Onderhoud: Afrikamasutra, die eerste Afrikaanse Kama Sutra

  • 1

 

Hierdie blad bevat erotiese literatuur en illustrasies. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 

Afrikamasutra
Ilse Carla Groenewald
Illustrasies: Diek Grobler, Hardus Koekemoer, Marna Schoeman
ISBN: 9781868887255
Uitgewer: Unisa Press

Koop die Afrikamasutra by Kalahari.com

Afrikamasutratjie
Ilse Carla Groenewald
Illustrasies: Diek Grobler, Hardus Koekemoer, Marna Schoeman
ISSN: 9781868887507
Uitgewer: Unisa Press

Koop die Afrikamasutratjie by Kalahari.com

 

Afrikamasutra is die eerste volledige Afrikaanse vertaling van die legendariese Kama Sutra. Die Kama Sutra is oorspronklik in Sanskrit geskryf deur 'n Hindoe-filosoof, V?tsy?yana. Daar is onsekerheid oor wanneer dié teks verskyn het, maar historici plaas dit tussen 400 vC en 200 nC. Naomi Bruwer gesels met Ilse de Korte (néé Groenewald) oor haar vertaling.

Ilse de Korte
Illustrasie deur Diek Grobler
Illustrasie deur Marna Schoeman
Illustrasie deur Hardus Koekemoer
Illustrasie deur Diek Grobler
Illustrasie deur Marna Schoeman
Illustrasie deur Hardus Koekemoer
Illustrasie deur Marna Schoeman
Illustrasie deur Hardus Koekemoer
Illustrasie deur Diek Grobler
Illustrasie deur Marna Schoeman
Illustrasie deur Hardus Koekemoer

Hoe het dit gebeur dat jy hierdie omvattende vertaalprojek aangepak het?

Die gedagte het by my opgekom om iets oor seksualiteit en spiritualiteit te skryf en miskien die Kama Sutra as vertrekpunt te gebruik. Toe besef ek maar die Kama Sutra is nog nooit in sy geheel in Afrikaans vertaal nie en hoe meer ek aan die teks gelees het, hoe meer het ek besef hoe pragtig dit is en dat ons verdien om die hele, oorspronklike teks in Afrikaans te hê.

In die Westerse bewussyn word die Kama Sutra deesdae grootliks as 'n sekshandleiding gesien. Is dit? En indien nie, wat is dit?

Daar is wel 'n groot seksuele komponent aan die Kama Sutra, maar dit is veel meer as net "daai seksboek" wat almal dink dit is. Die boek gaan oor die lewe en hoe om 'n goeie mens te wees – of soos dit in die boek beskryf word, ’n goeie burger. Die boek handel oor die drie deugde waaruit die mens bestaan: dharma (jou geestelike lewe), artha (jou wêreldse rykdom) en kama (jou seksuele sy). Hierdie drie aspekte van die lewe moet te alle tye in volmaakte balans wees. Dit is wanneer een van hierdie aspekte oorneem dat die mens in wanbalans kom. Jy sal in jou lewe deur fases gaan waar verskillende aspekte vir jou in daardie lewenstadium belangriker is as ander, maar dis nie te sê dat die ander aspekte dan heeltemal verdwyn nie.

Die boek is in vyf dele ingedeel. Sal jy asseblief 'n vinnige oorsig gee oor wat elkeen behels?

Die eerste deel dien as inleiding. Dit vertel jou wat die doelwitte van die lewe is, watse kennis jy in jou lewe behoort te verwerf, hoe 'n goed-opgevoede mens hom/haar gedra, en die soort persoon wat jy as lewensmaat behoort te kies.

Die tweede deel handel spesifiek oor seksuele samesyn: alles van die eerste omhelsing, die soen en hoe om mekaar plesier te verskaf, tot die liefdestwis en hoe om konflik op te los.

Die derde deel handel oor die huwelik: hoe die man sy vrou met respek en liefde moet behandel, hoe hy haar die hof moet maak, hoe 'n vrou en 'n man hulle in die huwelik moet gedra, en selfs waarom 'n man toevlug sal gaan vind by 'n ander vrou. Dit dek sowaar elke aspek van verhoudings.

Deel vier handel oor minnaars, maar veral courtisanes. Dit was vir my 'n baie interessante deel en is wel van toepassing op ons moderne samelewing. Ook die geskiedkundige aspek van die rol van die courtisanes was vir my interessant.

Deel vyf bespreek allerhande resepte en rate wat jy kan gebruik om begeerte aan te wakker, om jou tande witter te maak, om liggaamsreuke af te weer, om seksuele omgang lekkerder of makliker te maak, om die liefde van iemand te wen – daar is sowaar 'n raat vir alles.

Jy het sir Richard Francis Burton se Engelse vertaling van 1883 as jou bronteks gebruik. Dit word oor die algemeen steeds gereken as die beste vertaling uit die oorspronklike Sanskrit van V?tsy?yana. Was jy van die begin af seker dat dit jou bronteks sal wees of het daar baie navorsing ingegaan?

