Katrine Harries geïllustreer is nie. Harries is in 1977 oorlede en Alba het vertel: “Katrine was baie oorspronklik. Vir die rok van die lappop op die voorblad van ’n Hennetjie met kuikens het sy haar ma se ou blou voorskootjie stukkend geknip en dit gebruik. Ek kon net nie weer ’n kinderstorie na haar dood geskryf kry nie. Uiteindelik het ek tog Vlieg, swaeltjie, vlieg ver geskryf wat Alida Bothma geïllustreer het.”

Elsabe Steenberg (Die Burger, 15 September 1983) het gemeen dat dit ’n vreugde is om ná twaalf jaar weer ’n boek van Alba Bouwer in die hand te kan neem, “een wat boonop ’n pragtige voorkoms het omdat dit deur Alida Bothma van fyn, stemmingsvolle potloodtekeninge voorsien is. Die verhaal speel af aan huis van Faantjie en Hannatjie en hulle ma en pa. Die swaeltjies besluit dat die dakkie bokant Faantjie-hulle se voordeur ’n gawe plekkie is vir ’n nes en nie baie lank nie, of Mevrou Swaeltjie broei op haar eiertjies. Ongelukkig breek die nessie en die eerste broeisel kleintjies val dood neer op die grond. Gevoelige kindgerigte taal word deurgaans gebruik en enige mens wat hierdie werkie lees, ongeag sy ouderdom, sal verryk word deur die eerlike, taalgevoelige verhaal van swaeltjies én mense wat universeel seil, duik en swaai.

“Faantjie is so ontsteld dat hy sommer met Hannatjie begin rusie maak. Die swaeltjies herstel egter hulle nessie sodat hulle kan broei voordat hulle moet vertrek. Faantjie bid vir Liewe Jesus dat die swaeltjies nie weer moet uitval nie, maar die nessie breek weer. Hierdie keer vlieg Meneer en Mevrou Swaeltjie maar sonder hulle kroos Anderland toe en laat hulle drie verwese kleintjies in die sorg van Faantjie en sy ma.”

Susan Kruger (bron en datum onbekend) skryf dat hierdie boek nie net die verhaal is van drie wees-swaelkinders wat deur mense grootgemaak is nie, “maar dat dit veral die verhaal is van Faantjie wat deur hierdie nuwe verantwoordelikheid wat hom opgelê is, leer om meer van homself te gee. Hy leer ook dat mens se gebede nie altyd beantwoord word soos mens gedink het dit moet beantwoord word nie. Die swaarste ding wat Faantjie leer, is dat daar in die lewe iets soos afskeid bestaan. (…)

“Met dieselfde deernis en insig in die leefwêreld van ’n kind wat in haar vorige boeke na vore kom, skryf Alba Bouwer hierdie verhaal oor swaeltjievoëltjies en swaeltjiekinders.”

Met die opvoering en publikasie van Reza de Wet se drama Diepe grond (HAUM-Literêr, 1991) is ’n klein stormpie in die Afrikaanse letterkunde ontketen. Rykie van Reenen vertel in Die Burger (19 April 1995) meer daaroor: “In Reza de Wet se stuk is dit dertig jaar later op Rivierplaas en Alie en haar halfsimpel broer Hennie woon daar bloedskandelik saam in die nou vervalle opstal. Hulle vermoor ’n agent wat kom ondersoek instel op aandrang van ’n tante,” en soos Rykie van Reenen aan Alba vertel het, dit smaak haar ou-Melitie, wat die twee versorg, “maak van hom biltong vir hulle. Die gruwelmoord dra in elk geval ou-Melitie se goedkeuring weg.”

“Die stuk begin met Alie wat die kamerpot onder haar en Hennie se dubbelbed uitsleep, haar naghemp optrek, en sjorrrr – daar op die verhoog!” vertel Rykie aan Alba oor die telefoon.” Toe Alba dit gehoor het, was sy vir ’n oomblik sonder woorde.

