Akademiepryse 2017: Die Proteaprys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs aan Anneke van Heerden – commendatio

  • 0

Wessel Pienaar, Anneke van Heerden en Wessel Visser
Foto: Naomi Bruwer

Die Proteaprys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs is aan Anneke van Heerden toegeken. Die prys word toegeken vir haar MA-verhandeling met die titel "Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die Suid-Afrikaanse blanke burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog 1968-1989".

Huldigingswoord: Wessel Visser

Anneke van Heerden het in 2007 aan die Hoërskool DF Malan met vier onderskeidings, onder andere in Geskiedenis, gematrikuleer en dus reeds vroeg groot akademiese potensiaal as historikus getoon. Aan die Universiteit van Stellenbosch het sy in al drie voorgraadse jare van haar BA-kursus sekere Geskiedenismodules met onderskeiding geslaag. In 2011 slaag sy die Geskiedenishonneurskursus met onderskeiding, en behaal 'n Meestersgraad in Geskiedenis in 2014, eweneens met onderskeiding. Tussen 2011 en 2015 ontvang sy 'n Merietebeurs, 'n NNS-navorsingsbeurs, asook Marlene Silbert-toekenning vir Holocaust en Menseregte-opvoeding. Daarby het sy vinnig gevorder tot Vakhoof vir Sosiale Wetenskappe en Geskiedenis sedert haar aanstelling as leerkrag aan die Hoërskool President in Goodwood in 2015.

Die onderwerp van haar MA-verhandeling was “Die ‘Dankietannies’ en die Suid-Afrikaanse Weermag: Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die siviele samelewing van Suid-Afrika tydens die Grensoorlog, 1968-1996”. Soos die titel dui, was die fokus van haar studie die mobilisering van 'n aspek van die burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog. Sover bekend, is dit een van die eerste historiese studies wat op die siviele sy van die oorlog gekonsentreer het en kan gevolglik as 'n pionier navorsingstudie in hierdie veld beskou word. As 'n lid van 'n generasie wat nie self die periode van die Grensoorlog beleef het nie, het me Van Heerden inderdaad 'n uitstekende taak vermag om die dinamika van mobilisering en betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse burgerlike bevolking by die oorlog te ontleed en te beskryf. Ten spyte van die feit dat die meeste argivale dokumente oor die Suiderkruisfonds verlore geraak het, het me Van Heerden deur goeie navorsing ook daarin geslaag om 'n akademiese narratief oor hierdie grootliks vergete organisasie te skryf en die baanbrekerswerk wat dié fonds ten opsigte van die sosiale en maatskaplike versorging van 'n hele geslag Suid-Afrikaanse soldate verrig het, te boek te stel.

Meneer die voorsitter, ek versoek u om die Protea Boekhuisprys en die Generaal Christiaan de Wet-beurs vir 2017 aan Anneke van Heerden te oorhandig.

Stellenbosch
21 Junie 2017

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top