Akkordeonaanslag in Antwerpen

  • 15

Marike van der Watt

  • Marike van der Watt is besig met ’n PhD-graad in vertaling by Universiteit Stellenbosch en Katholieke Universiteit Leuven. Sy en haar gesin spandeer 2018 in België.

Ek dink hier baie aan vreemdelinge en om vreemd te wees, nie net omdat ek self ’n vreemdeling in ’n vreemde land is nie, maar ook omdat my studieonderwerp daarna vra! En vanoggend terwyl ek vinnig van Antwerpen Centraal in die Meir af stap Sint Andries toe (vinnig nie omdat ek haastig is nie, maar omdat my jas nie warm genoeg is nie en dit dreig om weer te begin reën), omring deur luukse winkels en walms van koffie en warm wafels uit bakkerye, kom die melankoliese klanke van ’n akkordeon al hoe nader. ’n Vreemdeling wat sy fortuin, of dalk net ’n hongerloon, in groener weivelde kom soek het? Niemand maak oogkontak terwyl hulle (ook haastig) by hom verbyloop nie. Ek vind die mense hier se vermoë om oogkontak te vermy, nogal indrukwekkend. Dit maak dit bykans onmoontlik om iemand selfs oorkant jou op die trein te groet. Ek probeer dit verklaar – is dit omdat hier so baie mense is dat hulle probeer om emosionele energie te bespaar en daarom interaksie met vreemdelinge beperk? Is hulle bang ’n vreemde sukkelaar se ongeluk sal op hulle afsmeer? Ek vermy ook oogkontak terwyl ek by hom verbystryk, omdat ek skuldig voel dat ek nie kan bekostig om euro’s om elke hoek en draai uit te deel aan mense wat tog bydra tot die tipies Europese karakter wat ’n straatmusikant agter sy bakkie met munte skep nie. Terwyl sy musiek wegsterf, groei my skuldgevoelens omdat ek nie sy bestaan erken het nie. Omdat ek nie vir hom gewys het “sawubona” – ek sien jou – nie.

Onderweg hierheen het ek wel die man wat oorkant my gaan sit het, gegroet. En in plaas daarvan om homself in sy koerant te verdiep en my toe te laat om verder deur my Nederlandse beursaansoek te worstel, wou hy weet waar ek vandaan kom. Was dit so vreemd om gegroet te word? Hy is verras om te hoor ek kom van Suid-Afrika af en ons begin oor taalverskille gesels. Hy ry nie gewoonlik met hierdie trein nie, verduidelik hy, maar hy gaan nie vandag werk toe nie. Watter werk dink ek doen hy? Ek raai sommer die eerste ding wat by my opkom: ’n onderwyser? Toe nie – hy werk met “illegalen”, onwettige immigrante. Dit is seker moeilik om oor hierdie mense se lot te beskik? wonder ek. Is Suid-Afrika ’n goeie land? is sy teenvraag. Hoe verduidelik jy aan iemand wat nog nie daar was nie hoe jy jou mense se groet op straat mis, die son, die bekendheid van jou taal, maar dat jy hier beter slaap omdat jy veiliger voel? Dat jy jou groep drafmaats in Jonkershoek en teen Stellenboschberg mis, maar dat jy hier die vryheid geniet om alleen in ’n bos te kan gaan draf of in die donker vroualleen van die stasie af huis toe te kan stap? Ik hou van mijn land, maar er zijn ook veel onzekerheden. Dit klink so hulpeloos, so vreemd in my ore. Hy klim ’n rukkie later af by Aarschot, en drie vroue kom neem rondom my plaas. Net die een langs my groet, en die res van die rit tot in Antwerpen klets hulle vrolik voort terwyl ek aan my aansoek vir ’n paar euro’s timmer.