Rykie het verder vertel: “Wat Reza de Wet daarmee voor hande kon gehad het, was vir my in daardie stadium tot daarnatoe. Wie gee haar die reg om Rivierplaas se mense in hul wese te verkrag en onteer? Want vat aan Rivierplaas, en jy vat aan ’n Boere-idille van die ou Vrystaatse samelewing op die platteland; vat aan Ou-Melitie, Jôna whê, jy vat aan ’n moeder van ’n mens vir wie derduisende lesers, groot en klein, net so lief is as wat Alie vir haar was; les bes, vat aan Alie en jy vat aan Alba, want wie anders as Alba self is die bekkige meisietjie met die dun beentjies? Die enetjie wat so mal is oor die klink en die klank van woorde?

“Alba se uitgewers, Tafelberg, vat die saak prokureurs toe en dreig met ’n hofsaak. Op watter grond? Het skrywers kopiereg op hul karakters – tog nie, as jy kyk na wat al soveel keer in die letterkunde gebeur het? Aangesien Rivierplaas kennelik ’n sterk outobiografiese inslag het, sou hier sprake kon wees van crimen injuria?

“Regsopinie teen regsopinie. Ons hoor Reza se pa is/was regter-president van die Vrystaat. Duskant op die skaal sit ons Alba se man, Jan Hofmeyr, jare lange prokureur op Riversdal, en die vyf lang regsgeleerde seuns wat hy en Alba tussen hulle het!

“Die Mark Teater in Johannesburg koop die regte. Diepe Grond kan egter nie opgevoer word voor die saak bygelê word nie: mej De Wet sal die name van haar hoofkarakters verander. Alie, Hennie, en ou-Melitie word Soekie, Frikkie en Ou Alina.

Diepe Grond speel in sy wese op die vlak van die dieptepsigologie. Alie en Hennie se bloedskandelike verhouding is byvoorbeeld nie soseer morele kommentaar op sedelike verwording nie as wat dit dui op die manlike en vroulike aspekte van die mens se gees wat tot eenheid, heelheid, moet kom voordat innerlike genesing kan plaasvind. Die hermafrodiet, sê mej De Wet in ’n onderhoud met Die Suid-Afrikaan, is ’n geykte beeld vir selfkennis. Dink, nè!

“Die drama kyk na wat gebeur as ‘reg’ en ‘verkeerd’ outoritêr van buite op die kind afgedwing word: erotiese belewing wat sy onskuldig verken, word byvoorbeeld onderdruk en die psige word deur die skuldgevoel skeefgetrek. Verlossing kom deur af te gaan in die diepe grond van die eie gees, in die domein wat anderkant die gemeenskap se inperkende norme lê.

Van die persoonlike word die lyn deurgetrek na die kollektiewe psige van die Afrikaner na die geesteswêreld waaruit ’n verwronge politiek kon voortkom.

“Vir mej De Wet, wat nie net die problematiek in ’n drama uitgewerk het nie, maar in daardie eerste opvoering self Alie gespeel het, was die ervaring magtig ‘bevrydend’. Mense by die opvoering het bewoë kon sê hoe diep dit hulle insgelyks geraak het.

Sy het haar ‘bedonnerd geskrik’ vir die verontwaardigde reaksie van hier duskant: Hoekom vir Rivierplaas by al hierdie vieslikheid bysleep? Maak soos die kinders sê jou eie ‘game’ op, a, los uit onse Alie en Melitie!

“Vir haar wat self kleintyd ‘baie mal was’ oor Stories van Rivierplaas, wat daarin bevestiging gevind het van haar eie kinderervaring, ook op ’n Vrystaatse plaas, was daar geen effektiewe snelskrif om daardie wêreld van paradyslike onskuld by te roep nie, daardie geborge gevoel van harmonie tussen wit en swart en die natuur. Sê: ‘Alie’, sê: ‘Ou-Melitie’, en jou hele Afrikaanse gehoor is onmiddellik by. Haal hulle uit, en dis so goed jy sny die hele deskant uit die lied. In ’n wêreld waarin die mite van ’n vroeër idilliese saambestaan afgryslik uitmekaarval, verteenwoordig hulle die teenpool, wat heeltyd op die agtergrond saampraat.

Gestroop van daardie verwysingswêreld, vind André Brink in sy Rapport-resensie van Diepe Grond se gepubliseerde teks ‘’n effens histeriese, patologiese “gevallestudie”.’

