Ai, Ma

  • 0

Foto: Canva.com

Fokken vreemd. Dis sy. Ek ken haar nie anders nie. 

Sondagoggend teem sy elke woord van een of ander song agter die wasbak. “Jy kort Jesus, jy kort Elvis ...” Maar verder kom sy nie. Eers later, as ons twee alleen in die kar is en sy goed weet ek het my earphones by die huis gelos, dwing sy my om te luister. 

“Dis Steve se nuwe song,” vertel sy dan, as if I care.

“Sure,” sê ek, my oë op Tafelberg.

“Hy sê die glimlag wat jy uitdeel, is die tronk waarin jy bly ...” sing sy.

Ek haat hom, sy love hom. Steve, die blonde, middeljarige ou ballie wat sy sê die wêreld van bemarking aan Afrikaanses so flippen goed verstaan, maar hier en daar touch met sy audience verloor. En ek, háár captive audience. 

Dis wat sy doen. Sy praat, jy luister. Verlede week weer was dit alles wat sy by RBG geleer het. “RBG het gesê as jy ’n seun is wat graag ’n pop wil hê, is dit oukei. Almal van ons moet vry wees om ons eie talente te ontwikkel, wat dit ook al is. ‘Women will only have true equality when men share with them the responsibility of bringing up the next generation.’” RBG dit, RBG dat. Tot vervelens toe. “Sure,” sug ek.

Later gaan Google ek uit nuuskierigheid RBG, en leer darem iets van die liberale regter Ruth Bader Ginsburg. Gebore op 15 Maart 1933 in Brooklyn, sterf op 18 September 2020 in Washington. Dis nou as jy die feite online kan glo. Sy was ’n ikoon, ’n kampvegter vir vroueregte. Tipies, dink ek. Kyk weer dáár vir haar inspirasie, vergeet van hiér. Wonder of sy weet wie Pregs Govender, Jani Allan, Shamima Shaikh en selfs Olive Schreiner is? Ek lees meer as wat sy dink. Weet ook meer. Baie meer. 

Oukei, oukei. Ek weet gelukkig meer omdat ek The story of an African farm moes deurwroeg in die duur Engelse skool waar sy besluit het ek moet heen. Ek onthou nie veel nie, net: “There was never a great man who had not a great mother”. En die rits name uit gesprekke in die klas – Pregs, Jani, Shamima, Olive.

Fokken vreemd.

Soos haar ewige liefde vir Seth en Simon. Ek het tot my verligting eers verlede jaar besef Seth en Simon is nie een of ander gay couple uit haar verlede en poging tot joernalistiek nie. Sy hou aan praat oor Seth en Simon soos een wat oor ou vriende praat. “Seth sê: ‘If failure is not an option, then neither is success.’ Simon sê: ‘The goal is not to be perfect by the end. The goal is to be better tomorrow.’” Seth dit, Simon dat. Op repeat. Toe kom ek eendag agter dis Seth Godin en Simon Sinek. Hulle bly nie eens naby ons nie. Sy het nog nooit self met een van hulle gepraat nie, nie in een van hulle se oë gekyk nie, was ook nog nie in dieselfde vertrek as een van hulle nie. Maar, kyk jy op haar Google search history, sien jy dat sy gereeld hul quotes soek. Sogenaamde Amerikaanse leierskapguru’s. Sy stalk en kén hulle, beter as vir my.

Sure. F ... 

“Daai F-woord gaan jou nog eendag jou job kos.” Die ewige gekerm in my kop. Maar ek luister. 

* * *

Ai, Ma. 

Jy was nog altyd vreemd. Ek ken jou nie anders nie. Ek weet ook nie presies wanneer jy dit besluit het nie, maar ek vermoed dit was lank voor my geboorte. Almal sê dit, die brawes ook dáár waar jy dit goed kan hoor: Jý was gelukkig om ’n man te kry. En dus ook vir my.

In jou jong dae was jy glo net té slim en jou boude net bietjie té breed om ouens se aandag te trek. Hulle was weer óf te kort, óf te vet, óf te bang, óf te dom vir jou. Vroulike blommetjiesrokkies en die studentekerk was nog nooit jou ding nie; jou kas was pikswart en jou geloof jou eie saak. Swart hemde, swart broeke (ek dink daar is tien uit toeka, in vier verskillende sizes), swart baadjies, ’n swart rok of twee met ’n hopie Bybels langs jou bed. Vir dag én nag.