Ek was wel van die begin af seker dat dit my bronteks sou wees, omdat dit as die mees omvattende vertaling gesien word. Ek het egter na baie vertalings gekyk, veral as ek met 'n sekere woord of deel gesukkel het. Alain Daniélou het 'n baie interessante vertaling gedoen met omvattende voetnotas wat baie gehelp het.

Jy skryf in die voorwoord dat jy deur hierdie vertaling poog om die Kama Sutra meer toeganklik te maak vir die moderne samelewing sonder om die byna formele gevoel van die oorspronklike teks prys te gee. Dis die groot uitdaging aan 'n vertaler. Wat was die grootste probleme wat jy as vertaler moes oorbrug om by hierdie besluit te bly?

Om nie verstring te raak in die sinne nie. Burton se vertaling is geweldig kompleks en hy gebruik baie lang sinne. Ek moes terselfdertyd bly by wat daar staan en probeer om dit lig en verstaanbaar te maak. Ek het egter probeer om 'n meer "neutrale" (as daar so iets is) Afrikaans te gebruik en nie streekstaal of slentertaal te laat insluip nie.

Sir Burton was 'n oriëntalis uit die laat 19de eeu en het die teks vanuit 'n manlike, Westerse perspektief vertaal. Jy is onderrig in die letterkunde en het natuurlik in jou studies baie met feminisme, oriëntalisme en ander denkwyses te doen gekry. Was sy perspektief vir jou 'n probleem in die modernisering van die teks?

Nie regtig nie. Ek het in die vergelyking tussen sy teks en Daniélou se teks by tye agtergekom dat daar 'n verskil in fokus is – Daniélou fokus baie sterk op die homoërotiese aspek van die verhouding tussen die man en die eunugs wat hul dienaars was. Ek moes daar besluit om so neutraal as moontlik te wees en eerder net by Burton se woorde te bly.

Die teks self is egter baie gevorderd as dit by genderverhoudings kom. Die rol van die man en die vrou is baie gelyk; vrouens in die harems vry met mekaar as die mans hulle 'n bietjie afskeep; en die mans is heel gemaklik dat hul eunugs hulle 'n bietjie uithelp as die nood hoog is. Dit kom alles baie sterk in Burton se teks na vore, dus was ek werklik onder die indruk dat hy daardie manlike, Westerse perspektief ondermyn. Ek het ook beslis nie 'n gevoel gekry dat hy die "rolspelers" in die Kama Sutra sien as die Ander nie. Ek kon myself geheel en al vereenselwig met "die vrou" waarna verwys word of aanklank vind by "die man" in die teks.

Dit sal 'n baie interessante teks wees om verder te ondersoek in terme van die feminisme. Maar binne die konteks van daardie samelewing, en as mens kyk na die rol van die vrou in die Westerse samelewing lank na die Kama Sutra se verskyning, dan dink ek die Kama Sutra was ons ver vooruit!

Jy het die Hiddingh-Currie-prys vir hierdie boek ontvang. Die prys word toegeken aan 'n Unisa-publikasie van akademiese uitnemendheid in navorsing oor 'n behoefte in die gemeenskap. Het jy verwag dat Afrikamasutra in hierdie lig gesien sal word, en wat beteken hierdie toekenning vir jou?

Sjoe, nee, ek het dit glad nie verwag nie. Ek was van die begin af bly dat die boek as 'n akademiese publikasie gesien word. Unisa Press het die boek uitgegee as deel van hul Klassieke-werke-reeks. Dit het vir my die boek die gravitas gegee wat dit verdien. Dit is 'n seminale werk wat so deel is van ons kollektiewe onbewuste – ek weet nie, dalk praat ek nou hier net oor die paar verligtes wat wel die teks ken. Dit is egter een van daardie boeke wat almal van weet – hetsy positief of negatief. Dié wat niks van die boek af weet nie, is gewoonlik ook diegene wat die hardste kritiseer en dit afmaak as net 'n seksboek en niks meer nie.

Enige boek wat oor die seksuele handel, kan potensieel gesien word as "sleaze". Deur die vertaling te peil op 'n vlak waar ek die gevoel van die oorspronklike teks probeer behou het, sowel as 'n meer formele taalgebruik, het ek probeer om die boek so akkuraat moontlik weer te gee sonder om in die banale te verval.

Hoe was die ontvangs van hierdie projek by die publiek? Enige teenkanting uit meer konserwatiewe geledere?

Die ontvangs was oor die algemeen ongelooflik positief. Die boek is deur twee akademiese keurders gelees (Henning Pieterse en Andries Oliphant) wat werklik so positief was daaroor – dit was ook die deurslaggewende faktor by die senaat van Unisa wat die boek moes goedkeur vir publikasie. In terme van 'n kreatiewe stuk werk het ek geweldige goeie terugvoer gekry oor die teks, sowel as die kunswerke.

Maar, soos met enigiets wat dalk omstrede kan wees, was daar diegene (selfs in akademiese kringe) wat natuurlik kritiek uitgespreek het. Maar soos ek vroeër gesê het, dis gewoonlik diegene wat hul absolute, brutale onkunde bewys en nie weet waaroor die boek werklik gaan nie.

