“I met someone who looks a lot like you
She does the things you do
But she is an IBM.” – ELO
daar is niks
in jou woonstel
in die agter-paarl nie
kartondose
is half oopgekrap
en ’n bottel wyn
wat tot onder die nek
gedrink is
staan in die deur
net jy
sit wydsbeen
op die kombuistoonbank
bo die messegoed,
sê jy wonder hoekom
ek berge so klim
maar nie nou
bo dié laai
wil intrek nie
in die donker
verbeel ek my
kan ek jou sien glimlag
en voel
nader aan die rand skuif,
jou hand
vou om my nek
en jy vra
is dit wat jy wil hê?
ek reboot
jou mond en verstel
jou settings,
maak seker jou geheue
is groot genoeg
en druk-druk die afstandbeheer
totdat jou skerm
in ’n groen lyn
monotoon afskakel