“Nabetragting: Wie se kant sal ’n mens kies, noudat die hele debakel haas agter die bult verdwyn? Die verontwaardiging wat ons-aan-die-Albakant gevoel het oor die verkragting van haar en óns Alie se onskuld, lê nog sommer vlak in my; min skeel of ek êrre my net hier van voor af. Tog kan ek begryp wat Reza de Wet wou doen, selfs hoekom juis so. Die vraag is net in groter verband, hoeveel andermensgoed, hoeveel andermensgevoelens durf iemand aan eie kuns offer? Hier in die latenstyd vind ek dit intussen onnodig om ’n mens so op die spits te laat dryf tussen óf en óf, leer al meer saamlewe met én en én. Dis beter vir die bloeddruk …”

In 1992 is Alba se eerste roman vir volwassenes onder die titel Die afdraand van die dag is kil deur Tafelberg uitgegee. Una Niewoudt skryf (Die Burger, 27 Oktober 1992): “Die verhaal handel oor twee susters, Bettie en Marie, se wedervaringe as jong meisies en hul vordering op die lewenspad tot by hul laaste aardse tuiste, Huis Lourens. Die aanpassings by ’n wêreldjie wat tot die allernoodsaaklikste gekrimp het, is nie vir die susters die ergste van oud word nie. Wél die besef dat jy nie meer baas oor jou eie liggaam is nie en die vrees wat opnuut begin knaag elke keer wanneer ’n bekende sterf.

“Dit is ’n menslike verhaal vol hartseer, deernis en humor. Hoewel van die gebeure en veral die karakters in die verhaal op die werklikheid gegrond is – die karakter Bettie is Alba se oorlede ma en Marie haar ma se suster – is ’n groot deel van die roman met fiksie ingekleur. Alba het ’n paar jaar gelede aan die boek begin skryf, maar daar het gedurig dinge voorgeval wat haar verhinder het om die verhaal te voltooi. Sy het nie ’n bepaalde boodskap in gedagte gehad terwyl sy die boek geskryf het nie, maar sal tevrede wees as die verhaal van Bettie en Marie die leser tot nuwe insigte bring.

“Bettie en Marie het by Alba Bouwer gaan aanklop en gesê dis tyd dat daar oor hulle geskryf word. En sy hét oor hulle geskryf. Al het dit ’n paar jaar geneem om hul storie op papier vas te lê, en al het dié storie soos ’n groot stuk deeg in haar hare gevoel.”

Alba het aan Una Nieuwoudt in Die Burger (27 Oktober 1992) gesê: “Ouderdom is ’n onderwerp wat te dikwels omseil word ook deur skrywers. Ons lewe in ’n tyd waarin die bejaardes al meer word. Dit help nie om die ouderdom te probeer vermy nie - ’n mens moet aanvaar dat die ouderdom en dood deel van die lewe is. Ek dink partykeer dis goed dat ek so lank gewag het voor ek die boek geskryf het, want ek het ook nou oud geword. Op 72 is ’n mens hartlik oud. Ek het nou ’n beter insig in die ouderdom.”

 John Kannemeyer vertel in sy resensie (De Kat, Maart 1993) dat die titel van die roman ontleen is aan Olga Kirsch se digbundel Negentien gedigte (1972):

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en geel.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

Volgens Kannemeyer gee Die afdraand van die dag is kil ’n “pragtige beeld van die laaste fase in die lewensgang van die twee susters. Hy voel egter dat daar ’n probleem met die chronologie is, maar dat dit nie afbreuk doen aan die feit dat dit ’n diep menslike boek is nie, ’n roman wat met sy sterftonele getuig van ’n deernis en ’n insig wat ’n skrywer alleen in sy beleë jare kan bereik. Alba Bouwer skryf goeie prosa en hierdie roman bevat pragtige bladsye oor die lewensgang van ou mense soos ons dit vroeër in Afrikaans nog net by MER aangetref het.”