Kort nadat die akkordeon se klanke verdwyn het, klink daar weer dofweg ’n deuntjie op. Kan dit die wind wees wat gedraai het, of ’n eggo wat deur die geboue teruggekaats word? Maar dit word al hoe duideliker, en dan sien ek die tweede musikant op sy rooi opvoustoel en akkordeon ’n entjie verder langs die straat. Hierdie keer groet ek hom, en dan begin my oë krap en moet ek vinnig in my sak grawe om my neus met ’n growwe Panos-servet af te vee.

Foto van akkordeonspeler se sitplek: Marike van der Watt

  • 15

Kommentaar

  • So pragtig geskryf! Ek loop saam met jou deur die straat en voel elke emosie saam met jou ... Dis so waar.

      • Avatar
        Elsa-Marié van der Watt

        Ek geniet die Vannerwatts se stories. Julle almal het so ‘n heerlike, gemaklike skryfstyl. Julle neem my saam op reis en ek voel soos familie! Ek wil niks mis nie. Elsa-Marié, ek kan nie wag om saam met jou ‘n dik Belgiese wafel met sjokolade bedruip te verorber nie. Geniet die wonderlike voorreg om vir ‘n hele jaar lank in België te woon. Baie groete.

  • Avatar
    Ghislain J.J. Duchâteau

    Voor mij is dat alles zo herkenbaar als Vlaming.
    Ik ken Aarschot, ik ken Antwerpen, ik ken de straatmuzikanten, ik ken de gauwte waarmee mensen door elkaar en langs elkaar heen lopen, ik ken de vermijding van oogcontact ... Met veel genoegen heb ik de tekst gelezen.

    • Dag, Ghislain! Bedankt voor uw opmerking. Het is leuk dat uw mijn waarnemingen kan bevestigen 🙂 We zijn zeer gelukkig hier, ik vind net de cultuurverschillen heel interessant!

  • Avatar
    Alwyn van der Lith

    Marike, hoe kan enigeen jou vriendelike gesig miskyk of oogkontak vermy! Jy laat my aan 'n vriendinnetjie dink. Dieselfde vriendelike gesig en glimlag, net meer woeste krulle Ja, ek is 'n Suid-Afrikaner woonagtig in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal en oogkontak ontwyk is al 'n kuns. Dis nou sommer openlik ignoreer. Waar is die dae wat ons selfs met 'n wildvreemdeling 'n geselsie sou aanknoop. Ek het jare gelede al die gewoonte aangeleer om nie soos almal in 'n hysbak, die deure te bekyk nie maar sal in 'n hysbak vol mense in die deuropening bly staan en elkeen direk in die oë te kyk en dan reaksies dop hou. Nogal wyd verspreide reaksies hoor! ( Jy praat so mooi Nederlands en ek hoor die uitgerekte "Hooor" net soos "daaag".
    Groete in België en voorspoed met jou studies! Alwyn

    • Baie dankie vir jou mooi woorde, Alwyn! Hopelik is daar gereeld nuuswaardighede wat ek met LitNet kan deel, maar vir eers moet ek my navorsing behoorlik takel 🙂
      Groete,
      Marike

  • Dit is presies hoe ek voel. Na 17 jaar in Nederland word ek steeds skeef aangekyk oor ek mense op straat groet. En oogkontak vermy is hier in ons "kikkerlandje" 'n olimpiese sport.

    • Hallo Lezanne! Dis nogal vreemd hoe 'n uitwerking dit op 'n mens het as jy sukkel om mense gegroet te kry ... Maar vanoggend het ek weer 'n gawe dame op die trein ontmoet wat toe ook heel op hoogte is met wat in Suid-Afrika aan die gang is. Ek hoop om binnekort ook 'n draai in Nederland te maak. Mooi wense! Marike.

  • Marike, ek sien daar is gedurende 2018 allerlei Barokfeeste in Antwerpen! Hoe ervaar jy dit? Ek oorweeg dit om in November 'n uitvoering van Händel se Messias daar by te woon. Groete.

    • Hallo Susan, baie dankie dat jy my daarvan sê - ek het nie eers geweet van die feeste nie, maar sal nou beslis kyk of ek sommige daarvan kan bywoon.
      Groete! M

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top