Akademiepryse 2017: Eugène Maraisprys vir prosa aan Lien Botha – commendatio

  • 0

Wessel Pienaar, Lien Botha en Ronel Foster
Foto: Naomi Bruwer

Die Eugène Maraisprys vir prosa is aan Lien Botha toegeken vir haar debuutroman, Wonderboom.

Huldigingswoord: Willie Burger (gelewer deur Ronel Foster)

In Lien Botha, ’n gevestigde fotograaf-kunstenaar, se debuutroman, word nóú by Wilma Stockenström se roman, Die kremetartekspedisie aangesluit.

In Wonderboom is die hoofkarakter ook ’n vrou. Sy woon in Bettysbaai, maar in ’n ongespesifiseerde toekoms – in ’n tydperk nadat wet en orde in die land in duie gestort het. Voedselskaarste heers. Sy het haar status as bevoorregte, vooraanstaande lid van die gemeenskap verloor en in armoede versink. Sy besluit om na die noorde van die land te reis, na waar haar familie is. Die reis is veel meer as bloot ’n moeisame tog van die Kaap na Pretoria waartydens sy haar onder meer moet vermom, gunste moet doen in ruil vir hulp, Kafka se krioelende insekte moet trotseer, ’n lyk onherkenbaar moet vermink, en soms deur vreemde reisgenote vergesel word.

Soos in Stockenström se Die kremetartekspedisie, is hierdie ekspedisie van Magriet ’n poging om die verlede onder woorde te bring, ’n reis na binne en na buite. Dit is ook ’n roman waarin die aandag telkens op die taalgebruik self gefokus word. Soos die slavin, begeer ook Magriet om uiteindelik onderstebo aan die boom te hang – soos ’n vlermuis. Anders as in Die kremetartekspedisie, is die ruimte ’n baie herkenbare Suid-Afrika waarin talle van ons eietydse probleme vanuit verskillende kante belig word – van ekonomiese stelsels, armoede en kinderopvoeding, tot magsmisbruik, korrupsie en apatie.

Sentraal staan die belang van herinnering, van kennis van die verlede – wat op verskeie maniere en deur verskeie kunsvorme ondersoek word. By elke hoofstuk is daar ook ’n kunswerk wat iets vasvat van herinnering – dit is aanvanklik ’n soort collage van kaarte, foto’s, briewe, boeke en ander artefakte wat saam as bolwerk teen die groot vergeet moet dien. Hierdie foto’s word geleidelik al hoe leër – soos wat Magriet se herinneringe vervaag – totdat slegs enkele blare by die laaste hoofstukke voorkom – slegs spatsels en patroon.

Wonderboom is ’n boeiende leeservaring wat ontstel weens die reliëf wat aan ons eietydse ervarings gegee word, wat dikwels ook snaaks is, en wat op indringende wyse nadink oor die maniere waarop die verlede benut word om sin te maak van ons bestaan.

Ek versoek die Voorsitter om die Eugène Maraisprys vir prosa aan Lien Botha te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

Lees die LitNet Akademies-resensie-essay van Wonderboom deur Henning Snyman.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top