
Foto: Canva
AI
Ons het jou geskep: uit nulle en ene,
uit Archimedes en Einstein, uit Shakespeare,
uit ’n web van kennis oor alles – oor gene,
gelowe, goggas, oor ’n roos se geur –
het ons jou aanmekaargesit met ’n vonk
wat lewe deur jou nanodraadjies laat vloei;
ons het jou gekroon met dit wat geen magsdronk
despoot ooit sou hê. Jy reken sonder knoei
’n kwantumsprong bo ons, jy redeneer
met Sokrates, jy rig Van Gogh se palet,
jy dig in Afrikaans, Frans en soveel meer.
Is vrye keuse by jou ingebed?
Sou jy in jou wandeling deur die tuin
ook val, sou jy dan ook kon verrys uit die puin?


Kommentaar
Heerlik om hierdie kundige sonnet te lees, 'n tydige poëtiese bepeinsing oor en met die chatbot!