Errol Victor (Die Transvaler, 22 Oktober 1992) het gemeen dat Afdraand van die dag gaan oor eensaamheid, aftakeling en die afhanklikheid wat die ouderdom meebring, maar ook oor die troos van herinneringe, van dié wat omgee. “Dit is ’n menslike, snaakse, hartseer boek; vol drome, versugtinge en openbaringe. ’n Boek wat die mens se verganklikheid en aftakeling tot die onverwoesbare kern van menswees só uitbeeld dat dit die leser met nuwe eerbied vir die lewe laat. Dit is ’n besondere boek en leef lank nadat die boek neergesit is nog in die gedagte.”

Hennie Aucamp het in Rapport (8 November 1992) geskryf dat daar vir die Bouwer-aanhanger geen breuk tussen haar jeugboeke en hierdie roman is nie: “Elke boek is van dieselfde hand; elke boek adem ’n gees van sereniteit; elke boek van Bouwer is in die eerste plek ’n woordkunswerk, of dit nou Dirkie van Driekuil heet of Die afdraand van die dag is kil. En die tematiese raakpunte wat haar roman met die res van haar oeuvre het, is ook nie mis te kyk nie; met die Bergplaas- en die Rivierplaaswêrelde by name.

“Maar as ’n indringende studie van die wêreld van die ou mens in ’n ouetehuis, ja, in dié sin is Die afdraand van die dag is kil wel ’n boek vir volwassenes. Nog nooit is daar in Afrikaans soveel aandag aan die ou mens in sy laaste lewensronde bestee nie; daardie jare wanneer hy vir eenvoudige liggaamlike inspannings van ander afhanklik raak en hy homself broksgewyse begin prysgee, soos sy beheer oor spiere, bene en eie lot ingee.

Die afdraand van die dag is kil sluit sterk by ’n bepaalde prosatradisie in Afrikaans aan; ’n tradisie wat van MER, Freda Linde en Audrey Blignault loop, en wat gekenmerk word deur ’n veredelde gebruik van volkstaal. ’n Mens sou ook kon sê dat Alba Bouwer die eindpunt van hierdie tradisie verteenwoordig; maar dis nie heeltemal waar nie. Sonder enige slagspreuk of bewustelike ideologie, is ook Alba Bouwer ’n feminis – soos MER voor haar. En dus ‘modern’.

“Vrou-wees, van kind af tot in die ouderdom, word as eksistensiële feit gestel. Alba Bouwer skram byvoorbeeld nie weg van die biologiese van vrouwees nie. Erotiek, swangerskap, geboorte, bloeding, verlies van blaasbeheer, al dié sake kom aan bod, maar sonder dat daar oormatige verteltyd daaraan bestee word.”

Hoe hanteer Alba Bouwer, volgens Hennie Aucamp (Rapport, 8 November 1992), die somber temas, van aftakeling en die dood? “’n Mens dink aan ’n uitspraak van Norman N Holland in The dynamics of literary response. Elke kunswerk wat jou doelbewus ontstel of verontrus, sê hy, het ’n ‘ingeboude maneuwer’ wat jou toelaat om dié ontsteltenis te bemeester. Humor en ironie is een van Alba Bouwer se maneuwers; Die afdraand van die dag is kil is by tye ’n baie snaakse boek. En die ander maneuwer, veral in die gedetailleerde beskrywings van sterftonele, is ’n kalm bewustheid van die onsienlike. Hiervoor (…) net een voorbeeld: Liesbet wil omdraai en nog een keer aan haar ma se lyk vat, maar ‘halfpad na die bed steek sy vas: dis nie meer Ma wat daar lê nie. En sy weet meteens klaar en duidelik dat sy, net soos haar ma, deel is van iets anders, iets grenseloos groters as hierdie aardse bestaan waarin sy nog staan, maar waaruit haar ma vertrek het.’”

