Afwagtend

  • 0

Foto: Pixabay.com

Dag vyf-en-twintig van die inperking word aangekondig op die radio se sesuur-nuus. Nog ’n dag nader aan die einde van hierdie waansinnige afsondering. ’n Voelgoed vrouetydskrif het Landi geleer om eerder só te redeneer.

Nie dat die afsondering waansinnig is nie, maar om op ’n positiewe wyse die dae af te tel. Nog ’n dag nader aan die einde. Die einde van die inperking, die einde van die virus, die einde van háár siek wees. Dit is ’n dag nader aan die verlossing van wat ook al die aard van elkeen se inperking is, ’n dag nader aan vryheid. Landi wonder of sy na dese ooit weer werklik vry sal wees.

Die seweuur-nuus op TV herinner haar dat dit Dinsdag is. Hier, in haar skuiling van stilte en afwagting, is die dae se name en ure verstrengel saam met die stof in die spinnerakke agter die yskas. Tyd lê dood saam met gister se vlieë op die vensterbank. Landi sal afstof en die yskas wegskuif as sy weer krag in haar lyf het.

Vandag is sy net te lam. Met ’n halwe oor luister sy na die weervoorspelling. Sy kry toestemming om van slaapbroek na sweetpakbroek te verander. Warm kos en baie tee sal vandag se spyskaart vul. Die radio en TV sal teenmekaar kompeteer vir klank, want die buitegeluide moet uitgesny word.

Die Noordwes gaan weer amok maak en Landi is te broos vir sy weeklaag teen die ruite. Sy is broos, punt. Sedert sy begin siek voel het, bly die trane vlak. Hoe dit ook al sy, Landi kom agter haar mense baklei die laaste paar dae net so hard teen die negatiwiteit. Die seisoensverandering het ook ’n vinger in die pastei. Die weer is so deurmekaar soos die tye self. Herfs sit nie vanjaar goed in die mens se vel nie. Die naderende winter torring die reeds voos gemoedere los.

Agtuur gaan die alarm op Landi se selfoon af. Dis tyd vir haar medikasie. Haar “smarties” vol vitamiene en boosters. Daarsonder sal haar toestand ondraaglik wees. ’n Vinnige toast-broodjie word ingewerk sodat die “smarties” nie in ’n leë maag gaan lê nie. Terwyl Landi in die kombuis is, beplan sy middagete. Sy haal groente en vleis uit die vrieskas en prys die Here vir die vryheid van keuses in tye soos dié. Vir so baie ander is die keuse reeds gemaak met leë koskaste.

Tienuur begin ’n heruitsending van haar gunsteling-sepie. Sy kou aan ’n appel terwyl sy haar koors en bloeddruk meet. Die uitslae word opgeteken in ’n joernaal – haar dokter se voorstel. Haar vordering is goed ten spyte daarvan dat die siek haar hele lyf vol sit.

Ná die sepie sy halfuur-tydslot voltooi het, skraap Landi moed bymekaar en trek ’n gordyn of twee oop. Dit bly moeilik, maar haar oë is nou al goed ingeoefen om die verbode, onbereikbare aan die buitekant te vermy en eerder te fokus op die nuwe dag se sonskyn en vars lug wat sy haar huis binnelaat. Nóg ’n vrye keuse. Sy kan kies om die lig binne te laat. Skuins voor elf pak ’n niesbui haar beet. Die boks tissues speel wegkruipertjie en Landi moet gryp na ’n toiletrol.

Sy was nie een van die vraatkopers nie, maar daarvan het sy meer as genoeg. Dít en Vicks. Daar is min dinge soos ’n smeersel Vicks wat ’n toe neus en benoude bors weer oopkry. Iewers tussen twaalf en een baklei die siek in Landi se lyf met haar. Die toast en appel soek uitkomplek.

Met ’n rou keel en gekneusde knieë, sleepvoet sy kamer toe. Vergeet van middagete, sy kort rus. Die hordes kussings op haar bed word sorgvuldig om haar gedruk en gepak. ’n Vertroostende kokon vir ’n liggaam wat pyn. Die slaap kom haal haar spoedig en vir ’n uur of twee ontsnap sy na vryheid. Vryheid van inperking, die virus, vrees en vryheid van haar eie lyf. Maar die tronk se deur klap weer agter haar toe, toe haar selfoon lui.

’n Familielid wat uit liefde en besorgdheid in check. Ja, dit gaan nog goed. Ja, sy eet gesond. Nee, sy het nog nie weer die bure se kat gesien nie. Dankie, sy sal sê as sy iets nodig het. Landi sug effe geïrriteerd en wens vir ’n stemopnemer sodat sy net die knoppie kan druk om almal se roetine-vrae te beantwoord, maar dan herinner sy haarself weer daaraan dat hulle net goed bedoel. Opnuut dankbaar vir dié wat omgee, beantwoord Landi dan sommer ook die paar ongelese boodskappe in haar inbox.

Die minute van die namiddag sweef verby en smelt weg in die skemer se naderende donkerte. Landi maak two-minute-noodles. Die vleis en groente sal moet wag tot môre wanneer sy weer krag het om voor die stoof te staan. ’n Skuldgevoel kou aan haar oor die gebrek aan ’n maaltyd wat voedsaam genoeg is en oor die leuen van vroeër dat sy gesond eet. Landi sus haar gewete met nog ’n appel.

Die aand loer deur die oop gordyne en kom lê in haar huis saam met die seweuur-nuus op TV. Landi trek die gordyne toe en kyk verby die vlieë op die vensterbank. Die dodetal het gestyg. Die Noordwes het gaan lê, selfs die wind het sy deel vir die dag gedoen. Sy het ook by alles uitgekom wat sy vir haarself neergeskryf het vir die dag, dink Landi tevrede as sy haar dagboek toemaak. Die belangrikste een was om deur die dag te kom.

Ná ’n vinnige stort, lê sy agtuur weer knus in haar kussingkokon-bed. Beskut en beskermd teen die wêreld daar buite. Tevrede met die bekende, tevrede met die híér. Die nag se koue wat reeds teen haar huis se mure hang, kan nie naby haar kom nie. Haar liggaam is ’n oond, ’n broeikas wat die virus aan die gang hou.

Landi se oë volg die sekondewyster van die wekker op haar bedkassie. Sy het tyd goed gehoorsaam vandag. Sy kry dit nou reg om haarself gewillig te verloor in die opdeling van ure, beplanning en roetines. Die voelgoed tydskrif se raad om jou sanity te behou in tye van vlieë op die vensterbanke en stof agter die yskaste. Landi vou haar hande om haar maag.

Die virus groei by die dag sterker. Oormôre moet sy weer die dokter gaan sien, dan sal sy weet of dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie is. Dís iets om oor opgewonde te wees. Landi maak haar oë toe en sê dankie vir die opwinding. Sy sê dankie vir die virus in haar lyf. Sy sê dankie vir nog ’n dag wat verby is, nóg ’n dag nader aan die einde van hierdie inperking. ’n Dag nader aan die einde van die lewe soos sy dit nou ken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top