In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Agnes Boswell van King Williams Town was reeds ’n bejaarde weduwee toe haar jonger suster oorlede is en sy laasgenoemde se seun, Ivan, onder haar vlerke geneem het. Maar, anders as sy tante, was Ivan self nie beklee met engelvlerkies nie. Hy het reeds ’n kriminele rekord gehad, en mev Boswell was seker nie verbaas toe die polisie vroeg in Februarie 1976 by haar huis aankom met die nuus dat hy gesoek word in verband met huisbraak nie. Ivan was nie tuis nie, en die polisieman het gesê dat hy hom sou skiet as hy hom sou vind.
Twee dae later, op 5 Februarie 1976 – dis ook al 37 jaar gelede – het dieselfde polisieman mev Boswell by haar huis kom meedeel dat hy Ivan toe doodgeskiet het en dat sy na die polisiestasie moet gaan om die lyk uit te ken.
Daar aangekom is sy meegedeel dat sy moet wag, "want die lyk moet eers afgeneem word". Buitendien was dit "vol gate geskiet", en kon sy dit eers uitken "nadat dit toegewerk is". Sy het vyf uur lank gewag, en toe navraag gedoen by ’n ander polisie-offisier, wat haar meegedeel het dat Ivan nie regtig geskiet is nie, en dat sy huis toe moet gaan.
Terug by die huis het mev Boswell ineengestort en haar bewussyn verloor. ’n Dokter wat haar ondersoek het, het bevind dat sy aan senuskok gely het, en dat haar gesondheid daardeur ernstig geknou is. Dié toestand het minstens ’n maand lank geduur.
Mev Boswell het daarna ’n aksie om skadevergoeding teen die SAP ingestel. Die landdros wat die saak verhoor het, het bevind dat hoewel sy in ’n mate skok opgedoen het as gevolg van die betrokke polisieman se liegstorie, "dit van ’n nietige en verbygaande aard was". Haar aksie is gevolglik van die hand gewys.
Mev Boswell het na die Hooggeregshof geappelleer, en regters Eksteen en Kannemeyer van Grahamstad het die saak verhoor.1 Die hof het van die landdros verskil dat die voorval nié ’n ernstige uitwerking op mev Boswell se gesondheid gehad het nie.
Die SAP se advokaat het daarna geargumenteer dat die betrokke polisieman nie die gevolge van sy opgemaakte storie kon of moes voorsien het nie. Die skok wat mev Boswell opgedoen het, het hy aangevoer, was nie as gevolg daarvan dat haar eie lewe in gevaar was nie; sy het senuskok opgedoen oor wat met haar nefie sou gebeur het. Om met ’n aksie om skadevergoeding weens senuskok te kan slaag – so is geargumenteer – moet die eiser bewys dat sy persoonlik in gevaar was, soos dat sy byvoorbeeld byna-byna deur ’n motor omgery is.2
In die hof se uitspraak sê regter Kannemeyer dat hierdie argument waar kan wees waar nalatigheid ter sprake is, soos byvoorbeeld waar iemand ’n voertuig nalatig bestuur en ’n voetganger senuskok opdoen omdat hy amper omgery is. In so ’n geval sou die hof ondersoek moes instel na hoe groot die gevaar vir die voetganger persoonlik was, ten einde te kan besluit of die senuskok deur die bestuurder van die voertuig voorsien moes gewees het, of nie. Maar in mev Boswell se geval was die polisieman nie nalatig nie; hy het opsetlik opgetree; hy wou haar skok. Dat ’n persoon onder sulke omstandighede senuskok kan opdoen, is nie alleen voorsienbaar nie; dit word juis beoog.
Die hof was dus tevrede dat mev Boswell se appèl moes slaag, en het aan haar skadevergoeding ten bedrae van R750 toegeken – ’n nie te onaansienlike bedrag vir daardie jare nie. Die SAP moes ook haar hofonkoste betaal.
Ongelukkig lees ons nie in die hofverslag wat oplaas toe met Ivan gebeur het nie ...

