Afrikaners kan net hulself blameer vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite

  • 0

Afrikaners soos Jan Heunis het niemand anders as hulself te blameer vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite nie. Ek sê “Afrikaners”, nie “Afrikaanssprekendes” nie. “Afrikaner” dui op ’n subjektiwiteit, ’n politieke ingesteldheid en ’n sosiale oriëntasie. Oor die algemeen (natuurlik is daar uitsonderings wat die reël bevestig) neig Afrikaners om selektief – uitsluitend – te wees en te lees, veral wanneer hulle hulself op die Grondwet en die Handves van Menseregte beroep. Dit is ook nie verbasend nie – uitsluitlikheid is diep verweef met die psigiese apparatuur van die Afrikaner.

Soos die geval is met die lees van die Handves van Menseregte, so is dit met die Afrikaner se benadering tot die geskiedenis én met sy geheue. As ons Heunis moet glo, is dit “gek om dit wat histories skeefgeloop het, voor die deur van ’n taal te lê”. Afrikaans, in hierdie groteske manifestasie van selektiewe geheue, het blykbaar niks te doene gehad met dit wat “histories skeefgeloop” het nie. Verskoon my, maar ons is in die jaar van die 40ste herdenking van die Soweto-opstande – die laaste keer toe jongmense gewelddadig in opstand gekom het in hierdie land – en hulle het in opstand gekom teen ’n taal. Hoekom? Want daardie studente het, soos studente tans, en anders as Heunis, die elementêre punt gesnap dat onderdrukking deur ’n medium geskied – en daardie medium was taal, spesifiek Afrikaans (niemand gee voor dat Engels onskuldig is nie). Die ministeriële beleid waarop Heunis hom (by wyse van selektiewe aanhaling) beroep, bevestig hierdie punt:

The use of language policy as an instrument of control, oppression and exploitation was one of the factors that triggered the two great political struggles that defined South Africa in the twentieth century – the struggle of the Afrikaners against British imperialism and the struggle of the black community against white rule.

Mens hoef werklik nie die Freudiaanse en Lacaniaanse psigoanalise, strukturalisme of poststrukturalisme te gelees het om te weet dat taal sentraal staan in die vorming van sosiale verhoudinge nie – Aristoteles se eenvoudige definisie van die mens as die (enigste) skepsel met taal is voldoende. Die standpunt “daar is mense aan die een kant en taal aan die ander kant” hou gevolglik nie steek nie – inteendeel, dit is tekenend van ’n intellektueel verarmde posisie.

Om terug te keer na die beroep op die Grondwet: Afrikaners vergeet alte dikwels dat die regte in die Handves van Menseregte nie absoluut geld nie. Die Grondwet aanvaar dat die aanspraak op en uitoefening van regte konstant met mekaar bots. Gevolglik bewerkstellig dit ’n stelsel van regte wat relatief tot mekaar van toepassing is – dítis hoekom daar ’n beperkingsklousule (artikel 36) is wat bepaal dat enige beperking van ’n reg regverdigbaar in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op die waardes van menswaardigheid, vryheid en gelykheid moet wees. Dít is ook hoekom die ministeriële beleid soos volg bepaal:

The Constitution delineates clearly the limit to the right of individuals to receive education in the language of their choice. The exercise of this right cannot negate considerations of equity and redress in the context of the values that underpin our shared aspirations as a nation.

Boonop het die Konstitusionele Hof ’n gevestigde regspraak waarin die strekking van menseregte tot ’n oorweldigende mate bepaal moet word met verwysing na die geskiedenis van apartheid. Met ander woorde, die strekking en betekenis van regte word nie vasgestel binne ’n historiese vakuum wat voorgee dat die regte niks met die geskiedenis te make het nie. Trouens, die beleid sê voorts dat die Grondwet transformasiemoet afdwing – dit is nie ’n keuse nie.

Die uitsluitlikheidspatologie van die Afrikaner strek, ironies genoeg, tot die benadering tot taal self. So byvoorbeeld besluit Heunis hoe en wanneer taal betekenis sal dra – sy argument maak groot gewag van, lewer ’n hartstogtelike pleidooi vir, die betekenis van die taal van die Grondwet, maar wanneer dit by die historiese rol van taal in onderdrukking kom, dan is taal onskuldig, dán mag taal skielik geen betekenis toegedig word nie, dan staan mense hiér en taal dáár. Duidelik lei hierdie soort selektiewe brood-aan-beide-kante-gebotter-argument tot ’n betekenislose interne teenstrydigheid waardeur Heunis sy eie argument in die voet skiet.

