Afrikaner-kapitalisme: van brandarm tot stinkryk deur David Meades: ’n resensie

  • 1

Afrikaner-kapitalisme: van brandarm tot stinkryk
David Meades
Uitgewer: naledi
ISBN: 9781928426431

Ek lees outobiografiese boeke deur joernaliste al vanaf 1953, toe JMH (Markus) Viljoen s’n op Harry Laurie se boekrak ’n sewejarige seuntjie laat vra het wat is ’n joernalis, tot vandag, wanneer Max du Preez na absoluut die enigste moontlikheid lyk in ’n gastehuis se versameling byderwetse skenkings deur vertrokkenes.

Nogtans was ek skrikkerig vir hierdie boek. Dit het ’n voorwoord deur Herman Giliomee, en word op die agterblad aangeprys deur Dawie Roodt, Martie Retief-Meiring en Heinrich Kruger: almal swaargewigte in die sake- en politieke wêreld. David Meades was ’n finansiële joernalis totdat hy makelaar geword het; ek is een van daardies wat die sakeblaaie van ’n koerant uitskeur sodat ek die sudoku kan doen.

Soos gewoonlik as ek wil weet waaroor ’n boek gaan, bekyk ek die indeks. Hierdie boek s’n is ’n personeregister. Ek soek name wat ek ken. Daar is 50 verwysings na Anton Rupert, 40 na Christo Wiese, 25 na Johann Rupert; 20 na Fred du Plessis; 30 na JC Smuts, drie na DF Malan, twee na Nelson Mandela; een na vader Kestell, nul na Koos Human, Leon Rousseau of DJ Opperman. Hierdie boek gaan veral oor sakemanne, net terloops oor politici, en glad nie oor kultuurmense nie, al het hulle dit gewaag om ’n maatskappytjie te stig.

Behalwe: Hoekom word so baie aandag aan Smuts gegee? Ek blaai na die inhoudsopgawe. Elke hoofstuk se opskrif lyk soos die kop van ’n koerantberig. Hoofstuk 4: “Britse imperialisme verower Smuts”. Ek blaai daarheen, begin lees.

"Die besluit van die Britse regering om die Vrede van Vereeniging te "herskryf" het waarskynlik van Smuts ’n ewige ondersteuner van die Britse Ryk gemaak. Sy gevoel van Afrikanernasionalisme het mettertyd plek gemaak vir ’n onverbloemde verbintenis tot die beginsel van ’n wêreldryk. Holisme, onder die Union Jack. Rhodes het herleef!"

Dis duidelik dat Smuts se storie reeds twee hoofstukke vroeër begin: “Kapitalisme word die Afrikaner se grootste vyand” en “Die Afrikanerdom skeur”. Ag as ek dan moet vroeër begin, kan dit net sowel by hoofstuk 1 wees: “’n Motorongeluk trek die sneller”, gewy aan Fred du Plessis se dood in 1989.

Die uitgeslape ou joernalis het sy vis aan die hoek.

Die boek se goue draad is die kentering van ’n idealistiese volksgerigte jongeling, in sy middeljare beginselvas alhoewel blootgestel aan volksvreemde elemente, wat op die ou end die waardesisteem van sy vorige teenstanders omarm.

Meades sit sy twee gevallestudies langs mekaar neer:

  • Jan Smuts, die vurige republikein, wat sy belowende Kaapse loopbaan kortknip om onder Paul Kruger te dien en selfs te veg, maar later op die wêreldverhoog speel as Field Marshall Smuts, PC, OM, CH, DTD, ED, KC, FRS.
  • Die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens Assuransie Maatskappij, wat tydens die doodsnikke van die Eerste Wêreldoorlog gestig is om Afrikaners te help kapitaal opbou, maar later die megamaatskappy Sanlam met tentakels oral in die ekonomie geword het, op sy hoogtepunt ses miljard in 1984 se rande sterk.

David Meades se tweede tema is dat ’n klimaat geskep is waarin Afrikaner-sakelui eerder hulle eie rykdom opbou as om die groter saak te dien. Hele hoofstukke word gewy aan Albert Wessels, Jan Pickard, Louis Luyt, Renier van Rooyen, Christo Wiese en Jannie Mouton, en ’n mens sien hoe, soos die tyd vorder, die nuwe sakelui net groter spelers uit eie reg word.

