Akademiepryse 2017: LW Hiemastraprys vir niefiksie aan Carel van der Merwe

  • 0

Carel van der Merwe, by ontvangs van die Protea Boekhuisprys vir beste gepubliseerde boek in Afrikaans oor geskiedenis of kultuurgeskiedenis, Akademiepryse 2016.
Foto: Naomi Bruwer

 

Die LW Hiemastraprys vir niefiksie is toegeken aan Carel van der Merwe vir Donkerstroom.

Huldigingswoord: Hennie van Coller (gelewer deur Hester Carstens)

Die kategorie waarvoor hierdie prys toegeken word, naamlik niefiksie, skep groot uitdagings omdat fiksie en niefiksie nie klinkklaar onderskeibaar is nie. Gewoonlik word aanvaar dat die eersgenoemde primêr inligting oordra wat op die werklikheid betrekking het en dat fiksie eerder ’n versonne werklikheid daarstel. In ’n era waarin streng grense en onderskeidings uitgewis word, hou so ’n streng onderskeid nie steek nie.

Donker Stroom deur Carel van der Merwe vul die bestaande navorsing oor die enigmatiese Eugène Marais op  voortreflike wyse aan. Leon Rousseau se biografie (Die groot verlange) oor Eugène Marais word allerweë aangeslaan as een van die beste Afrikaanse literêre biografieë. Desondanks bly hy in gebreke om belangrike feite oor Marais se Londense verblyf tydens die Anglo-Boereoorlog na vore te bring, omdat hy van mening was dat sodanige feite nie opspoorbaar was nie. Van der Merwe het deur nougesette ‒ en vernuftige ‒ navorsing daarin geslaag om nie net inligting oor hierdie tydperk in te win nie; hy nuanseer die beeld van Marais as Boere-patriot aansienlik. Marais word gesien as ’n aweregse persoon wat op onverskrokke wyse die korrupsie van staatsamptenare (ongeag status of rang) aan die kaak gestel het en byvoorbeeld gebots het met die destydse staatspresident, Paul Kruger. Kruger se bevoorregting van gesins- en familielede herinner onwillekeurig aan eietydse nepotisme en bedrog. Van der Merwe wys op Marais se simpatie vir die Engelse taal (en owerheid) en vriendskappe met verskeie prominente persone wat hoofrolspelers in die Engelse oorlogsmasjien tydens die ABO was, soos Milner en Fitzpatrick. Van der Merwe het ’n oog vir historiese relativisme en hy beskuldig Marais daarom nooit direk van hoogverraad nie. Eerder laat hy die oordeel oor aan eietydse lesers. Dit is voortreflike – en nuwe ‒ navorsing en knap geskryf. Al kritiek sou seker wees dat die skrywer (soos bykans alle skrywers van biografiese tekste) na aan hul onderwerp staan en sy dade vergoeilik óf probeer verduidelik.

Van der Merwe se boek is al herhaaldelik bekroon (ook met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Stalsprys vir geskiedskrywing) en dit op sigself getuig van die gehalte daarvan. Hierdie werk is ’n voortreflike stuk historiese navorsing, maar ook vlot en toeganklik geskryf. Dit verdien beslis ook die prys vir niefiksie.

Meneer, die voorsitter, ek vra u om nou die LW Hiemstraprys vir niefiksie toe te ken aan Carel van der Merwe vir Donker Stroom.

Stellenbosch
21 Junie 2017

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top