Afternoon of a Foehn is baanbrekerswerk

  • 0

Die sogenaamde Seasons France sorg vanjaar vir groot opwinding by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad. Hierdie samewerking van Franse en Suid-Afrikaanse kunstenaars lewer uitstaande en baanbrekende werk van regoor die kunsspektrum.

Afternoon of a Foehn is een van hierdie werke. Hierdie stuk getuig van verbeeldingskrag wat sorg vir ’n unieke magiese ervaring. Die verhoogruimte is sirkelvormig en omring met 24 elektriese waaiers. Hierdie eenvoudige spasie word vroeg in die vertoning in ’n gewyde ruimte omskep waarin daar deur die uitvoerende kunstenaar Cécile Briand lewe geskenk word aan doodgewone plastieksakke wat vaardig geknip word om ’n mensagtige vorm aan te neem. Soos wat die ervaring is met marionette, word die gehoor aangehits om aan dié plastiekvorme menslike eienskappe toe te ken. Die vaardige gebruik van lug dien dan as ‘n soort bron van lewe wanneer hierdie plastiekmarionette lewe kry en veronderstelde gechoreografeerde bewegings begin uitvoer. Afternoon of a Foehn (foehn wat beteken “’n droë wind”) onder die artistieke direksie en choreografiese leiding van Phia Ménard is ’n baie toeganklike sogenaamde Performance Art-werk, ’n kunsgenre wat dikwels net vir die kuns-elite ruimte vir ware genot laat. Die toeganklikheid van dié werk maak egter nie dat die werk vereenvoudig of afgewater is nie, maar sorg eerder met merkwaardige vaardigheid vir ’n verbeeldingsreis vir elk.

Die Seaons France beplan ’n toer deur Suid-Afrika en die onderskeie werke kan tot en met November 2012 nog op verkeie plekke in die land gesien word. Dit is beslis ’n versameling om die oë voor oop te hou.

Lees 'n Engelstalige resensie en kyk na foto's van Afternoon of a Foehn.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top