Volgens AP Grové (Insig, Desember 1992/Januarie 1993) kan die boek seker as ’n ouetehuisroman bestempel word, maar is dit ’n ontoereikende omskrywing. “Ons het hier nie bloot, of selfs in hoofsaak, die somber uitbeelding van ’n avontuurlose bestaan nie, hoe sterk en onontkombaar die trekkrag van die dood ook al gegee word. Die dag mag hier kil wees, maar die uitbeelding is vol warmte en gul. Bowendien gaan dit hier om ménse, veral dan om die twee susters, Marie en Bettie, wat ’n sentrale plek in die boek beklee. Maar in die tehuis is daar ook ander figure, elkeen met sy eienaardigheidjies en hebbelikhede, mense wat in die laat stadium van hul lewe soms nog ’n sekere ydelheid kan openbaar en ’n bietjie vernaam kan probeer doen, mense wat taai aan die laaste brok waardigheid en selfstandigheid probeer vashou. So kom daar afwisseling, ook van stemming en beligting, in hierdie grou wêreld, ’n verskeidenheid wat met die inwoners en personeel daarby van die tehuis ’n vol wêreld maak, ’n mikrokosmos waarin erns en luim vermeng kan raak en waarin daar by al die patos ruimte vir die bevrydende glimlag bestaan.

“En waar jy mense kry, individue, kan jy spanning verwag, ’n botsing van persoonlikhede, soos byvoorbeeld dié tussen die twee susters: Tussen die oper en vroliker Bettie en die somber, agterdogtige Marie met haar onheilspellende blik word dit ’n wedywering, ’n sluimerende jaloesie selfs wat eerder fyn gesuggereer as breed uitgewerk word. So kry ons deurgaans ’n spel van verhoudinge en dit alles word met soveel gesag gegee, met so ’n oop oog vir die sinvolle besonderheid dat ’n mens intieme eerstehandse kennis by die skryfster wil vermoed, die soort insig en kennis van sake wat aan die roman iets van ’n outobiografiese karakter wil gee.

“Daarmee is nie gesê dat die boek ’n soort dokumentêre verslag is of wil wees nie. Hierdie ouetehuis en sy mense word so vol-menslik en met soveel deernis, begrip en humor geteken dat die boek, ten spyte van sy geloofwaardige werklikheidsbasis, ’n verbeeldingswerk word, ’n roman wat ons die geslote ruimte van die tehuis toon as ’n ganse wêreld vol sterflike wesens.”

Die afdraand van die dag is kil was op die kortlyste vir sowel die CNA- as die MNet-prys vir 1993.

Met Alba se 75ste verjaardag in 1995 gee Tafelberg ’n paar huldigingsbundels uit. Rykie van Reenen was die samesteller van Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake. “Uit hierdie toesprake kan duidelik gesien word hoe beskeie Alba was. Haar waardigheid en wysheid kom ook sterk na vore en op papier word die toesprake essays wat kosbare rigtinggewende leidrade bied,” sê Jalna Schumann (Insig, April 1995).

Thomas van der Walt was verantwoordelik vir die samestelling van Die blink uur van mooi dinge: ’n huldiging van Alba Bouwer. Die eerste afdeling bevat uiteenlopende bydraes uit Alba se wye vriendekring en die tweede deel bevat letterkundige essays. Tafelberg het in 1994 ’n gebedeboek wat Alba onder die skuilnaam Magriet Coetzee geskryf het, Skuiltes op die pad, ook weer uitgegee, en die Rivierplaas-omnibus is in 1995 heruitgegee. Dit bevat Stories van RivierplaasNuwe stories van RivierplaasStories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck.

Benewens die pryse wat aan haar boeke toegeken is, het ander erkennings ook nie agterweë gebly nie. In 1983 is Alba aangewys as een van veertien nuwe verteenwoordigers om in die Mediaraad van die Nuusblad-Persunie te dien; in 1987 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n nuwe kinderboekprys ingestel wat sou bekend staan as die Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur wat elke drie jaar toegeken sou word; in dieselfde jaar het sy ’n ereburger van Riversdal geword; in 1995 word sy erelid van die Akademie; en ook in 1995 ontvang sy ’n VLV-toekenning; in 1996 het die Universiteit van Port Elizabeth ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken; in 1998 het sy die FAK-Prestigeprys ontvang vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Nadat sy erelidmaatskap van die Akademie ontvang het, het Alba gesê dat dit vir haar ’n sonderlinge eer is en dat vandat sy verneem het van hierdie eer wat haar te beurt geval het, die woorde van ’n Nederlandse gesang uit haar kindertyd heeltyd in haar kop gedraai het: “Verdien ’k sulks, ik sondaar, nee.”

