Afwesigheid koop brood

  • 0

Foto: Canva

Afwesigheid koop brood

My pa bly in Port Nolloth.

Ek het hom altyd so beskryf:
“Hy bly by die see.”

Dit klink sagter as die waarheid.

Mense hoor see en dink vakansie. Wind in jou hare. Foto’s met son agter jou. Hulle hoor nie afstand nie. Hulle hoor nie stilte nie.

Hy was nie dood nie.
Hy was net nie hier nie.

Ek het lank gedink daardie twee dinge is amper dieselfde. Eers later het ek geleer dit is nie.

Ons huis het drie kinders gehad en twee vaders. Een was teenwoordig tot Januarie.
Die ander was ’n naam wat by die see bly.

My ma was ’n enkelma, maar ek het daardie woord eers later geken. Vir my was dit net hoe dinge is: sy in die kombuis, sy by die wasgoed, sy by die hek wanneer taxi’s kom. Sy het nie gewag dat iemand haar help nie. Sy het net aangegaan.

Hulle pa – my broer en suster s’n – het nie by ons gebly nie. Hy was getroud met ’n ander vrou. Ek het hom net soms gesien. Hy het altyd effens vreemd in ons huis gelyk. Soos ’n gas wat nie weet waar die koppies staan nie.

Ek het vroeg geleer dat pa’s iets is wat soms inkom en uitgaan.

Op laerskool het ’n kind eendag vir my gesê:
“My ma sê jy het nie ’n pa nie.”

Hy het dit nie geskree nie. Net gesê. Soos ’n feit.

Ons het langs die draadheining gestaan. Ek het my hande in my sakke gehad. Ek het nie geweet wat om terug te sê nie.

“Ek het,” het ek gesê. “Hy bly by die see.”

Hy het sy kop skeef getrek. “Dis dieselfde as nie.”

Daardie middag het ek huis toe geloop en my ma niks vertel nie. Ek het net langer as gewoonlik buite gebly. Ek het gewonder of ’n pa iets is wat net tel as hy fisies in jou erf staan.

Daardie sin het saam met my grootgeword.

In Januarie het hulle pa homself geskiet.
Ek onthou nie die skoot nie.
Ek onthou die stilte daarna.

Teen April het my broer op ’n pad gelê wat ek wel gesien het.

Ek was daar.

Die lug het normaal gelyk.
Die son het nie anders geskyn nie.
Daar was glas op die teer.
Nie baie nie.

Net genoeg om te wys iets het gebeur.

Ek het eerste na die grond gekyk.

Daar het ’n medisynebotteltjie gelê.
Met hul kind se naam op.

Die etiket was half geskeur waar dit nat geword het.
Die naam nog leesbaar.

Net effens skeef.

Iemand het onthou om dit saam te bring.
Iemand het gedink daar is nog môre.

Ek het toe eers opgekyk.

Ek onthou nie die bloed nie.
Ek onthou die botteltjie.

Later het iemand gesê dit was vinnig.
Iemand het gesê hy het nie lank gely nie.

Ek het niks gesê nie.

Teen Desember het ek net by my suster se toneel verbygery.

Die pad is oopgemaak.
Die bande het nog oor fyn sand geknars.
Ons het stadiger gery as nodig.
Net genoeg om te weet dis daar.

Ons het nie uitgeklim nie.

Party tonele staan jy in.
Party dra jy van ver af.

Dieselfde jaar.

Ek onthou die hitte by daardie tweede begrafnis. Die sand wat in my skoene ingekruip het. Die manier waarop mense nader kom en jou druk sonder om iets te hê wat help.

Die Vader het stadig gepraat, asof tyd langer kan hou as jy dit uitrek.

Iemand agter my het gefluister:

“Dis seker in die bloed.”

Nie hard nie.
Net genoeg.

In die bloed.

Ek het skielik teruggedink aan daardie laerskooldag by die draadheining.

