
Heino du Plessis skryf op Facebook:
Ek het lank gewonder of ek dié storie moet vertel. Dis nie ’n lekker storie nie en ’n mens wil ook nie die storie vertel nét oor jy sentimenteel voel nie. Die Heelal het daarop aangedring, ná al die Uberdrywers staak en ek noodgedwonge bus moes vat. Toe staan ek, ná soveel jare, weer op die einste plek waar die storie homself moes afspeel, en my hart kon nie meer nie. Ek móét net.
Ek was vyf toe Ma my die eerste dag daar by die Hasieklas gaan aflaai het vir graad 1. Sy was bekommerd dat ek nog nie reg is vir die storie nie. Daar verstaan ek toe mos nou nie waarom al die kinders so huil nie, want ek sien al so lank uit om soos Ouboet, Sus en Ousus ook in die skool te wees. Ek was soos ’n Jack Russel wat bal gesien het. Ma het stilweg verdwyn en ek het myself vergaap aan al die vrees wat ek om my waarneem. Waarom sou kinders tog so bang wees? Miskien oor ek nooit die voorreg van ’n kleuterskooljuffrou beleef het nie. Die vrees sou my wel later die jaar pak toe Juffrou haar glimlag in die laai bêre.
Voor ek skool toe is, is ek deur getroue Liesbet by die huis versorg. Soms sou ek saam met Ma na haar werk toe gaan. Sy het by Van Aswegen's in die middestad as ’n debiteureklerk gewerk. Ek het agter haar tafel onder ’n groot kas weggekruip en daar inkleurboeke bekrap asof my lewe daarvan afhang. Ek het altyd geglo dat ek wegkruip vir die grootbaas, want as hy my sou vang, dan sou ma in die moeilikheid wees. En tog het hy, elke keer as ek daar is, vir ma nog ’n Ladybird-boekie gebring wat ek kan “lees”, al kon ek nog nie so goed die letters in sinne versamel nie.
Dit was op een só ’n dag wat ek en Ma van die werk af op pad huis toe is. Ons het met die bus gery, want dit was daardie tyd maar wat die vroue gedoen het as hul mans hul ego in die sak kon steek en vroulief mag werk. Die bus was altyd ’n gekekkel en gelag met breinaalde, hekelnaalde en tolle wol. Soms sou ’n tannie sit en lees, maar die gesels was ’n ritueel en almal in die bus was begeesterd om in die nuutste skinner te deel.
Op pad na die busstop sou Ma my hand vasklem dat ek skoon lam word onder my tong. Haar vrees dat ek dalk gesteel kon word, het begin na ons eendag in Sunnyside (toe dit nog die voorstad van sonskyn was) geflooimark het dat ons skoon vergeet wat ons van is. Daar het ma gedink ousus hou my dop, ousus dog dis ma se werk en die res het almal net geglo iemand hou die kleinste vas. Ek het soos ’n poedel twee keer my draai gedraai en toe is almal weg. Ek het eers besef ek was eensaam en verlaat toe die hele gesin uit alle rigtings met verligting op my gil. Toe stroom die trane.
Ma kon nie meer vinnig loop nie, maar sy kón loop. Die noodlot wou ook nie daardie dag vir ons glimlag nie. Toe ek weer sien, lê Ma op die sypaadjie. Ek was vyf, ek kon haar nie keer nie. Dit was die begin van Ma se valsiekte. Ek het gevoel hoe my siel uit my lyf geruk word en in ’n oogwink weer soos ’n vuishou terug in my lyf skiet. Ma het die gillende kind met haar een hand beetgekry en styf teen haar lyf gedruk. Nie om die kind te troos nie, maar ’n oorlogtaktiek om te verseker dat niemand die kind kan gryp en hardloop nie.
Ma het ook gehuil. Sy kon nie self opstaan nie. Op 35 jaar het haar bene net besluit dat dit nie meer wil saamwerk nie. Selfone was daar nie. Ma het haarself laat sit teen die haarkapper se winkelvenster en die snikkende kind op haar skoot getrek.
“Ek dink sy is dronk,” het die een tannie gesê wat neus in die lug klak-klak op haar skoene.
“Sies!” sê die een wat saam met haar loop. “En dan het sy nog só ’n kleintjie by haar.”
“Skaam jy jou nie?” Het ’n ander een weer gesê.
Ma kon nie gepraat kry deur die trane en die skaamte wat vrou na vrou oor haar kom spoeg nie. Dit het gevoel soos ’n ewigheid tot ma se busvriendinne opdaag en haar probeer optrek. Van die straatwerkers het kom help om die mies op te tel. Dit terwyl Ma nie een oomblik my hand uit hare laat glip het nie.
Ons is huis toe. Pa was kwaad. Nie vir ma nie. Vir die wêreld, vir die Heelal, en elke liewe stukkie snobisme wat ’n onderrok en haakskoene gedra het. Ma was dokters toe en het uit die hele gedoente net haar kierie gekry. Elke keer as ek ma gesien het val, het ek onthou van die dag toe Ma nooit dronk was nie.
Miskien is dít waarom ek steeds ’n donker spies in my dra vir enige mens wat dink hy is beter as ’n ander. Dalk is dít waar ek besluit het dat die geseëndes in die lewe nie die mense met geld is nie, maar dié wat ’n ander uit liefde kan ophelp. Ek is van gedagte dat daardie die plek is wat my laat glo het dat selfs die Bybel my nie sal dwing om oor ander my oordeel te spoeg nie. En toe leer ek lees; en ek lees die Bybel anders.
Vandag staan ek op die einste busstop en dink: Ek is seker die enigste drommel wat nog aan daardie dag dink, is net ek. Daardie mense het toentertyd al van die vallende vrou en haar kleintjie vergeet. “Let it go,” dink ek met die melodie in my kop. Maar nee! As ek dit vergeet, vergeet ek dalk hoe elkeen met wie ek al in my lewe ’n stukkie gedeel het, waarde vir die Heelal dra – al is hulle nie soos die Bybel hulle wou hê nie.
Groete
Heino


Kommentaar
Dit is nou pragtig geskryf. Baie dankie daarvoor.
Dit is pragtig geskryf en die onthou verskyn gewoonlik helder, wanneer dit ge-"trigger" word.
Baie mooi leerstukkie.
Pragtige storie en so waar, veral oor snobisme waar mense dink geld maak hulle beter as ander. Laat mens dink.
Dankie vir hierdie kosbare skrywe.
Pragtig geskryf. So hartseer.
Onder die vel in! Welgedaan, dis pragtig.
Pragtig geskryf. Hartswoorde.
Dit laat 'n mens weer baie ver terug dink. Ek myself het ook spiets oorleef, maar sonder my ma, wel net my kollegas. Pragtig geskryf. Ek het dit meer as een keer gelees.
Die predikant het selfs my ma kom sien om te hoor of my pa dalk 'n drankprobleem het. Hy is jare later met progressiewe supranukleêre verlamming gediagnoseer.
What a heartfelt story ... So well articulated, one is almost right there ... in the writer's place. ☺️
My hart huil. Het dit al so baie gesien, ook in my beroep. Loop eers 'n paar treë in 'n ander persoon se skoene voor jy sommer 'n oordeel vel. Diep storie, en dit spreek tot 'n mens.