Op Dinsdag 5 Oktober 2010 is Alba oorlede in die aftree-oord Helderberg Village waar sy aangebly het na haar tweede man se dood. Sy het vir jare Alzheimersiekte gehad en het in ’n koma verval. Sy is uit die NG Kerk Riversdal-Wes begrawe. Sy laat ses stiefkinders, 17 kleinkinders en 6 agterkleinkinders agter. Alba de Jager, ’n kleindogter, is vroeër in 2010 oorlede.

Huldeblyke

  • Lina Spies: “Ek is dankbaar dat sy stil weg is, want nóú kan ek haar begin onthou. Ek kon nooit besluit vir wie ek die liefste is nie – Alba of Audrey Blignault, maar gelukkig het ek geweet ek hoef nie te kies nie.” (Volksblad, 8 Oktober 2010)
  • Jan Hofmeyr, seun: “Die eerste gedagte wat by my opkom as ek aan haar dink, is haar sin vir netheid, eenvoud en haar betroubaarheid. Dit het in alles wat sy gedoen het, na vore gekom. In haar huis, haar voorkoms, haar gesprekke, haar geskrifte, haar voordragte, haar verhouding met mense, selfs haar motor – jaartal ten spyt. Sy was die tweede ma wat ’n gesinstafel op Riversdal en Stilbaai weer warm en vol kon maak.” (Volksblad, 8 Oktober 2010)
  • Danie Botha: “Sy is vir my die soort mens vir wie jy onmiddellik agting het. Jy bewonder haar. Jy voel spontaan waardigheid by haar aan, ’n mengeling van nugterheid én verhewenheid.” (Die Burger, 11 Oktober 2010)
  • Elize Botha in 2005: “In my leerjaar as kwekeling-joernalis by Die Burger is ek een aand uitgestuur om die Maleierkoorfees in die Kaapstadse stadsaal by te woon. Ek het ’n sitplek in een van die sierlike losies gehad en onder die ander ‘in-sittendes’ was ID du Plessis en Alba Bouwer. Alba was een van die beoordelaars saam met ID du Plessis. En wanneer ek terugkyk, is dit vir my só toepaslik dat ek haar daar sou sien, in die kring van Du Plessis en die leiers in die Maleiergemeenskap, maar ook in 1952: ’n ster in die opkomende vrouejoernalistiek, assistentredakteur van die genre-verskuiwende Sarie (toe nog Sarie Marais) – sjarmante gespreksgenoot, stylvolle verskyning, met daardie kenmerkende oogopslag, die helder, innemende kyk van haar blou oë wat lag en vonkel en opreg belangstel in die een wat sy aankyk. Die towerkrag van Alba se woorde in haar Rivierplaas-boeke, Dirkie van DriekuilKatrientjie en Abdoltjie het ná 1955 dekades lank lesers oud en jonk gelok om ’n tyd lank ’n Rivierplaas in die Vrystaat, ’n Bergplaas in die Boland, ’n plek genaamd Ruyswyck, Driekuil en die Bo-Kaap, Keerweder en selfs die Goudstad te bewoon. Dit was woorde wat afstande van allerlei soorte kon uitwis. Dit is moontlik om Alba se besonder vindingryke spel met vorm, klank en betekenis van woorde te sien as deel van die vernuwing in die Afrikaanse prosa wat juis in die bakenjaar van 1955 op breër literêre terrein merkbaar begin word het.” (Die Burger, 17 Desember 2005)
