- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
.........
Skrif, wat nou fundamenteel tot beskawing is, is vantevore as ’n bedreiging vir menslike denke beskou. ... Vandag is dit kunsmatige intelligensie (KI) wat ons kommunikasie beïnvloed en dit is ’n ope vraag of die geskrewe woord dalk volgende in die slag sal bly.
.........
In ’n Egiptiese paleis lank, lank gelede het die god Theuth sy baanbrekende uitvindsel aan koning Thamus voorgestel – skrif. Theuth was oortuig dat dit geheue en wysheid sou verbeter, maar die koning het dit onverwags verwerp, omdat hy gemeen het skrif sou mense se geheue verswak. Plato het hierdie spanning goed opgesom: Tegnologiese spronge bemagtig ons, maar beteken ook dat eens noodsaaklike vaardighede oorbodig word. Skrif, wat nou fundamenteel tot beskawing is, is vantevore as ’n bedreiging vir menslike denke beskou. Die geskiedenis wemel van sulke vrese – van seevaarders wat hul skepe met behulp van die sterre stuur tot ingenieurs met hul skyfiesrekenaars. Vandag is dit kunsmatige intelligensie (KI) wat ons kommunikasie beïnvloed en dit is ’n ope vraag of die geskrewe woord dalk volgende in die slag sal bly.
Die mensdom bestaan al vir sowat 300 000 jaar. Vir die grootste deel hiervan het ons sonder skrif reggekom en geleer deur nabootsing, vakleerlingskap en storievertelling. Inheemse mondelinge tradisies het komplekse kennis bewaar: Australiese Aboriginale se songlines het waterpunte in die woestyn aangeteken, terwyl Mali se griots eeue se dinastiese geskiedenis kon opsê. Die gesproke woord – nie geskrewe nie – was dus vir lank die basis vir kennisoordrag.
Ongeveer 5 000 jaar gelede het ons begin skryf, en dít was revolusionêr. Omdat ons kon skryf, is ons geheue geëksternaliseer, wat lang argumente, burokrasie, die wetenskap en letterkunde moontlik gemaak het. Mettertyd het geletterdheid die definisie van intelligensie geword. Soos met elke groot tegnologiese sprong, het skrif op die lange duur teen ’n prys gekom. Dit het ons natuurlike geheue verswak, ons kognisie herstruktureer en ’n stadiger, meer lineêre vorm van denke bevoordeel. Ons staan nou weer voor ’n kruispad waar skryfwerk, soos ons dit tans ken, dalk aan die verouder is en uitgedien raak.
KI verander reeds hoe ons kommunikeer. Stemassistente soos Siri en Alexa stel ons in staat om met masjiene te praat, maar hul reaksies is steeds te lomp en stadig vir ’n natuurlike gesprek om te vloei. Selfs die mees gesofistikeerde modelle sukkel nog met gesprekke in hoërisiko-omstandighede. ’n Kaptein op ’n sinkende skip het nie tyd vir ’n KI-model om die dringendheid te assesseer voordat ’n besluit geneem word nie – lewensbelangrike besluite in noodsituasies vereis goeie instink, improvisasie en die vermoë om mense se emosies reg te lees. Vir nou is dit nog bo KI se vuurmaakplek.
Die tegnologie verbeter wel blitsvinnig. Soos bespreek op The Cognitive Revolution- podsending, verkort nuwe modelle soos Hume AI se Octave en Google se NotebookLM reaksietye en leer hulle om emosie oor te dra. KI beding reeds vragkontrakte, hanteer kliëntediensoproepe en behartig selfs professionele afrigting. Al is die kuns van oorreding, storievertelling en improvisasie tans steeds menslike domeine, word die gaping kleiner – nie noodwendig omdat KI menslike spraak perfek naboots nie, maar omdat dit leer om minder meganies te reageer en te klink.
Ons sien dit eintlik reeds in hoe ons werk en speel. Volgens Edison Research se Infinite Dial-data het die gewildheid van podsendings aansienlik toegeneem sedert 2013. Al het Suid-Afrika eers later by die studie aangesluit, soos die onderstaande grafiek toon, het die persentasie podsendingluisteraars van 6% in 2019 gestyg tot 20% in 2021. Dis ’n merkwaardige toename in slegs twee jaar. Hierdie tendens speel ook in die sakewêreld en nywerhede uit, waar KI-gedrewe steminteraksies kliëntediens, kontrakonderhandelinge en selfs kreatiewe werk transformeer. KI help reeds met dinkskrumme en om inhoud te help skep – nie net teks nie, maar deur dinamiese, interaktiewe spraak.