“My ma sê jy het nie ’n pa nie.”

Nou was die sin anders.
Nou het dit ’n skaduwee gehad. Ek het gewonder watter bloed hulle bedoel.

My broer en suster se pa?
My pa?
My ma s’n?

Myne kom van Port Nolloth.
En ek het begin wonder of bloed iets is wat jou volg, of iets wat ander mense gebruik om jou vas te pen.

Een winter het ek saam met ’n oom see toe gery. Net ’n dag.
Die pad was lank en oop. Minder bome. Meer lug.
Die lug het begin ruik na sout voordat ek die see kon sien. Dit sit in jou neus soos iets wat nie heeltemal skoon is nie.

Port Nolloth is klein. Huise staan laag teen die wind. Mense bou nie hoog waar die wind alles vat nie.

Die see was nie blou nie.
Dit was grys.
Plat.
Swaar.

Die wind het sout op jou lippe gelos. Dit het teen jou tande geknars.

Ons het by ’n winkel gestop. Sinkdak. ’n Deur wat klap wanneer dit oopgaan.

Hy het daarbinne gestaan.
By die broodrak.

Hy het ’n brood in sy hand gehad en dit omgedraai asof hy die prys lees. Sy vingers was growwer as wat ek onthou het. ’n Dun skeur in sy jas se mou. Sy hare dunner. Sy skouers effens rond, soos iemand wat teen wind leef.

Ek het geweet dit is hy nog voor my brein dit klaar sê.
My asem het anders begin werk.
Hy het gelag vir iets wat die kassier gesê het. ’n Gewone lag. Nie swaar nie. Nie gebreek nie.

Ek het gewonder of hy April onthou.
Of Desember.
Of hy weet wat mense oor bloed sê.

Hy het sy brood op die toonbank gesit. Sy hande het geld uitgehaal. Presies getel.
Stadig.
Hy het sy kop effens gedraai.Ons oë het nie heeltemal ontmoet nie.
Net amper.

Ek het gewonder of hy my sou herken.
Of hy sou sê: Dis my kind.

Ek het nie beweeg nie.
Hy ook nie.

Die deur het weer geklap. Wind het ingestoot.
Sout het oor die vloer gerol soos fyn sand.Hy het sy brood gevat en uitgestap.

Ek het gekyk hoe hy teen die wind instap.

Nie vinnig nie.
Nie stadig nie.
Net gewoon.

Ek het nie sy naam gesê nie.
Ek het nie geweet of hy myne sou sê nie.

Hy het nie daardie jaar gebel nie.

Nie in April nie.
Nie in Desember nie.

Later het iemand gesê:
“Hy weet seker nie hoe om te begin nie.”

Maar stilte begin elke dag weer.

Dis nie ’n eenmalige besluit nie.
Dis iets wat jy elke oggend kies.

Nou is ek ouer as wat my broer was.

Ek dink daaraan wanneer ek wakker word en my eie asem hoor. Wanneer ek voel hoe tyd op ’n mens kom sit sonder om te vra.

Ek weet nou die kind by die draadheining was verkeerd.
Ek het ’n pa.

Hy bly by die see.

Hy koop brood.
Hy lag vir kassiere.
Hy draai nie heeltemal sy kop nie.

Ek het lank gedink afwesigheid is ’n soort dood.
Dis nie.

Dood eindig.
Afwesigheid hou aan.

Dood sit nie by ’n broodrak nie.
Afwesigheid doen.

Dood laat jou nie wonder of jy in iemand se bloed loop nie.
Afwesigheid doen.

Ek weet nou hoe om ’n deur self oop te maak.
En hoe om dit toe te hou.

Sommige mense bly by die see.

Sommige mense bly in jou bloed.
En sommige mense bly net stil
My pa bly by die see.

Dit klink sagter as die waarheid.
Maar dis genoeg

Ek weet nou wie ek is
selfs wanneer niemand my naam sê nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top