  • Réna Pretorius in 1995: “Op watter terrein Bouwer ook al diens gelewer het, of steeds lewer, sy kom dwars in die hart lê van elkeen wie se lewe deur haar aangeraak is. Kritici skryf al byna vier dekades waarderend oor die besondere verdienste van Bouwer se kinderboeke as literêre tekste en het veral waardering vir die tydlose tema, die waarde van omgang met mense, alle soorte ewe-mense, en die kosbaarheid wat uit die goeie omgang met ander vloei.” (Die Burger, 24 Junie 2005)
  • Lizette Rabe in 1995: “Vir almal wat nie die nimlike/minlike Alba – ‘tannie Alba’ vir die jongeres met dieselfde eerbied as ‘Ta’ Miem’ destyds vir haar – aan die woord by leeskring of vrouekring gesien het nie, het Rykie van Reenen die guns gedoen om ’n keur toesprake saam te stel. En vir diegene wat haar wel ervaar het: in Die lang reis van hart tot hart kry jy die onthou swart op wit. Om die pêrels van wysheid wat die geliefde skrywer en mens so moeiteloos (lyk dit) kan uitdeel, paragraaf vir paragraaf te gaan uitdink. Die pêrels blink met vele fasette. (…) Dáárom: Dankie, tannie Alba! Vir baie blink ure van baie mooi dinge, vir die Storie­trilogie, vir die reis van hart tot hart. En al die paaie tussenin.”
  • Leon Coetzee (haar stiefseun) in Maart 2010: “Alba se invloed in my lewe is vandag my grootste bate. Ek dink vandag op haar 90ste verjaardag met groot bewoënheid terug aan die wonderlike jare wat ek gehad het saam met een van die merkwaardigste vroue in Suid-Afrika.” (Die Burger, 16 Maart 2010)
  • Hennie Aucamp in Maart 2010: “Wanneer ’n mens ’n galery van onsterflike karakters in die letterkunde ­oproep, sal kinderkarakters in kinder- en jeugboeke ’n plek ­opeis, en dit geld ook die ­Afri­kaanse letterkunde. ’n Mens dink aan die ‘monsters’; aan Brolloks en Bittergal van Langenhoven, aan Water­bobbejaan van Ben Venter. Maar jy dink ook aan die fynsinnige kindergestaltes uit die pen van Alba Bouwer, soos Alie van Rivierplaas en Abdoltjie van die ­Bo-Kaap, wat blywend en ­tydeloos geword het in die her­innering; kortom klassiek. Haar aanvoeling vir woorde en hul toonwaardes, haar onfeilbare sin vir ritme, behoort weer aan die hoë klok gehang te word, in ’n tyd ­waarin onpresiese ­segging die reël en nie die uitsondering nie geword het. Bouwer het in die laaste fase van haar skryfloopbaan oor ‘daar­die ander kind, die ou mens’ – háár woorde – begin skryf, en haar beklemmende ­roman, Die afdraand van die dag is kil, laat geen twyfel oor die beproewinge van oudword en oudwees nie.” (Die Burger, 16 Maart 2010)
  • Marina le Roux in Maart 2010: “Haar indrukwek­kende oeuvre sluit in tien oorspronklike kinder- en jeug­boeke. Sy het ook talle kinderboeke uit Engels, Duits en Nederlands in Afrikaans vertaal en verwerk, die bekendste miskien Winnie-die-Poeh (1985). Voorts het Bouwer ook kosbare bydraes gelewer tot tydskrifte en verskeie ­ver­samelbundels.” (Die Burger, 16 Maart 2010)