Verdagmaking van studente (“agitators”, “anargiste”) wat hulle beywer vir geregtigheid sal ongelukkig ook nie deug nie (nie almal wat ’n verminderde posisie vir Afrikaans wil sien is “professionele moeilikheidmakers met min vooruitsigte op, of belangstelling in, akademiese sukses, of lede van 'n universiteitsbestuur, of senaat, of raad, wat die weg van die minste weerstand verkies” nie). Ek argumenteer nié dat studente se metodes bo kritiek verhewe is nie, bloot dat verdagmaking ons niks in die sak gaan bring nie, dat dit polarisasie en aggressie net verder sal aanvuur. Heunis se versigtige snit uit die ministeriële beleid verwys (ook) nie na die feit dat Jakes Gerwel se ministeriële komitee spesifiek gevra is om advies aan te bied oor hoe Afrikaans as onderrigmedium in hoër onderwys behou kon word “without non-Afrikaans speakers being unfairly denied access within the system, or the use and development of the language as a medium of instruction wittingly or unwittingly becoming the basis for racial, ethnic or cultural division and discrimination”. Dit is die argument van studente dat die behoud van Afrikaans op universiteite binne die sisteem tot onbillike uitsluiting van toegang gelei het en dat dit as ’n onderrigmedium ras-, etniese en kulturele diskriminasie aangehelp het. So byvoorbeeld het (baie) Afrikaanse klasse in opvoedkundige boetieks ontaard waarin die verminderde getalle meer individuele aandag beteken en dus op onregverdige wyse verbeterde onderrig tot gevolg het, terwyl studente in massiewe Engelse klasse maar moet sien en kom klaar. Hieroor sê Heunis hoegenaamd niks nie.

Terselfdertyd beroep hy hom ewe vroom op die “versoeningsgebod” van die Grondwet waarby die afskaffers nie “verby” kan kom nie. Die rede waarom ons in ’n grondwetlike krisis is, het veel meer te doen met die wyse waarop Afrikaners lankal verby die “versoeningsgebod” kom deur eenvoudig hardkoppig en botweg te weier om afstand te doen van die kulturele, sosio-ekonomiese en institusionele bevoorregting van apartheid, as wat dit te doen het met die sogenaamde verontagsaming van taalbepalings van die Grondwet (lees Sampie Terreblanche). In die beskouing van Heunis is die Afrikaner “weer eens” die arme slagoffer, die onskuldige martelaar, die onderdrukte minderheid aan die verkeerde kant van die geskiedenis.

Die huidige posisie van Afrikaans in universiteite is egter ’n gevolg van geskiedkundige bevoordeling. As Heunis werklik ernstig is oor meertaligheid aan universiteite (’n ideologiese posisie waarmee ek, terloops, heelhartig saamstem), dan sal hy en sy ondersteuners in ag neem dat, soos die ministeriële beleid dit stel, die vlak van hulpbrontoekenning (“resourcing”) vergelykbaar sal moet wees met die beleggings in die verlede om Afrikaans as ’n onderrigmedium in hoër onderwys te ontwikkel. In ’n stelsel waarin hulpbronne tans uiters beperk is en alles daarop dui dat dit in die toekoms selfs meer beperk sal wees, beteken dit noodwendig dat bestaande hulpbronne van elders binne die sisteem gekanaliseer sal moet word – en die historiese bevoordeling van Afrikaans in Suid-Afrikaanse universiteite sal in hierdie besluit ’n deurslaggewende rol speel. ’n Nostalgiese, retoriese beroep op die woordkuns van ’n groot digter sal dááraan hoegenaamd niks verander nie.

  • Jaco Barnard-Naudé is professor in regsfilosofie in die Departement Privaatreg aan die Universiteit van Kaapstad.

Lees ook:

Die universiteitswese en moedertaalonderrig: regverdige grondwetlik-gefundeerde aansprake

Jan Heunis
Universiteitseminaar | University Seminar

"Die bitter ironie is dat ons hierdie besluite te danke het aan mense wat behoort te weet dat moedertaalonderrig die beste onderrig is. Die groter ironie, die tragedie, is dat hulle Afrikaanssprekendes is."

"Brexit" van Afrikaans kan studente en skoliere laat onderpresteer

Danie van Wyk
Universiteitseminaar | University Seminar

"Die Minister het dit [die prestasies] met groot fanfare aangekondig, maar het skromelik nagelaat om te erken dat hierdie skole funksionele, presterende Afrikaanse skole is, bruin Afrikaanse skole ingesluit, omdat hulle die belang van moedertaalonderrig besef."


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 0
Top