Die boek het so half 'n mitologie om hom ontwikkel. Ek hoor die pakkers wat die boek moes versend by Unisa het geweier om dit te pak, want daar was 'n kaal vrou bo-op!

Jy beskryf die Kama Sutra as "'n handleiding wat die aard van die lewe, sowel as die liefdespel, as 'n wetenskap beskou". Het Afrikaans vir jou genoeg genuanseerde woorde gebied om die sensuele beskrywings te verwoord, of was jy soms sonder (die nodige) woorde?

Afrikaans is, soos ons weet, so 'n ryk taal. Ek het nooit vir een oomblik gesukkel om woorde te vind om die nodige te beskryf nie. Waar ek my na Sanskrit gewend het, was met die gebruik van lingam en yoni in plaas van penis en vagina, wat net vir my te klinies was. Aan die ander kant was my ander keuses weer te platvloers. Ek wou ook iets van die "misterie" van die antieke teks behou en het veral waar dit by die posisies kom, die Sanskrit-name gebruik.

Vertel ons oor die kunswerke in die boek. Jy het nie die grafika wat mens met die Kama Sutra assosieer, gebruik nie. Wat was jou motivering vir die gebruik van nuwe Suid-Afrikaanse kunswerke deur Diek Grobler, Hardus Koekemoer en Marna Schoeman? Wat was jou opdrag aan die kunstenaars?

Die oorspronklike grafika van blou mannetjies en vroutjies op houtplanke het my nog nooit geïnspireer nie. Dit maak van die boek amper iets lagwekkend. Aan die een kant wou ek die uitbundige mooiheid van die teks uitbeeld en aan die ander kant met humor kunswerke gebruik waarmee Suid-Afrikaanse lesers hulle kon vereenselwig. Marna, Diek en Hardus bring 'n geweldige "local is lekker"-gevoel in hul kunswerke in en dis altyd tong-in-die-kies. Dit help ons ook om onsself nie te ernstig op te neem nie.

Naas Afrikamasutra is daar ook 'n Afrikamasutratjie wat jy 'n "dra-my-saam"-weergawe van Afrikamasutra noem. Vertel bietjie meer oor hierdie boekie wat mens seker 'n handige handleiding kan noem.

As mens nou ooit wou praat van "daai seksboek", dan is Afrikamsutratjie seker nader aan die (g-)kol as Afrikamasutra! In die ou kleintjie het ek besluit om net die poëtiese beskrywings van die posisies uit die oorspronklike teks uit te lig en saam met 'n paar uitsoekkunswerke in 'n miniweergawe te publiseer. Dis soos 'n klein digbundeltjie.

Watter van die seksposisiebeskrywings staan vir jou uit wat poëtiese woordgebruik betref? Deel 'n paar met ons.

Die beskrywings is so ekstaties en beskryf die vrou altyd as "pragtig", "'n godin" of "jou pragtige bruid". Dit is vir my geweldig respekvol teenoor die vrou en daar word gedurig gemaan dat sy gekoester en liefgehê moet word. Hier is 'n paar van my gunstelinge:

Indrani1 trek beide haar kniëe op
totdat hulle saggies onder die kurwes van haar borste lê;
haar voete vind haar geliefde se armholtes.
Jong meisies hou baie van hierdie posisie,
maar om ’n godin te word verg baie oefening.

Hou die enkels
van die vrou met vol heupe,
wie se boude soos twee ryp spanspekke is vas,
lig haar pragtige dye
en sprei die heupbene wyd.


Jou pragtige bruid lê op die bed,
sy neem haar eie voete
en trek hulle op totdat hulle haar hare raak;
jy vang haar borste en maak liefde:
dit is “Vyomapada” (Hemel-voet).


Wanneer geliefdes, met bene reguit uitgestrek,
mekaar met hul voete liefkoos
en liefde maak volgens die begeerte van hul harte,
noem diegene wat “tantra” bestudeer dit “Sampada” (Gelyke voete)
en stem saam dat dit die pad na ekstase is.


Regop sittende, vou die lieflike meisie
een been teen haar liggaam
en strek die ander een op die bed uit,
terwyl jy haar aksies weerspieël:
dit is “Yugmapada” (Die voete juk).


Indien, van aangesig tot aangesig gesit word,
jou tone die lieflike vrou se tepels vertroetel,
haar voete teen jou bors druk
en julle liefde maak terwyl julle mekaar se hande vashou,
is dit “Kaurma” (Die Skilpad).

 

1Vrou van Indra. Indra is die koning van die gode in Hindoe-mitologie.

Jy is onlangs getroud. Mag ek so blatant wees om te vra of jou kennis, en heel moontlik ook dié van jou eggenoot, van die Kama Sutra tot julle huweliksgeluk bydra?

Now that would be telling. 😉

Maar op 'n ernstige noot: as enige paartjie mekaar met die respek, liefde en deernis behandel soos wat in die Kama Sutra beskryf word, sal dit 'n pragtige verhouding wees!

  • 1

Kommentaar

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Dis ‘n treffende bespreking van my boek wat ek sedert die eerste verskyning daarvan begeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top