
...
Ek dink aan die foto van die seeskilpad met die misvormde perdebylyf en die ronde stuk plastiek waarin hy ingegroei het. Hartverskeurend!
...
Lizette Botha het op 1 Januarie 2023 hierdie berig op Facebook geplaas:
Nuwejaarsdag 2023
Dit was ’n windstil, perfekte sonskyndag in Strand. Mense het in hul duisende opgedaag om die volmaakte dag langs die see te geniet. Ons hoor heeldag hoe kinderstemme jil van genot. Ons sien lywe wat baldadig in die see rondduik, spring en dans.
En dit is goed.
Vroegaand begin die son sak en die strand loop leeg. Al wat oorbly is massas gemors wat op die strand bly lê het. ’n Tierende wind steek op en ontaard in ’n sandstorm. Vragte vullis en sand word oor die aarde aangedryf. Die gety kom in en die see begin die hope glas, plastiek en papier insuig. Ek dink aan die foto van die seeskilpad met die misvormde perdebylyf en die ronde stuk plastiek waarin hy ingegroei het. Hartverskeurend!
Hoe gaan ons dit ooit omdraai? Ek droom van die dag wanneer elke mens sy/haar eie gemors uit die natuur sal verwyder.
Theunis trek ’n handskoen aan en loop met sakke in die donker in …


Kommentaar
So mooi, Lizette ... veral omdat ek die prentjie van Theunis in die donker so duidelik kan sien. Hou aan ...