Giliomee se voorwoord sê prontuit (bl xii): "Waar die Afrikaner eers verkul is, het hulle sélf later ander mense begin kul." Meades self trek nie daardie streep so blatant deur nie: die voorwoord is klaarblyklik ná die boek geskryf en etlike van Giliomee se ander byltjies word ook daarin geslyp. Die strekking van die boek ondersteun nogtans hierdie kras uitspraak.

Anton Rupert verskyn reeds op die toneel in hoofstuk 5: “Die Afrikaners is plesierig en hou van baklei”. Hy is Meades se held: "My lojaliteit was ... in die eerste plek by Rupert" (210). Rupert word nie tot daardie een hoofstuk beperk nie; hy is alomteenwoordig, ver verby die verwysings agter in die boek, en word geteken as iemand wat die neiging tot selfverryking nie goedkeur nie, maar nogtans altyd bo uitgekom het wanneer sulke mense, teen hulle beterwete in, gedwing gevoel het om met hom sake te doen.

Meades het min ooghare vir Mouton: “... die ontwikkeling van talle kwasi-vennote wat hy ‘ontdek’ het. Een van hulle was Markus Jooste" (283, Meades se aanhalingstekens).

In hoofstuk 17, “Die Stellenbosse boys gee die toon aan”, word Johann Rupert, GT Ferreira, Laurie Dippenaar en Paul Harris vroeg by die naam genoem. Ons is nou naby die hede en daar is nou so baie Afrikanerkapitaliste dat van hulle net ’n sinnetjie of twee kry.

Daar sal sekerlik lesers wees wat met drie kleure fosfor gaan merk watter finansiële juweeltjies vir hulle insiggewend was. Maar dis nie waarvoor ek die boek gelees het nie. Die skatte in die boek is vir my die joernalis aan die woord: goeie stories; vertel graag; niemand val hom in die rede nie; en in sy eie boek is hy ontslae van die subredakteur wat sy kopie sny en die hoofredakteur wat die hele berig nie eens wil publiseer nie.

Die boek kon weliswaar tegnies baie beter gewees het as ’n bekwame redakteur die teks onder hande gehad het en dit ‘n bietjie minder opvallend maak dat die hoofbron die skrywer se honderde eie berigte is deur byvoorbeeld dieselfde stories waarvan stukkies op etlike plekke voorkom, ‘n bietjie aanmekaar te las – maar sou dit nog dieselfde boek gewees het? Ek twyfel. Veral ’n onderwerpindeks sou welkom gewees het; mens moet self weet wie die rolspelers was as jy byvoorbeeld oor Sasol wil lees.

Die outobiografiese element is na ’n sekere datum nooit heeltemal afwesig nie (baie brokkies laat val hoe hy aan die storie gekom het), maar Meades gun homself ’n epiloog met ’n relaas van sy loopbaan, waarin hy onder andere onthul hoekom hy die joernalistiek vaarwel toegeroep het om ‘n makelaar te word.

Hiervoor, en vir antwoorde op vrae soos die volgende, moet die leser self die boek opneem. Dit is nie regverdig dat die resensent al die versiersuiker afeet van die koek nie

  • Waar woon deesdae se groot Afrikaner-sakelui veral?
  • Watter sakeman is aan bysteke oorlede?
  • Wie was die eerste "Boere-Hoggenheimer" wat met ’n Rolls rondgery het?
  • Wie het gesê: "Ek is vandag bly dat ek nie die dinge gekry het wat ek in ’n stadium begeer het nie"?
  • Watter bank was "Oom Bossie se bank"?
  • Wat het tydens "Operasie Pofadder" gebeur?
  • Met watter skelnaam word die naam Stellenbosch soms verbind wanneer dit oor die groep sakemanne aldaar gaan?

Ek sluit hierdie resensie af met Meades se eie slot: “Afikaner-kapitalisme is dood, lank lewe die kapitalisme in die Afrikaner, die nuwe Afrikaner!”

*

Hierdie resensie word opgedra aan die nagedagtenis van H de G "Harry" Laurie, ’n Afikaner-sakeman wat op 1 Mei 2019 honderd jaar oud sou gewees het, en nie brandarm, stinkryk of skelm genoeg was om hierdie boek te haal nie.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Daan Desimaal

    Wat 'n wonderlike geskenk om so 'n boek te mag lees, geskryf deur een van ons land se mees begaafde sake-joernaliste ooit. Ek hoop dat David 'n reeks onderhoude sou voer op YouTube.
    Dink net wat Chris Stals kan vertel oor die Rubicon-fase en die besluit om nie valutabeheer af te skaf nie. Of Joubert Botha se sienings oor die demutualisering van ons versekeraars, bougenootskappe en koöperasies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top