Op al die foto’s hang jou swart hemp oor jou heupe en boude, of jou swart rok strek tot op die grond. Jou melkwit cankles veilig weggesteek. Jy skuil in swart uniforms wat kan rek, en rek, so asof niemand kan sien hoe jy stadig maar seker ingroei en uitdy nie. “Chunky jewellery, rooi lipstick. Dan sien niemand die res van my raak nie. Jy kom tog so ver met swart.” Daardie laaste stukkie van die sin laat jou skielik middeljarig klink, maar ek weet jy’s op jou gelukkigste in jou oorlogsgewaad. Altyd in die war, altyd at war.

Ai, Ma. 

Dit was beslis lank voor my geboorte. Dalk selfs voor Pa kort voor jou 30ste verjaarsdag besluit het hy sien kans om jou van die rak af te red, die vrou in swart wat nooit skroom om te sê wat sy dink of hoe sy voel nie. Pa was braaf; hy het geweet jy was lankal klaar met hier. In jou kop was daar net een missie: jou kinders moet die kans kry om weg te kom uit hierdie land wat jou so knel. Die plan is volledig uitgewerk, soos al jou planne altyd is: privaat skool, Britse kurrikulum, prestasies (verkieslik nasionaal) in sport en kultuur, ’n diverse groep Engelse vriende, en genoeg geld vir residency of dalk selfs citizenship om seker te maak die groen paspoort kan eendag vir altyd versnipper word.

Jy laat my in Engels droom, al praat ons op Kersfees Afrikaans. Ons eet bobotie en braaivleis en melktert en koesisters, maar kyk watter vakke mens moet hê om by Oxford of Cambridge in te kom. Jy raas as ek nie die Queen se Engels met jou praat nie, of as ek gooi soos my broue by die ghrênd Engelse skool. “Is kwaai mos! Moetie rai gammattaal gebrykkie. Naai man! Ma se p ... !” Jou oë blits.

Ek laat jou luister na die jonge Dave se “Black” by die Brit Awards vroeër vanjaar en sien dat jy daarvan hou, soos ek. “Look, black is beautiful, black is excellent, black is pain, black is joy, black is evident ...” Ek sien ook hoe jy lekkerkry as net ’n handjie vol van jou vriende verstaan hoekom hierdie song so significant vir jou en my is. Altyd in die war, altyd at war.

Ai, Ma. My kop raas al nes joune. 

* * *

Ek is vyftien en die wêreld is in sy moer. Mense kruip agter maskers weg, ’n gogga uit China sit ’n meter en ’n elmboog tussen almal van ons. Twee blonde kuiwe hou die Amerikaners en Britte in toom en hier by ons weet jy nie regtig wie betaal wat met wie se geld nie. Nie dat dit my so baie pla nie; solank die Wi-Fi werk kan ek my eie pad kry tussen FIFA, Modern Warfare en Rainbow Six Siege. So nou en dan kuier ek en die broue lekker en laat, dankie aan Discord.

Nee, Ma, Discord is nie illegal nie. Dis freeware, dis Amerikaans. Dis ’n chat channel. Wees bly, dis nie van hier nie. Dis van dáár. Ons kuier net, Ma. Dis net die broue, Ma. Nee, daar’s niks chicks nie. Kanalla, Ma. Ma weet mos, Ma! Ma?

Ek dink ek het haar verloor. Sy praat al hoe minder, eet skelm en al hoe meer. Dink niemand sien dat sy nie meer lekker in die stoele pas nie. Sit mos deesdae liewer op die bank. Haar boude is breed, die swart span en die Bybels gaar stof op.

Dis die Maandag na die somber Sondag met Steve, Jesus en Elvis. Sy is lankal op, sien ek toe ek haar breed gepantser in swart agter haar iMac kry. Verbeel ek my? Is haar wange nat? “Ek lees sommer weer bietjie oor RBG. Not fragile like a flower, fragile like a bomb.”

Hier gaan ons weer, dink ek. RBG dit, RBG dat.

“Ja, Ma, dit was oral op Instagram, Ma. Nie heeltemal my ding nie, Ma.” Nou wag ek net vir Seth en Simon ... Maar dié twee vrinne kom nie vandag saamgesels nie.

Dan tref dit my – die wêreld is in sy moer, haar plan ook: Daar gaan die sekerheid oor die privaat skool, die Britse kurrikulum, ’n hele jaar se nasionale prestasies in sport en kultuur, die sterk bande met ’n diverse groep Engelse vriende, en genoeg geld vir residency of dalk selfs citizenship om seker te maak die groen paspoort kan eendag vir altyd versnipper word. Alles moer toe. Suid-Afrika knel, die wêreld ook.

Haar wange ís nat. “Not fragile like a flower, fragile like a bomb,” prewel sy.

“Jy kort Jesus, jy kort Elvis ...” sing ek.

“Jy’s fokken vreemd,” sê sy. “Nes ek.”

Ai, Ma. Sure, Ma.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top