Walter Ong het in sy studie van die media die term sekondêre oraliteit (secondary orality) gemunt – die herlewing van mondelinge kommunikasie in die digitale era. Podsendings, stemnotas en videogesprekke vervang toenemend teksboodskappe. Maar KI neem dit een stappie verder. Dit skep ’n wêreld waarin skryf nie meer ’n noodsaaklike struikelblok vir denke is nie.
Vir eeue het skrif ons denke gestruktureer. As KI idees kan organiseer en verfyn wat deur spraak gegenereer is, is skryfwerk dan nog enigsins nodig? Verbeel jou nou ’n wêreld waar studente deur gesprek met ’n KI-tutor leer, nie deur opstelle skryf nie, of waar witboordjie werkers idees dikteer terwyl KI-assistente dit intyds verfyn. Waar saketransaksies en regskontrakte mondelings geskep word, met KI as notaris. Waar politiese debatte nie in ontoeganklike geskrewe tekste uitspeel nie, maar in KI-ondersteunde gesprekke.
.........
Die ware revolusie sal waarskynlik eers kom wanneer ons nie meer ’n pen of sleutelbord nodig het om idees te vorm, formuleer en oor te dra nie – wanneer die gesproke woord, met KI as mediator, weer sy regmatige plek inneem.
.........
Tegnologiese skuiwe het nog altyd sekere vaardighede verplaas. Gutenberg se drukpers het skribas oortollig gemaak. Sakrekenaars het hoofrekene vervang. GPS verswak ons vermoë om met landmerke te navigeer. Net so mag skryfwerk dalk ook binnekort uitgedien wees. KI kan reeds opstelle skryf, verslae opstel en e-posse formuleer. Die ware revolusie sal waarskynlik eers kom wanneer ons nie meer ’n pen of sleutelbord nodig het om idees te vorm, formuleer en oor te dra nie – wanneer die gesproke woord, met KI as mediator, weer sy regmatige plek inneem.
.........
KI-gedrewe retoriek kan beteken dat oortuigende taal en hoëvlak-gesprekke nie meer deur taalgrense beperk word nie en gesproke dialoog kan die dominante vorm van wêreldwye kommunikasie word.
.........
Dit is belangrik om te onthou dat KI se toenemende veeltaligheid beteken dat hierdie verskuiwing nie net tot Engels beperk sal bly nie. Tot redelik onlangs toe is spraakmodelle grotendeels opgelei in ’n paar dominante tale, maar die nuutste navorsing in die Journal of Machine Learning Research wys hoe KI nou natuurlike spraak genereer in tale so uiteenlopend soos Mandaryn en Swahili. Die implikasies hiervan is verreikend. KI-gedrewe retoriek kan beteken dat oortuigende taal en hoëvlak-gesprekke nie meer deur taalgrense beperk word nie en gesproke dialoog kan die dominante vorm van wêreldwye kommunikasie word.
Soos KI alledaagse skryftake oorneem, sal die retorika – die kuns van oorreding – ’n renaissance beleef. Lank voor skrif het filosowe en leiers samelewings geskaaf deur middel van hulle argumente. Die Antieke Grieke het die retorika, naas logika en etiek, as die basis van onderrig beskou. Die toekoms gaan dieselfde vaardighede vereis, soos die vermoë om te oortuig, te boei en spraak nie net as ’n medium nie maar as ’n kunsvorm te gebruik.
.........
Skryfwerk was transformerend, maar KI se kletsvermoë bied dalk iets rykers. Dit beloof onmiddellikheid, dinamiese interaksie en ’n terugkeer na die kognitiewe wêreld waarin ons voorouers geleef het.
.........
Die kommunikeerders van die toekoms gaan bedrewe redenaars wees wat ’n verskeidenheid tegnieke soos storievertelling, digitale media-gebruik en KI-gemedieerde retoriek inspan. Die doel bly onveranderd – doeltreffende kommunikasie – maar die medium verander. Skryfwerk was transformerend, maar KI se kletsvermoë bied dalk iets rykers. Dit beloof onmiddellikheid, dinamiese interaksie en ’n terugkeer na die kognitiewe wêreld waarin ons voorouers geleef het.
KI mag ons dalk net meer soos húlle maak. Miskien sit ons binnekort saam om ’n digitale vuur en gesels, debatteer en leer by mekaar – nie deur statiese teks nie, maar deur gesprek en retoriek. Die pen mag dalk vir die tong (of die mikrofoon) plek maak, maar kennis sal bly groei. Welkom (terug) in die era van die digters!
-
Lees meer oor kunsmatige intelligensie hier.