Een van haar waardevolste geleentheidstukke wat opgeneem is in Die lang reis van hart tot hart is, volgens Elize Botha, “Om ’n boek te maak”. Aan die slot van die stuk het sy gesê: “Die ambag van die boekmaker, die skrywer … is ’n poging om vir die kinders wat nou hier grootword, iets te vertolk en oor te dra van die vreugde van deel hê aan hierdie land met sy baie soorte mense.”

Só sal haar skrywershand ons steeds bly voed, uit die mooi boeke wat sy gemaak het.

Ter herdenking van haar 100ste verjaardag in 2020 word ’n spesiale program gedurende die Woordfees op Stellenbosch aangebied waartydens twee van haar sewe stiefkinders, Leon Coetzee en Jan Hofmeyr, herinneringe aan Alba Bouwer met die gehoor sal deel. ’n Herdruk van die Rivierplaas-omnibus sal ook by die Toyota US Woordfees bekend gestel word.

Publikasies:

Publikasie

Stories van Rivierplaas

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1957
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1965
  • 1967
  • 1982
  • 1988

ISBN

  • 0624016926 (hb)
  • 0624026477 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1959 (saam met Nuwe stories van Rivierplaas)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nuwe stories van Rivierplaas

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1965
  • 1976
  • 1985

ISBN

0624022331 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1959 (saam met Stories van Rivierplaas)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1963
  • 1967
  • 1986

ISBN

0624023664 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katrientjie van Keerweder

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-toekenning 1961
  • Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Stories van Bergplaas

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1964
  • 1965
  • 1967
  • 1968
  • 1975
  • 1984

ISBN

  • 0624001067 (hb)
  • 0624020355 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Katrientjie van Keerweder en Stories van Ruyswyck)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Stories van Ruyswyck

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Stories van Bergplaas en Katrientjie van Keerweder)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die leerling-towenaar

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Rip van Winkel

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dirkie van Driekuil

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Hennetjie met kuikens

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1988

ISBN

0624001342 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

CP Hoogenhout-toekenning 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ienkel dienkel: ’n versieboek vir kleintjies

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014258 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlieg, swaeltjie, vlieg ver

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624019071 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-toekenning 1982–1983
  • MER-prys vir Jeugliteratuur 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die afdraand van die dag is kil

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031799 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuiltes op die pad: gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624033104 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Alba Bouwer-omnibus

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033732 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake. Saamgestel deur Rykie van Reenen

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033645 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Toesprake

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rivierplaas: omnibus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045311 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Magriet Coetzee

Publikasie

Nuwe gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008754 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1985

ISBN

  • 0624004538 (hb)
  • 0624023087 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Aand van die lewe: gebede van ’n bejaarde vrou

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624017354 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Alba Bouwer as samesteller

  • Afrikaans 100: ’n klein gedenkboek met byskrifte. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624007456 (hb)]
  • Goedgeluk: verjaardagalbum. Saam met Audrey Blignault. Kaapstad: Tafelberg, 1988
  • MER:  
    • Kom nader: ’n keur uit die werke van MER. Saam met Audrey Blignault. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1965
    • ’n Kosbare erfenis: briewe van MER, 1916–1975. Saam met Anna Rothmann en Rykie van Reenen. Kaapstad: Tafelberg, 1977 [ISBN 0624010562 (hb)]

Alba Bouwer as vertaler

  • Augustinus, Aurelius, Heilige Bp van Hippo: Lewende woorde van Augustinus: gedagtes uit sy preke. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers [19-] [ISBN 086991876 (sb)]
  • Bamberger, Richard:
    • My eerste groot storieboek. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624006670 (hb)]
    • My groot-groot storieboek. Saam met Linda Rode. Kaapstad: Tafelberg, 1987 [ISBN 0624025535 (hb)]
  • Bergengruen, Werner: Die Spaanse roosboom. Kaapstad: Tafelberg, 1946, 1960
  • Dejong, Meindert: Perd uit die storm. Kaapstad: Tafelberg, 1971
  • Dundas, Dorothy: Die seeverhale van Seepbel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1957
  • Hueck-Dehio, Else: Tippie se liefde. Kaapstad: Tafelberg, 1966
  • Hunt, Irene: Die groen pad. Kaapstad: Tafelberg, 1968
  • Lennart, Clare:
    • Katinka van Kattesnorstraat. Kaapstad: HAUM, [196-]
    • Rinus die stasiemossie. Kaapstad: HAUM, 1960
  • Milne, AA: Winnie-die-Pooh. Kaapstad: Tafelberg, 2007 [ISBN 9780624045335 (sb)]
  • Prokofief, Sergei: Pieter en die wolf. Kaapstad: Tafelberg, 1958
  • Van Anrooy, Frans: Die seeperdjie. Kaapstad: Kinderpers, 1974 [ISBN 0799500593 (hb)]
  • Von Gebhardt, Hertha: Die dogtertjie van êrens. Kaapstad: Tafelberg, 1961

Artikels oor Alba Bouwer op die internet

Artikels deur Alba Bouwer op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Helize van Vuuren

    Korreksie nodig:
    Alba Bouwer se eerste man was Hubert COETZEE, nie "Du Plessis" soos hierbo staan nie. [Sy dogter, Annelet Coetzee, kort na skool oorlede, was 'n beste vriendin van my op die Hogere skool Jan van Riebeeck, Kloofstraat, Kaapstad - Albahet ons dikwels somers na skool geneem om te gaan swem in die Seepunt-swembad]

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top