Akademia bied eerste nagraadse kwalifikasies en eerste in opvoedkunde

  • 0

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het op Woensdag 8 April 2020 opwindende nuwe kwalifikasies vir 2021 bekendgemaak. Hierdie kwalifikasies sluit onder andere die instelling se eerste nagraadse kwalifikasies in, en ’n eerste programaanbod vanuit die Fakulteit Opvoedkunde. Hierdie studierigtings word op die nauurse onderrigmodel aangebied ­– ideaal vir werkendes wat verder wil studeer.

Die nagraadse kwalifikasies bou die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe verder uit, en bied aan Afrikaanse studente die geleentheid om studies voort te sit met ’n Nagraadse Diploma in Belasting, of ’n Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde. Akademia se eerste aanbod in die opvoedkunde is ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) vir Senior Fase en Verdere Onderwys en Opleiding.

Akademia is trots op hierdie eerstes vir die instelling. "Nadat ’n deeglike akkreditasieproses by die Raad op Hoër Onderwys voltooi is, kan hierdie drie kwalifikasies vanaf volgende jaar oor ’n landwye netwerk van studiesentrums in Suid-Afrika, en in Windhoek, aangebied word," sê Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia. "Afrikaanse studente wat ’n voorgraadse kwalifikasie in die toepaslike rigtings voltooi het, kan nou hulle loopbaanmoontlikhede uitbrei deur verder te studeer om in een van hierdie drie rigtings te spesialiseer – en boonop kan hulle die studies in hul moedertaal doen."

Volgens Visser dien die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde as ’n aanvullende studiemoontlikheid tot Akademia se bestaande BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie. Hierdie nagraadse diploma bied die nodige voorbereiding om toelating tot die Chartered Institute of Management Accountants (CIMA) – die wêreld se grootste professionele liggaam in hierdie veld – se finale eksamens op strategiese vlak te vergemaklik. Na voltooiing van die CIMA-eksamens en -vereistes kan studente as geoktrooieerde bestuursrekenmeesters kwalifiseer.

"Akademia se Nagraadse Diploma in Belasting bied die ideale geleentheid vir studente wat reeds ’n voorgraadse kwalifikasie in ’n rekeningkundige veld voltooi het en in belasting wil spesialiseer," reken Visser. Hierdie kwalifikasie stel studente in staat om die belangrike taak van organisatoriese en individuele nakoming van die vereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Tesourie te verseker.

Professor Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, meen dat die NGOS wat volgende jaar aangebied word, die eerste stap in die ontwikkeling en totstandkoming van ’n volledige Fakulteit Opvoedkunde is. "By Akademia is ons toegewyd om met hierdie kwalifikasie uitstaande onderwysers vir graad 8 tot 12 op te lei, wat oor die nodige pedagogiese inhoudskennis, vaardighede en ervaring in die werkplek beskik."

"Ons by Akademia is dankbaar oor die jongste verwikkelinge vir 2021", vertel Visser. "Dit beteken dat ons steeds hoop kan skep in onsekere tye, en beter geleenthede kan skep vir studente. Ons glo dat afgestudeerde studente van hierdie kwalifikasies hulself goed in die werksplek as afgeronde kundiges sal posisioneer, en ’n groot bydrae sal kan lewer in gemeenskappe waarin hul hulself bevind."

Aansoeke vir studies in 2021 is reeds oop. Besoek Akademia se webblad vir meer inligting oor hierdie kwalifikasies, asook om aanlyn aansoek te doen vir toelating tot die programme.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top